Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Profiele
Ete met Coenie de Villiers: Hulde aan die Karoo

Die sanger en liedjieskrywer Coenie de Villiers vergelyk die skoonheid van die Karoo met dié van ’n onaantreklike vrou met ’n fantastiese persoonlikheid. Juis vanweë haar onvolmaaktheid is sy die beeldskone vrou, het hy aan Estelle Neethling oor sy produksie saam met die skrywer Deon Meyer op die KKNK gesê.

Coenie de Villiers. Skets: Hanlie Malan

Die produksie Karoo Suite, wat Coenie de Villiers in samewerking met die skrywer ­Deon Meyer op vanjaar se Karoo Nasionale Kunstefees (KKNK) gaan opvoer, is ’n eerbetoon aan die wyd uitgestrekte vlaktes van hierdie landstreek wat albei baie na aan die hart lê.

Hulle het verlede Desember oor die struktuur van die produksie koppe bymekaargesit.

Op ’n Sondag gesels ek en Coenie op ’n soel someraand in Kaapstad in The Italian Kitchen in Nuweland.

Coenie het ’n druk naweek agter die rug: ’n konsert vir genooide gaste op die Rust en Vrede wynplaas van Jean Engelbrecht en Sondag ’n vertoning in Die Boer in Durbanville.

Daar is egter geen sweempie van moegheid by hom te bespeur nie. Hy is met sy nuwerwetse baard-in-wording, wat hom goed pas, op 60 en ná 40 jaar as ’n geliefde kunstenaar en Suid-Afrikaanse persoonlikheid die toonbeeld van energie.

“Benewens Deon se fenomenale skryftalent is hy ook ’n baie goeie fotograaf,” vertel Coenie. “Ons gaan ’n oudiovisuele, multimedia-vertoning aanbied met skerms waarop die foto’s geprojekteer word.”

Dis baie opwindend, maar ek is ook senuagtig.

In die Karoo Suite-vertoning sal daar ook orkesbegeleiding wees en die eerste deel sal van Coenie se werk insluit: ’n mengsel van liedjies van sy nuwe album, Emoji. Natuurlik ook die liedjie “Karoonag” – wat ­sinoniem is met Coenie wat dit geskryf het toe hy maar net 17 jaar oud was. En die laaste 20 minute van die Karoo Suite is losweg op Vivaldi se “Vier Seisoene” gebaseer.

Met blink oë bring Coenie ­triomfantelik ’n stapel papiere te voorskyn. “Ek het vanoggend die eerste twee dele van Deon ontvang!”

Hy lees vir my ’n uittreksel; sy opgewondenheid tasbaar. “Deon het ’n baie mooi stem en hy gaan die verteller wees. Dis baie opwindend, maar ek is ook senuagtig.”

As teenwig haal hy die oorlede kunstenaar en flambojante karakter Braam Kruger aan: “You have to scare yourself.”

Vriendskap in die Vrystaat

Coenie vertel hoe hy en Deon mekaar in hul vroeë 20’s leer ken het en al jare vriende is. Deon was destyds ’n junior skakelbeampte by die Universiteit van die Vrystaat – toe nog bekend as die Universiteit van die Oranje-Vrystaat – en Coenie ’n junior dosent daar.

“Ons was arm en smiddae het ons onder die groot boom langs die teologiefakulteit ons toebroodjies geëet wat ons vir middagete van die huis af saamgebring het. Deon kon vreeslik mooi dig en dan vra ek hom: “Het jy nie ’n pennevruggie vir my nie? Dit waarmee Deon keer op keer vorendag gekom het, was asemrowend.”

Hy glimlag ondeund: “Dan sê ek vir hom: Hier’s potensiaal!’ En vandag is hy een van die wêreld se suksesvolste spanning­skrywers. Soms terg ek hom en sê: ‘Jissie, Deon, ek het darem hierdie ding sien kom’.”

Die skoonheid van die Karoo

Deon kom van Klerksdorp af, maar besing gereeld die natuurskoon, die helderblou lug en die vredigheid wat hy by sy “skryfhuis” in Loxton, waarheen hy so gereeld as moontlik gaan, ondervind.

Hoewel Coenie in Bloemfontein gebore is, het hy kleintyd al gereeld na familieplase in die Suid-Vrystaat, die Bo-Karoo, Bethulie, Springfontein en Smithfield gegaan, waar sy familie met skaap geboer het.

“Waar ’n mens vandaan kom, bepaal soms die trajek van jou lewe.”

Hy lag: “Ek kén die ‘niks’ en bossies van daardie wêreld. Soos ’n mens ouer word, neig jy terug na jou bron. Ek was nogal sinies toe ek jonger was, maar wanneer jy jouself oopstel, gebeur daar al hoe meer goeie oomblikke wat stil, subtiel en onvergeetlik is. Dis ook dán wanneer ’n mens jou beste werk wil lewer. Keer op keer openbaar die Karoo sy stille asketiese skoonheid, sy barre weerloosheid.”

Ek kén die ‘niks’ en bossies van daardie wêreld

Coenie het al 20 albums die lig laat sien – dít so tussendeur sy werk as strategiese bemarker, sy gekwalifiseerde beroep – en aanbieder van die televisieprogram Kwêla tot 2015.

Coenie is egter beskeie oor sy musiek wat hy as ’n “ernstige stokperdjie” beskou.

Hy is klassiek opgelei. Sy ma was ’n musiekonderwyseres en die verskillende klanke wat die klavier­note voortbring, het hom van kleins af oneindig gefassineer.

“Ek het as driejarige gedurig onder die klavier gelê en met my karretjies gespeel terwyl ek na my ma se klavierspel luister.” Sy was soms genoop om die klavier vir sy entoesiastiese vingertjies te sluit. “Dan het ek soos ’n maer vark geskree,” sê hy ernstig.

“Toe ek so vyf was, het my ma my na ’n klavierkonsert geneem. Ek het gestewel en gespoor daar gesit.”

Maar toe die klavier saam met die simfonieorkes begin speel, was hy totaal oorweldig deur emosies wat hy nie kon verstaan nie en het begin huil.

“My ma het my vinnig uit die konsertsaal geneem en toe sy vra ‘voel jy siek?!’ kon ek haar glad nie antwoord nie. Dit het gevoel asof my vel te klein geword het en ek gaan ontplof. Die tektoniese plate van my wêreld het net daar verander.”

Lekker kos en ’n goeie grap

Coenie pendel al jare tussen Bloemfontein en Johannesburg, meestal per motor – hy noem homself onbeskaamd ’n petrolkop – omdat die vliegroete tussen Johannesburg en Bloemfontein so lank neem en so duur en ongerieflik is. Hy en sy vrou, ­Rita, besit ’n huis in Bloemfontein en in Johannesburg, asook ’n “plekkie” in Ciprus.

Hulle het onlangs ook ’n “wegkruipplek” in Oudtshoorn gekoop. Dit was ’n klipperdestal met ’n rietdak wat dateer uit 1898 wat hulle opgeknap het. Dáár vergeet hulle van hul besige lewens.

“Rita kook fantasties!” voeg hy by. “Daar maak ons Lochner de Kock se peer-en-bloukaassop en geniet ’n bottel sauvignon blanc daarmee saam.”

’n Goeie boeregrap laat hom skater en hy ken ’n magdom. Hy het ’n hewige renons in die negatiewe, dikwels wrede, aspekte van sosiale media.

“Ek skryf liewer ’n liedjie. En as ek tyd het, los my net op die stoep met ’n dik pak boeke. Ek het geen gunstelinggenre nie.”

Dankie tog vir Trevor Noah

Coenie se verknogtheid aan ons land is aanvoelbaar, die probleme en uitdagings wat ons in die gesig staar ten spyt.

Skeppende werk is skerper as enige kanon, enige koeël

Hy sê passievol: “Mense is basies goed. Dit geld almal: swart en wit. Maar as jy soos Machiavelli divide and rule soos wat pres. Zuma doen, dan skep jy al die spanning en gebrek aan respek. Dit sleep ons terug na daardie plek waar ek nooit weer wil wees nie. Dis onaanváárbaar dat die regering die rassekaart speel – wit teenoor swart en andersom.

“Tans is dit humor wat ons as Suid-Afrikaners aan die gang hou. Dank die Here vir mense soos Trevor Noah wat die mes kan inlê teenoor een groep en dan dieselfde doen met ander groepe.

“Dis hoekom onderdrukkende regimes so bang is vir komedie, letterkunde, musiek – daar waar ons ’n gemeenskap­like plek kan kry. Skrywers, komponiste en skilders gee die gees van die tyd weer.

“Skeppende werk is skerper as enige kanon, enige koeël. Ons moet almal onder dieselfde kam geskeer word. Anders gaan ons hierdie ongelooflike land verwoes.”

En met die groet, haal hy die antieke digter Rumi aan: “Be­yond right and wrong there is a field. I’ll meet you there.”

Spyskaart

The Italian Kitchen, Nuweland

1 x mineraalwater R18

1 x vonkelwater R18

1 x Rock Shandy R25

1 x hoenderpasta R100

1 x porcini risotto R90

1 x karafe rooiwyn R39

1 x Earl Grey-tee R25

Totaal (plus fooitjie) R350

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.