Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Profiele
Ete met Nicol Stassen: ‘Mense het gedink ek's mal’

Van ’n tafel op ’n straathoek in Hatfield tot 15 boekwinkels en ’n uitgewery wat sowat 100 boeke ’n jaar publiseer. Gert van der Westhuizen het oor middagete met Nicol Stassen gesels oor Protea Boekhuis, wat vanjaar ’n kwarteeu oud is.

Nicol StassenPotloodskets: Hanlie Malan

Nicol Stassen is vroeg vir ons afspraak by Cynthia’s Indigo Moon in Pretoria. Hy lyk amper nog net soos die vriendelike, stillerige man by wie ek 25 jaar gelede die eerste keer ’n boek gekoop het. Maar jy moet nooit dat iemand se voorkoms jou flous nie: Stassen het die afgelope kwarteeu behoorlik in die Suid-Afrikaanse boekewêreld gewoel.

Hy het sy boekwinkel begin in ’n tyd van politieke en ekonomiese onsekerheid toe baie boekwinkels toegemaak en uitgewerye hul deure gesluit het, sê Stassen. Hy het destyds boonop sy werk as ingenieur laat staan om boeke te verkoop.

“My vriende het gedink ek was ’n bietjie mal. Ek het ’n lekker werk gehad en goeie geld verdien. Ek dink nie één het regtig geglo dit gaan werk nie.”

Maar Stassen het geweet wat hy doen.

“Eintlik het ek al voor die tyd gesien dit gaan werk. Die winkel het op 1 Oktober sy deure oopgemaak, maar ek het van Mei af op ’n straathoek boeke verkoop en voor die einde van Julie al bedank. Met ’n tafel boeke op die straathoek kon ek meer verdien as wat my salaris as ingenieur was.”

Meer winkels én boeke

Sy eerste winkel was in ’n sentrum waar vier ander bekende handelaars óók boeke verkoop het. “Mense het gevra of ek nie dom was om my ou plekkie tussen die groot boekwinkels oop te maak nie. Ek het net vir hulle die grappie vertel van die ou met die piepklein winkeltjie tussen twee grotes. Die bordjie bo sy deur het bloot gelees: ‘Ingang’.”

Ná 18 maande moes hy sy eerste twee werknemers aanstel. Hy het na ’n groter winkel geskuif en in 1998 het hy sy vlerke na Potchefstroom gesprei. Vandag het hy 15 winkels oor die land heen met takke in onder meer Bloemfontein, Parow, Stellenbosch, Soweto en Worcester.

Ná meer as ’n uur herinner die kelnerin ons dat ons nog nie kos bestel het nie.

Dit het nie net by die verkoop van boeke gebly nie. Stassen het gou agtergekom daar is ’n aanvraag vir sekere boeke wat uit druk was. “Tafelberg het F.A. Venter se Offerland as herdruk onder ons naam gepubliseer. Dit was die eerste.”

Oorspronklike boeke het op die herdrukke gevolg met Die ware generaal Koos de la Rey wat dié nuwe rigting in 1998 ingelui het.

Einde verlede jaar het Protea sy duisendste boek uitgegee.

’n Mens kan vir ure lank luister hoe Stassen oor boeke praat. Gelukkig het hy Cynthia’s Indigo Moon as eetplek voorgestel omdat dit op ’n weekdag teen die middagete-uur stillerig is en ’n mens ongestoord kan gesels.

Ná meer as ’n uur herinner die kelnerin ons dat ons nog nie kos bestel het nie.

Stassen stel die wilde bosvark met ’n sjampanje-, mosterd- en heuningsous voor. Dit is die moeite werd, verseker hy, maar hy kan dit seker nie elke keer eet nie. Daarom eet hy dié keer eend.

Dan is dit terug na boeke.

Baie Boereoorlog-boeke en suksesverhale

“Ons het veral baie boeke oor die Boereoorlog uitgegee, wat mense laat dink het ons is ’n bietjie van ’n regse uitgewery. Gelukkig dink ek darem ons het daardie persepsie afgeskud; ons het goed wat baie links is gepubliseer én goed wat baie regs is. Ek hoop nie iemand wil ’n etiket om ons hang nie.”

Bekende skrywers het ook gehelp om Protea as uitgewer te vestig. “Karel Schoeman en Hennie Aucamp is twee van die grootse skrywers wie se boeke ons uitgegee het. Hulle was vir meer as 40 jaar en langer by ander uitgewers en het toe op ’n dag net die ‘nee’ gekry omdat hul boeke nie goed verkoop het nie.

“Dit was ons voorreg om Hennie se laaste tien boeke te publiseer. Hy is vir my so ’n groot mens en intellektueel.”

Dis eintlik blêrrie lekker as jy ’n drama uitgee en jy moet dit herdruk, want dit is iets wat jy glad nie verwag nie.

Die enigste ding waaroor hy werklik spyt is, sê Stassen, is dat hy nooit ’n boek van Jaap Steyn kon uitgee nie. Maar wie weet, dalk gebeur dit nog eendag.

Daar was talle ander suksesverhale waaroor Stassen kan glimlag.

Die groot Afrikaanse heldeboek van Pieter Grobbelaar herdruk ons amper jaarliks. Dit het ook by ons beland toe die vorige uitgewer besluit het om dit nie meer te druk nie. Dan Sleigh se Die buiteposte is al drie keer herdruk, elke keer met ’n groter oplaag.”

Meer onlangs moes twee dramas – Johnny is nie dood nie van Malan Steyn en Willem Anker se Skrapnel – wéér uitgegee word.

“Dis eintlik blêrrie lekker as jy ’n drama uitgee en jy moet dit herdruk, want dit is iets wat jy glad nie verwag nie.”

Digbundels is sy trots

Dit is egter Protea se digbundels waarop Stassen besonder trots is. Hy glo daarmee is nie net ’n “geweldige verskil” aan die Afrikaanse uitgewerswese gemaak nie, maar ook aan Afrikaans self.

“Die jaar voor ons begin het om digbundels te publiseer, was die finaliste vir die Ingrid Jonker-prys almal digters wat hul bundels self uitgegee het. Ons het met ’n groot spoed weggespring en nuwe en ou digters se bundels gepubliseer. Sedertdien het dinge verander en gevestigde uitgewers ding nou mee om nuwe digters se werk te publiseer.

Dit sal net ’n skande wees as sekere boeke nie in Afrikaans verskyn nie omdat mense dink dit is te duur om te publiseer.

“Afrikaans sou ook armer gewees het. In die laaste Groot verseboek (2008) het gedigte uit bundels wat Protea gepubliseer het 150 van die 1 500 bladsye beslaan. Ek dink nie 10% is ’n beskeie bydrae nie, veral as jy in ag neem dat ons eers in 2000 begin het om digbundels uit te gee.”

Diversiteit is ’n belangrike oorweging vir Stassen as hy oor die uitgee van digbundels besluit. Hy hou ook daarvan as iemand iets nuuts te sê het. “Jy hoef nie die beste te wees nie, maar as jy ’n nuwe manier het om ’n ding te sê, wil ek dit publiseer.”

Dit pla Stassen nie dat digbundels deur min mense gelees word nie. “Dit gaan oor jou prestige, jou goeie naam.”

Dít geld ook ander boeke. “Dit sal net ’n skande wees as sekere boeke nie in Afrikaans verskyn nie omdat mense dink dit is te duur om te publiseer.”

Die hobbits praat nou Afrikaans

Protea se vertalings uit ander tale in Afrikaans is veral vir Stassen belangrik. Nederlandse en Vlaamse skrywers se werke word vertaal vanweë Suid-Afrika se kulturele bande met dié twee lande en omdat Afrikaanse mense moeilik lees aan Nederlands.

“Ons suksesvolste vertalings is dié van Asterix-verhale uit Frans. Ek dink eerlikwaar nie ek oordryf as ek sê ons Afrikaanse vertalings is beter as dié in Engels nie, en partykeer amper beter as die oorspronklike Frans.”

Daar wag nóg twee vertaal-scoops vanjaar op Afrikaanse lesers: The Hobbit van J.R.R. Tolkien (met die Lord of the Rings-trilogie wat mettertyd sal volg) en Paulo Coelho se The Alchemist.

’n Geskiedenisboek of twee van Protea sal ook vanjaar die wenkbroue laat lig.

Ons suksesvolste vertalings is dié van Asterix-verhale uit Frans.

Twee boeke, in Afrikaans én Engels, met Paul Kruger se toesprake en briewe sal verskyn asook een met toesprake uit die laaste klompie jare van die omstrede voormalige premier dr. Hendrik Verwoerd se lewe.

“Jy beweeg op gevaarlike grond as jy so iets uitgee, maar ek dink dis belangrik om dit te doen. As ons na die verlede kyk, moet ons dit probeer verstaan. Ons gaan ongelooflik baie kritiek kry, maar dis belangrik om die Verwoerd-boek uit te gee.”

Stassen raak vir die eerste keer amper driftig: “Hoe op aarde kan jy die geskiedenis verstaan as daai boek nie verskyn nie?”

Die geskiedenis lê Stassen na aan die hart. Hy het immers sy MA-graad in ingenieurswese met ’n doktersgraad in geskiedenis opgevolg en Protea het twee boeke uitgegee wat uit sy navorsing daaroor gespruit het: Afrikaners in Angola 1928-1975 en Die Dorslandtrek 1874-1881, wat albei ook in Engels vertaal is. Hy was ook verantwoordelik vir die redigering van William Chapman se herinneringe en ’n boekie oor Duitse bronne van die Anglo-Boereoorlog.

Dan het hy nog ’n stuk of 30 kinderboeke self vertaal wat deur Protea uitgegee is: uit Frans Nederlands, Duits en Spaans tot een uit Italiaans.

In só ’n wêreld propvol boeke is daar nie tyd vir dinge soos televisie kyk nie. Stassen hét nie eens ’n televisiestel nie. Hy is wel gereeld op Facebook bedrywig omdat hy aan groepe behoort wat met sy navorsing help. Hy doen steeds navorsing oor die Dorslandtrekkers en lees ook baie boeke wat hy oorweeg om uit te gee.

Gelukkig lees hy vinnig. Die aande en naweke is leestyd, sê Stassen.

Hy doen ook navorsing oor sy voorsate en ons kan nog ’n boek verwag, want van boeke lees of skryf en uitgee sal Nicol Stassen nie sommer genoeg kry nie.

“Ek het onlangs gehoor van ’n plekkie in Spanje waarvan ek nie geweet het nie,” lag hy. "Daar is een boekwinkel vir elke 16 mense in die dorpie. Ek dink ek sal daar kan bly.”

SPYSKAART

Cynthia’s Indigo Moon

Bottel water – R69

Bottel Bellevue malbec – R225

Wilde bosvark – R145

Eend a L’Orange – R128

Espresso – R19,50

Fooitjie – R70

R656,50

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.