Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Profiele
Foeta jeuk om te reis

Foeta Krige is oor niks spyt in sy lewe nie. Mense se stories word eintlik geskep wanneer hulle foute maak en die verkeerde afdraaipaaie neem, het hy aan Carla Lewis gesê. Maar dis ook hier waar jy die meeste van jouself en die lewe leer.

Foeta KrigeFoto’s: Felix Dlangamandla

Foeta Krige hou van stories. Solank hy nie die onderwerp daarvan is nie.

“Hou jy van onderhoude?”

“Nee.” Hy is kortaf, ongemaklik en duidelik brommerig oor die Beeld-voorblad wat Dinsdag oor sy boek The SABC 8 verskyn het. Maar wanneer Krige teenoor jou ontdooi, rustig word en jy hom aan die praat kry oor sy storie, dan voel dit asof jy langs die radio inskuif en na ’n vertroude, bekende stem luister.

“Ek glo nie aan heiliges nie en ek glo nie aan helde nie.

‘Kaalgat in die strate’

Die boek is iets wat moes gebeur, wat hy moes skryf om sin te maak van die maalstroom waarin hy, sy gesin en kollegas die afgelope drie jaar meegesleur is. Toe hy die storie geword het.

Vrydag 31 Mei was sy laaste dag by RSG en die SAUK. Krige is nou amptelik afgetree.

“As dit nie vir die boek was nie,” beduie hy na ’n eksemplaar wat op die tafel lê, “sou ek waarskynlik iewers langs die Tanganjika- of die Kivumeer gesit het.”

Pleks daarvan is daar boekbekendstellings, bemarking en onderhoude soos dié. En sosialemedia-bekgevegte, soos die tirade van sy voormalige kollega Izak du Plessis Donderdag op Facebook.

“Vir my het die boek begin toe alles verby was en Suna (Venter) oorlede is. Ons familie is deur baie trauma en hulle het alles intens beleef, maar ek het dit nie altyd besef nie. Die boek was vir my in ’n mate ’n vorm van terapie gewees, om sin uit alles te maak. Aan die ander kant het ek gedink daar is ’n storie om te vertel.”

Om geboorte aan die pennevrug te skenk was maar moeilik, en nie sonder sy komplikasies nie.

“Daar was hewige hartseer en drama in daai tyd. Om alles weer te herleef, om terug te gaan in tyd . . . Dit was nie maklik nie. Vir my was dit op ’n manier helend.”

Dis eintlik die bemarking rondom die boek wat vir hom een van die minder aangename dinge is.

Ons gesels Dinsdag by ’n Ita­liaanse pizzarestaurant in Mel­ville, ’n dag voor sy boekbekendstelling in Sandton. Dit lê duidelik soos ’n berg voor hom.

“Ek haat dit. Ek haat dit. Ek kan een tot een met mense gesels. Of saam met vier of vyf beste vriende kuier. Maar as daar meer as agt mense is . . . ek hou nie van groepe mense nie. Of boekbekendstellings nie. Dit voel soms of jy kaalgat deur die strate loop en mense bespreek jou ingroeitoonnaels, jou vetrolle en jou hangtieties .”

Foeta Krige was 15 jaar lank die uitvoerende regisseur van Monitor. Foto’s: FELIX DLANGAMANDLA

Om radio te ‘kyk’

Is hy kwaad oor wat by die SAUK gebeur het?

“Nee, ek verstaan nou baie meer, ek verstaan hoe mense dink, ek verstaan hoe ’n toksiese omgewing mense binne laat optree. Toe ek weer sien, toe is ek in die middelpunt van die gemors en toe moes ek maar baklei om aan die ander kant uit te kom.”

Hoekom het hy gebly?

“Soos ek sê, ek het Vrydag afgetree, ek het min tyd oorgehad en jy bou aan ’n pensioen, en bietjie geld vir jou oudag. En om te reis. Die SAUK was ook ’n ongelooflike plek, dit was nie net wanhoop nie. Ek het wonderlike geleenthede gekry om te reis: na Zambië, Malawi, Mosambiek.

“Jy het ook ’n lojale gehoor daar buite. Radio is ’n intieme medium, anders as ’n koerant. Radio het ’n baie spesifieke rol, veral hoe ek grootgeword het. Ek kan onthou hoe ons as kinders saamgekoek het in die donker en na dramas soos Die kloue van die spinnekop geluister het.

“Jy kon die storie voor jou sien. Ek sê altyd jy kyk radio. Jy luister hom nie. Dis ’n wonderlike medium. Ek is lief vir klank, eintlik meer as skryf.

“Jy kan ’n aanhaling van iemand neerskryf, maar as iemand ’n klankgreep daarvan in sy eie stem doen in sy eie dialek, het dit ’n ander effek as ’n koue aanhaling op papier.”

Mense word deur stories aanmekaar gesit, beklemtoon hy. Dis stories wat ons bind.

Dis skofroosters en briewe en motiverings en aanstellings. Op die ou einde doen jy nie eintlik wat jy wil doen nie en dit is om stories te vertel.

“Ons is storievertellers. Party wel beter as ander. Maar ek dink om stories te vertel is in ons DNS. Jy wil weet waarom ek by die SAUK gebly het. Seker maar vir die stories.”

Tog was hy die afgelope 15 jaar die een wat help slyp het aan die stories, eerder as die een wat dit gesoek en geskep het.

“Dis een van die probleme met joernalistiek. Hoe ouer jy word, hoe meer moet jy vir ander mense die lekker stories gee. Toe ek die pos as die SAUK se nuusredakteur oorweeg het, het Chris Louw (van Boetman-faam) vir my gesê: ‘Foeta, moenie die job vat nie want hulle maak van jou ’n glorified sekretaresse.’

“Dis admin en oortyd. Dis skofroosters en briewe en motiverings en aanstellings. Op die ou einde doen jy nie eintlik wat jy wil doen nie en dit is om stories te vertel.

“Maar dis seker die keuses wat ’n mens maak, nè?”

Hy is nie ’n aanhanger van so­siale media nie. “Dis onpersoonlik. Jy ‘praat’ met mense, maar jy kan hulle nie in die oë kyk nie, jy misinterpreteer dit wat hulle probeer sê. Dis maklik om iemand iets op sosiale media toe te snou, om vir hom te sê hy is ’n poephol.

“Mense maak ook deesdae oorlog van ’n afstand, iewers sit daar iemand wat ’n hommeltuig duisende kilometers ver van hom af laat vlieg en gooi bomme op mense duisende kilometers ver.”

“Ons is almal doodgewone mense met ons eie demone, onsekerhede.”

Swerflus en stories

As die laaste glas wyn klaar gedrink is by die boekbekendstelling en die laaste onderhoud toegestaan is, gaan Krige reis. Soos hy gesels sukkel ’n mens om te peil wat sy grootste liefde is: Reis of stories.

“So ’n paar jaar gelede het ek en ’n vriend, Barend la Grange, met openbare vervoer van Kaap Agulhas, die suidelikste punt van Afrika, na Ras ben Sakka in Tunisië, die noordelikste punt van Afrika, gereis

“Ek het myself belowe wanneer ek aftree wil ek weer deur Afrika reis, maar stadiger. Laas het ons net 40 dae gehad. Ek het baie planne.”

Reis, meen hy, is ’n teenvoeter vir mense se vervreemding van mekaar. Dit ruk ons uit ons gemaksones, dit laat ons anders na mense kyk.

“Ek onthou toe ek vanuit Sirië verslag gedoen het. Dit was ongelooflik, die vriendelikheid wat ek ervaar by mense wat nie eens my taal kon praat of my verstaan nie.

In die kerk het ek tussen die gemeentelede gesit en daar was ’n seuntjie wat drom gespeel het. Dit was merkwaardig om deel te wees van hierdie gemeente, daar reg in die middel van die oerwoud.

“Dan kom jy terug en kry afstand. Maar dan sien jy hoe die konflik al hoe nader kom daar waar jy was. Jy wonder oor die seuntjie by wie jy elke oggend koffie gekoop het, of hy in die konflik vasgevang is.

“Dan hoor jy hoe Isis se greep op daardie gebied al hoe sterker word en jy besef, die mense saam met wie jy so lekker gekuier het, wat so goed was vir jou, was Soenni-Moslems. En jy wonder oor hulle, want die Soenni-Moslems is die ruggraat van die Isis-beweging . . .”

Met ’n besoek aan die Demokratiese Republiek van die Kongo, as ’n vryskut-kameraman, het hy ook weer besef hoe belangrik menslike ervarings en verbintenisse is.

“Ek het verslag gedoen in die ooste van die Kongo en ’n man wou my net vreeslik graag na sy dorpie en kerk toe vat.”

Hy het die Kongorivier saam met die man oorgesteek in ’n mokoro.

“In die kerk het ek tussen die gemeentelede gesit en daar was ’n seuntjie wat drom gespeel het. Dit was merkwaardig om deel te wees van hierdie gemeente, daar reg in die middel van die oerwoud.”

Toe hy terugkeer van die dorpie is dit pik-pikdonker, daar was nie krag in die dorpie nie en sy toerusting moes herlaai word.

“Ek het geweet daar is ’n nagklub êrens wat ’n kragopwekker het. So stap ek deur die stikdonker strate en orals is daar mense op straat met kersies in kardoesies, wat sulke spookliggies oor die dorpie gooi.

“Ewe skielik vat iemand my hand. Ek kyk af en sien dis ’n klein dogtertjie. En sy vat my en sy lei my deur die kersverligte strate totdat ek by die nagklub uitkom. En daar los sy my.

“Dis die wonderlike interaksies met mense wat jy nie regtig ooit oor gaan skryf nie. Dis êrens in jou kop, dis deel van jou. Dis deel van jou storie. Wat jy soms vir jouself vertel wanneer jy te veel gedrink het. Jy kyk net na die lewe en na mense op ’n ander manier, wanneer jy reis.”

Krige by die bekendstelling van sy boek, wat hy geskryf het om “sin van die laaste drie jaar te maak”.

Universiteit van die lewe

Gaan hy vryskut om sy pensioen aan te vul?

“Nie as ek dit kan help nie. Ek het myself belowe, ek gaan nooit weer iets doen omdat ek dit moet doen nie, ek sal iets doen omdat ek dit wil doen. Ek wil baie meer foto’s neem, stories bymekaar maak. Of ek gaan skryf, ek weet nie. Van die wonderlikste dinge wat met my in my lewe gebeur het, het ek nooit oor geskryf nie.”

As ’n jong joernalis het hy ’n geleentheid gekry om op ’n ekspedisie na die Amasone-reënwoud te gaan.

En hulle poep verskriklik, so jy ruik hulle ook.

“Ons het gaan soek na die Wayana-Indiane, wat in die noorde van die Amasone gebly het. Ons vind hulle toe, hierdie Wayanas wat veronderstel is om hierdie geïsoleerde, afgesonderde beskawing te wees, maar almal lê in hangmatte en drink brandewyn en Coke.”

Daar het hy ook reeds geleer, dit gaan nie altyd oor die bestemming nie, die bestemming is soms ’n groot teleurstelling.

“Op pad soontoe het ons twee wonderlike gidse ontmoet, Anton en Frans. Hulle was afstammelinge van Afrika-slawe, hul voorsate is ontvoer om in die Suid-Amerikaanse suikerplantasies te werk. Anton en Frans het skool gegaan in Suriname, ’n voormalige Nederlandse kolonie. Daar in die middel van die Amasone kon ons Afrikaans met hulle gepraat het, en hulle het ons verstaan.

“Daar bly ’n aap in die Amasone, in Engels noem jy hom ’n howler monkey. Hul stembande is omtrent 18 keer groter as die van ’n gewone aap. In die nag as jy in jou hangmat lê, hoor jy hierdie harde ‘whooo whooo whoooo!!’. En hulle poep verskriklik, so jy ruik hulle ook.

“Ek skryf in Afrikaans en ek het nie ’n idee wat ’n howler monkey in Afrikaans is nie. Daai tyd was daar ook nie Google nie. En ek vra vir Frans, die gids, ‘Hoor hier, wat is daai aap wat so raas?’ En hy sê vir my: ‘Dis ’n brulaap.’ Hy glimlag breed, verlekker homself in die woord.

“Hulle sê mos reis is die universiteit van die lewe. Dis waar jy leer waaroor die wêreld gaan, dat dit nie alles in jou klein gemaksone gebeur nie. Selfs ’n nuuskantoor kan ’n gemaksone word. Dis net as jy uitkom en jouself blootstel aan nuwe dinge , nuwe goed, dat jy regtig die wêreld rondom jou begin verstaan.”

Aan die woord by Exclusive Books in Hyde Park, Sandton.

Spyt is nutteloos

Is hy spyt oor iets? Wat sou hy anders doen, anders benader?

“Daai vraag is soos wanneer jy en jou vrou in die bed lê en gesels en sy vra vir jou; ‘Wat dink jy sou gebeur het as ons ná daai moerse rusie nooit weer bymekaar uitgekom het nie? Waar sou jy vandag gewees het?’

“Ek het geleer, moet nooit jou eie k*k met klippe gooi nie. Op die ou einde is ons almal waar ons moet wees, omdat ons alles gedoen het wat ons moes doen. Ons is die produk van al die foute wat ons gemaak het en al die verkeerde afdraaipaaie wat ons geneem het.”

Dis ook wat reis vir hom geleer het.

Ek het dit nie beplan nie, ek weet nie wat die uitkoms daarvan gaan wees nie, maar dit was deel van die ervaring.

“Die wonderlikste goed gebeur wanneer jy verdwaal. Jy sien dinge wat jy nooit sou gesien het nie. Ons dink altyd aan die bestemming, dat jy so gou as moontlik daar moet uitkom, maar dan vergeet jy: Die lewe is een groot reis en al hierdie wonderlike, interessante dinge gebeur rondom jou. Jy ontmoet die wonderlikste mense langs die pad.”

Die boek was ook vir hom ’n reis. “Ek het dit nie beplan nie, ek weet nie wat die uitkoms daarvan gaan wees nie, maar dit was deel van die ervaring.

“Beteken dit dat alles wat ek gedoen het, reg was? Nee. Natuurlik nie. Maar ek is oor niks spyt nie.

“Die boek, die dinge wat daarin gebeur het . . . Dit het gebeur. Ek glo nie in skuldgevoelens nie, dit is ’n sinnelose emosie.

“Ek sê nie ’n mens moet nie uit jou foute en ervarings leer nie. Maar om te wroeg daaroor, dit help ook nie. Ek sal maar hoor of die mense gaan sê: Dis ’n k*k boek, of hy soek net sensasie, hy soek net aandag . . .

“Mense is mos maar so. Maar ek dink alles is redelik uit my stelsel uit.”

Carla Lewis

Wat dink Suna se ouers van die boek? Hy kyk stip na my.

“Jy moet maar vir hulle vra. Ek het nie veel kontak met hulle nie. Die storie gaan nie oor hulle nie.”

Maar dit gaan tog oor hul dogter? Hy antwoord versigtig.

“Hul dogter is deel van die storie, ja. Maar . . . Ek weet nie. Hulle moet maar self besluit, hul dogter is die slagoffer. Hulle leef. Al wat ek vir jou kan sê, daar is niks in die boek wat nie gegrond is op feite wat ek uit opgeneemde gesprekke en skriftelike korrespondensie gekry het nie.”

Hy sê hy wou nie vir Suna as ’n heilige of held in die boek uitbeeld nie.

“Ek glo nie aan heiliges nie en ek glo nie aan helde nie.

“Ek dink wel mense het helde in hul lewens nodig. Dis waarom hulle strokiesprente en flieks kyk. Daar is ’n behoefte. Dis seker ook waar die mens se idee van ’n god vandaan kom, dat daar iemand is wat groter en sterker as ons is, wat dinge kan doen wat ons nie kan nie.

“Ek dink in ’n land soos Suid-Afrika het ons helde nodig, en ons maak van sterflikes helde, ons skryf oor mense asof hulle helde is. Ek glo nie daarin nie.

“Ons is almal maar doodgewone mense met ons eie demone, ons eie angstighede, onsekerhede. Party is net opgelei om dit beter as ander te hanteer.

“Ons almal is maar net gewone mense.”

  • Lewis is ’n senior joernalis van Beeld.
Meer oor:  Foeta Krige  |  Carla Lewis
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.