Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Profiele
‘Gatvol vir mans en geskiedenis’

Ná sy veelbekroonde roman Buys het hy gevoel hy wil iets skryf wat nie gaan oor ’n “bedonderde ou man” nie, sê Willem Anker aan Murray La Vita.

Willem Anker vandeesweek tydens ’n onderhoud op Stellenbosch. Foto: Jaco Marais

En nou het hy vorendag gekom met Skepsel:

“Aan die Kaapse Weskus versorg Rebecca Maas haar sterwende pa in ’n tegnologies-gevorderde slimhuis, ’n huis wat praat in ’n halfbekende stem. Op die horison, ’n olietenkskip. ’n Posthuman biohacker trou met die enorme skip, en maak kuns oor die wittebroodsreis. En in die yswildernis van Svalbard verdwyn ’n navorser se minnaar spoorloos. Hulle is daar om geheimsinnige spierwit items te ondersoek – dalk beendere, maar dan beendere wat vertak en ineensmelt soos geen bekende skepsel s’n nie.”

Aldus die agterplat van die roman.

Ek het gevoel ek het nou so half uitgeskryf wat ek te sê het oor geskiedenis en politiek en masculinity.

“Ná Buys het ek gevoel ek is nou gatvol vir mans – toxic masculinity. En ek is gatvol vir geskiedenis; ek wil iets meer moderns doen wat in hierdie tyd afspeel en nie gaan oor ’n bedonderde ou man nie,” sê Anker.

“Ek het gevoel ek het nou so half uitgeskryf wat ek te sê het oor geskiedenis en politiek en masculinity.”

Buys – ’n Grensroman, waarvoor Anker onder meer die Hertzogprys ontvang het, is ingegee deur die lewe van die woestaard en avonturier Coenraad de Buys (1761 – 1821). Red Dog, die vertaling van die roman deur Michiel Heyns, was vanjaar op die langlys vir die Booker-prys vir vertaalde fiksie.

’n Roman wat ‘treiter en verbaas’

Skepsel, Anker se jongste roman, het pas by Queillerie verskyn. Foto: Jaco Marais

Anker praat oor die ontstaansgeskiedenis van Skepsel, wat deur die skrywer S.J. Naudé, een van die keurders, beskryf word as “ . . . ’n roman wat ’n mens treiter en verbaas en verontrus en van vreemde dinge leer”.

“Ek het middel-2017 en 2018 studieverlof geneem . . . Ek kry baie steun van die Afrikaans en Nederlands-departement in my skryfwerk; hulle gee vir my geleenthede. En in 2019 het ek onbetaalde verlof geneem en klaargemaak. Die meeste van die roman soos dit nou staan, is in 2019 geskryf. Daar was báie drafts.

“Ons het saam met vriende gaan kuier – ek weet nie watter jaar dit was nie; kom ons sê 2015, 2016 – in so ’n private natuurreservaat. Toe het ek daar begin dink: Wat van iets waarin alles so half interconnected is?

“Ek het ’n plot gehad vir die mense wat daar bly op so ’n soort plek. Die vrou wat inkom om skoon te maak en wat ook op die plek bly; die man, die natuurbewaarder, en dan die diere ook en die stofdeeltjies en die kieme.

“Ek het baie begin oplees oor al hierdie goed van agency en ook die etiek daarvan: In hoeverre mag jy namens iets of iemand anders skryf?

“Ek voel ’n mens kan nogal ver gaan daarmee; dat jy met ’n invoelende verbeelding jouself kan inverbeel in iemand anders of iets anders se skoene. En dan met die verbeelding nader kom aan iets anders en daardeur juis empatie skep.

“Beskryf jy dit van buite af? Beskryf jy dit van binne af? Objekte. Diere. Mikrobes. Kan ’n mens jou inverbeel in hoe ’n mikrobe voel?

Ek was geïnteresseerd in die desentralisering van die mens en wat die filosowe deesdae daaroor skryf.

“Ek dink dis Jane Bennett [Amerikaanse filosoof] wat gesê het ’n mens moet juis antropomorfies wees; dit sit alles juis op dieselfde vlak; daar is gelykheid; daar is nie ’n hiërargie nie.

“Ja, so ek was geïnteresseerd in die desentralisering van die mens en wat die filosowe deesdae daaroor skryf. En dan was daar plot op plot op plot, en verskillende skryfwyses en reworking en reworking en reworking, tot iets so half einde 2018 in plek geval het en ek gedink het: Dít kan werk.

“So, hy kom ’n lang pad so van einde 2015 af, begin 2016 af, toe ek begin dink het aan die posthumanism goed wat vir my nogal interessant is.”

Die poolnag en olie

“Omdat ’n mens leef en omdat ’n mens lees dan skryf ’n mens maar om terug te praat, te gesels.” Foto: Jaco Marais

Ons sit teenoor mekaar in ’n restaurant op Stellenbosch wat ingerig is in ’n geskiedkundige gebou aan Ryneveldstraat. Anker woon op dié dorp en gee klas in skeppende skryfkunde aan die Universiteit Stellenbosch.

Dit is ’n sonnige Bolandse dag, maar Anker dra ’n groen baadjie/trui wat bestaan uit seemsleer en wol. Dit is asof hy voorbereid is op aankomende koue weer waarvan ander mense nog nie bewus is nie.

Om sy nek is ’n masker waarop die woorde “Green Dog.no” en “Go Sledding” staan. Dit is ’n aandenking wat hy uit Svalbard, die argipel tussen Noorweë en die Noordpool, teruggebring het. Hy en sy vrou was in Januarie 2019 daar en hy het die Darkness Conference bygewoon – ’n kongres waar die kulturele en omgewingsaspekte van donkerte verken word.

Die Covid-19-pandemie figureer ook in Skepsel.

Hy meld in sy omvattende erkennings aan die einde van Skepsel “daardie wonderlike plek, die poolnag, interessante idees en husky-sleë”, en skryf voorts:

“Die strome van Skepsel het hulle eerste kortsluitingsvonke gehad tydens kruisings van drie oop drade: ’n verblyf in ’n private natuurreservaat, die reuseribbes van ’n antieke skepsel wat uittroon bo die stad New Crobuzon in China Miéville se Bas-Lag-trilogie, en die nuus dat ’n mens met die Berlynse muur kan trou. Maar waar dit alles eintlik begin het, was by ’n sin uit Fritz Leiber se kortverhaal “The Black Gondolier” (1964): ‘In brief, Daloway’s theory was that man hadn’t discovered oil, but that oil had found man.’”

Hy sê hy het ook Reza Negarestani se Cyclonopedia – Complicity with Anonymous Materials baie prikkelend gevind. Daarin het hy gelees oor olie as ’n lewende organisme “wat eintlik alles beheer en so half oorloë in die Midde-Ooste aan die gang hou en so half ’n agentskap van sy eie het”.

Die virus ‘moes in’

“Ek dink dit gaan oor ’n nuwe soort etiek wat nie ’n mens soos Trump sal toelaat nie.” Foto: Jaco Marais

Die Covid-19-pandemie figureer ook in Skepsel.

“Ek het hierdie jaar nog herskryf aan die roman. Ek sit toe een aand in lockdown 5 in die huis en dit is so ’n bisarre tyd en ek sit met hierdie boek en toe slaan dit my ons is nou in die middel van ’n pandemie. En dit pas toe baie goed by die boek in en toe vleg ek dit maar in in die tydsraamwerk waarin die boek afgespeel het.

“Dit het toevallig so uitgewerk dat die boek net voor lockdown 5 geëindig het. Toe het ek dit nou terugwerkend ingewerk. Maar die presiese . . . Ek het óngelooflike brain fog; ek is jammer. Hierdie jaar voel soos een lang . . . So, ek is nie honderd persent seker in watter maand ek dit begin inskryf het nie, maar dit was laat in die proses.

“Dit het tematies baie goed ingepas. Maar ek sou dit nie nié kon doen nie. Ek dink nie ’n mens kan dit ignoreer nie. Ek sien Don DeLillo se nuwe boek is nou uit [The Silence]. Ek het gister ’n stuk van ’n artikel gelees oor die boek.

“Daar staan glo in die boek goed oor die virus. Ek dink dit speel in 2022 af. Al gaan die boek oor iets anders, noem hy die herinneringe aan die virus.

Ek het êrens gelees iemand het gesê die persoon wat die groot Trump-novel gaan skryf, is nou gebore. ’n Mens moet perspektief hê daarop.

“So, ek dink nie ’n mens kan dit heeltemal ignoreer nie. Dit sal vréémd wees, in elk geval, om nou nié iets daarvan te noem nie.

“Maar, then again, wil ek ook nie hê dit moet ’n Covid-boek wees nie; dit is gelukkig dat die tydlyn geëindig het voordat die pandemie daardie ongelooflike afmetings begin aanneem het.

“Ek dink ’n mens het nog nie perspektief daarop nie; alles is nog onseker. Ons is nou in ’n plek waar ons so kan sit en chat, maar ’n mens weet nie of die second wave hierheen gaan kom nie.

“Ek het êrens gelees iemand het gesê die persoon wat die groot Trump-novel gaan skryf, is nou gebore. ’n Mens moet perspektief hê daarop. Dis ’n skrywer – ek het nou vergeet wie dit is – wat gevra is of hy nou ’n Covid-novel gaan skryf, en toe sê hy ’n mens moet eers perspektief kry op die verlede om die groot Covid-novel te skryf.”

Sulla en die skip

Wat se uitdagings het dit aan hom gestel om die verhouding tussen Sulla – ’n mens wat sigself toenemend verander (deur byvoorbeeld ’n bioniese arm te kry en ’n kameralens in ’n oog te laat inbou), en wie se geslag nie duidelik is nie aangesien slegs die tweede persoon (jy/julle) gebruik word – en die olietenker Kraken te verbeel en beskryf?

“Ek hoop dit is met respek hanteer en dat Sulla nie ’n karikatuur is nie, want ek wil nie hê objektum-seksuele mense [wat emosionele, romantiese en/of seksuele gevoelens jeens objekte soos ’n skip, motor of brug het] moet geaffronteer wees as hulle die boek lees nie.

Daardie karakter dink dan op ’n ander manier oor herkoms en geslagtelikheid en seksualiteit.

“Behalwe die objektum-seksualiteit wou ek verder gehad het dat Sulla nie ’n geslag het nie; dat dit nie in die boek ter sprake moet kom nie. Maak dit vir Sulla saak watter geslag die persoon is as die persoon tot so ’n mate ’n cyborg en ’n posthuman wil raak?

“As ’n mens daardie stem vind, dan raak dit makliker om jou in te leef in wat die karakter sou dink of sê. Maar ek wou ook ’n afstand hou. Sekere goed [van Sulla] moet ignoreer word, soos die agtergrond en herkoms . . . Sekere goed moet eintlik nie ’n issue wees vir dié persoon nie.

“Daardie karakter dink dan op ’n ander manier oor herkoms en geslagtelikheid en seksualiteit. Die [bioniese] arm is nie eens ’n extension nie – dit ís die persoon se arm. En ook die oog.”

‘Mense wat aan identiteit vasklou’

“In hoeverre mag jy namens iets of iemand anders skryf?” Foto: Jaco Marais

In ons wêreld word vaste identiteite meer vloeibaar.

“As ’n mens net kyk na die desentrering van die mens wat al hoe meer voorkom in maniere van dink oor die mens se plek op die planeet; die bewegings van gender fluidity wat gelukkig al hoe meer aanvaarbaar word.

“Maar daarteenoor is daar verskriklik baie identiteitspolitiek wat vir my nogal interessant is; mense wat baie vásklou aan sekere identiteite en die skép van identiteite op sê nou maar sosiale media. En dan is daar identiteitspolitiek rondom sekere identiteite wat mense voel beskerm moet word.

“Aan die een kant word daar uit vrees aan sekere identiteite vasgeklou, van nasionalisties tot ras tot geslagtelikheid. En dan aan die ander kant is daar die totale wegbeweeg daarvan.

’n Baie meer etiese politiek kom na vore as jy net begin dink oor jou plek op die planeet.

“As jy begin dink dat jy meer mikroörganismes (soos bakterieë) in jou het as wat jy selle het – jy is meer nonhuman as wat jy human is – dan raak dit nogal interessant.”

As jy dít begin aanvaar, kom daar ’n “ander soort politiek” in die spel.

“ ’n Baie meer etiese politiek kom na vore as jy net begin dink oor jou plek op die planeet. Ek dink dít is die etiese politiek wat kán ontwikkel as meer mense dít begin raaksien. En ook bewus word van die agentskap van dinge rondom hulle; dat álles agentskap het tot ’n mate . . . partykeer meer as wat ’n mens dink.

“So, ek dink dit gaan oor ’n nuwe soort etiek wat nie ’n mens soos Trump sal toelaat nie.”

Katarsis?

Hy dink nie Skepsel het enige vorm van ’n boodskap nie.

“Ek het maar ’n paar vrae gevra vir myself of scenario’s uitgespeel.”

Het die skryf van Skepsel hom as mens verander?

In hierdie geval het ek baie meer empatie met die karakters gehad as byvoorbeeld in 'Buys', waar ek probeer het om hierdie monster te skep, maar ook ’n dubbelsinnige monster.

“Ek weet nie of katarsis die regte woord is nie, seker nie, maar dit is so half om goeters uit te skryf en los te skryf. ’n Mens skryf maar oor . . . nie noodwendig persoonlike goed nie, daar is seker maar altyd persoonlike goed aanwesig in ’n boek . . . Ek dink dit is ’n baie poreuse . . . Omdat ’n mens leef en omdat ’n mens lees dan skryf ’n mens maar om terug te praat, te gesels. Dis vir my baie ’n soort van verkenning van sekere goed; ’n verkenning van sekere maniere van leef of wees.

“Soos in hierdie geval het ek baie meer empatie met die karakters gehad as byvoorbeeld in Buys, waar ek probeer het om hierdie monster te skep, maar ook ’n dubbelsinnige monster.

“Hierso het ek so half met sagter gegewens gewerk, maar meer so half amper pýnvolle goeters,” sê Anker.

Meer oor:  Willem Anker  |  Stellenbosch  |  Politiek  |  Geskiedenis  |  Covid-19-Pandemie
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.