Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Profiele
Wat’s jou storie?
Geliefde ‘Mr C’ groet die hof

Ná byna 40 jaar diens mag ’n pas afgetrede griffier met ’n MBE spog.

Master By Experience.

’n Week gelede het Christo Conradie, of Mr. C soos Kimberley hom ken, sy reëlboek as die senior griffier van die hooggeregshof neergelê. Die griffier wat die langste ervaring in Suid-Afrika gehad het, dink hy.

Christo Conradie in die lang gange van die hooggeregshof in Kimberley. Foto’s: Charné Kemp

Daar is nie een van die 72 reëls van die hooggeregshof wat hy nié ken nie.

“Met reël 73 as die belangrikste: Die griffier is altyd reg,” lag hy in sy diep stem wat deur sy liefde vir sigarette veredel is.

Hy was ’n bekende gesig by die hooggeregshof se trappe waar hy en ander regsgeleerdes graag oor die lewe besin het.

Vanwaar hy gesien het hoe politici, beskuldigdes, staatsaanklaers, prokureurs, advokate, joernaliste, familielede, onwettige myners, plakkers, betogers, polisielede en mense wat die binnekant van die hof vir die eerste keer sien, verbystroom.

Christo Conradie het elke werksdag hier op sy stoel met sy koerant begin.

Hier binne is al menige traan gestort wanneer ’n huwelik beëindig word.

“Sommiges het weer gelag – hulle het ek vryheidsvegters genoem,” sê hy met ’n skalkse glimlag.

Die groen leunstoel in sy kantoor is voos gesit. Soggens, lank voordat swart togas buite die gebou begin wapper, het hy sy koerante gelees.

“Ek kon lees wat in die hof aangaan.”

Glimlag.

Conradie was die hartklop van administratiewe geregtigheid. Daar was nie tyd om in howe te sit nie.

“Die griffier moet sorg dat alle regsprosesse gevolg en dokumente gereed is wanneer ’n verhoor begin. Sodra my werk klaar is, neem die regter oor wanneer hy of sy op die bank plaasneem.”

Die stoele voor sy lessenaar is plat gesit.

“Mense daag gedurig op om raad oor hofprosesse te vra. Of hulle bel.”

Selfs regslui van elders in die land wat op sy kennis en ervaring steun.

Prokureurs en advokate of deskundiges sou ook in die stoele sit wanneer Conradie taksasies doen om te bepaal of regskoste regverdig was of nie.

Sommiges het weer gelag – hulle het ek vryheidsvegters genoem . . .

Sy loopbaan het as regsklerk begin nadat hy matriek aan die Hoërskool Murraysburg voltooi het.

“Ek het eers in Kaapstad gewerk, en is toe na Grahamstad (nou Makhanda) verplaas. Van daar na Kimberley, waar dit my vier jaar geneem het om alles reg te ruk en ’n skoon verslag aan die destydse inspekteur, wat landdroste was, voor te lê. Ek was baie trots daarop.”

In daardie jare het hy ook die kantoor- en personeel-administrasie gedoen.

“Kantooraankope behartig, verlof goedgekeur en tjeks geteken. Bewaar jou as iets verkeerd was.”

Christo Conradie in die ontvangskantoor van die hooggeregshof in Kimberley waar hy byna 40 jaar lank gewerk het. Foto’s: Charné Kemp

Hy onthou nog wasvelle, tikmasjiene, en woordverwerkers. Eers later het faksmasjiene gekom, maar dié is ook aan’t uitsterf.

Binnekort sal hoflêers net elektronies beskikbaar wees, met rekenaars voor die regters op die bank.

Met die ontstaan van nuwe provinsies van die demokrasie, het die werklas vergroot.

“Vroeër was hier net drie regters en ons jurisdiksie het by Vryburg en Calvinia opgehou. Die ander sake is in die Wes-Kaap besleg.”

Drie nuwe howe is noodgedwonge agter die bestaande twee gebou. Deesdae is hier agt regters wat siviele geskille moet besleg of misdadigers vryspreek of vonnisse oplê.

“Ek was so verlig toe die doodstraf destyds afgeskaf is. Dit was beklemmend. Wanneer iemand ter dood veroordeel is, kon hy óf presidentsbegenadiging gekry het, óf hy kon na die appèlhof appelleer óf petisioneer. Elke Maandag sou ek telegramme van die destydse departement van justisie kry om te bevestig of die veroordeelde se appèl of petisie geslaag het al dan nie. Ek moes ondersoek instel en voor 16:00 ’n telegram terugstuur met die korrekte feite. Ek moes dubbel seker wees, want ek het geweet Dinsdagoggend sou iemand in Pretoria hang. Indien ek ’n fout gemaak het . . .

“ ’n Dag later moes ek ’n kennisgewing en foto van die veroordeelde by die landdroshof opplak waarin die voltrekking van die vonnis aangekondig is . . . ”

Die ergste geval vir hom was in 1989 toe 14 mans ter dood veroordeel is. Hulle was deel van die sogenaamde Upington-25 wat in 1989 vir die moord op ’n polisieman ter dood veroordeel is. Hulle is daarvan beskuldig dat hulle ’n gemeenskaplike oogmerk gehad het om die regering omver te werp.

Die vonnisse is later tersyde gestel.

“Gelukkig. Kan jy jou die spanning indink wanneer 14 mense gelyk ter dood veroordeel word in hierdie klein hof waar ek in beheer is?”

Die tekens van die tyd speel in die howe af.

“Skuldeise het toegeneem, so ook uitsettingsbevele teen plakkers of onwettige myners, dagvaar­dings, politieke twee­spalt . . . ”

Prisoniers wat hom een keer ’n jaar bel om te hoor of hul appèlaansoek dalk geslaag het.

“Soms dink ek hulle hoop ons het hul lêers weggegooi.”

Sommige sake bly hom by.

“Soos die oom van 70 jaar wat sy vrou doodgemaak het. In sy kultuur en tradisie was dit aanvaarbaar, en hier sleep iemand hom voor ’n hof met wette wat hy nie begryp nie, en hy moet probeer verduidelik . . . ”

En dan is daar die Griekwastad-moordsaak van 2012.

“Ek het in my lewe nog nooit soveel joernaliste bymekaar in ons hof gesien nie. Hier was selfs ’n buitelandse joernalis.”

Binne in hofsaal B het Don Steenkamp uitdrukkingloos in die beskuldigdebank gesit, aangekla van die moord op sy ouers, Deon en Christel, en die moord en verkragting op Marthella, sy suster.

“Die oproepe en briewe wat ons van oral in die land ontvang het! Een oggend vroeg sit ek en lees toe die foon lui. Op die lyn is ’n man wat my meedeel die moordwapens is by die plaaswerkers se huise weggesteek. Ek het die tyd neergeskryf en die regspanne ontbied. Ons het die oproep nagespeur tot in Pretoria-Sentraal (nou die Kgosi Mampuru II-gevangenis) na ’n verregse gevangene.

“Mense het my tot gebel om te hoor wat in die hof aangaan en wat my opinie is.”

Hy gaan sy jare lange kollegas mis, maar is heeltemal gereed vir aftrede! “Nou die aand wou iemand weer ’n betaling van R50 miljoen stopsit.”

Mr. C gaan nie stilsit nie; ’n plan broei in sy agterkop.

Want hy is nou ’n vry man.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.