Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Profiele
Fatima Sydow: ‘Ons ken droë brood en kondensmelk’

Sy gebruik kos om mense “’n bietjie op te kikker” sê Fatima Sydow aan Murray La Vita.

Fatima Sydow tydens ’n onderhoud in haar huis in Lansdowne, Kaapstad. Foto: Jaco Marais

Dit is ’n Moslemhuis, maar in die voorhuis flonker ’n Kersboom en op ’n buffet staan ’n kordate Kersvader en glimlag.

“Elke jaar doen ons voor Kersfees drie klein goedjies hierso. Dis met kinders, dis met die homeless en dit is met pensioene. Dan gee ons vir hulle lekker eetgoed. Daarom is die Kersboom hier,” sê Fatima Sydow.

Ons daag teen skemer by haar huis in die Kaapse voorstad Lansdowne op. Op die kas langs die Kersvader lê ’n ou eksemplaar van Kook en geniet. Die koffietafel is vol versnaperinge: bakkies gevul met vars aarbeie, lekkergoed, crisps en muffins. Ook bottels met vrugtesap en water.

Ons is hier om te gesels oor Fatima en haar tweelingsuster, Gadija Sydow Noordien, se kosprogram Kaap, Kerrie en Koesisters. Weens ’n sameloop van omstandighede kan Gadija nie hier wees nie. Dus praat Fatima namens hulle albei.

“As kinders het my ma gesê ons moet na die neighbours toe gaan en gaan help om die ornaments op te sit en gaan help skoonmaak en kosmaak.

“Ons was gebore in Manenberg. My ma is van die Kaap, Orphanstraat. Tot ek agt was, was ons in Manenberg. Toe trek ons Mitchells Plain toe. Maar omdat onse ouma en al onse niggies en oompies en anties in Manenberg gewoon het, het ons élke naweek Manenberg toe gegaan.

Wat is die een ding wat almal bymekaar bring? Dis kós. Reg?

“So in die tagtigs was ons in Westridge en Rocklands in Mitchells Plain. In die negentigs het ons Strandfontein toe getrek en daar het almal nou grootgeraak en getrou en kinders gehad en hule eie huise gekry.

“Mitchells Plain was amazing. Ek was in Glendale High School. In 1993 toe kom Nelson Mandela met ’n helikopter daarheen. Ek het die eer gehad om vir hom te sing. Ek het voorgestaan. Hy het daar gesit [sy beduie na sowat twee meter van haar af] en ek het hier gestaan met die kinders agter my. En ek het lead gesing: “The Greatest Love of All”.

“En toe ek nou klaar gesing is toe staan hy mos nou op en ons ontmoet mekaar. Dis een van die hoogtepunte van my lewe. Hy het gesê: Well done. En ek dink by myself: Ek voel seker trots, maar hoeveel meer kan ons doen wat ons kan trots maak op die land. Ons is ’n nuwe demokrasie. Ons is almal in clusters. Ons dink ons ken mekaar, maar ons ken nie mekaar nie. Wat is die een ding wat almal bymekaar bring? Dis kós. Reg?”

Sy lag uitbundig.

Fatima en Gadija in die kombuis, waar hulle op hul gelukkigste is. Foto: VIA

‘Almal help mekaar’

Haar ma, Wasiela Sydow, was ’n spysenier.

“Maar daai jare se spyseniere het nie gecharge nie; nie in onse kultuur nie. Sy het gecater, maar laat ek jou mooi verduidelik wat catering beteken in die Kaap-Maleise kultuur. Almal help mekaar. As ons nou ’n wedding het en daar gaan 500 mense kom, dan gaan elke antie help kosmaak in die 100 l-potte; sommer op ’n vuur. Daai jare het almal kos gemaak.

“As mense vier maande voor die tyd hoor my dogter trou, dan begin outomaties, sonder om te vra, die hele groot familie, met die outskirts van die familie, om visolie weg te sit of te sê: ‘Ek gaan die koek skenk. Ek gaan die sweets skenk.’ As ons weer sien, is die hele wedding klaar en daar is nog klomp kosse oor. En die rule is die héle familie word uitgenooi en as jy wil iemand saambring, bring hom saam – hoe meer hoe beter.

“En enigiemand wat buitekant die saal sit, al is dit nou ’n bergie, moet hulle ook inkom, want hulle moet getreat word soos kings and queens.

Jy sal nooit in my huis of die mense wat ek ken se huise kom en daar is nie iets op die tafel nie; dít is ’n groot sonde.

“En as daar kos oor is dan behoort dit nie aan die host nie. As dit eers gekook is, behoort dit aan die gaste. Dis wat ons die barakat noem. So as jy gee, dan is dit ’n blessing.

“Jy sal nooit in my huis of die mense wat ek ken se huise kom en daar is nie iets op die tafel nie; dít is ’n groot sonde. Al is daar nie geld nie, gaan ons ’n way maak; ons maak gou iets. Ek dink jy kry in baie kulture daardie hospitality. Ek het dit byvoorbeeld ook al by Xhosavriende se huise beleef.”

Sy stel baie in ander mense se kulture belang.

“Ek hou daarvan om meer van mense uit te vind. Ek was al orals; ek het in Suid-Afrika rondgetoer en ek was ook in Europa. Ek het ’n smaak gehad van hoe ander mense lewe in verskillende lande. Ek is baie avontuurlustig.”

Fatima het vir ’n ruk argeologie aan die Universiteit van Kaapstad studeer.

“Maar ek het dit later gelos want daar was nie geld nie. Al wou ek ’n argeoloog word, het iets my net elke keer terug na die kombuis toe getrek; my passie is dáár.”

Fatima en Gadija saam met hul susters en ’n niggie. Van links is: Nadia Sydow Jaftha, niggie Wacela Kamalie Brown, Gadija, Fatima, Hadjira Sydow en Kulsum Sydow. Foto: VIA

Fatima se ‘magic’

Ons praat oor hoe Kaap, Kerrie en Koesisters tot stand gekom het.

“Ek was altyd mal oor die gevoel wat ek het wanneer ek om ’n tafel sit met my ouers. Ons is baie close, ons is ses kinders. Maar ons het baie arm grootgeword, meaning whatever op die tafel gesit word, was baie geappreciate en jy weet van deel want jy kan nie ’n hele bak alleen eet nie en daar is nog klomp wat moet eet.

“Maar ons het nooit geweet ons is arm nie want daar was soveel liefde, soveel liefde. En soos ek opgegroei het toe realise ek nou: Kyk hier, iets gaan verkeerd in hierdie land.

“Ek het net gevoel: Wát kan ék contribute om mense bietjie op te kikker; bietjie liefde te inject; to enhance the quality of their life. En ek het gedink: Wel, dit is ons familie deur kos gedoen, so laat ek die resepte share wat aan my oorgedra is deur my ma en my ouma en almal. Laat ek dit aan die mense gee en kyk wat gebeur.”

Sy het dit deur Facebook gedoen.

Én hulle sê wat hulle love van my resepte is dat jy die ingredients by jou local tuckshop kan kry.

“Magic happened! Ek het al amper 300 000 volgelinge op Facebook. Ek kry boodskappe van vroue wat vir my sê hulle mans is nou baie different met hulle.” Sy lag weer guitig. “Hulle lek hulle borde skoon. Die kinders kan nie wag om na die kombuis te kom om te eet nie terwyl hulle voorheen hulle gesigte getrek het en nie eens hulle kos wou opeet nie.

“Én hulle sê wat hulle love van my resepte is dat jy die ingredients by jou local tuckshop kan kry. Dis nie daai laaang lyste nie wat as jy klaar die goed gekoop het, is jou hele wages op. Dis simple, economical meals – dis húiskos.

“Soos jou dahlkerrie met hoendernekkies. Jou poerings; jou kerries; jou bredies; jou breyanis; jou samoosas en daltjies en koesisters en ons gaan aan en aan en aan . . .”

Haar stem raak sagter en effens hees wanneer sy die inkantasie voortsit.

“Al die soorte beskuitjies: saboeratjies en tweegevreetjies, hertzoggies; botterbeskuitjies, romany creams . . . Die kosse! Ooh! Denningvleis, pickled fish, mavrou, oumense onder die komberse, frikkadel!

“Die nuwe generasie word sadly nie hierdie resepte geleer nie. Party, miskien 2%; die res fokus op hulle career; hulle is die hele tyd op hulle fone, hulle sosialiseer . . . Die connection het van een generation na die volgende verlore geraak. So, ek het gedink kom ons connect weer die mense, en die beste manier om dit te doen is deur kos.”

Fatima en Gadija besig om inkopies te doen voor ’n groot kokery.Foto: VIA

Kosmaak en lag

Sy het ’n visie gehad.

“Ek het in 2015 op my eie ’n kookboek gepubliseer – The Journey of Cape Malay Cooking. Ek het dit alles in my klein kombuisie gedoen met ’n tweeplaat mini-oven en ’n geleende kamera. Die boek verkoop nog altyd soos soetkoekies. Dis eintlik ’n best seller, maar ek kan mos nie so sê nie want dit is nie op die mark nie; ek verkoop sommer uit die boot.

Maar ons is tweelinge, ons is inseparable, so natuurlik gaan ons heeldag kosmaak en lag.

“Gadija is ’n bibliotekaresse by ’n skool, maar sy is ook versot op kosmaak en veral koek bak; sy kan hééldag koekbak. Ek en sy maak altyd saam kos by haar huis; ons is heeldag in die kombuis. Maar ons is tweelinge, ons is inseparable, so natuurlik gaan ons heeldag kosmaak en lag.

“Toe sit ons een middag en ek sê vir haar: ‘Gadija, ek weet ek het nou dié boek gemaak, maar ek het ’n vision, ’n vision van ek en jy. Ek sien ek en jy gaan op die TV wees met kos. Ja, en ná daai kom ’n boek.”

Twee maande later het ’n produksiemaatskappy haar op Facebook genader en gevra of sy ’n kosprogram sou wou aanbied.

“Gadija het eintlik net vir moral support saamgekom na die eerste vergadering met die maatskappy. Maar toe hou hulle van die tweeling-ding. So, toe ons uit die boardroom loop toe is Gadija ook op die show. En toe ons in die die lift klim, sê sy: ‘Jô, jou vision het waar geword!’

“Anyway, die tyd gaan aan en ons doen seisoen een en die mense hou daarvan en ons seisoen twee en seisoen drie, en toe kry ek ’n boodskap van NB-uitgewers: Hulle wil baie graag ’n boek doen wat ’n konneksie het met die show ook. Die boek se titel gaan ook Kaap, kerrie en koesisters wees en die Engels Cape, curry and koesisters.

“Gadija sê toe: Jy het gesê ’n TV show en ’n boek en daar gebeur dit nou.’”

“Ons ken droë brood en kondensmelk.”Foto: VIA

Die mense wág

Kersfees is om die draai en mense is nou veral ingestel op kos.

“Kyk, almal hang uit by my Facebook page – hulle wág vir die resepte. En ek gee tips en ek deel stories oor hoe ons opgegroei het en die Christenmense oor Kersfees gaan help het.”

Het hulle nie as kinders dié mense se vieringe en geskenke met verlange gade geslaan nie?

Ons ken droë brood met ’n bietjie kondensmelk of ’n bietjie suiker oor gesprinkle.

“Nee. Ons is geleer om altyd vir ander gelukkig te wees. Die geluk in iemand anders se lewe is genoeg. Ons love dit. Ons is nie oor prag en praal nie – glád nie. Dáái goed beïndruk nie vir ons nie. As ons môre álles verloor, sal ons survive en ons sal nog altyd happy wees. Jy sal nie eers weet ons het niks nie.

“Ons kom van niks en as ons gaan na niks gaan dit nie vir ons affect nie. Ons is nie op ’n silver spoon gebore nie. Ons ken droë brood met ’n bietjie kondensmelk of ’n bietjie suiker oor gesprinkle. En flou tee, of ’n teabag wat moet stretch vir ’n hele week,” sê Fatima laggend.

* Nuwe episodes van Kaap, kerrie en koesisters word Maandae om 17:00 op VIA (DStv-kanaal 147) uitgesaai met heruitsendings op Saterdae om 15:30. Die huidige reeks duur tot 28 Januarie.

Meer oor:  Murray La Vita  |  Nelson Mandela  |  Kaap
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.