Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Profiele
Ete met Jana Cilliers: Die sinvolheid van die alledaagse
Vir die veteraan-aktrise Jana Cilliers is dit nie meer belangrik wat haar volgende rol gaan wees nie. Vir haar is die “essensiële dinge wat jy elke dag doen” nou die lekkerste, het sy oor middagete aan Willemien Brümmer gesê.

Jana Cilliers. Potloodskets: Hanlie Malan
Sy wil begin skryf en ’n klavier kry sodat sy kan “speel tussen die klawers”.

Want op 66 is sy nou “in trurat”. En nee, sy’s nie bésig om af te skaal nie. Sy’t lankal afgeskaal.

Waar ons buite Deer Park Café in Vredehoek, Kaapstad sit, is sy ’n studie in swart, wit en rooi. Swart-en-wit serp oor die skouers en rooi plathakskoene wat by haar rooi halssnoer pas. Sy lyk nie ’n dag ouer as vyftig nie.

Haar sinne kom dikwels met ’n draai en dis duidelik hier is ’n fyn intuïtiewe abstrakte denker aan die woord: Sy “wonder eers ’n bietjie”, borduur dan voort en voer daarna – wat sy noem – ’n “tentakelgesprek” met byna impressionistiese voelers wat na onverwagse plekke uitspriet.

“Mense vra: ‘Nou wat bedoel jy met afskaal?’ Maar dis op alle gebiede, dink ek,” sê sy terwyl sy met smaak aan haar falafelslaai weglê. “My dogter Leán sê altyd: ‘Ma moet daai woord coin, Ma praat altyd van ‘daaglikheid.’

“Vir my is dit mos maar hoe jy jou dag deurbring, for that matter, jou nag ook. Daai essensiële dinge wat jy elke dag doen, is vir my die lekkerste.”

Vir haar is dié plesiere van die alledaagse al hoe meer ’n alleenreis. Destyds sou die perfekte dag vir haar ’n Sondag vol samesyn by die huis gewees het. Deesdae sou die ideale dag met minder mense bevolk wees.

’n Mens kan nie sku en skaam alleen oudword nie.

“Ek sosialiseer nie maklik nie. Soms dink ek dis ’n vorm van selfbeheptheid of dalk is ek net sku. Ek onthou ek was ’n skaam kind, en toe word ek my ma (die kunstenaar Bettie Cilliers-Barnard) se mooiste skildery. Sy het vir my so baie gedoen. ’n Mens kan nie sku en skaam alleen oudword nie.”

Sy aarsel. “Jy kán, maar dan moet jy dapper wees.”

Uiteindelik, sê sy, wil sy by ’n plek uitkom wat “eenvoudiger is en wat lig is en wat lekker is, jy weet”. Sy weeg haar woorde. “Mense het my altyd separatist en ’n alleenloper genoem, en my werkproses is baie intern en dis moeilik vir ander mense want hulle kan sien ek is besig met iets, maar hulle word op ’n manier uitgesluit. Ek het ’n digte weefwerk binne my en ek is heeltyd besig om te skakeer daar en ek hoop . . . ek wil nie meer hê dit moet my pootjie nie . . . ”

In hierdie stadium gaan dit vir Jana – die veelbekroonde aktrise van onder meer Master Class en Pous Johanna II – in elk geval lankal nie meer oor wat haar volgende rol gaan wees nie. “Ek is kreatief maar ek kry baie van my kreatiwiteit deur my ervaring van dinge buite myself en dit pas my soms beter. Ek is skaam. I might always give the impression that I’m a posturer en dat ek hou van die kalklig, maar dis vir my baie lekker om nou uit die kalklig te beweeg.”

Sy beweeg haar hande asof sy ’n beeldhouwerk boetseer. “Ek voel ek is dankbaar vir geleenthede wat ek gehad het. Ek was kieskeurig, maar nou is ek vergenoegd. Ek wil nie nou net ’n ouma wees nie. Die sinvolheid van die lewe het my nog altyd bietjie gepla en ek vind dit nou meer en meer in die alledaagse.”

Indien die regte geleentheid hom voordoen, stem sy nog maklik in tot rolle. Daar’s sprake van ’n opvolgreeks van Die Boekklub (waarin sy die kruievrou Anna Uys gespeel het) en sy’s pas klaar met ’n optrede van In die omtes van die hart – ’n samestelling uit die verhale, vertellings en poësie van Petra Müller, wat sy onder leiding van Juanita Swanepoel by die Tuin van die digters op Wellington gelewer het. Sy hoop om dié stuk volgende jaar ook na die Klein-Karoo Nasionale Kunstefees te neem.

Kleinkinders soos ‘poeding’

Waar ons op die helder lentedag in die restaurant se tuin sit, sien ons ma’s en kinderoppassers in die speelparkie wat met babas in stootkarretjies en buidels rondloop. Selfs twee Yorkshire-terriërs word verby ons in ’n tweeling-stootkarretjie geparadeer.

Sy vertel dat sy by haar aktrise-dogter Lika Berning, swanger met haar derde, in Wynberg oorbly, waarna sy die volgende dag terugvlieg na Johannesburg – na haar Parkview-huis waar sy al 25 jaar woon.

Sy glimlag. “My twee dogters is maar die twee mense in my lewe wat werklik die naaste aan my is, en my kleinkinders [Hugo (5), Jesse (1) en Aeon (1)] word net sulke heerlikhede. Hulle is regtig soos poeding. Jy kan te veel van hulle eet en dan moet jy eers ’n bietjie gaan rus.”

Sy proe-proe na die regte woorde. “Ek sê altyd ‘my home is my bedfellow’.”

As ek my lewe sou oorhê, sou ek ’n groter bewustheid wou hê dat ek eintlik ’n tegnikus is.

Sy’t pas haar garage reggemaak sodat sy dit kan uitverhuur. In plaas daarvan dat sy dit aan die bouer oorgelaat het, het sy ingemeng: “As ek my lewe sou oorhê, sou ek ’n groter bewustheid wou hê dat ek eintlik ’n tegnikus is. Mense sê: ‘Nou wat bedoel jy?’ Dan sê ek ‘Nee, ek hou daarvan om met my hande te werk’ en as hierdie ding nou breek, sal ek hom dadelik wil regmaak. Dis die kind in my – ek speel graag met tactile goedjies en toe dink ek ja, ek moes dalk teaterontwerp of beligting of beeldhou gedoen het. Ek kry ’n geweldige kick daaruit om met klippe of hout te werk.”

Waaruit sy ook deesdae groot kreatiewe vervulling kry, is die klasse in Alexander-tegniek wat sy die afgelope agt jaar by haar huis aanbied. Dit is ’n tegniek waarmee jy leer om van skadelik spanning ontslae te raak en nie onbewustelik onnodige energie gebruik nie. Tog huiwer sy om dié tegniek in woorde te probeer vasvang. “As ek vir jou die kleur rooi moet verduidelik en verwoord, kan jy baie goeters sê daaroor.”

’n Dikkop in die nag

Die middag stap aan en ek vra uit oor die twee groot verliese in haar lewe. Haar oë kyk ver. “Petra (Müller) sê so ’n mooi ding. Sy sê as kinders hul ouers verloor, dan word hulle wees. Dit weet almal. Maar as iemand sy lewensmaat verloor, word hy ook wees. En dit weet niemand nie. So ek het nou ’n bietjie wees geword, pardon the pun, en dit is asof dit iets is wat ek nog opnuut moet leer.”

Die twee mense deur wie sy wees gelaat is – haar tweede man en die akteur, Bill Flynn, en drie jaar later haar ma – is egter nog elke dag by haar, in haar.

Sy vertel van die aand toe sy haar ma se huis in Pretoria klaar opgepak het – dieselfde huis waarin sy gebore is en waarin haar ma op 95 gesterf het. Dit was 21:00 en yskoud en die bakkie was volgepak. Sy’t pas die faktotum gaan groet en die sleutels aan hom oorhandig. Skielik staan daar ’n dikkop by haar. “Hulle is nagvoëls en dis donker en ek kan nie mooi sien nie, en toe kry ek nét daar ’n epifanie: Ek het eers gedink as ek nader stap, gaan hy seker wegvlieg maar toe ek nader loop, toe staan hy net so.”

Haar stem is vol ontsag. “Ek dink my ma het my letterlik kom groet.”

Haar stem is vol ontsag. “Ek dink my ma het my letterlik kom groet.”

Op 15de September vanjaar, presies ses jaar ná haar ma se dood, het sy op ’n plaas buite Wellington vir die Tuin van Digters gebly toe die boer haar vertel dat daar drie dikkoppe by haar kar was. “Hierdie week was daar ’n baie sterk teenwoordigheid van my ma. ’n Mens dink jy kan haar nie mis nie, want jy’t so baie tyd met haar spandeer, maar dis omdat haar gees so . . . ek dink my ma was bo en behalwe ’n wonderlike kunstenaar en ’n spirituele vrou, ’n geweldige vriendelike mens. ’n Groot vriend van ons het altyd gesê ‘She gave people the time of day’.”

Ná Flynn se skielike dood in sy slaap in 2007 het sy ervaar dat die liefde voortgaan, ongeag. “Ek onthou ek was altyd so skrikkerig ná Bill se dood, want dan dink ek ek kan nie grappe vertel nie en ek kan nie mense gemaklik laat voel nie – inteendeel, ek laat hulle ongemaklik voel – en wat gaan ek doen as hy nie meer daar is nie? Dit was eers later dat ek besef het die omvang van ons verhouding was so dat hy eintlik net voortleef. Ek’s nie hy nie, maar hy’t homself nou so half ver-my.”

Sy glimlag oor haar beeldspraak. “Hy’s nou hier in my.”

Soos dikwels keer die gesprek terug na aflegging en ouer en stiller word.

“Iemand het juis nou vir my Breyten Breytenbach se bundel Die na-dood gegee en ek kan nie wag om daar in te klim nie. Ek was in Tasmanië by ’n vriendin, want dis waar FM Alexander (die vader van Alexander-tegniek) vandaan was. Toe kyk ek TV daar en toe gaan dit oor die skrywer Terry Pratchett wat Alzheimers het en toe vra hulle vir hom: ‘Are you scared of death?’ Hy sê toe ‘nobody’s scared of death, we are scared of dying.’

Sy peins ’n oomblik, glimlag toe enigmaties. “Dis hoekom ek die woord so waardeer. Ek sien nou so uit daarna om Breyten se ding te lees, want ouderdom en afsterwe is nie goed wat my afskrik nie.

“Dit herinner jou maar net aan die lewe – dat jy moet leef. Jy durf nie hiberneer nie.”

*Willemien Brümmer is 'n artikelskrywer vir Netwerk24

SPYSKAART

Vars lemoensap x 2 - R48,00

Ekstra gemmer - R12,00

Falaffelslaai x 2 - R164,00

Rooibostee - R14,00

Earl Grey tee - R16,00

Wortelkoek x 2 - R76,00

Fooitjie - R50

Totaal- R380,00

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.