Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Profiele
Fluitjieblaser: ‘Moeilike tyd, maar ek sal dit weer doen’

Fluitjieblasers speel ’n kritieke rol in die bekamping van korrupsie in Suid-Afrika. Tog word hulle glad nie beskerm nie en bloot aan hul eie lot oorgelaat in ’n vyandige wêreld, het Themba Maseko aan Gert van der Westhuizen gesê.

Themba Maseko kan darem deesdae weer glimlag ná die moeilike klompie jare wat gevolg het op sy openbaarmaking van die Guptas se poging om hul hande op staatsgeld te lê. Foto: Gert van der Westhuizen

Dit was die jaar van die Wêreldbeker-toernooi in Suid-Afrika toe die lewe van Themba Maseko, trotse struggle-aktivis en staatsamptenaar, onherroeplik verander het. Daar was eers ’n oproep van oudpres. Jacob Zuma.

“My broer,” het die destydse president glo op ’n dag in Mei 2010 aan Maseko, toe uitvoerende hoof van die regering se kommunikasiediens, oor die foon gesê. “Daar is hierdie Gupta-mans, ek wil hê jy moet hulle ontmoet en hulle help.”

Maseko was juis op pad na die Guptas se vesting in Saxonwold, Johannesburg, toe Zuma hom bel. Hy is daar ontmoet deur Ajay Gupta, wat hom na bewering sonder ’n omhaal van woorde beveel het om die regering se hele advertensie-begroting na die Guptas se media-ondernemings te kanaliseer.

Themba Maseko se boek, wat deur Jonathan Ball uitgegee word. Dit kos R270.

Maseko was verstom. Nie net oor die oudste van die drie Gupta-broers se arrogante en aanmatigende houding nie, maar ook oor die feit dat hy geweet het die regering bestee elke jaar sowat R600 miljoen aan advertensies in die media.

Maseko het geweier om gehoor te gee aan dié versoek, selfs toe Ajay Gupta volgens hom ’n aggressiewe en dreigende houding ingeneem het.

Later in dieselfde jaar het eers Tony Gupta en toe weer Ajay hom na bewering op sy selfoon gebel om te sê hy moet doen wat hulle wil hê. Maseko het weer geweier en is na bewering selfs gedreig dat hy vervang sal word deur iemand wat bereid is om saam met die Guptas te werk.

Dit was die laaste keer dat hy met die Guptas te doen gehad het. Zuma het ook nie weer met Maseko oor dié kwessie gesels nie, maar sy loopbaan in die staatsdiens sou nooit weer dieselfde wees nie. Hy is te midde van ’n skinderveldtog as uitvoerende hoof van die regering se kommunikasiediens uitgeskuif en “herontplooi” na die departement van die staatsdiens en administrasie, waar hy nooit tuis gevoel het nie.

Hy het in Julie 2011 besluit om uit die staatsdiens te bedank, skaars ’n jaar ná Zuma se oproep. Vyf jaar later het hy besluit om fluitjieblaser te word en Suid-Afrika te vertel van sy ervarings met die Guptas.

’n Politieke probleem

Themba Maseko hoop sy boek sal voornemende fluitjieblasers aanspoor om die regte ding te doen en uit te praat oor korrupsie. Foto: Gert van der Westhuizen

As hy vandag daaroor dink, sê Maseko, sou hy dinge dalk anders gedoen het. Sy boek oor sy wedervaringe – For my country: Why I blew the Whistle on Zuma and the Guptas (Jonathan Ball) – het pas verskyn.

Ons gesels in sy kantoor in Rosebank met leë wit mure wat ondanks ’n gesinsfoto op sy lessenaar en ander gewone kantoor-snuisterye nie voel na ’n ruimte waar iemand nesgeskop het nie, so asof daar iets beters wag en dit net ’n tydelike hawe is.

Maseko se kenmerkende yl baard begin al grys word en help verklap dat hy 57 jaar oud is.

Hy praat stadig en afgemete. Kort nadat ons om die tafel in sy kantoor gaan sit het, skeur hy ’n geel Post-it-plakkertjie van ’n veelkleurige pak af en plak dit voor hom op die tafelblad vas. Hy krabbel van tyd tot tyd met ’n swart pen daarop.

“Ek moes dadelik polisie toe gegaan het,” sê Maseko oor die ontmoeting in Saxonwold. “Maar ek het dit in daardie stadium as ’n politieke probleem eerder as ’n kriminele probleem beskou. Ek het nie die omvang en aard van alles besef nie. Ek was dalk te naïef om te besef daar was ’n groter plan in plek om beheer oor die geld van verskeie staatsdepartemente te kry.

“As ek daarvan geweet het, sou ek dinge dalk anders gedoen het. Maar ek was ’n politieke aktivis en het dit as ’n politieke probleem beskou en gedink die ANC moet die leiding neem. Ek het my verhaal met baie ANC-leiers gedeel, maar daar het niks van gekom nie. Ek was erg teleurgesteld in die ANC.”

Maseko meen die ANC wou niks doen nie omdat Zuma destyds midde-in alles gestaan het en ’n baie magtige man was. Zuma was ook baie gewild in ANC-geledere. “Die meeste mense het nie die moed gehad om op te staan en iets te doen nie,” sê Maseko voordat hy herhaal hoe teleurgesteld hy in die ANC was.

’n Lewe in die struggle

Themba Maseko in sy ouers se huis in Dube, Soweto, in 1977. Foto: Verskaf

Sy teleurstelling met die eertydse bevrydingsbeweging kan maklik begryp word as jy kyk na sy struggle-verlede. Dit het as 12-jarige skoolkind in die Soweto-opstande van 1976 begin.

Hy kan die bloedige gebeure van 16 Junie 1976 nog goed onthou: die gille en die geweerskote en hoe hy twee tot drie uur onder die preekstoel in die Metodiste-kerk oorkant die Orlando West High School weggekruip het omgewe van die sterk reuk en stank van bloed soos ander gewonde kinders ook daar kom skuiling soek het . . .

Hy het dit eers na buite gewaag toe hy die sirenes van ambulanse gehoor het. “Ek het bebloede mense in die strate sien lê en nie geweet of hulle nog lewe of dood is nie. Ek het nog nooit só iets beleef nie, dit was soos ’n toneel uit ’n oorlogsfliek.”

Maseko het lank nog nagmerries oor dié dag gehad. Hy glo hy en ander kinders is erg getraumatiseer deur wat op 16 Junie en daarna gebeur het. Hy lag wrang as hy oor die trauma en die gevolge daarvan gevra word. “Kyk, in die swart gemeenskap is trauma en trauma-berading onbekend.”

Ná die Soweto-opstande was Maseko nie politiek aktief nie. Hy was van plan om by Wits te gaan studeer, maar het ’n brief gekry wat deur FW de Klerk, destydse minister van onderwys, onderteken is wat hom ingelig het dat swart studente nie by dié universiteit toegelaat word nie.

Ek was te jonk om in die parlement te sit en na eindelose en sinlose debatte te luister.

Hy is toe na die Universiteit van Zoeloeland, waar botsings tussen studente en IVP-ondersteuners hom oortuig het om op die een of ander manier by die struggle betrokke te raak.

Toe hy later toegelaat is om wel by Wits te studeer, het hy as aktivis hom met studente- en ander onderwys-kwessies bemoei en by die ANC en SAKP betrokke geraak. In 1994 is hy as parlementslid verkies, maar hy het net ’n jaar in die Kaap gehou. “Ek was te jonk om in die parlement te sit en na eindelose en sinlose debatte te luister.”

Hy is terug na Gauteng, waar hy hoof van die provinsiale onderwysdepartement geword het. Later is hy aangestel as direkteur-generaal van die departement van openbare werke voordat hy by die kommunikasiedienste van die regering beland het.

Die kultuur van korrupsie

Themba Maseko saam met oudpres. Thabo Mbeki op pad om die media te woord te staan ná ’n staatsrede. Foto: Verskaf

Hy dink met amperse heimwee terug aan die eerste staatsdiens van ’n demokratiese Suid-Afrika.

“Ons was ’n klomp aktiviste wat aangespoor is deur ’n sterk visie om die samelewing te transformeer en iets te doen aan die ongelykheid en die lyding waaraan die meeste Suid-Afrikaners blootgestel was. (Oudpres. Nelson) Mandela se sterk en motiverende leierskap het ons aangespoor om op die probleme van die land te fokus,” vertel Maseko.

Ongelukkig het daar volgens Maseko later ’n kultuur van statusverbruik (“conspicuous consumption”) vaardig geword en is die staatsdiens ná tussen vyf en tien jaar van demokrasie bloot gesien as ’n werkverskaffingsburo en ’n manier om rykdom te bekom. Daarby het sommige sakelui ook hul kanse waargeneem om soveel geld moontlik uit die staat te maak. Die gevolg was ongekende korrupsie.

Mense moet weet daar gaan gevolge wees as jy geld uit die publieke beursie steel.

Hoe gaan ons dit verander?

“Dit gaan lank neem. Die kultuur van korrupsie is omvangryk. Baie amptenare op laer vlakke sien hoe weelderig hul leiers wat van korrupsie en omkopery beskuldig word, leef en dink dít is die manier waarop sake gedoen word. Ons is nou by ’n punt waar daar in baie staatsdepartemente en staatsbeheerde ondernemings die verwagting is dat omkoopgeld betaal moet word om iets gedoen te kry. Dit is ook ’n probleem in die private sektor.

“Die belangrikste stappe wat gedoen kan word, is om mense verantwoordbaar te hou, om die polisie en die nasionale vervolgingsgesag te herbou. Maar totdat ons senior mense in die regering in oranje oorpakke sien, gaan dinge nie verander nie. Daar moet op bates beslag gelê word. Mense moet weet daar gaan gevolge wees as jy geld uit die publieke beursie steel.”

Themba Maseko en sy vrou, Phindi, saam met oudpres. Kgalema Motlanthe by ’n staatsbanket. Foto: Gallo Images

Dis nie al nie.

“Ons moet die publiek ook behoorlik oor dié dinge inlig. Gewone mense op voetsoolvlak besef nie altyd die verband tussen korrupsie en diefstal en die gebrek aan dienslewering nie. Hulle verstaan nie dat slaggate wat nie reggemaak word nie, stukkende straatligte en gebrekkige waterverskaffing direk verband hou met die steel van geld nie. Hulle sien nie die verband tussen beurtkrag en die geld wat by Eskom weggeraak het nie.

“Dit is egter nie waar verantwoordbaarheid ophou nie. Mense moet partye wat nie dienste kan lewer nie, by die stembus verantwoordbaar hou. Hulle moet sê: ‘Julle was by korrupsie betrokke en daarom word dienste nie gelewer nie en daarom gaan ons nie vir julle stem nie.’ ”

Die lot van ’n fluitjieblaser

Themba Maseko tydens sy een van sy verskynings voor die Zondo-kommissie. Hy glo dié kommissie wat ondersoek na staatskaping instel, is ’n stap in die regte rigting as Suid-Afrika ernstig is om korrupsie te bekamp. Foto: Gallo Images

En dan is daar fluitjieblasers. Hulle speel ’n kritieke rol, sê Maseko, maar hulle word glad nie deur wetgewing beskerm nie. “Huidige wette gaan meer oor die feit dat jy nie afgedank mag word nie. Daar is egter heelwat ander kwessies wat ter sprake kom.

“Die samelewing verstaan nie die konsep van fluitjieblaas nie. Hulle beskou jou as ’n klikbek of ’n soort spioen. Dis belangrik dat die samelewing fluitjieblasers moet ondersteun. Die private sektor kan ook meer ondersteunend wees, deur byvoorbeeld werk aan sulke mense te gee. Dit gebeur egter nie en ontmoedig voornemende fluitjieblasers.

“Wie sal nou uitpraat as hy ’n huislening en ’n motor het om te betaal en kinders wie se skoolgeld betaal moet word? Dit hou nie net vir jou gevolge in nie, ook vir jou gesin.”

Net drie van sy eertydse kamerade het gereageer en probeer help deur vir hom werk te kry.

Maseko, wat graag ’n stigting op die been wil bring om fluitjieblasers en hul gesinne by te staan, het dít alles op die harde manier geleer.

Hy kon nie werk kry nie, banke wou nie lenings aan hom toestaan nie omdat hy “polities blootgestel” en omstrede was. In ’n stadium moes hy hom selfs tot pandjieswinkels wend en onder meer sy selfone verpand om kop bo water te hou.

“Op ’n keer het dit regtig gelyk of ek my huis gaan verloor. Ek het ’n wekroep uitgestuur om hulp: ‘Ouens, ek is besig om onder te gaan hier, help my.’ ”

Net drie van sy eertydse kamerade het gereageer en probeer help deur vir hom werk te kry: Pravin Gordhan, Trevor Manuel en wyle Jackson Mthembu.

Themba Maseko wil hom beywer vir die totstandkoming van ’n stigting wat na die belange van fluitjieblasers en hul gesinne kan omsien. Foto: Gallo Images

Benewens vriende en kamerade wat hom die rug toegekeer het, het Maseko gereeld dreigoproepe ontvang en hy is op Twitter sleggesê. Dit het erger geword toe hy voor die Zondo-kommissie getuig het.

“Een oproep kan ek nie vergeet nie. Dit was van ’n man wat met ’n swaar Zoeloe-aksent gepraat het. Hy het gesê ek moet liefs nie KwaZulu-Natal toe kom nie, want ek sal dié provinsie nie lewend verlaat nie.”

Tot vandag toe nog parkeer ek nie twee keer op dieselfde plek nie.

Sulke dreigemente het sy hele lewe beïnvloed.

“Tot vandag toe nog parkeer ek nie twee keer op dieselfde plek nie. As ek in ’n restaurant of enige ander openbare plek is, sit ek met my rug teen ’n muur . . . ”

Gelukkig het hy en sy gesin nie enigiets oorgekom nie en gaan dit deesdae beter omdat die dividend van ’n belegging uitbetaal het en hy by Wits in regeringskommunikasie klas gee.

Themba Maseko lê die jaarverslag van die regering se kommunikasiedienste voor aan die parlementêre portefeuljekomitee. Nebo Legoabe (regs) en Phumla Williams is saam met hom op die foto. Foto: Verskaf

As hy al dié dinge in ag neem, sal hy weer ’n fluitjieblaser wees?

Maseko dink ’n rukkie voordat hy stadig en beslis antwoord.

“Ek sal dit weer doen, maar ek sal versigtig daaroor dink. Ek het nie genoeg gedoen om my familie voor te berei nie. Ek het nooit met my vrou gepraat sodat sy kon verstaan wat die gevolge kan wees nie. Ek het nie met my kinders of my breër familie gepraat nie en hulle het onder die gevolge gely. So, as ek dit weer sou moes doen, sou ek eers met my familie gepraat het en gekyk het na moontlike ander werksgeleenthede.

“Dis nie ’n vraag van of ek dit moes gedoen het of nie, maar hoe ek dit moes gedoen het. Ek sal dit weer doen,” sê Maseko beslis.

Want vir dié onbesonge held van die stryd teen korrupsie is dit die regte ding om te doen. Daar kan geen ander manier wees nie.

Meer oor:  Anc  |  Trevor Manuel  |  Jackson Mthembu  |  Jacob Zuma  |  Tony Gupta  |  Ajay Gupta  |  Themba Maseko  |  Pravin Gordhan  |  Korrupsie  |  Staatsdiens
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.