Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Profiele
Ete met Simon Bruinders: ‘Korrektheid maak my moeg’

Politieke korrektheid maak hom moeg, het die akteur Simon Bruinders in Nederland aan Pieter Steyn gesê. 

Terwyl ons van die Rijksmuseum in die rigting van ’n restaurantjie op die plein voor die museum aanstap, skud Simon Bruinders sy kop. Hy het gelees wat op die oomblik op Suid-Afrikaanse kampusse (dit was ’n paar dae voor die bom oor aanklagte teen Pravin Gordhan) aangaan. Hy verstaan dit nie, sê dié bekende akteur, dramaturg en skrywer van die treffer-roman Die Sideboard.

“Weet jy wat verstaan ek nie? Ek verstaan nie die konsep van afbrand nie. Daar moet ’n studie daaroor gedoen word. Ek verstaan nie hoekom brand mense goed af as hulle ontevrede is nie. Moet ook nie vir my sê dis die enigste manier hoe ons die regering kry om te luister nie.”

Simon is een van die skrywers wat deelgeneem het aan De week van die Afrikaanse roman wat einde September in Nederland aangebied is.

Toe ons gaan sit, lui die polisiesirenes om ons. Simon kyk op en dink ’n oomblik.

“Dit is die eerste keer dat ek in Nederland oorslaap, ek het nog altyd net op Schiphol oorgestaan. Dit is opvallend dat hier nie soveel misdaad is soos daar by ons nie. Weet jy wat maak my moeg?” sê hy terwyl hy ’n hap van sy stomende stroopwafel vat.

Political correctness. Dit maak my moeg. Ons het ’n skeefgetrekte idee oor wat die groot probleme in die land is. As iemand vandag vir my sê ‘jou hotnot’, dan sal ek hom in sy moer stuur en dit van my afskud. As iemand my vrou verkrag, is dit ’n ander storie. So iets skud jy nie af nie. Dit bly in jou en om jou. Dís iets ernstig. Ons moet rassisme uitroei, maar dis groter nuus as iemand iets rassisties sê as wat dit is wanneer iemand verkrag word. Dit kan mos nie? Ons het ernstige gesprekke nodig met mekaar. Daar moet sommer op skool al periodes wees waar kinders met mekaar kan praat, debatteer en leer om af te brand is verkeerd. ”

Die Sideboard wat deur Ingrid Glorie, redakteur van die tydskrif Maandblad Zuid-Afika in Nederlands vertaal is as Dit is mijn land, word eersdaags ook in Engels uitgegee. Die roman is voorgelees op RSG en is verwerk in ’n musiekblyspel.

“Jy weet, bruin mense het altyd die ‘verskoning’ dat hulle hul eie stories wil lees in boeke, hoor op die radio en sien op die TV. Toe ek dié boek geskryf het, het ek gesê hier is nou ’n storie oor ons mense. Nou moet julle begin lees,” lag Simon. Een vrou, vertel hy, het op een van die bekendstellingsgeleenthede vir hom gesê sy koop gereeld Huisgenoot en Kuier en dis die eerste keer in ’n paar jaar dat sy ’n Afrikaanse boek gekoop het.

“Ek dink die boek het dalk ook op ’n goeie tyd verskyn – met die taalstryd en so aan. Daar is beslis ’n behoefte onder bruin mense aan Afrikaans. Ook om in Afrikaans te studeer. Onthou, die platteland, waar baie bruin mense vandaan kom, is Afrikaans. My suster se kleinkind in George wou spesiaal Potchefstroom toe gaan om te studeer omdat sy in Afrikaans wou studeer.”

Simon reken nie die sogenaamde taalbulle wat gereeld bruin mense en hul behoefte aan Afrikaanse tersiêre onderrig in hul argumente gebruik, misbruik bruin mense nie.

“Dis eerder ’n wekroep vir ons as bruin mense, dink ek. Dis ’n wekroep dat ons eienaarskap moet vat oor Afrikaans saam met die ander sprekers. Ons het ’n probleem dat ons (bruin mense), met die uitsondering van enkeles, nie opstaan vir Afrikaans nie. Dis tyd dat ons opstaan. Bruin mense kan makliker opstaan vir Afrikaans, sonder dat die verlede voor hul koppe gegooi word – ons was nie die onderdrukkers nie. As ons deel word van die debat, val daardie argument van ‘die taal van die onderdrukker’ plat. Hoe kan ’n mens anyways ’n taal straf? By die Nuremberg-verhore is Duitsers gestraf, nie Duits die taal nie,” sê Simon passievol.

Sy hele lewe lank, hy is nou 67, werk hy hoofsaaklik in Afrikaans en dit is waarom hy so passievol oor dié taal is, beduie hy.

“Kyk, ek sien Afrikaans as ’n ontsaglike belangrike uitvoerproduk. Ek is seker daar is géén ander inheemse taal in Afrika waarin soveel navorsing gedoen is, soveel letterkunde die lig gesien het, soveel verhandelings geskryf is nie. Ons het baanbrekerwerk in die mediese veld gedoen in Afrikaans, in die veld van die regte, ook in Afrikaans. Eskom, Krygkor, Sasol . . . alles is in Afrikaans en deur Afrikaanssprekendes begin. Natuurlik was daar apartheid wat verfoeilik was, maar ’n mens moet alles in balans sien. Nié alles wat in Afrikaans gebeur het, was nét sleg nie.”

Oor die moontlikheid van ’n volgende boek is Simon baie geesdriftig. Net soos Die Sideboard is dit ook ’n verhaal wat op die waarheid gegrond is. Die Sideboard is geskoei op die verhaal van sy pa en sy onderwyserma. Die nuwe boek is ’n jeugroman met DJ as die werkstitel. Dit gaan oor ’n seun wat sy pa verloor en van die sendingstasie Zoar in die Klein Karoo, Mitchellsplein toe moet trek.

“Daar sien hy mooi meisies, die berg, die see en tik. Dan kom ’n bekende in vermaaklikheidskringe en gee hom ‘n kans.”

Dié is ’n ware verhaal en Simon se seun, die akteur Alvin, het die jong seun van die straat af gehelp en vandag is die seun ’n suksesvolle klankingenieur.

“Dis sulke stories, wat volop is, wat ons moet vertel. Ons moet ophou hamer op ras. Ons speel in politici se kraal wat ras gebruik om aan bewind te bly of hoop om aan bewind te kom.”

Spyskaart

Museumpleintje, Rijksmuseum

1 x Cappuccino E2,00 (R31,00)

1 x Latté E2,00 (R31,00)

2 x Stil water E4,00 (R64,00)

2 x Verse stroopwafels E5,00 (R77,50)

Footjie: E2,00 (R31,00)

Totaal E15,00 (R232,50)

Meer oor:  Onderhoud  |  Skrywer  |  Akteur
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.