Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Profiele
Fransjohan Pretorius: ‘Geskiedenis het ’n angel’

Ons moet besef dat die geskiedenis op ’n manier ’n angel het en hy vang vir jou as jy eensydig na dinge kyk, het prof. Fransjohan Pretorius aan Jo Prins gesê.

Fransjohan Pretorius het al van kleins af ’n passie vir geskiedenis. Foto: Deaan Vivier

Wanneer iemand jou op 1 April bel om te sê jy’t ’n halfmiljoen rand gewen, het jy rede om skepties te wees.

Maar wanneer daai iemand prof. Andreas van Wyk is, oudrektor van die Universiteit Stellenbosch en voorsitter van die keurkomitee van Het Jan Marais Nationale Fonds wat die Jan H. Maraisprys toeken, dan kan jy maar luister.

En dís presies wat die 70-jarige prof. Fransjohan Pretorius van Pretoria gedoen het. “Dis Andreas van Wyk wat jou bel, dit sal geen Aprilgek-grap wees nie.”

Pretorius word vereer vir sy uitstaande bydrae tot Afrikaans as wetenskapstaal en natuurlik spesifiek vir sy uitsonderlike werk as historikus.

Sy werk oor kommandolewe tydens die Anglo-Boereoorlog word internasionaal erken as een van die belangrikste ondersoeke na daardie pynlike tydperk van ons land se geskiedenis, het die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns in ’n verklaring gesê.

Verskroeide Aarde, die ryk geïllustreerde boek wat daarop gegrond is en ook in Engels verskyn het, het wyd aandag getrek. Hy word wêreldwyd as ’n deskundige oor daardie laaste fase van die Britse imperiale uitbreiding erken.”

Ek het al die jare ’n stryd tussen bles word en grys word gestry, en albei het gewen.

Die professor (“noem my Fransjohan,” sê hy) bied aan om my by die Gautreinstasie in Hatfield op te laai.

In sy wit Volkswagen Jetta vleg ons op die voorstoep van sy alma mater, die Universiteit van Pretoria, deur die verkeer.

Ons praat oor hoe die omgewing verander het en “al die eenrigtings” en dan ry ons verby Muckleneuk, waar Pretorius en sy vrou, Laurette (self ’n afgetrede proffie), bly.

In die rigting van Waterkloof is ons bestemming die Italiaanse seekos-restaurant Iskia in Nieuw Muckleneuk, want Pretorius sê sy dogter, ook Laurette, het gesê dis ’n lekker plek.

Ná die fotograaf die proffie deur sy passies geneem het (“ek’s in julle hande,” sê hy), gaan sit ons laatoggend met die noenmaal aan in die Mediterreense-styl buite-eetkamer wat wink.

In blou is Pretorius se grys baard en hare netjies kort. “Ek het al die jare ’n stryd tussen bles word en grys word gestry, en albei het gewen,” skerts hy.

’n Passie vir die geskiedenis

Fransjohan Pretorius is al 49 jaar besig met die Anglo-Boereoorlog, ’n konflik wat net drie jaar geduur het . . . Foto: Deaan Vivier

Wat is ’n mens se eerste reaksie op só ’n toekenning? Wat maak ’n mens daarmee? por ek die proffie.

“Weet jy . . . van ongeloof tot merkwaardige dankbaarheid dat wat jy as akademikus nog altyd as jou werk beskou het, belangrik genoeg vir ’n komitee lyk om bekroon te word.

“Maar dis nie waarom jy die werk doen nie. Jy werk omdat jy hierdie ingesteldheid, hierdie passie het.”

Onmiddellik spring die sportmal Pretorius se verwysing na rugby en hy vergelyk die opgewondenheid oor dié toekenning na “die dae voor televisie” wanneer die Springbokke die All Blacks gepak het.

“Daai nag (voor die wedstryd) kan ek nie slaap nie, want ek is bang ek word nie wakker nie. Ek kom sedert 1956 op Loftus Versfeld, nie die laaste 20 jaar nie, maar voor dit.

As Noord-Transvaal of die Bulle wen, dan is dit vir my fantasties.

“Vanaf ’56, toe ek sewe jaar oud was, het my pa my Loftus toe gevat . . . as Noord-Transvaal of die Bulle wen, dan is dit vir my fantasties.

“Dít is wat hier gebeur het.”

Pretorius sê prof. Van Wyk het hom op 1 April net ná 12:00 met die nuus gebel, maar hy kon eers later die middag vir sy vrou daarvan vertel, want “sy loop vir die lekker” Sepedi I en Zoeloe I by Tuks.

“My dogter was darem gelukkig op daai oomblik daar. Sy’t net gesê ‘haai pa’,” sê hy laggend.

Ek het ’n absolute passie vir geskiedenis ontwikkel.

Nou waar kom dié oud-Affie (hy het in 1966 aan die Afrikaanse Hoër Seunskool gematrikuleer) se liefde vir geskiedenis vandaan?

“My pa was ontsettend lief vir geskiedenis. Hy het van voorskool af al vir my kinderverhale uit die geskiedenis gelees.

“Ek het van baie vroeg af nié Jakkals en Wolf-stories gehoor nie, en nie die Grimm-broers se stories nie. Dit was Racheltjie de Beer, wat ons nou weet fiktief is, Japie Greyling, Tinie Oosthuizen, Dirkie Uys . . . daai tipe goetertjies.”

Pretorius onthou hoe iemand hom nou onlangs daaraan herinner het dat hy al in st. 3 gesê het dat hy ’n professor in geskiedenis wil word.

“Dis ontsettend windgat om dit in daai stadium te sê. Wie de hel is só klein dônner? Maar dit het gebeur omdat ek ’n absolute passie vir geskiedenis ontwikkel het.”

Al 49 jaar in dié oorlog

Die geskiedenis het ’n angel en vang jou as jy op ’n eensydige manier na dinge ky, sê Fransjohan Pretorius. Foto: Deaan Vivier

Ons beloer die spyskaart en beide se oë val op ’n “crostini alle alici”, ’n gesmelte kaasbroodjiehappie met ansjovis.

Fransjohan wil onmiddellik weet of dit ansjovissmeer is, of die ware Jakob, want hy soek beslis die klein vissie.

“Wanneer ons pizza gaan eet, eet ek dikwels ’n pizza met ansjovis op. My familie het al gesê ek moet eintlik eenkant op my eie eet,” sê hy laggend.

Met die vliegtuig wat al oor is en ’n bottel Simonsig Chenin Blanc op ys, praat ons verder.

Toe ek op universiteit kom, toe kom ek nou agter ’n mens moet ’n bietjie meer objektief wees as waarmee ek grootgeword het.

Dan vra ek: Hoekom dié fokus op die Anglo-Boereoorlog?

“Weer eens van kleins af. Daai tyd het hulle dit nog die Tweede Vryheidsoorlog genoem. Toe ek op universiteit kom, toe kom ek nou agter ’n mens moet ’n bietjie meer objektief wees as waarmee ek grootgeword het.

“Toe in die honneursjaar moes ons ’n onderwerp kies vir ’n skripsie en ek besluit toe ek gaan doen wat in st. 3 in omgewingsgeskiedenis op Brits vir ons vertel is. Ek gaan die ontsnapping van genl. De Wet oor die Magaliesberg in Augustus 1900 doen.”

Pretorius vertel hoe hy in sy navorsing Eugène Marais, “die seun van die digter”, opgesoek het. Hy was destyds ’n prokureur op Brits.

“Ek maak toe ’n afspraak en vra hom om my te vertel van die ontsnapping van De Wet oor Magaliesberg. Hy sê toe ‘nee, De Wet was nooit in die Tweede Vryheidsoorlog hier nie’.

“Ek weet toe hy is verkeerd en toe kom my vraag: Nou wat maak De Wet in die Transvaal?”

Elke keer wanneer Pretorius gedink het hy’s nou klaar met die ABO, dan kom daar ’n nuwe versoek.

Toe volg Pretorius die storie van waar hy begin het en dit word toe sy MA in geskiedenis, die “sogenaamde eerste dryfjag op genl. De Wet”. Van toe af is hy onlosmaaklik van die ABO.

“Toe ek nou die beurs kry Holland toe na die Universiteit van Leiden, toe het ek as hoofvak Nederlandse vaderlandse geskiedenis gehad, maar ek het Nederland en die Anglo-Boereoorlog gedoen.

“En by Amerikaanse geskiedenis het ek op die VSA en die Anglo-Boereoorlog gefokus.”

Elke keer wanneer Pretorius gedink het hy’s nou klaar met die ABO, dan kom daar ’n nuwe versoek.

“Ek is nou al 49 jaar in dié oorlog . . . Toe my proefskrif oor die kommandolewe tydens die Anglo-Boereoorlog verskyn, het ek in die voorwoord geskryf ek het nege jaar gewerk aan ’n oorlog wat drie jaar geduur het.”

‘Hoor ek vir mnr. Zuma?’

Sy bloed is blou. Fransjohan Pretorius het in 1956 die eerste keer rugby op Loftus Versfeld gaan kyk. Foto: Deaan Vivier

Maar wat maak ’n mens vandag met dié geskiedenis van die ABO en hoe is die terugblik na die kommandolewe van toepassing op die Suid-Afrika van vandag?

“Ek kan een aspek uitlig. Die Boere het godsdiens en politiek in hulle gevoel teenoor Brittanje as van dieselfde ‘weefstof’ gesien – dit was Christelik-Nasionaal.

“Hulle het hul standpunt oor die oorlog as geregverdig voor God beskou . . . en God was aan hulle kant. Hoor ek vir mnr. Zuma?

“Ons moet besef dat die geskiedenis op ’n manier ’n angel het en hy vang vir jou as jy eensydig na dinge kyk.”

Ons skink nog wyn terwyl Waterkloof se vliegtuie oor ons koppe druis.

Wat op die oomblik met Afrikaans gebeur, is vir my ontsettend verdoemend.

Tot dusver was ons die enigste mense in die restaurant maar nou kom sit hier en daar ’n paartjie aan.

’n Tafel of wat van ons af praat mense ’n taal wat ek nie kan plaas nie. Hul formele kleredrag laat my dink aan een van die vele diplomatieke sendings in die buurt.

Ek kyk die prof só, sy vriende noem hom “Fanjan” maar hy kan netsowel “Funjan” wees want die “koppie tik nog aan” (sý woorde), en dan praat ons oor Afrikaans.

Want dié toekenning het dit mos juis oor ’n uitstaande bydrae tot Afrikaans as wetenskapstaal.

“Wat op die oomblik met Afrikaans gebeur, is vir my ontsettend verdoemend. As Anton van Niekerk reg is dat Afrikaanse studente op Stellenbosch nie meer in Afrikaans wil klas hê nie.

“Ek kan verstaan dat mense wil wegbeweeg van die onderdrukker se taal, maar wat ek nie verstaan nie, is dat hulle nie kan besef as jy daai tersiêre, akademiese taal stuit, dan word dit weer ’n kombuistaal. ’n Taal wat ons in die huis fluister.”

Daar is geen voorneme by die ANC om die diversiteit in ons kulture te respekteer nie.

Pretorius sê uitsprake soos dié van Nathi Mthethwa, minister van kuns en kultuur, oor die verdoemende koms van Jan van Riebeeck, wys “daar is geen voorneme by die ANC om die diversiteit in ons kulture te respekteer nie”.

“Dit beteken dat Afrikaans al hoe meer onder druk is.”

Maar Fanjan sê ondanks pogings van die Akademie om onder meer na die bruin gemeenskap uit te reik, verstaan hy die wantroue gegewe sake soos die laat-toekenning van die Hertzogprys aan Adam Small.

“Ek is baie bly die letterkunde-kommissie het dit reggestel, hulle moes dit al lankal gedoen het.”

Die probleem met dié proffie is dat sy lei groot is, en dat die griffel net ’n klein bestek kan dokumenteer van wat in daardie kop aangaan.

Fransjohan Pretorius is ’n besonder waardige wenner van die gesogte Jan H. Maraisprys.

* Jo Prins is ’n vryskutjoernalis van Johannesburg.

Klaar met die Bulle

Pretorius sê hy kyk nie werklik TV nie want dis vir hom tydmors.

“Ek slaap so vyf en ’n half na ses ure … ek ís nou ouer. En TV wat ek wel kyk is wanneer die Proteas speel en dalk Carte Blanche.

Hy sê hy kyk natuurlik die Bokke ook, maar ná die afgelope Saterdag is hy nou klaar met die Bulle.

“Ek is nou kláár met hulle …

“Laurette stem nie met my saam nie, maar ek sê hierdie ouens wat vir sy provinsie of sy land speel … hy speel vir mý!

“Hulle speel nie vir hulleself nie, hulle speel vir my. Hulle speel net nie goed genoeg vir my nie.”

Die sportmal Pretorius was in sy jong dae ’n kranige atleet en as dit nie vir geelsug was nie, het atletiek hom dalk van die akademie af weggerokkel.

Pretorius sê dis juis dié geelsug wat hom baie meer kieskeurig maak oor watter tipe wyn hy drink, dat dit eerder mooi wyn is.

Aan die einde van ons gesprek weet ek nie wie van ons twee die meeste verbaas was oor die feit dat ons net een bottel Chenin Blanc gedrink het nie.

Inkopies

’n Interessantheid oor Pretorius is dat hy mál is oor inkopies doen.

Hierteenoor kan sy vrou, Laurette, dit nie uitstaan nie.

“Dis interessant hoe ’n mens mekaar aanvul. Behalwe dat ek die pryse so goed ken, stap ek in Brooklyn Mall dan sien ek hier’s ou Hennie dan is dit ‘Hei, hoe lyk dit ou Henna!’.

“Dan gesels ek so ’n minuut of twee. Ek is mál oor mense … en ek is mál oor inkopies.

“Mense kan dit nie glo nie.”

Pretorius sê hy kan presies vir jou sê watter produkte kos wat in die verskillende winkels, maar sy vrou koop gewoon uit die heup uit “die beste”.

“Nou’s daar weer ander goed … sy (Laurette) is baie meer prakties as ek. Ek kan ’n kar se wil omruil, of ten minste, ek kon, maar moenie vir my vra om prakties te wees of te dink nie.”

Pretorius sê die kere wanneer hulle wél saam inkopies doen, dan is daar heelwat ekstra items in die mandjie.

Meer oor:  Fransjohan Pretorius  |  Jo Prins  |  Geskiedenis  |  Afrikaans  |  Anglo-Boereoorlog  |  Bulle
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.