Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Profiele
Gay dominee: ‘Ek was nog nooit kwaad vir die kerk nie’

Ds. Louis van der Riet het onlangs die eerste openlike gay persoon geword wat in die NG Kerk as leraar beroep is. Hy het aan Willemien Brümmer gesê hy gaan voortgaan om as ’n “heel, beliggaamde mens” te lewe – hopelik sonder ’n “dominee-stem”.

Ds. Louis van der Riet het Sondag in sy intreepreek by die Parke-gemeente in Kraaifontein uit Lukas 6:27 tot 36 gepreek oor onbegrensde liefde. Hy en die NG Kerk het onlangs geskiedenis gemaak toe hy die eerste proponent geword het wat openlik daaroor is dat hy gay is, wat in dié kerk as predikant bevestig is. Foto: Jaco Marais

Hy lees uit Lukas 6 voor ’n stampvol gemeente: “Julle moet jul vyande liefhê; doen goed aan die mense deur wie julle gehaat word; seën die mense deur wie julle vervloek word; bid vir die mense deur wie julle sleg behandel word.”

Daar heers ’n eerbiedige stilte tydens die intreepreek van ds. Louis van der Riet by die Parke-gemeente in Kraaifontein. Hy preek uit die leesrooster – toevallig vandag oor liefde sonder grense.

Links voor in dié siersteenkerk diep agter die Boereworsgordyn sit ’n groepie Voortrekkers en heel voor ’n ry gaste van die Durbanville-kinderhuis. Die tannies, die ooms, die kinders én talle vreemdelinge wat vir die eerste keer in jare hul voete in ’n kerk sit, hang aan sy lippe.

Geskiedenis word hier gemaak. ’n Week vantevore het hy die eerste openlike gay proponent geword wat deur die NG Kerk as leraar beroep is, in ’n gemeente wat liefde bo vrees gekies het. Vandag is sy eerste erediens as predikant en sy boodskap is eerlik en reguit: “Christene is dikwels die mees rassistiese mense; die mense wat mure bou en uitsluit . . .”

Dit was ’n gebeurtenisvolle week: Nie net het hy 30 jaar oud geword nie, maar in sy drie dekades op aarde het sy liggaam “nog nooit vantevore soveel saak gemaak nie”.

Daar waar hy in die kerkkantoor sit met sy blougrys oë, stoppelbaard en modieuse haarstyl, lyk hy jonk en weerloos. Hy weeg sy woorde asof elkeen ’n bondeltjie plofstof is.

“Ek dink die klassifikasie dat ek ‘openlik’ is verwar baie mense. Sommige mense interpreteer dit as dat ek ’n gay leefstyl leef, wat ook al dit is, of dat ek losbandig is of rondslaap, want dis hulle verstaan van wat gay-wees beteken en dan is ek nou nog ’n predikant ook en dis vir hulle onversoenbaar en sonde.”

En ja, hy is bewus daarvan dat die aandag wat nou skielik gevestig is op sy liggaam beteken dat mense wonder of hy selibaat gaan lewe.

“Ek is in presies dieselfde posisie as enige ongetroude persoon wat bevestig word en die implisiete waarheid van die sinode se besluit is dat ek selibaat moet wees.”

Die Parke-gemeente sing tydens die intreepreek van ds. Louis van der Riet. Foto: Jaco Marais

Hy aarsel.

“Maar die kerk se posisie nou is totaal en al onvolhoubaar. So die enigste weg vorentoe eintlik is om ’n teologiese gesprek te hê oor wat is die huwelik en wat is seksualiteit en hoekom moet die huwelik tussen ’n man en ’n vrou wees? Van die teoloë by die kweekskool het nou begin om goeie vrae te vra, soos hoekom beskou ons die huwelik as so eksklusief heilig tussen man en vrou? En ons kan nie eintlik teologies ’n goeie rede aanvoer oor hoekom ons dit so beskou nie.”

Hy is diplomaties oor die buitengewone Algemene Sinode se besluit in 2016, wat ’n pas verworwe reg by gemeentes weggevat het om self te besluit of hulle gay verhoudings wil erken, gay paartjies kan laat trou en gay predikante legitimeer.

Hy leun vorentoe, sy hande byna biddend voor hom.

“Ek was nog nooit kwaad vir die kerk nie. Dit was nie vir my ’n sinvolle manier om daarmee om te gaan nie. Wie is die kerk in elk geval?

“Ek het al gepraat van onweerlegbare liefde en die opregtheid en egtheid van my eie getuienis en dié van ander mense wat gay is, is vir my veel belangriker. So sonder om arrogant te wees of om ’n moral highground te probeer inneem, besef ek ek moet empatie hê met hierdie mense. Hulle verstaan nie.”

‘Ek gaan ’n heel mens bly’

Wat beteken dit vir hom dat hy tegnies, ingevolge die kerk, nie die waarheid van sy liefde mag leef nie?

Hy lag, sy stem kalm.

“Ek gaan my eenvoudig nie daaraan steur nie. Ek wil dit sê sonder om voor te kom asof ek hierdie ontsettende vroom mens is, maar ek gaan myself wees. Nie omdat ek wil gehoorsaam wees aan my menslike begeertes of wat ook al nie, maar omdat my verstaan van God is dat ek as ’n heel, beliggaamde mens moet kan lewe.

Die wiel moet nou maar net draai. En as ek oor drie maande iemand vind en ek wil trou, gaan dit gebeur.

“Ander mense sal sê: ‘Ek wil net myself uitleef.’ Ek wil die onderskeid tref sonder om hoogheilig te probeer klink of te dink ek het God aan my kant. God is aan almal se kant wat wil sê ek gaan nie myself kompartementaliseer nie; ek gaan nie myself dwing om net gay te wees van hier af op nie,” en hy wys na sy middellyf en op boontoe na sy swartraam-brilglase.

“Nog niemand wat in die kerk die teengesprek lei het die vrymoedigheid gehad om my te kontak nie, hulle weet dat hulle namens ander mense praat en dat dit eintlik nie hul plek is nie. Die wiel moet nou maar net draai. En as ek oor drie maande iemand vind en ek wil trou, gaan dit gebeur.”

Hy knik gemaklik. “Ja, hier in die kerk.”

‘Ek was die ultimate hoofseun’

Ds. Louis van der Riet het gesê hy gaan steeds die waarheid van sy liefde lewe, “want my verstaan van God is dat ek as ’n heel, beliggaamde mens moet kan lewe”. Foto: Jaco Marais

In vergelyking met die Laurie Gaums van die wêreld wat deur die kerk verstoot is, het hy betreklik “min trauma, min worsteling en min pyn ervaar” toe hy in 2016 die eerste keer op Facebook geskryf het hy is gay.

Op skool en universiteit was hy ’n toppresteerder – hoofseun van die Hoërskool Stellenberg in Durbanville, ondervoorsitter van die studenteraad aan die Universiteit Stellenbosch, huiskomiteelid van Wilgenhof, topmeestersgraadstudent aan die fakulteit teologie.

Hy vee oor sy deurmekaar hare, giggel.

“Ek was soos die ultimate hoofseun gewees. Ek het sulke golden boy-tendense gehad.”

Terselfdertyd was daar nie ’n eng benadering in sy huishouding nie. Sy pa Fred is ’n dokter wat werk met funksionele medisyne en sy ma Marita ’n kliniese sielkundige.

“Ek het al ná matriek vir my ma-hulle gesê ek twyfel oor my seksualiteit, of ek het vrae. Hulle het net gesê dis fine en my ondersteun om my eie pad te stap.”

Aanvanklik is hy gekeur vir medies, maar toe volg hy eerder sy roeping en studeer teologie. Ná vier jaar was hy nie gereed om ’n dominee te word nie, en toe doen hy ’n MTh oor die teoloog en anti-apartheidsaktivis Beyers Naudé.

“My idee van die kerk daai tyd was hierdie vreemde, Afrikaanse, eksklusiewe, wit, behoudende plek waar mense net kon aanhou lekker wit wees en Afrikaans wees, teenoor iemand soos Beyers Naudé se teologie wat juis oor grense gestuur het. So dit was so half ’n herbekering of ’n heroproep teenoor die teologie en die rol van teologie in die samelewing, eerder as dat ek net wou gaan dominee wees.”

Dit was egter eers daarna, in 2015 toe hy tien weke in die Taizé-geloofsgemeenskap in Frankryk deurgebring het, toe hy “ ’n kêrel in ’n klooster ontmoet het”.

Sy stem is dapper dog broos.

“Ek dink in my tyd daar het ek besef ek hoef nie oulik te wees vir enige iemand nie, ek hoef nie te perform nie, niemand gee om oor my CV of wat ek kan doen of nie kan doen nie. Dis baie vergelykbaar met God se genade. Come as you are, wees wie jy is en dis oukei.”

“My hoop vir die NG Kerk lê daarin dat hy verreken watter skade hy gedoen het aan mense: swart mense, vroue, gay mense, andersdenkendes, die lys is lank . . .” Foto: Jaco Marais

’n Jaar later het hy op Facebook geskryf: “Ek het gewéét, om te bevraagteken wat God besig was om in my lewe te doen bloot uit vrees vir wat my kerk vir my sou sê, sou wees om toe te gee aan vrees, en dit te kies bo liefde. Om met my terugkoms die nuus met my mense te deel dat my lewe deur ’n dapper, weerlose liefde verander is, was een van die mees lewegewende, bevrydende dinge wat ek nóg gedoen het.”

Die reaksie was oorweldigend.

“Die bevestiging en daai week (in 2016) was amper soos spieëlbeelde van mekaar – dit was duidelik dat dit vir mense ontsettend baie hoop gee. Ek het e-posse en boodskappe van all over gekry: predikante wat my bel van ander dele van die land.”

Die verhouding het nie gehou nie omdat hy tussen sy land en sy geliefde (’n Amerikaanse Anglikaanse priester) moes kies. Die besluit was maklik: Sy “hele teologie en roeping was hiér, aan die suidpunt van Afrika”.

‘Daar is nog nie jammer gelééf nie’

Ds. Louis van der Riet stap vir die eerste keer na die preekstoel as predikant van die Parke-gemeente. Foto: Jaco Marais

Dit is ook hoekom hy kies om in die NG Kerk te bly – ’n kerk wat vir baie mense ’n vreemde reliek uit die apartheidsjare is. ’n Kerk waarvan die lidmate bly kwyn en waar dieselfde kwessies vir dekades lank gedebatteer word.

Hy vou sy hande oor sy bors.

“As ek my hoop gevestig het op die sigbare tekens van die NG Kerk en hoe gemaklik ek gevoel het tussen wit Afrikaners op ’n Sondagoggend en hoe volhoubaar die manier is waarop die kerk op die oomblik funksioneer, then it’s a dead end. Dan is dit beslis nie ’n pad wat ek wil stap nie. Maar as my gehoorsaamheid en my ingesteldheid en my passie en my hoop gesetel is in ’n gemeenskap wat poog om geregtigheid te laat gebeur, om mense beter lief te hê, om te versoen – dís vir my die essensie van die evangelie. En dít kan nooit irrelevant word nie, dit kan nooit uitsterf nie en dis nie tydsgees-gebonde nie.”

Dis teoloë soos Beyers Naudé en filosowe soos Wilhelm Verwoerd (kleinseun van H.F. Verwoerd) wat hom geleer het die storie is nog nie klaar geskryf nie.

Hy kies sy woorde versigtig.

“My hoop vir die NG Kerk lê daarin dat hy verreken watter skade hy gedoen het aan mense: swart mense, vroue, gay mense, andersdenkendes, die lys is lank . . .”

Sy navorsing vir sy doktorsgraad aan die Vrije-Universiteit in Amsterdam stuur juis daarop af dat die NG Kerk nie ’n teologie van belydenis het nie.

“Ons het nie die vermoë om regtig skuld te kan bely nie. Ná apartheid was daar Willie Jonker wat in 1990 ’n soort publieke verklaring afgelê het, maar daar is nog nie jammer gelééf nie.”

Dominee Louis

Ds. Louis van der Riet tydens die gebruiklike handeopleggingseremonie voor in die kerk toe hy as leraar in die Parke-gemeente bevestig is.Foto: Kerkbode

En dalk – net dalk – is dit iets waarmee hy kan help.

Ná 11 jaar van voltydse studie sien hy sy taak by die Parke-gemeente as eerstens ’n luisteropdrag om te hoor “waar die gemeente is”.

Vir hom is die belangrikste waarde wat hy tydens sy tweejaarkontrak by dié kerk sou wou oordra ’n beliggaamde, outentieke soeke na waarheid en geregtigheid. En om te waarsku teen laertrek.

Sy seksualiteit sal hopelik ’n gawe wees vir die kerk. Iets wat ander kan oortuig dat selfs die NG Kerk kan verander – “uit liefde en nie uit vrees nie”.

Daar is ’n deel van my wat nou voel ek gaan moet konformeer tot NG dominee.

“Daar is mense wat nou sê hulle het 20 jaar laas hul voet in die NG Kerk gesit en nou sal hulle weer kans sien. Ek dink ook ons het so lanklaas iets positiefs gesien oor hierdie gesprek. Selfs vir mense wat nog steeds die NG Kerk haat of nie Christene is nie – selfs vir húlle het geregtigheid geskied.”

Hy lag selfbewus toe ek hom vra of hy gemaklik is met die rol van dominee.

“Daar is ’n deel van my wat nou voel ek gaan moet konformeer tot NG dominee. Ek hoop nie ek voel ek moet myself anders verpak of konformeer tot die NG Kerk nie.”

En toe bloos hy bloedrooi. Dié dominee wat self moes leer om sy vyand – ook in die kerk – lief te hê.

“Ek wil nie ’n dominee-stem ontwikkel nie.”

‘Ek het al self ’n gay paartjie getrou’

Die NG kerk se standpunt is sedert 2016 soos wat dit was voor 2015: dat geen NG gemeente gay paartjies mag trou nie.

Vir ds. Louis is dié besluit van die algemene sinode egter onbenullig.

“Ek het al self ’n gay paartjie getrou. Na my mening, hoekom moet ek in elk geval die staat se werk doen om mense in ’n huwelik te bevestig? Ek trou nie mense voor die hof nie, ek trou mense voor God. So teologies is dit vir my ook nie sinvol om ’n huweliksbevestiger te word vir die staat nie.”

Hy dink na.

“Maar ek weet van soveel predikante wat wél gay paartjies trou. Daar was nog nooit ’n tugsaak nie en daar sal ook nie wees nie. Dit is die absurde deel van hierdie gesprek. Mense voer argumente en word gedryf deur hulle ego’s eerder as wat dit gaan oor gay mense se beswil.”

‘Julle moet julle vyande liefhê’

Ds. Louis het besluit om Sondag tydens sy intreepreek uit die kerk se leesrooster te preek en nie sy eie teks te kies nie. Toevallig het Lukas 6:27 tot 36 iets verwoord wat hom baie na aan die hart lê: dat ons die grense van ons liefde moet leer oorbrug.

“Ek lees vyande as mense wat verskil van my, mense wat nie op dieselfde bladsy as ek is nie, ook in die kerk. My opdrag, of my Christelike plig, is om nie verdere skeiding te veroorsaak tussen my en daardie persoon nie en te besef dit wat dalk daai persoon in hul oë ’n vyand maak is iets wat in my ook leef. Dis ’n behoefte aan sekuriteit, ’n behoefte aan mag wat dikwels onderhou word deur vrees.”



Meer oor:  Ng Kerk  |  Laurie Gaum  |  Wilhelm Verwoerd  |  Kraaifontein  |  Gay Huwelike
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.