Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Profiele
Ete met Francois Smith: Hy hoop nuwe roman ontkiem
’n Mens kan nooit besitlik oor jou boeke wees nie en hy wil allermins die proses beheer, het Francois Smith in Amsterdam aan Pieter Steyn gesê. ’n Rolprent word eersdaags van sy bekroonde roman, Kamphoer, gemaak.

Francois SmithSkets: Hanlie Malan

Wanneer jy iets publiseer, behoort dit nie meer aan jou nie. Ook nie as ’n fliek daarvan gemaak word nie.

“Dit is soos wanneer jy hoor jou boek word vertaal, dis in die eerste plek ’n bedonderde kompliment, maar jy gee dit ook weg vir daardie mense om daarmee te maak wat hulle wil.”

Smith sit in ’n rumoerige koffiewinkel in die grachtengordel in Amsterdam en gesels oor sy trefferboek wat eersdaags ’n fliek gaan word. Sy ingetoënheid en sy perfekte, genuanseerde en beheerste gebruik van Afrikaans staan in kontras met die opgewekte en rumoerige Nederlanders se effens gemengde gebruik van hul moedertaal.

“Wat ook al met die fliek gebeur, die boek bly maar daar. ’n Mens kan nooit besitlik oor jou boeke wees nie. Ek weet daar is skrywers wat sê hulle wil betrokke wees en wil die hele proses beheer. Ek glo nie dit moet so wees nie. ’n Mens moet maar los.”

Hy is deesdae ’n dosent in die letterkunde aan die Universiteit van die Vrystaat (UV).

“Ek sien uit na die fliek en sal dit beslis gaan kyk. Tot dusver het ek meestal maar in die koerant oor die fliek gelees en nie self veel gehoor nie. Hier in Nederland het ek vir Niel (van Deventer) en Charlenè (Brouwer) raakgeloop.”

Van Deventer is die vervaardiger van die Kamphoer-fliek en Brouwer speel die rol van Susan Nell, die hoofkarakter. Van Deventer en Brouwer was in Nederland om onder meer, soos Smith, aan De Week van de Afrikaanse Roman deel te neem. Benewens die fliek is Kamphoer in Nederlands vertaal (Een schuldig leven) en is Dominique Botha, skrywer van Valsrivier, besig om dit ook in Engels te vertaal. Hopelik sal daar eersdaags nuus wees oor ’n Franse vertaling van die roman.

Van Deventer was ook die vervaardiger van die bekroonde Dis ek, Anna, waarin Brouwer die hoofrol vertolk het.

“Die besluit wie om te kies om die fliek te maak, lê nie juis by die skrywer nie, maar by die uitgewery, tog het ek, nadat ek verneem het wie wil die fliek maak, eers na Dis ek, Anna gaan kyk. Daar was iemand anders wat ook ’n fliek van die boek wou maak. Nadat ek Dis ek, Anna gesien het, was dit vir my maklik om ja te sê vir Niel-hulle.”

‘Ek wil allermins die proses beheer’

Francois sê veral die openingstoneel van Dis ek, Anna was vir hom aangrypend. “Daar waar Charlenè dinge met haar gesig doen . . . dit was werklik aangrypend.”

Hy sê hy sal graag ’n oog wil gooi oor die draaiboek, al het hy weens sy verpligtinge by die UV nie eintlik tyd nie, net om te sê wat hy daarvan dink en miskien kan hy ’n wenk of twee gee.

“Ek wil allermins die proses beheer. Dit staan ook so in die kontrak wat ek onderteken het. Toe ek vir Charlenè sien, was my eerste gedagte dat sy dalk te tenger is. Dalk te jonk om die rol van Susan Nell te vertolk, maar ek het myself herinner aan haar rol in Dis ek, Anna en daar het sy ’n baie forser gestalte gehad en baie oortuigend oorgekom. Ek sien uit na die fliek.”

Hy praat oor sy loopbaan wat byna twee jaar terug verander het van vryskut-uitgewersredakteur en jare lange Kapenaar, na ’n dosent in die letterkunde in die Vrystaat.

“My werk in Bloemfontein is bevredigend, hoewel ek van my gesin verwyder is. Ek is nou by my groter familie.” Francois is ’n boorling van Rouxville en het in die Vrystaat grootgeword.

Die Vrystaatse landskap is mý landskap.

“In vergelyking met Kaapstad het ek in Bloemfontein baie interessante en warm mense leer ken op ’n skaal wat ek nie in Kaapstad ondervind het nie. Die Vrystaatse landskap is mý landskap. Bloemfontein, die stad self, is nie mooi nie. Dis verwaarloos en effens vervalle, omdat die regering swak is of dalk ander prioriteite het.”

Hy doseer letterkunde van eerstejaarsvlak tot op meestersgraadvlak en bied ’n meestersgraad in kreatiewe skryfwerk aan. Dit was vir hom ’n reusagtige aanpassing om klas te gee, maar ná die amper twee jaar, gaan dit al beter. Oor wat op die oomblik op die land se universiteitskampusse aangaan, skud hy sy kop.

“Dit begin by die studente wat glad nie toegerus is om op universiteit te wees nie. Dit begin by skoolonderrig. Kinders kry plein swak onderrig. Met swak onderwysers en swak strukture. Voorts is daar die aandrang om sou gou as moontlik moedertaalonderrig te verlaat. Dit verswak ’n héle, héle generasie skoolkinders vir wie hul onderrig daarna ’n stryd met taal is – hulle kry nooit die geleentheid om vakinhoud konseptueel baas te raak nie, want dis ’n stryd om in Engels te verstaan.”

Misdadige sinisme

Hy sê die antwoord is min of meer wat in tradisionele Afrikaanse skole gebeur: moedertaalonderrig, gekoppel aan ’n goeie Engelse onderrig.

Sy ervaring op die Kovsies-kampus is dat daar veels te veel studente op universiteit is wat nie op universiteit hoort nie. “Dis ook as gevolg van die regering se afskaffing van kolleges. Ons sit by ons departement met onderwysstudente wat nie op universiteit hoort nie. Dis vir hulle net so frustrerend.”

Die geweld op kampusse is vir hom “misdadige sinisme” waarmee daar “veels te veel geduld” is. “Om biblioteke af te brand . . . ” sy oë vernou in afsku.

“Politici, SR-lede en politici van buite, buit arm, sukkelende studente se frustrasie op ’n absolute siniese manier uit. Dan brand biblioteke en geboue.”

Hy sê hy kom dikwels in die biblioteek op die Kovsies-kampus en daar sien hy die teenpool van die biblioteekafbranders.

Om studente te sien wat op só ’n ernstige manier hard, hárd werk . . . ten spyte van allerhande ontberinge . . .

“Ek sien so dikwels studente wat in groepies die biblioteek volsit, omdat hulle nie by hul huis, of waar ook al hulle loseer, geskikte studieruimtes het nie. Hulle sit en leer en met boeke voor hulle oop, tree hulle in debat met mekaar. Hulle werk hard. Om studente te sien wat op só ’n ernstige manier hard, hárd werk . . . ten spyte van allerhande ontberinge . . . Elke keer as ek dit sien, is dit vir my diep ontroerend. Dan kom hierdie nuwe geslag bevoorregtes en wil vir hulle sê hulle moet hierdie biblioteek eintlik afbrand. Nee man. Néé!”

Hy hoop om ’n paar weke in Desember – “as die vraestelle gemerk en die studente huis toe is” – te gaan sit en aan ’n nuwe roman te begin werk.

“Ek het ’n idee in my kop, maar jy skryf nie ’n boek in jou kop nie. Die kiemsel is daar, nou moet jy gaan sit en skryf en kyk of dit kan ontkiem,” groet hy by die deur van die restaurant, voor hy tussen honderde mense op fietse verdwyn.

Spyskaart

Café Thijssen, Amsterdam

2 x koffie €4,40 (R68,20)

1 x Koffie verkeerd €2,40 (R37,20)

1 x Jogurt met Cruesli en Fruit €4,50 (R69,75)

Footjie: €3,00 (R46,50)

Totaal: €14,30 (R221,65)

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.