Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Profiele
Gee ons hoop, mnr. Jonas

Die staatskaping het hom in ’n eksistensiële krisis gedompel. Maar pleks daarvan om moed in die land te verloor, het Mcebisi Jonas ’n boek oor hoop ná die staatskaping geskryf. Carla Lewis het met hom gesels.

Mcebisi Jonas (59), voormalige adjunkminister van finansies. Foto: Heather Mason

Die voorbladprikkel op Mcebisi Jonas (59) se nuwe boek, After Dawn: Hope After State Capture kom van niemand anders nie as pres. Cyril Ramaphosa.

“Hierdie boek is ’n gids vir dialoog en hoe om met mekaar te praat, soos ons die nodige moeilike opofferings maak wat ons ons drome kan laat bereik,” skryf Rama­phosa.

Suid-Afrikaners sal opofferings en kopskuiwe moet maak vir ’n Suid-Afrika wat weer kan gedy: Dit is een van Jonas se sleutelboodskappe in die boek.

Hoe raak dit jong wit mense soos ek? vra ek. Watter opofferings kan ons maak; jong wit mense wat histories deur apartheid bevoordeel was, wat toegang gehad het tot gehalte-onderrig, wie se ouers hul heil op sektore soos die myn- en landboubedryf gebou het? Sektore wat van goedkoop swart arbeid gebruik gemaak het om hoë winsgrense te behaal?

Die voormalige adjunkminister van finansies kyk my reg in die oë.

“Jou logika is gevaarlik. Moenie my verkeerd verstaan nie, ek waardeer wat jy sê. Maar jou logika gaan ons in die verlede laat vassit. Jy moet van dié soort denke begin wegbeweeg.

Ek is bekommerd dat mense met die beste bedoelings aan die verlede vasklou, terwyl Suid-Afrika eintlik na die toekoms moet kyk. Politici is mal daaroor, terloops. Dit verskaf goeie materiaal vir hul retoriek. Maar op die lange duur kalwe dit hoop uit. Dit is ’n probleem waarvan ons moet wegbreek.

“Ek is ’n futuristiese denker, in murg en been. Suid-Afrikaners moet eerder die werklikheid waarin hulle hulself tans bevind, begin verstaan. Deel daarvan is weens ons verlede,” gee hy toe.

Maar as jong wit mense soos ek as landsburgers wil bydra, moet dit vir die gemeenskaplike beswil van ons land wees. Nie om vir die sondes van ons voorvaders te vergoed nie.

“Ek dink aan my oupa, wat ’n skrynwerker was. Dit was ’n goeie werk. Maar my oupa se werk het geen impak op wat ek vandag doen of wie ek is nie.

“Suid-Afrikaners moet ons verlede erken, maar ons moet ook daarvan kan wegbreek en saam, as ’n nasie, ons uitdagings tegemoetgaan. Ons moet verstaan waar ons vandaan kom, maar nog belangriker, ons moet begrip hê vir waar ons onsself tans bevind.”

Hy vertel van ’n gesprek wat hy en sy niggie onlangs oor wit mense en vooroordele gehad het.

“Iemand het iets oor haar wit vriendin by die skool gesê. Sy was nogal geïrriteerd daarmee, sy weet nie eens waarom iemand “wit” gebruik het om haar vriendin te beskryf nie. ‘Maar jou vriendin is dan wit?’ vra ek haar.

“Maar ek kon haar punt insien. Sy meen haar vriendin se ras is gebruik om haar in ’n sekere sosiale kategorie te klassifiseer. Iets wat bepaal hoe mense teenoor jou moet optree.

“As ek eerlik met jou moet wees, die laaste vier jaar is ek soveel meer bewus daarvan dat ek swart is. Almal met wie ek praat, herinner my gereeld daaraan.”

Hy skryf dit aan mense se beheptheid met identiteitspolitiek toe.

“Ons moet begin om daarby verby te beweeg sodat ons ’n Suid-Afrikaanse perspektief oor ons Suid-Afrikaanse identiteit kan vorm. Hierdie beheptheid met ras en identiteitspolitiek . . . dis waarom ons xenofobie het.

“Ek is bekommerd dat mense met die beste bedoelings aan die verlede vasklou, terwyl Suid-Afrika eintlik na die toekoms moet kyk. Politici is mal daaroor, terloops. Dit verskaf goeie materiaal vir hul retoriek. Maar op die lange duur kalwe dit hoop uit. Dit is ’n probleem waarvan ons moet wegbreek.”

Tyd vir moeilike gesprekke

Suid-Afrika kan weer gedy, sê die voormalige adjunkminister van finansies. Foto: Heather Mason

“Ons moet ook praat oor waar die staat die regering gefaal het,” sê hy. Hy meen dis ’n groot deel van die debat as ons vorentoe wil beweeg.

Gewoonlik wil Jonas nie te veel oor die verlede tob nie. Maar as ons gaan leer uit die verlede, sal ons ’n paar ongemaklike erkennings oor die tydperk ná 1994 moet maak. Daar is ’n paar dinge wat destyds anders aangepak kon gewees het, sê hy.

“Post-’94 was ’n bloeitydperk vir kommoditeite en grondstowwe. Daar is te veel op die kommoditeitsmark gefokus om die ekonomie te laat groei,” verduidelik hy.

“Ons moes meer hulpbronne belê het in ons vervaardigingsektor om dit meer veerkragtig te maak. Ons moes meer belê het in gehalte-onderwys sodat daar beter uitkomste kon wees.

“Ons het wel die openbare sektor laat groei,” sê hy met ’n droë ironiese laggie.

“Daar was nooit enige ernstige aanslae op ongelykheid of gewigtige pogings om ’n volhoubare arbeidsektor te skep nie. Toe die ekonomie in 2008 geduik het, was daar steeds probleme met ongelykheid en werkloosheid. En al die denkers, die intellektuele mense, in die ANC het drasties begin verminder.

“Nou het ons groeisyfers wat ’n volslae verleentheid is en dis steeds besig om teen ’n spoed te daal. Suid-Afrika se ekonomie is steeds te afhanklik van kommoditeite.”

Goeie nuus in die tyd van staatskapings

Die voormalige adjunkminister van finansies het in Maart vanjaar voor die Zondo-kommissie getuig dat die Gupta-broers en oudpres. Jacob Zuma se seun Duduzane hom in 2015 R600 miljoen en die pos van minister van finansies aangebied het. In ruil hiervoor moes hy uithelp om hul sakeplanne in die Suid-Afrikaanse regering te bevorder. Hy is ook met die dood gedreig as hy sou uitpraat. Zuma en die Guptas ontken dit.

“Ek het ’n diep gevoel van verlies en rigtingloosheid ervaar,” skryf Jonas in After Dawn se voorwoord

Die boek is deels memoire, deels ’n regrukplan vir Suid-Afrika om weer ekonomies te floreer. En floreer kan ons, beklemtoon Jonas.

“Mense vra my soms: Gaan Suid-Afrika oorleef? Natuurlik gaan ons oorleef. ’n Belangrike vraag is: Gaan Suid-Afrika gedy? Ek glo ons kan. Maar as ons ’n positiewe toekoms wil binnegaan, moet ons bereid wees om met ’n klomp harde werklikhede gekonfronteer te word, en bereid wees om iets daadwerkliks daaraan te doen.

After Dawn: Hope After State Capture word deur Picador Africa uitgegee en kos R297.

Volgens Jonas maak dit ons kwesbaar vir prys- en markskommelings.

“Nietemin is Suid-Afrika se situasie nie uniek in die wêreld nie. Waarom dink jy neem populisme wêreldwyd toe?” vra-sê hy.

“Dis eenvoudig. Liberale demokrasie word nou al ’n tyd lank as die beste politieke stelsel voorgehou.

’n Groot deel van die samelewing voel egter soos die groot verloorders in hierdie stelsel. Dit het slegs die elite gebaat, glo hulle.

“Werkersklasmense verloor hoop en selfs middelklasmense se lewenstandaard is besig om te verswak.

"Dit alles skep lekker vrugbare grond waar populistiese opvattings kan ontkiem. Maar ’n tekort aan goeie, groot planne skep ’n vakuum vir populistiese retoriek.

Populiste sal vir jou groot planne bied, al is dit vals opvattings. In ’n wêreld waar daar nie juis ander goeie alternatiewe oplossings gebied word nie, eet mense die retoriek soos soetkoek op.”

Die sentrum vir maatskaplike ontwikkeling in Afrika het onlangs in samewerking met die Universiteit van Johannesburg ’n studie gedoen oor Suid-Afrikaners se stemgedrag. Hy beskou die resultate as baie kommerwekkend.

“Luidens die studie blyk dit dat Suid-Afrikaners bereid is om hul demokratiese stemreg prys te gee in ruil vir ’n onverkose leier, mits hy vir hulle goeie dienslewering, werkgeleenthede en behuising verskaf. Dit sê vir jou nogal iets oor ons landsburgers se psige.”

Mense kyk na die kragmanpolitiek van leiers soos Paul Kagame van Rwanda en wonder, miskien is dit iets wat hier ook sal werk.

“Al hierdie faktore – dit het veroorsaak dat die grootskaalse korrupsie en staatskaping voorkom. Jy kan ook ras by die warboel voeg. Met openbare verkrygingskontrakte was ons besig om ons swart vriende te steun; orals waar jy gegaan het, het jy dit gesien.

“Die probleem daarmee is dat jy die regering se bekwaamheid en geleenthede vir groei só ondermyn het.”

Wanneer dit by die regering se mislukkings die afgelope jaar kom, hou hy nie terug nie.

“Kyk ook na die regering se grondhervormingsprogram. Dis ’n volslae ramp. Groot somme geld is bestee, plase is gekoop, maar wat is die uitkoms?

“Ons is ook alewig besig om die mislukkings van staatsinstellings te ontleed en te kyk waar dinge verkeerd geloop het. As ons eerlik moet wees, is dit ’n weerspieëling van die regering se mislukkings. Die probleme lê dikwels nie by die instelling nie. Dis gewoonlik omdat iemand binne die regering dit nie ordentlik gemonitor het nie, of vir hulle vertel het hoe om onnosel te wees.”

Verandering begin by ons

“Mense moet besef ons moet oop wees vir nuwe planne.” Foto: Heather Mason

Suid-Afrikaners moet begin praat oor wat ons kan doen om ons mede-landsburgers op te hef. Dit sluit ons almal in, meen Jonas. En ons kan nie op die regering vir spoedige verandering staatmaak nie.

“Dit gaan ’n lang tyd neem om verandering binne die regering teweeg te bring.” Weer gee hy sy droë laggie. “Ek het probeer.”

Suid-Afrikaners moet ook versigtig wees om kitsoplossings te soek by ideologieë en leiers wat as messiasse voorgehou word.

“Somtyds is daar hierdie narratief wat sê: Zuma het ons van Thabo gered. Nou het Ramaphosa ons van Zuma gered. Binnekort gaan mense vra vir iemand om ons van Ramaphosa te verlos.”

So word die bose kringloop geskep, waar almal wag op ’n redder, pleks daarvan dat hulle self terugtree en vra: Wat is ons werklikheid tans? En hoe pak ons die probleme in hierdie werklikheid aan?

Ek kom self uit ’n politieke tradisie waar ons in Koue Oorlog-politiek touwys gemaak is. Baie van ons dra dit steeds saam met ons.

“Dis maklik vir die media om te sê ‘Cyril is ’n ster’, of ‘Cyril is swak’ of ‘Cyril is gedoem’.

“Politieke partye is swak. Dis eintlik die probleem, dink ek.

“Die wêreld vandag het ’n nuwe maatskaplike agentskap (social agency) nodig. Tot nou toe moes ons op politieke partye staatmaak om die maatskaplike agenda te stel. Ons moet anders begin dink hieroor en vra: Wie of wat gaan die nuwe maatskaplike agentskap wees? Hoe herspoor ons die bestaande strukture en magte ?

“In Suid-Afrika is dit veronderstel om nierassig en nie-ideologies te wees, dit moet fokus op relevante kwessies binne die land. Dit moet vir Suid-Afrikaners ’n nuwe visie bied. Ons moet anders begin dink.

“Ek kom self uit ’n politieke tradisie waar ons in Koue Oorlog-politiek touwys gemaak is. Baie van ons dra dit steeds saam met ons, hierdie Koue Oorlog-politiekery. Mense moet besef dat ons oop vir nuwe opvattings moet wees.”

Pasop vir ideologie

Hy het (onsuksesvol) probeer om die regering van binne te verander, lag Mcebisi Jonas. Foto: Heather Mason

Wat dink hy van die groeiende gewildheid van sosialisme onder die jeug? In Amerika is vroue soos Alexandria Ocasio-Cortez politieke supersterre omdat hul veldtogte sterk sosialisties-demokratiese ondertone het. Plaaslik hoef jy net na die EFF se sukses in die onlangse verkiesing te kyk.

“Suid-Afrikaners moet besef dat ons probleme baie kompleks is. Ons gaan nêrens met ‘maklike’ oplossings of ideologieë soos sosialisme of kapitalisme kom nie.

“Ons het sterker leiers nodig. Ek dink politieke partye, veral die ANC, het ’n groot geskiedkundige verantwoordelikheid om die land in ’n nuwe rigting te stuur.”

Watter kant toe is dit?

“Alle Suid-Afrikaners moet by ’n gemeenskaplike agenda ingesluit word. Maar ons moet nog uitvind wat dit is. Dis my boodskap in die boek.”

Ons moet terugkeer na die grondbeginsels, wegbeweeg van clichés en ideologie, ons moet kyk na die dinge wat regtig saakmaak.

Maar hoe kry jy ’n verdeelde land met van die hoogste vlakke van ongelykheid ter wêreld om dieselfde gemeenskaplike doel te aanvaar?

“Sê vir my. Dink jy daar gaan groot meningsverskille wees wanneer ons sê: ’n Goeie geleerdheid en ’n skoolstelsel wat werk, is onontbeerlik vir al Suid-Afrika se kinders? Of dat almal geregtig is op goeie pensioene wat na hulle sal omsien op hul oudag, of goeie gesondheidsorg? Wie stem nie daarmee saam nie? Daar is geen groot onoorkombare ideologiese verskille met planne soos dié nie.

“Almal wil in ’n land bly waar kinders toegang het tot goeie onderwys en gehalte-gesondheidsorg.

“Ons moet terugkeer na die grondbeginsels, wegbeweeg van clichés en ideologie, ons moet kyk na die dinge wat regtig saakmaak.

“Met ’n swak onderwysstelsel gaan ’n land nie gedy nie. Dis onaanvaarbaar dat daar tans twee standaarde is: Vir stedelike middelklaskinders wat beter onderrig ontvang en so makliker en beter toegang tot gesogte geleenthede in die arbeidsmark het as kinders in townships en op die platteland.

“Daar moet van die stelsel weggebreek word. Ons kan heeldag debatteer of dit goed of sleg is om in die ANC te wees. Ons kan praat of dit goed is om swart te wees, of sleg is om wit te wees.

“Uiteindelik soek ons almal dieselfde dinge. Daar is sekere faktore wat ons as mense bind. Ons moet dit net weer vind. En ons het dit gehad, maar ons het dit verloor. Daarin lê die gevaar.”

Meer oor:  Cyril Ramaphosa  |  Mcebisi Jonas  |  Apartheid  |  Populisme  |  Grondhervorming  |  Staatskaping  |  Ekonomie
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.