Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Profiele
‘Gatvol om eenkant toe gestoot te word’

Die dag gaan kom dat hulle “die hele Kaap suksesvol toesluit”, sê Fadiel Adams, een van die stigterslede van die beweging Gatvol Capetonian, aan Murray La Vita.

Fadiel Adams vandeesweek in Manenberg op die Kaapse Vlakte Foto: Jaco Marais

Die onderhoud met Adams (44) is telefonies en later per WhatsApp terwyl hy iewers op die Kaapse Vlakte in ’n geleende motor sit. Daar is twee keer onderbrekings wanneer hy ander “dringende” oproepe moet beantwoord.

Dit is die dag ná Gatvol Capetonian se protesoptrede in die Kaapstadse Metropool waarmee dié beweging beloof het om die metropool tot stilstand te dwing. Dit het egter nié gebeur nie.

Christo van der Rheede, adjunk- uitvoerende direkteur van Agri SA, skryf Woensdag in ’n rubriek op Netwerk24 bruin mense in die Wes-Kaap is gefrustreerd en dat “die noodkreet wat die laaste tyd op veral die Kaapse Vlakte manifesteer” nie langer geïgnoreer kan word nie.

Adams, ’n inwoner van Mitchells Plain, verwoord in ons onderhoud van die frustrasies wat bruin mense beleef.

“’n Handjievol ouens het drie jaar en ’n paar maande gelede gesit op ’n Sondag oor ’n koppie koffie en ons het maar net heeloggend geklaag oor die dinge in ons gemeenskap.

Een van die ouens, Oscar Lyons, het gesê hy is nou mooi gátvol en ek dink dáái was die begin van Gatvol Capetonian.

“Oor die jong mans wat op die hoeke sit want hulle kry nie werk nie. Oor die meisiekinders wat prostitute raak om te eet. Oor die behuising wat ons toekom en wat ons nie kry nie. Oor die feit dat ons eie grond waar ons afgesit is, deur ander mense beset is.

“Een van die ouens, Oscar Lyons, het gesê hy is nou mooi gátvol en ek dink dáái was die begin van Gatvol Capetonian.

“Die volgende dag toe kom Oscar daar aan met drie Gatvol Capetonian-T-shirts. En daai selfde aand toe begin Siqualo, die plakkerskamp net buite Mitchells Plain, te riot en toe gaan ons tot daar.

“Die plan was gewees om terug te baklei want ons vrouens en kinders is in die karre wat daar moet deurkom en hulle is besig om karre met klippe te gooi.

“Die polisie het op óns begin vuur voordat ons enigiets kon doen. En daarvandaan toe raak dit net mal . . .”

‘Verkeerde dinge’

Hy sê die afgelope drie jaar “gaan my oë net wyer en wyer oop vir die verkeerde dinge wat deur die ANC en die DA teen my mense en my gemeenskap gepleeg word.

“As jy kyk na die R65 miljard per jaar wat in die City of Cape Town gespandeer word, sal jy sien die minimum word gespandeer op die meerderheid van die mense, wat mos nou kleurlinge is. Jy sal sien dat die housing opportunities gaan meestal vir mense van die Oos-Kaap terwyl ons sit met ’n backlog van 500 000 mense wat al 20 jaar plus op die waglys sit.

So, daar is iets ernstigs verkeerd hier – érnstig verkeerd! Ons is nou moeg om eenkant toe gestoot te raak. Ons sê dis nou genoeg.

“Hier is mense wat 25 jaar oud is en huise kry, en tannies wat al 25 jaar wag op ’n huis. So, jy moet nou vir my sê of ons verkeerd is. As jy kyk in Mitchells Plain . . . be it die Promenade Mall, be it die polisiestasie, be it law enforcement . . . In Mitchells Plain bly 1,2 miljoen mense . . . Hoeveel van Mitchells Plain se mense werk daar? Dis amper níks. Dis meestal mense van die Oos-Kaap. Dis amper of ons nou ’n sub-breed van die Oos-Kaap geraak het. En dis verkeerd.

“Die bruin kind word eintlik gesê: ‘Gaan sit op ’n hoek. Ons wil nie vir jou werk gee nie.’ Vyftig persent van die kinders in die Wes-Kaap is bruin. Hoeveel van hulle kry die geleentheid om verder te studeer? Kry hulp om verder te studeer? Amper niks nie. Die higher learning intake is 90 % swárt.

“So, daar is iets ernstigs verkeerd hier – érnstig verkeerd! Ons is nou moeg om eenkant toe gestoot te raak. Ons sê dis nou genoeg.”

‘Waar begin rassisme?’

Mense betoog Maandag vreedsaam onder die vaandel van Gatvol Capetonian in Manenberg. Foto: Jaco Marais

Sowel Van der Rheede as die kommentator Heindrich Wyngaard (ook in ’n rubriek vandeesweek) waarsku teen die neiging om ras met ras te wil beveg.

“Hulle moet eers begin by die rassistiese instellings om my wat aangaan van ’94 af. Hulle moet dáár begin. En dan moet hulle ook besef wat óns doen, is ’n reaksie op wat gedoen is áán ons,” sê Adams.

“As hulle nou net vir ons die kwaliteit sal gee waarvoor ons almal baklei het, dan het jy nooit gehoor van Fadiel Adams en Gatvol Capetonian nie.”

Hy meen die aantyging van rassisme, is ’n baie simplistiese een.

“Waar begin die racialism hier? Dit begín van die staat af. Van die DA én die ANC af.”

Gatvol Capetonian se protesoptrede Maandag volg op ’n soortgelyke protes in Augustus verlede jaar. Hoe voel hy oor wat hulle bereik het? Die beweging het vooraf gesê hy wil die metro tot stilstand dwing. Treindienste en vullisverwydering is wel op plekke ontwrig en in Bellville-Suid is voorwerpe in die pad aan die brand gesteek om die verkeer te ontwrig.

Gister se protes was mos ’n local governance issue, was dit nie? Dit was mos ’n service delivery issue, was dit nie? Hoekom raak military intelligence só involved in ’n local government issue?

“Ag, man, dit is ’n mixed bag. Gister se protes . . . As jy die Sunday Times gelees het en as jy die mediaberigte gelees het, het die mayor die Suid-Afrikaanse Polisiediens gevra om hierdie protes te squash voordat dit begin.

“Nou moet jy weet: Saps is betrokke, military intelligence is betrokke . . . military intelligence stuur ’n report uit om te sê dat ons petrolbomme gaan gooi; dat ons infrastructure gaan brand. Ons bestaan nou al drie jaar en ons het nog nóóit so ’n ding gedoen nie. Ons het nog nooit so ’n woord gepraat nie.

“Maar military intelligence circulate ’n memo om te sê ons gaan dié dinge doen. Mense gaan dit gló. Hulle is mos intelligence. Verstaan? So outomaties raak mense bang. Mense tree uit. Toe my mense Maandagoggend wakker skrik, vieruur in die oggend, toe het van hulle law enforcement voor hulle deure gehad.

“Van my mense was gearresteer soos wat hulle uit hulle karre klim in Bonteheuwel. So, die staat het baie mooi saamgespeel – ál drie arms van die staat; die ANC én die DA – om ons monde toe te druk.

“Gister se protes was mos ’n local governance issue, was dit nie? Dit was mos ’n service delivery issue, was dit nie? Hoekom raak military intelligence só involved in ’n local government issue? Dis mos nie hulle werk nie. Dis nie hulle mandaat daai nie.”

‘Geen misdaad gepleeg’

Dit is duidelik dat wanneer “die bruin man sê genoeg is genoeg, dán kan die ANC en die DA saamwerk. Dan wéét hulle hoe om saam te werk,” sê Adams en raak al driftiger.

“Maar terwyl hulle onse kinders dóódskiet en wanneer ons ten triple one [10111] bel, dan sien jy nié ’n polisievan nie. Maar wanneer ouers wil uitkom en sê ‘Ek is hier vir my kinders!’, dan sien ek 15 polisievans om my.”

Hy sê die verslag van militêre inligting is op WhatsApp gesirkuleer.

Ons is glo misdadigers.

“Dáái is die hartseer part. Intelligence doen mos nie súlke dinge nie! Dit was op hulle letterhead, so deesdae doen hulle sulke dinge. Laat ek jou nog ’n ding vertel. Sondagoggend toe is kolonel Ontong van die Hawks by my deur om te kom vra dat ons hierdie protest kanselleer! Ek is toe nie by die huis nie. Ek sê toe vir hom toe hy my bel: ‘Kolonel Ontong, die Hawks is ’n priority crimes unit. Hierdie is ’n service delivery issue. Daar is géén misdaad gepleeg nie. Wát soek jy by my deur? Ek kan vir jou wys waar die misdadigers bly. Verstaan nou mooi wat ek vir jou sê.’

“So, dít is waarmee ons sit. Ons is glo misdadigers.”

’n Memorandum

“Dis amper of ons nou ’n sub-breed van die Oos-Kaap geraak het.” Foto: Jaco Marais

Die klipgooiery? En brand van voorwerpe in die paaie?

“Meneer, as jy kyk na ons Facebook page – ons het gesê ons gaan vréédsaam protest tot elfuur. Tiénuur toe stuur ek ’n video en ’n statement uit om te sê ons abort nou want ons word nou provoke deur die polisie, deur die law enforcement, en dié ding gaan nie mooi end nie.

“Omdat ons vreedsaam wou bly, het ek vir my mense gesê: ‘Disperse en gaan huis toe.’ Daai mense hét gedisperse en huis toe gegaan. Daai klipgooiery en gebrandery het hoe laat begin? Van twáálfuur af. Toe is ons al klaar gestort en voor onse TV’s. So, dít het níks met ons te doen nie.

“Die stáát moet daai kissie dra. Ek gaan u sê hoekom: Twaalf maande gelede met onse laaste protes het ons aan die mayor oorhandig ’n memorandum waarin ons gesê het: Dié is die dinge wat critical is. Dié is die dinge wat jy moet hanteer, meneer Plato.’

Die memo praat ook van die gangsterism op die Kaapse Vlakte. Ons wil weet wanneer gaan die staat iets doen daaraan.

“In die memo het ons gesê ons is nie tevrede met die manier wat die huise uitgedeel word op die basis van ras nie. Dit gaan nie oor jou nood nie – dit gaan oor jou rás. Jong seuns en dogters kry huise net omdat hulle swart is; net omdat hulle van die Oos-Kaap is. Ons is nie tevrede daarmee nie. Ons is nie tevrede met die employment equity in die Kaap nie. Hóé kan dit wees dat die bruin mense, wat 50% van die populasie is, 10% van die werkgeleenthede kry? Hoe is dit reg?

“Die memo praat ook van die gangsterism op die Kaapse Vlakte. Ons wil weet wanneer gaan die staat iets doen daaraan. Ons wil weet wát is die staat se plan vir housing roll-out. Hét die City of Cape Town ’n behuising-roll-out-plan? Ons makeer tienduisende huise en as hulle nie die huise kan bou nie, dan moet hulle vir die mense grond gee, want ons ghetto’s is overcrowded! Is te vol!

“Daai man [Plato] het nie eers vir ons ’n acknowledgement gestuur van receipt van daai memo nie. So, as die mayor sy werk gedoen het en die memo geléés het en iets gedoen het daaroor, dan het ons nie ’n probleem nie.

“Hulle het nie respond nie want die City en die DA hét nie ’n response vir dit nie. Hulle response sal hulle nie kan vind nie want vir 16 jaar al kyk hulle die bruin mense aan as minder aan; minder as ’n nasie.”

‘Ons gaan voort’

Wyngaard skryf in sy rubriek op Netwerk24: “Ondersteuning van gematigde Kapenaars is presies wat afwesig was toe die groep [Gatvol Capetonian] Maandag hul protesaksie geloods het. Gematigde ondersteuners is egter wat nodig is – en nie dreigemente van nóg ’n ‘shutdown’ nie – om behuisingsoplossings tot voordeel van sowel die agterplaasbewoners as die ‘agternakommers’ te vind.”

Ek pols Adams hieroor.

Die dag wanneer ons die hele Kaap successfully toesluit – daai dag sal hulle verstaan.

“Dit is swaar om te stry met die waarheid. Wat dié man sê, is waar. Máár ek stem nie saam met die laaste part nie – oor die dreigemente van nog ’n shutdown nie – ons sal vóórtgaan, ons sal voortgaan tót hulle luister.”

Wat dink hy sal “hulle” laat luister?

“Die dag wanneer ons die hele Kaap successfully toesluit – daai dag sal hulle verstaan. En ons gáán daar kom. Onthou een ding, Meneer, onthou een ding – die dag sál kom wanneer hulle vir ons sal hoor; die dag sál kom wanneer hulle vir ons sal verstaan. Ons gaan voort tot daai dag toe.”

‘Ons gryp niks’

“In die memo het ons gesê ons is nie tevrede met die manier wat die huise uitgedeel word op die basis van ras nie.” Foto: Jaco Marais

Later die dag bel ek Adams ’n derde keer.

“Jy weet, as jy die staat beveg, gaan die staat altyd wen. Maar ek was nou in ’n vergadering . . . Ek kán nou niks praat oor die vergadering nie. Ek kan jou net sê die staat gaan nie hierdie keer wen nie. Hierdie keer gaan ons nie vir hulle ’n datum gee nie . . . Hulle gaan net sien.”

’n Verrassingselement dus.

Ek steel jou selfoon en omdat jy dit terugvat, beskuldig ek jou van steel.

“Vir my is dit baie snaaks dat ’n man soos J.P. Smith [burgemeesterskomiteelid vir gemeenskapsveiligheid] vir mý kan vertel oor land grabs terwyl hy sit op grond wat gesteel is van ons.

“Hoe kan dit moontlik wees dat ek land grýp terwyl ék van die grond afgesit is? Ek steel jou selfoon en omdat jy dit terugvat, beskuldig ek jou van steel.

“Maar ons gryp níks. Wat ons sê, is begin die proses dat ons ons grond kan terugkry. Die fokus is op gronddiefstal. Mense van ander provinsies kan nie Kaapse grond eis nie. Mense uit ander provinsies mag nie grond gryp in twee provinsies nie. Daar is mense wat huise het in twee provinsies en dan het jy jou klompie wat glad niks het nie. Dis mos nie reg nie!”

‘Stupid dinge’

Mense betoog Maandag in Robert Sobukwe-weg in Greenfields op die Kaapse Vlakte. Foto: Jaco Marais

Adams het in Lavender Hill grootgeword. Ek vra hom oor sy kinderdae.

“Dis die Lavender Hill-storie . . . Die meeste van ons – ek wil nie praat oor myself nie, ek praat oor almal – raak groot sonder voltydse pa’s; baie van ons heeltemal sonder pa’s. Die bendes wag ons in. Ons doen stúpid dinge in die naam van bendes en baie van ons gaan dood; die meeste van ons gaan tronk toe; baie min van ons kom lewend uit die plek – ek is maar een van ’n handjievol . . . En dis nie omdat ek enigiets reg gedoen het nie; ek was maar net ’n bietjie meer gelukkig as baie ander ouens.

“Daai is die lang en die kort daarvan.”

Ék het die ding befonds met die geld wat ek opgespaar het oor die jare en met die rygoed wat ek verkoop het om dit aan die gang te hou.

Hy is ’n bouer.

“Ek was ’n contractor vir ’n goeie paar jaar – omtrent 17 jaar – maar vir die laaste drie jaar het ek nie gewerk nie; ek doen nou voltyds activism.”

Waar kom die geld vandaan om Gatvol Capetonian se bedrywighede te befonds?

“Ék het die ding befonds met die geld wat ek opgespaar het oor die jare en met die rygoed wat ek verkoop het om dit aan die gang te hou. Ek het ’n Isuzu-bakkie gehad – my werksbakkie; ek het dít verkoop. En ek het ’n Hyundai i10-karretjie gehad, wat ek ook verkoop het om vir ons aan die gang te hou. En nou het ons niks meer geld oor nie – níks, nie ’n dooie sent nie. Ek ry eintlik op die oomblik met my petrolliggie aan . . . in ’n geleende Peugot.”

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.