Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Profiele
Ete met Dawid Minnaar: Selfoonwekker ontstel

Dawid Minnaar verskyn elke dag op die Klein Karoo Kunstefees in twee uiteenlopende vertonings. Gert van der Westhuizen het oor middagete met hom daaroor, krieket en Eugène Marais gesels.

Dawid Minnaar Potloodskets: Hanlie Malan

Dawid Minnaar is ontstoke toe hy by Jemima’s in Oudtshoorn se Baron van Reedestraat instap.

Ontstoke is dalk nie die regte woord nie. Eerder boos of briesend.

Dis skaars 20 minute ná hy die vyfde keer sy aangrypende eenmanvertoning Monsieur Ibrahim en die Blomme van die Koran op die Klein Karoo Kunstefees (KKNK) opgevoer het.

Maar dié keer het iets wat soos ’n selfoonwekker klink tydens die vertoning iewers in die Gimsaal gelui.

“Dit het my amper histeries gemaak,” vertel Minnaar nadat hy gegroet het. “Ek weet nie wat dit was nie, maar dit het my amper mal gemaak. Ek kon nie by al die emosionele goed uitkom nie en ek moes tegnies só versigtig werk.

“Dit is ’n baie groot teleurstelling, want dit het baie goed gegaan. Die stuk is nog vars en elke keer wat jy dit doen, is jy nog maar senuagtig. Ek was amper van my kop af. Sjoe, dit was erg,” vertel hy.

En om alles te kroon het ’n lid van die gehoor se selfoon óók tydens die vertoning gelui.

Minnaar vra vir koffie nadat hy van sy nare ondervinding vertel het. Swart. Sonder suiker.

Dan praat hy oor Monsieur Ibrahim, die roerende verhaal van die ongewone vriendskap tussen die Joodse seun Moses (Momo) en ’n Moslem-winkeleienaar in die Parys van die 1960’s.

Die storie het hom geboei toe hy Éric-Emmanuel Schmitt se roman gelees het, maar hy was aanvanklik tog effe skrikkerig om die toneelstuk aan te pak.

Dit gaan oor vergifnis, dit gaan oor aanvaarding, dit gaan oor verdraagsaamheid.

“Ek het gedink dit is ’n bietjie soet, maar ek dink die verhaal is so eenvoudig en eerlik en menslik dat dit die lokval van sentimentaliteit ontsnap. Dis ’n wonderlike ding.

“Ek het baie geheg geraak aan die materiaal. Ek hou van die eenvoud en die skaamtelose menslikheid daarvan.

“Dis eintlik maar ’n coming-of-age-storie, ’n grootword-storie. Dit gaan oor vergifnis, dit gaan oor aanvaarding, dit gaan oor verdraagsaamheid. Momo en Monsieur Ibrahim is albei randfigure, hulle is vreeslik eensaam. Hulle bou ’n brug na mekaar toe oor die grense van etnisiteit en geloof. Dis ’n wonderlike storie. Dis ’n pragtige storie.”

’n Mens kan nie aan genoeg byvoeglike naamwoorde dink om Minnaar in Monsieur Ibrahim te beskryf nie. Hy vertolk die rolle van goed tien mense en gaan so moeiteloos van die een karakter na die ander oor dat hy jou deurentyd boei.

Put dit hom nie uit nie, veral fisiek?

“Nee,” lag hy. “Ek het al baie erger goed gedoen.”

In Die Koninkryk van die Diere, die komedie waarin hy ook elke dag op die KKNK optree, dra hy hoëhakskoene in sy rol as die maraboe. “My hakke raak net elke keer hoër! Dít is uitputtend, dít is ’n fisieke uitdaging.”

Boonop is Koninkryk van die Diere ook moeilik in ’n ander opsig. “Ons is nie gewoond aan daai styl van satire nie,” verduidelik Minnaar. “Ons is op die oomblik geneig om té hard te werk.”

Twee vertonings per dag is nie vir hom te erg nie, sê Minnaar. Hy sal eers ná die KKNK agterkom hoe moeg hy is. Hy probeer om nie te veel ander vertonings te gaan kyk nie omdat hy regtig moeg sal word as hy op die fees rondhardloop.

Ek is nie mal daaroor om na myself te kyk nie, ek het nie eens ’n TV-stel by die huis nie.
Dawid Minnaar

In die aande kyk hy televisie om te ontspan. Hy het nie die dag voor ons laat middagete na Sara se Geheim, die nuwe televisiereeks waarin hy speel, gekyk nie. “Ek is nie mal daaroor om na myself te kyk nie, ek het nie eens ’n TV-stel by die huis nie.

“Daarom is dit dan vir my lekker om hier in die gastehuis laat in die aande te lê en TV te kyk. Ek kyk na die Indiese Premierliga (IPL). Ek is mal oor krieket en tennis. Die krieket is wonderlik vir my, ek check wat ons ouens doen. Nou die aand het ek daai wonderlike beurt van AB (de Villiers) gesien. Hy het daar losgetrek, nè, en net sesse geslaan. Dis vir my heerlik, sorry.”

Minnaar se gesig helder op soos hy oor De Villiers se beurt gesels, die steurende selfoonwekker vir eers vergete. ’n Onverwagse reënbui help hom ook om beter te voel omdat hy juis spyt is dat hy die reën in Johannesburg dié somer misgeloop het omdat hy elders gewerk het.

Hy hoop net hy hoef nie ná die ete in die reën terug te loop na sy motor toe nie. Hy het nogal ver van die restaurant parkeer.

Hy is lus vier iets lekkers om te eet, sê Minnaar. “Ek is damn honger.”

Ons bestel elkeen ’n wildspastei met ’n bordjie ekstra groente voor ons verder gesels.

As ’n mens Minnaar alleen om ’n restaurantafel kry, móét jy met hom oor Die Wonderwerker en sy rol as Eugène Marais in dié rolprent praat.

“Ek kry mos vreeslik min filmwerk. Dit is miskien omdat ek soos ’n Arabier lyk. Manie van Rensburg het jare gelede vir my gesê ek lyk nie Afrikaans genoeg nie. Ek sal baie graag meer filmwerk wil doen, want dit is ook ’n wonderlike medium. But I just don’t get the damn stuff.

“Ek was al lankal ’n Marais-junkie gewees teen die tyd dat ons Die Wonderwerker gedoen het. Ek het Die Groot Verlange (Leon Rousseau se biografie oor Marais) toe al drie keer gelees.

“Ouderdomsgewys het ek dit net-net gemaak om die rol te vertolk. Dis ’n moerse verantwoordelikheid as jy iemand speel wat werklik gelewe het en ook ’n ikoon was soos Marais. Hy was ook maar ’n volksvreemde ene, nè? ’n Totale buitestaander, ek kon maklik aanklank by hom vind.”

Nadat Minnaar sy bord eenkant toe gestoot het, keer die gesprek weer terug na Monsieur Ibrahim. Hy kry goeie terugvoer van mense daaroor en gaan dit nog twee keer by die Suidoosterfees opvoer, en wie weet, dalk ook op Aardklop.

Hopelik pla die selfone nie dáár nie. Minaar raak sommer weer ontstoke as Monsieur Ibrahim ter sprake kom. “Ek sou dit verbrysel het,” sê hy oor die selfoonwekker wat so steurend was. “Ek sou dit met ’n klip stukkend gekap het as ek dit in die hande kon kry. Ek sou nie eens gevra het wie s’n dit is nie. Ek sweer ek gaan vannag daaroor droom.

“Ek weet nie of die toeskouers dit ook gehoor het of gesien het ek het dit gehoor nie. Ek weet nie of hulle gesien het dat dit my gesteur het nie.”

Maar Minnaar se vrese word gou besweer.

“Askies, ek sien julle eet te lekker,” sê ’n vrou wat hom herken en naderstaan. “Ek wil net vir jou sê vandag se vertoning was fantasties. Ek wil dit weer sien.”

Jy kan sien hoeveel dié woorde vir Minnaar beteken.

Hy hoef ook nie in die reën na na sy motor te stap nie.

Die son skyn weer.

Spyskaart

Jemima’s, Oudtshoorn

1 x Liter mineraalwater R35

1 x Koffie R20

2 x Wildspasteie R240

1 x Bordjie groente R25

Footjie R40

Totaal R360

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.