Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Profiele
Ete met Rian van Heerden: ‘Die dinge wat ek nie moes gesê het nie’

Aan die vooraand van Rian van Heerden se laaste skof by Jacaranda FM vertel hy vir AJ Opperman oor sy boek en die één uitlating waaroor hy spyt is.

Rian van HeerdenSkets: Hanlie Malan

Rian van Heerden sien uit na hoe sy boek “homself gaan skryf”. Hy het reeds die inhoudsopgawe van dié boek, waarin hy oor sy loopbaan en die “dinge wat ek tong in die kies nie moes gesê het nie”, vir Tafelberg gestuur, maar hy weet dit gaan verander.

“Ja, jy weet, it’s all coming back to me now, soos die song gaan,” sê hy oor gebeure in sy lewe tot dusver.

Ons sit by O’Galito in die Centurion-winkelsentrum waar hy ’n gereelde kliënt is, maar hy’s nie nou honger nie. Hy reken dis die beste restaurant in Pretoria.

“As jy wil breakfast hê, kan jy gryp, maar ek eet nie gewoonlik hierdie tyd van die oggend nie,” sê dié man wat The Complimentary Breakfast op Jacaranda FM vanjaar vir die laaste jaar aanbied.

Hy bestel wel meer as een keer koffie met warm melk.

Hy het in 2011 by dié stasie begin uitsaai.

In 2007 het hy as vervaardiger begin werk van die oggendprogram Good Morning wat Kieno Kammies aangebied het.

Intussen was hy ook omroeper by OFM.

“Toe ek by Jacaranda begin uitsaai het, was dit op ’n aandprogram. En toe later die ontbytprogram. Ek dink dis nou die één ding wat ek nie gaan mis van ’n breakfast show as ek klaar is nie: My oggend begin so 04:30. Dan kyk ek gewoonlik wat deur die nag in die nuus gebeur het. Die vervaardigers stuur ook vir my goed, dan luister ek ’n bietjie daarna. My dag eindig dan so 19:00. Dis ’n lang dag.”

’n Rubriek wat homself skryf

Vir hom is dit ononderhandelbaar: Jy moet jou huiswerk doen.

Hy onthou ’n bloutjie wat hy met die Britse skrywer Andrew Morton (toe sy boek oor Monica Lewinsky verskyn het) geloop het.

“Hy het in ons onderhoud (vir Punt-geselsradio) aan my gesê: ‘You did not read my book, did you?’ en sedertien maak ek seker ek lees die boek. Ek maak seker dat ek weet wat aangaan. Jy weet, ons luisteraars is ook nogal ingelig. Jy kan nie ’n expert op alles wees nie, maar jy moet sorg dat jy die basiese weet.”

Hy hoop mense gaan die boek lees wat hy nou skryf.

Hy hou baie van skryf en dit is nie iets nuuts vir hom as ’n mens dink aan sy rubrieke vir onder meer Vrouekeur en Netwerk24 nie.

“Dis weird hoe die skryf van die boek nou gekom het. Die afgelope vier jaar . . . elke jaar sal iemand vir my sê, skryf ’n boek. Mense het al na my toe gekom en gesê kom ons skryf ’n boek vir jou, waarmee ek nie gemaklik is nie.

“Met die rubriekskryf het die rubriek soms homself geskryf. Ek wou oor ’n sekere onderwerp skryf en dan kom ek by iets anders uit en ek weet nie hoe dit gebeur het nie. Ek sien uit na hoe dié ding (die boek) homself gaan skryf.”

Gekla oor sy eie program

Sy loopbaan kom ter sprake, sowel as die “dinge wat ek tong in die kies nie moes gesê het nie.” Dit wat hom in die moeilikheid laat beland het.

Toe hy by Punt uitgesaai het, het hy self die Pretoria News gebel en gekla oor die program wat hy aangebied het.

“Dit was in die ou dae toe almal omstrede wou wees.

Ek het gemaak of ek iemand anders was en gekla oor my eie program, want ek het gehoop hulle gaan ’n storie daaroor doen. En toe hét hulle. Kan jy dit glo? Toe was ek baie happy om myself in die koerant te sien. As niemand oor my gaan kla nie, gaan ek maar oor myself kla.

Snaaks, as jy nie probeer nie, dan wórd jy omstrede.

“Maar jy kom mos by ’n punt waar jy nie meer met opset daarop uit is om omstrede te wees nie. Snaaks, as jy nie probeer nie, dan wórd jy omstrede.”

Sy eie klagte oor homself was uiteindelik ’n voorloper van soveel ander kritiek. Hy het al ophou tel aan al die voorvalle.

“Iemand sê nou die dag vir my ’n ding wat sin maak: As die uitsaaiklagtekommissie jou op jou naam ken, dan het jy al ver gekom met klagtes.”

Die één uitlating waaroor hy spyt is

Gedurende sy regstudies aan die Universiteit van Pretoria het dié oudleerling van die Hoërskool Waterkloof (hy het in 1991 gematrikuleer) vir sy vriend gaan kuier wat by Tuks FM die laataandprogram aangebied het.

“Ek sit toe oorkant hom en terwyl ek daar sit, skakel my vriend die mikrofoon aan.”

Hy druk sy vinger op die tafel asof hy ’n knoppie druk wat iets aanskakel.

“Toe sê hy, kom ons gesels. Ek het iemand hier in die ateljee. Toe begin ons ’n program en dink hoe omstrede ons kan wees.”

Skoolkinders het daarna geluister en kassette daarvan gemaak en aan mekaar verkoop. Toe kom hy en sy vriend agter mense praat oor hulle.

Van Heerden is net oor een uitlating spyt wat hy destyds by Jacaranda gemaak het.

“In ’n oomblik van woede het ek op ’n luisteraar gereageer. Sommer ’n onskuldige skool, die Nuwe Hoop Skool (vir leerlinge met spesiale behoeftes) by die bespreking ingesleep. Ek is beboet daarvoor. Ek het gevoel ek was 100% skuldig.”

Hy’s egter geheimsinnig oor presies wat hy gesê het en wat die konteks was. Die volle waarheid sal in sy boek onthul word.

Buiten dié aanmerking is hy oor niks spyt nie.

“Wel, ek dink daar is goed wat ek verkeerd gestel het, wat ek nog steeds bedoel het. Ek moes dit net beter uitgedruk het.”

Hy glo taal gaan oor kommunikasie.

“Jy moet die taal praat wat ek praat, anders verloor jy my. As jy hoogdrawend praat, gaan ek nie met jou kan connect nie.

“Nou wonder ek: Wie praat van ’n toepassing? Nie eens Afrikaanse mense weet waarvan jy praat nie.”

Hy wonder of radio die doeltreffendste manier van kommunikasie is.

“Alles is nou onmiddellik. Nou is dit news on demand. Ek het die storie gehoor. Gehóór. Nou wil ek die storie lees. Nou wag ek vir die koerant. Destyds. Vandag wag jy nie meer vir die koerant of die tydsein nie, jy gryp nou jou foon. Nou kan goed soos podcasts afgelaai word.”

As Rian en Julius ‘Ebony and ivory’ sing . . .

Hy praat oor die vraag na (gehalte-) inhoud deur mediaverbruikers.

Die hedendaagse gier om goed af te laai dwing ’n mens om die beste moontlike program uit te reik, meen hy.

Jy moet sê Julius Malema en Rian van Heerden voer saam ‘Ebony and Ivory’ uit. Dit is iets wat mense sal wil hoor

“Dis die toekoms van radio: content on demand. Dit gebeur al klaar dat mense snippets vir mekaar oor en weer stuur. Mense vra nou spesifiek waar en hoe kan ek wat kry. Vat nou iemand soos Gerrie Nel: Almal het met hom gepraat, so waarom sal jy spesifiek my program aflaai? Daar moet iets unieks wees in my program, my onderhoud met hom. Dit maak dit eintlik ’n lekker uitdaging. Jy moenie sê ek praat met Julius Malema nie. Jy moet sê Julius Malema en Rian van Heerden voer saam ‘Ebony and Ivory’ uit. Dit is iets wat mense sal wil hoor.”

Hy is nou al amper ses jaar lank by Jacaranda. Hy self meen hy rek dit nou uit siende dat hy gewoonlik tussen drie en vyf jaar by ’n plek bly.

“Die langste wat ek voorheen by ’n plek was, was vier jaar. Jy voel ná ’n ruk jy het elke muffinresep bemeester. Jy verstaan nou muffins, kom ons probeer nou jaffles maak.”

Op ’n vraag oor wat die inhoud van hierdie jaffles sal wees, laat val hy ná ’n kort stilte: “Time will tell.”

SPYSKAART

O’Galito

Koffie x 4 – R63,60

Footjie – R20

Totaal – R83,60

Meer oor:  Rian Van Heerden
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.