Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Profiele
'Moenie vliegtuig met blikke gooi'

Die Springbok-rugbyspan se besoek bykans 40 jaar gelede aan Nieu-Seeland en die VSA was sekerlik die mees bisarre rugbytoer van alle tye. Gert van der Westhuizen het met Wynand Claassen en Wessel Oosthuizen oor hul nuwe boek daaroor gepraat.

Drie polisiemanne sleep ’n betoger van die veld in Hamilton waar die Springbokke veronderstel was om teen Waikato te speel. Foto: Wessel Oosthuizen

Dit word onthou as die betogertoer van 1981.

Baie Suid-Afrikaanse rugbyondersteuners het nog nie vergeet hoe hulle destyds douvoordag opgestaan het om na uitsendings van die Bokke se wedstryde te kyk of te luister nie.

’n Toer na Nieu-Seeland was toe iets wat nie gereeld gebeur het nie, maar min mense sou kon voorspel hoe ongewoon die toer sou wees.

Dit voel nou nog onwerklik as ’n mens terugdink aan wat alles destyds gebeur het. Die verlede, soos L.P. Hartley in sy roman The Go-Between opgemerk het, is inderdaad ’n vreemde land.

Die toer het die Nieu-Seelandse bevolking letterlik in twee geskeur het, ’n wedstryd is afgelas omdat die polisie betogers nie van die veld kon verwyder nie en die vlieënier van ’n ligte vliegtuig gedreig het om in die paviljoen vas te vlieg, ’n vliegtuig het laag oor die veld gevlieg tydens ’n toets tussen die Springbokke en All Blacks met ’n vlieënier wat spelers met meelbomme bestook, ’n toets teen die VSA is “in die geheim” op ’n poloveld voor slegs 30 toeskouers gespeel . . .

Daarom is dit seker geen wonder dat die toer 38 jaar later nog nie vergeet kan word nie. Oosthuizen sê juis hy is onlangs deur twee produksiehuise in Nieu-Seeland genader vir foto’s wat hulle later vanjaar in dokumentêre programme oor die toer wil gebruik.

Betogers en polisiemanne maak reg vir ’n konfrontasie op Rugby Park in Hamilton. Foto: Wessel Oosthuizen

Oosthuizen, wat al van 1962 fotograaf is en op 76-jarige ouderdom nog gereeld naweke langs rugbyvelde met sy kameras rondhardloop, was destyds een van die fotograwe wat saam met die span getoer het.

Hy en Claassen, Bok-kaptein in 1981, het besluit om ’n fotoboek met ’n beperkte oplaag van slegs 100 kopieë oor die toer uit te gee omdat daar baie foto’s is wat mense nog nie gesien het nie.

Wynand Claassen en Wessel Oosthuizen in 1981 in Nieu-Seeland. Foto: Verskaf

Claassen se skyfies van destyds is byvoorbeeld geskandeer sodat dit gebruik kan word.

Oosthuizen was ook verbaas toe hy weer na sy eie versameling foto’s geloer het.

“Daar’s een wat ek nog nooit gesien het nie,” sê hy van ’n foto van betogers op Hamilton se Rugby Park.

“Hulle staan aan die een kant en die polisie vorm so ’n reguit lyn aan die ander kant. Dis vir my ’n baie mooi foto.”

Wessel Oosthuizen en Wynand Claassen met hul fotoboek oor die Springbokke se toer van 1981 in Nieu-Seeland en die VSA. Foto: Annemie Bester

Dié betogers was daarvoor verantwoordelik dat die tweede wedstryd van die toer, teen Waikato, afgelas is.

Claassen sê die gebeure in Hamilton was ’n “helse skok” vir die spelers.

Dit het hulle onder meer laat besef hoe groot die omvang van die betogings teen die span was.

Die span wat daardie dag sou uitdraf, het vir ’n uur en ’n half te midde van groot onsekerheid in die kleedkamer gewag terwyl die betogers al hoe rumoeriger geraak het.

Die wedstryd is uiteindelik gekanselleer ná dreigemente dat ’n vliegtuig teen die paviljoen gaan vasvlieg.

“Dis eintlik nou tragies, maar ou Gysie [Pienaar] se dogtertjie [René] wat onlangs verongeluk het, was toe seker ’n jaar oud.

"Gysie was halfpad aangetrek, maar hy gryp net sy klere so, en sy togbag, en hy’s daar uit. Hy het gesê: ‘Ek wil nog my daughtie sien’ en hy hol daar uit . . . ”

Was dit die moeite werd?

’n Polisieman boei ’n betoger op Rugby Park in Hamilton. Foto: Wessel Oosthuizen

Die toer is veral daarna deur “helse onsekerheid” gekenmerk. “Niemand het geweet wat om te verwag nie,” sê Claassen.

Hy het spesiaal die berugte middagverkeer getrotseer en van Pretoria af deurgery om saam met Oosthuizen in ’n koffiewinkel aan die Wes-Rand oor hul boek, 1981 Springboks in NZ & USA, te gesels.

Hy sê die toer van 1981 was die hoogtepunt van sy loopbaan omdat hy van kleins af soos baie seuns van destyds gedroom het om eendag in Nieu-Seeland teen die All Blacks te speel.

Die grootste laagtepunt van sy loopbaan was die omstrede strafskop wat die All Blacks in staat gestel het om die derde toets in die doodsnikke met 25-22 te wen.

Een van die hoogtepunte van die Meelbom-toets: Ray Mordt druk sy derde drie en word die eerste Springbok wat ’n driekuns teen Nieu-Seeland behaal. Foto: Wessel Oosthuizen

Dink hy vandag al die onsekerheid, geweld en spanning was die moeite werd?

“Ek dink dit was die moeite werd in die sin dat dit Suid-Afrika se oë begin oopmaak het van hoe die wêreld na ons kyk,” sê Claassen.

Dit was eintlik ook die finale nekslag vir Suid-Afrika se deelname aan internasionale rugby, want daarna het toere feitlik opgedroog.

Suid-Afrikaners het besef hulle sal aanpassings moet maak as hulle die Springbokke weer in aksie wou sien of aan die Olimpiese Spele wou deelneem, sê Claassen.

“So vanuit daardie oogpunt was dit die moeite werd. Ek dink ook uit die Nieu-Seelandse oogpunt was dit die moeite werd. Hulle het nooit besef hulle het sulke radikale ouens in hul gemeenskap nie.”

Dis nie al nie, voeg Claassen by. Dit het die Maori-gemeenskap in Nieu-Seeland se oë ook laat oopgaan vir die maniere waarop daar teen hulle gediskrimineer is.

‘Ons het nie geweet wat om te verwag nie’

Die Bokke voer hul eie haka uit in ’n hotel in Nieu-Seeland in 1981. Foto: Wynand Claassen

Die spelers was glad nie voorbereid op wat in Nieu-Seeland vir hulle gewag het nie, sê Claassen.

“Ek dink ons almal het gedink: ‘Jis, dis fantasties, ons gaan Nieu-Seeland toe . . . almal het verwag daar gaan betogings wees. Maar ek dink nie een van ons spelers het besef wat die omvang daarvan gaan wees nie.

“Almal het gedink: ‘Oukei, Dawie de Villiers-hulle het in 1969-70 in Engeland met betogings te doen gehad, maar dis die langhaar Britte en jy weet hulle is verskriklik links . . . Australië ook.’ Maar niemand het gedink dit sal in Nieu-Seeland gebeur nie. Nieu-Seeland is ons maats, pêlle in rugby, hulle is ’n Boeregemeenskap soos Suid-Afrika, daar’s nie ekstremiste nie.”

Stuart het gesê: ‘Just answer the rugby questions.’ En toe stap ons daar in en daar is nie een rugbyvraag nie!

Claassen sê hy het vooraf probeer om met De Villiers, toe minister van handel en nywerheid, te gesels oor wat sy span te wagte kon wees.

De Villiers kon nie self met hom praat nie en ’n amptenaar van sy departement na Claassen gestuur.

“Hy het my daar in die Nuweland-hotel kom sien en allerhande dokumentasie gebring oor Suid-Afrika: pamflette en boekies wat nou ons hele ding verdedig. Hy het gesê ons moet nooit ja sê of erken oor apartheid nie en eerder sê daar is goeie dinge soos die onderwysstelsel.

“Hy het net met my gepraat. Hulle het nie ’n gesprek gevoer met ons hele span nie. Hulle het nie gesê nie: ‘Boys, dis wat julle kan verwag en dis hoe julle moet optree en dis hoe julle dit moet hanteer nie . . . niks.”

Een van die betogers wat die Springbokke in 1981 nie in Nieu-Seeland wou hê nie. Foto: Wessel Oosthuizen

In Nieu-Seeland het Johan Claassen, die bestuurder van die span, gesê niemand behalwe die kaptein mag met die media praat nie.

“Eenkeer in Otago vra ’n verslaggewer my toe uit en ek sê petty apartheid [klein apartheid] is besig om te verdwyn in Suid-Afrika. Dit was die waarheid, want strande is al oopgestel, jy weet, sulke goed.

“Toe skryf hulle dit op die voorblad. Johan Claassen sê toe vir my ek moet versigtig wees met wat ek sê. Toe sê ek: ‘Maar hierdie is mos waar.’ Hy antwoord toe dat dit wel waar is, maar dat ek my nie daaroor moet uitlaat nie.”

Claassen kan ook die heel eerste mediakonferensie van die toer goed onthou. Dit was op die eerste dag wat die span in Nieu-Seeland aangekom het.

“Daar was honderde oorsese joernaliste wat niks belang gestel het in rugby nie, hulle wou weet oor die politiek.”

Die spanbestuur het vooraf gekoukus en ook raad gevra van Bob Stuart, die span se Nieu-Seelandse skakelman.

“Stuart het gesê: ‘Just answer the rugby questions.’ En toe stap ons daar in en daar is nie een rugbyvraag nie!”

Inkopies in die VSA

Johan Heunis en Naas Botha by Disneyworld in 1981. Foto: Wynand Claassen

Die toerspan, én die verslaggewers en fotograwe, kon ná meer as twee dikwels senutergende maande in Nieu-Seeland asem skep op die Amerikaanse deel van die toer hoewel betogers ook dáár hul stem dikgemaak het.

“Amerika was lekker ná die intensiteit van die Nieu-Seelandse toer met al daai media,” sê Claassen. “Die toer was vir twee en ’n half maande wêreldnuus.

“In Amerika kon jy tussen die massa verdwyn, veral gedurende die eerste week toe ons in Chicago was.

“En toe shop ons. Ek het ’n blêddie platewinkel ontdek . . . eintlik nie ’n platewinkel nie, eerder ’n plate-supermark.

“Ek dink ek het met 43 langspeelplate teruggekom. Jy het $2 stuk daarvoor betaal, rock-langspeelplate van Phil Collins en die Eagles en al daai soort goed.

“Ek het so baie geskenke en aandenkings en goed gekoop dat hulle my later Pakkies Claassen genoem het. Ek het my gat afgedra aan alles,” lag Claassen.

’n Bewys dat die bokke wel in 1981 teen die VSA gespeel het. Foto: Edrich Krantz

Hoewel Claassen en Oosthuizen nou kan lag oor hul wedervaringe in Amerika, was daar steeds ’n drama in die kleine.

Die toets teen die VSA, Suid-Afrika se eerste teen Amerika, is weens veiligheidsredes in die geheim gespeel.

Oosthuizen het nie geweet die toets word gespeel nie. Hy was by die span se hotel toe Rob Louw, wat nie vir die wedstryd gekies was nie, vir hom gesê het: “Hei, die toets is nou net gespeel.”

“Waarvan praat jy?” wou ek nog weet. Nie een van die verslaggewers of fotograwe het geweet die toets word gespeel nie.

“Dit was jammer. Dit was ’n geskiedkundige oomblik wat ons op film moes vaslê. Gelukkig het Edrich Krantz, een van die plaasvervangers, ’n paar foto’s geneem.”

Die Meelbom-toets

Oosthuizen het darem ander geskiedkundige oomblikke op die toer deur sy lens bekyk, soos die Meelbom-toets.

Claassen: “Dit was bisar. Jy gaan nooit ooit weer so iets kry in wêreldrugby nie. Die toer was verby en ons wou net die toets wen. Die ouens was nie geworried oor die blêddie vliegtuig nie. Hy gooi meelbomme, maar ons moes jol. Jy moes worry oor die All Blacks. Dis meer om oor te worry as ’n vliegtuig. Dis al erg genoeg.”

Oosthuizen: “Hulle moes toeskouers oor die luidsprekers vra om asseblief nie voorwerpe na die vliegtuig te gooi nie. Dit het so laag gevlieg dat hulle ander toeskouers kon beseer.”

Claassen: “Hulle het bierblikkies en goed gegooi na die vliegtuig.”

Oosthuizen: “Ek was die hele tyd bewus daarvan, maar dit het my nie gepla nie, want hier is ek besig om geskiedenis op film vas te lê.”

* 1981 Springboks in NZ & USA kos R999 en kan bestel word by ylheiberg@gmail.com of andrebes@mweb.co.za.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.