Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Profiele
Ete met Leopold Scholtz: ‘SA nie middelpunt van die wêreld’

Suid-Afrikaners is eintlik aan die gatkant van die wêreld, en ons moet onsself nie wysmaak dat ons so vreeslik belangrik is nie, het Leopold Scholtz oor middagete aan Pieter Steyn gesê in Delft, Nederland.

Leopold ScholtzSkets: Hanlie Malan

Hy is nie links nie, hy is nie regs nie, hy is dwars.

Gewoonlik beloer hy lesers op sy profielfoto wat by sy artikels en rubrieke gebruik word van onder vraagteken-wenkbroue. Waar hy hier in die Stads-Koffyhuis in Delft, Nederland, langs sy vrou van meer as drie dekades, Ingrid, sit, is Leopold Scholtz (68) baie meer innemend as wat jy jou sou voorstel uit die profielfoto waarop hy nogal na ’n hardekwas lyk.

Innemend, maar hy vat duidelik nie nonsens nie en is nie bang om sy standpunt te stel nie, al is dit nie “polities korrek” nie.

“Suid-Afrika is nie meer die sogenaamde flavour of the moment nie. Ons wás, ná 1994, maar dit het getaan. Ons was in ’n stadium groot nuus – daar is baie aandag aan Suid-Afrika gegee, nie altyd voorbladnuus nie, maar daar was gereeld beriggewing. Dit het byna heeltemal verdwyn. Ons (Suid-Afrikaners) het ’n geneigdheid om te dink ons is die middelpunt van die wêreld. Ons is eintlik aan die gatkant en is ’n taamlik onbeduidende en onbelangrike uithoek,” sê dié voormalige adjunkredakteur van Die Burger terwyl hy aan “Nederland se amptelike drankie”, melk, teug.

“Ons moet onsself nie wysmaak dat ons so vreeslik belangrik is nie. Ek sou sê 99% van ons ‘belangrikheid’ het ná 1994 verdwyn.”

Hy noem darem dat daar in Nederland en Vlaandere ’n hernude belangstelling in Afrikaans is, al is dit net in “kleiner kringe” en dat Afrikaans sedert hy sy doktorsgraad in die 1970’s hier in Nederland gedoen het, die letsel as taal van die onderdrukker afgeskud het.

Hulle het jou kop bestudeer om te sien of jy nie horinkies het nie en was half teleurgesteld as hulle nie horings kry nie.

“Afrikaans en Afrikaners was destyds sleg. Hulle het jou kop bestudeer om te sien of jy nie horinkies het nie en was half teleurgesteld as hulle nie horings kry nie.

“Daardie houding oor Afrikaans en Afrikaners is meestal weg. Ek het ’n keer of wat ’n onderhoud met die vorige (Nederlandse) minister van buitelandse sake gedoen. Hy het hom tot ’n mate beywer vir Afrikaans en as sy kollegas in die Arbeidersparty hom aanspreek omdat Afrikaans die taal van die onderdrukker is, het hy hulle daarop gewys dat jy nie ’n taal kan straf oor wat sy sprekers gedoen het nie. Die meeste sprekers van Afrikaans is bruin, wat slagoffers van apartheid was. Afrikaans dra nie meer die las wat dit het toe ek hier studeer het nie.”

’n Toekoms vir Afrikaans

Terwyl ons oor Afrikaans praat, neig die gesprek ook na die debat oor Afrikaans op Stellenbosch en ander universiteitskampusse. Wanneer hy daaroor praat, lyk hy byna soos op sy profielfoto: vurig.

Om die waarheid te sê, ek, ons, het Stellenbosch afgeskryf.

“Ek sou graag wou sê die stryd op Stellenbosch kan gewen word, maar ek is bevrees dit is klaar verloor. Dis die harde waarheid. Om die waarheid te sê, ek, ons, het Stellenbosch afgeskryf. Ek en Ingrid was albei navorsingsgenote aan Stellenbosch. Ons het daar bedank en oorgeskuif na die Potch-kampus (Noordwes-Universiteit se Potchefstroomkampus) waar Afrikaans lyk of dit, ten minste vir die onmiddellike toekoms, sal voortbestaan as volwaardige akademiese taal.”

Hy glo die antwoord op die versekering van ’n toekoms vir Afrikaans as volwaardige akademiese taal sal by ’n instelling soos Akademia van die Solidariteitbeweging lê.

“Afrikaans en Afrikaanssprekendes gaan vir hulself ’n plek moet oopkerf, want niemand anders gaan dit doen nie.”

Volgens hom moet dit op ’n inklusiewe manier gebeur en nie op ’n manier “asof die 1994-oorgang” nie plaasgevind het nie. Wit Afrikaners kan nie Afrikaans vir hulself toeëien nie.

“Afrikaans behoort aan almal wat hom praat en ’n instelling soos Akademia moet oop en inklusief wees, anders het so ’n instelling géén toekoms nie en sál Afrikaans ondergaan. Akademia kan ’n Christelike karakter hê, maar dit moenie ’n beletsel wees vir Moslem-Afrikaanssprekendes of ateïste nie. Hulle moenie nodig hê om hulle te bekeer of by ’n kerk betrokke te raak nie.”

Die Grondwet is soos ’n mes

Oor kritiek dat Solidariteit en AfriForum regs of nieu-regs is, skud Scholtz net sy kop, huiwer ’n oomblik en dan is die vuur weer daar.

“Jy kan hulle nie as regs betitel nie. Ek sien myself nie as links of regs nie, maar as dwars. En ek dink dieselfde geld Solidariteit en AfriForum.”

Hy verduidelik die Grondwet is die fondament van die Suid-Afrika-gebou. En die einste Grondwet waarborg taalregte, nie net Afrikaans se reg nie, alle amptelike tale se regte.

Jy kan nie ander taalgroepe dwing om hul regte op te neem nie.

“Dis nie regte wat ek dínk my toekom nie. Ek hét daai reg. Wat Solidariteit en AfriForum doen is om daai regte op te neem. Jy kan nie ander taalgroepe dwing om hul regte op te neem nie. Jy kan hul hoogstens bystaan met kundigheid, maar daar is ongelukkig onder die breër swart bevolking in Suid-Afrika, ek praat nie van individue hier en daar nie, ’n onwilligheid om hul taalregte op te eis.”

Die Grondwet is soos ’n mes: Dit kan daar lê en nutteloos wees totdat iemand dit optel en as ’n wapen gebruik.

“Dit is was Solidariteit doen. Dan hoor jy van mense wat sê: ‘In Godsnaam, moenie jou regte opneem nie, want jy maak ander kwaad!’ Watse kranksinnige denke is dit? Watse gebrekkige kennis van demokrasie het die mense wat dit sê?” raak hy effe driftig.

“Jy mag dus nie jou grondwetlike regte opeis nie . . . ek het nie eintlik woorde nie.”

Beplan nie om terug te kom

Hy lees byna elke publikasie in Suid-Afrika en sê hy is deeglik ingelig oor wat in die land aan die gang is.

“Ek lees aanlyn en gedrukte media. Ek het ook tot 2007 nog in Suid-Afrika gebly. Ek moet jou sê die land lyk nie goed hier van buite af nie. Die ANC se eens goeie beeld in die buiteland is aan skerwe.”

Hy en Ingrid, ’n Nederlander wat hy tydens sy studies ontmoet het en met wie hy in Nederland getroud is, woon sedert 2008 in Nederland en hulle beplan nie om terug te keer nie.

“Ingrid het 30 jaar vir my in Suid-Afrika gebly. Ek voel ek skuld haar nou om hier te bly. En ek bly regtig lekker.”

Scholtz gaan nog gereeld Suid-Afrika toe. In 2017 word nog ’n Grensoorlogboek van hom bekendgestel en hy en Ingrid werk aan ’n boek oor die ontwikkeling van die ANC voordat hulle ontban is, wat ook in 2017 gepubliseer behoort te word.

“Jy weet, elke besluit oor Afrikaans op kampusse is deur Afrikaanssprekende rektore geneem, die jongste deur Wim de Villiers. Daar is genoeg intellektuele om Afrikaans te red as akademiese taal. Soos in Langenhoven se tyd, moet die intellektuele die voortou neem. Nie die lot wat net Gods water oor Gods akker laat loop nie. Dit gaan goed met Afrikaans omdat ons voorgeslagte daarin belê het. As ons wil hê dit moet oor 50 jaar steeds goed gaan met Afrikaans, dat daar ’n KKNK en Aardklop moet wees, moet ons ook, nou, belê in Afrikaans.”

SPYSKAART

Stads-Koffyhuis, Delft

1x melk 2,10 (R32,55)

1x rooibos 4,05 (R62,78)

1x de Delftse leut 3,50 (R54,25)

1 x cappuccino 2,60 (R40,30)

1x ciabatta met Italiaanse salm 8,95 (R138,73)

1 x ham-omeletje 7,95 (R123,23)

1 x broodje Alex Keus 6,95 (R107,73)

Fooitjie: 4 (R64)

Totaal: 40,10 (R621,55)

Meer oor:  Pieter Steyn  |  Delft  |  Afrikaans  |  Leopold Scholtz
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.