Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Profiele
Gert & Joey: ‘Ek dink die witkoppies is dood’

Daar ís mense wat weet wat met die ses vermiste meisies gebeur het, sê Pieter van Zyl aan Murray La Vita in ’n onderhoud oor sy boek oor Gert van Rooyen en Joey Haarhoff.

Pieter van Zyl gedurende die onderhoud in sy woonstel in Seepunt. Foto: Jaco Marais

Op hierdie Kaapse reëndag voel dit of ons op ’n groot skip sit met die grys see wat voor ons uitgestrek lê.

Pieter van Zyl en sy vriend Paul Enslin se knusse Seepuntse woonstel met die mure vol kunswerke en twee katte, die haarlose sfinkse Essie en Grietjie, wat op ’n rusbank onder ’n kombers opgekrul lê, staan in skrille kontras met die ysingwekkende onderwerp van ons onderhoud.

Ons is hier om te praat oor Pieter, ’n Huisgenoot-joernalis, se boek Gert & Joey – Nuwe lig op ’n raaisel van dertig jaar. Op die agterplat van die boek staan: “In die dertig jaar sedert die tragiese verdwyning van ses jong skoolmeisies en die dramatiese skietdood van die land se berugste egpaar, hang onbeantwoorde vrae steeds in die lug.”

Dít is die uitdaging waarvoor Pieter te staan gekom het toe hy dié boek aangepak het waarin hy nuwe lig op die tergende raaisel probeer werp en met die leser ongewone inligting oor Gert en Joey deel.

Gert het graag na Elvis Presley en opnames van die evangelis Jimmy Swaggart se preke geluister, en het ’n voorliefde vir Walt Disney-flieks gehad, veral The Rescuers. “Daardie toneel waar die twee honde spaghetti suig en mekaar soen, het hom lekker laat lag,” skryf Pieter.

Hoe sal dit wees as jou sussie of jou boetie verdwyn en jy weet nie waar hulle is nie?

Joey beskryf hy as ’n “emosioneel onvolwasse” vrou “met sterre in haar oë”.

“Hoe sal dit wees as jou sussie of jou boetie verdwyn en jy weet nie waar hulle is nie? Wat sou ons as ’n gesin gedoen het as een van mý sussies verdwyn het? Ek het baie gesukkel om my daar in te dink,” sê Pieter.

“Die naaste wat ek daaraan gekom het, is toe hierdie een [hy wys na die kat Grietjie langs hom op die rusbank] in 2013 twee dae voor Kersfees weggeloop het omdat iemand die deur oopgelos het. Sy was twee dae lank weg.

“Ons het in die strate op en af geloop en gedink as ons net iewers op haar lyk kan afkom, maar ons het níks gekry nie. En ons het besluit: Luister, sy is nou maar weg. Kersdag het ek ’n slaappil gedrink en in die bed geklim en gaan slaap. Die middag twaalfuur toe klop iemand aan die deur en ek maak die deur oop en hier staan ’n vrou met Grietjie in haar arms . . .

“Sy is soos ons kind. Dit was baie traumaties vir my om nie te weet waar sy is nie . . . Is sy dood? Het iemand haar gevat? Is sy in ’n woonstel en skree sy? Het sy kos? Ek weet ’n mens kan dit ábsoluut nie met hierdie kinders vergelyk nie, maar dit is die naaste wat ek daaraan gekom het.”

Mnr. X

Indien die vermistes nog geleef het, sou minstens een van hulle al “uitgereik het”, meen Pieter.

“Die ander ding wat my ook pla, is die aantreklike jong blonde man wat dikwels saam met Gert en Joey was. [Hy verwys in die boek na hom as Mnr. X.] En ek is heilig oortuig daar is mense wat weet wat gebeur het. Daar ís sulke mense en ek het sulke hints gekry van wie dit is.

“Een ding wat my ook heeltemal ontsenu het, is die Huisgenoot-artikel wat Franz Kemp geskryf het nadat hy Aletta van Rooyen, Gert se vervreemde vrou net voor Joey, besoek het en Gerhardus, Gert se seun, daarop aangedring het om sy pa se pak klere vir die foto te gaan aantrek. Hy het daar by die bad en die opgekapte vloer geposeer. Daai foto . . . Weet hy meer?

“En die ander seun – Frederik of Frikkie – kom volgende jaar op parool uit en dan kan hy begin praat. Hy’t mos daai moord gepleeg, waar hy die jong vrou so oopgesny het . . .

My grootste wens met hierdie boek is dat mense na vore gaan kom en sê: ‘Luister hier, ons wíl nou praat.'

“Al hierdie goed wat ek gedoen het . . . Ek was twee maande in Pretoria vir navorsing en ek het só probeer om iemand te kry wat net iéts meer weet.

“Hoekom is hierdie mense bang om te praat? Gert is mos dood. Hoekom is hulle bang om te praat? Hoekom is hulle bang om enigiets te sê? My grootste wens met hierdie boek is dat mense na vore gaan kom en sê: ‘Luister hier, ons wíl nou praat.’

“Die frustrasie daarvan! Gee net vir hierdie ouers antwoorde – baie van hulle is besig om dood te gaan, Anne-Marie Wapenaar se ma is nou tágtig . . . Babs Wessels is al dood.

“Iemand weet wat gebeur het. Daar ís mense wat lewe wat weet wat gebeur het en ek hoop hulle lees hierdie boek en kom agter deur watse absolute pyn en trauma hierdie ma’s gaan.

“Ek kan my nie indink dat hierdie mense lees oor hierdie pyn en nié sê: ‘Maar luister hier, ons móét praat. Ons moet vertel wat gebeur het want ons wéét. Ek het gehóóp met die boek gaan ek kan antwoorde gee, maar soos ek ook aan die einde van die boek skryf: Daar is nie ’n punt aan die einde van hierdie saak nie, want mense wíl nie praat nie.”

Hy raak al hoe driftiger en sy oë skiet vol trane wanneer hy sê:

“Die grootste hartseer van hierdie hele storie is vir my dat daar al hierdie shysters is, al hierdie sieners, wat met hierdie mense se emosies jojo gespeel het, wat vir hulle belowe het hulle weet iets en wat tot niks gelei het nie; wat tot ’n oop gráf gelei het daar in die Noorde; ’n plek wat ’n siener uitgewys het en waar sy toe self die graf gegrawe het. Maar dit het op níks uitgeloop nie. Dis al hierdie leidrade en . . . as iemand net na vore kan kom met nuwe inligting.”

Joey Haarhoff en Gert van Rooyen.Foto: Argief

’n Eie tragedie

Terwyl Pieter aan Gert & Joey gewerk het, het hy gereeld oor die vermiste meisies gedroom.

“Ek het begin droom oor wat met hulle kon gebeur het. As ek nou ’n dag lank met mense gepraat het, dan het ek die aand . . . dis amper asof ek dit deur daaroor te droom vir myself probeer verwerk het – dít kon gebeur het of dít kon gebeur het. En dat ek dan amper ’n antwoord vind, maar net voordat ek die antwoord kry, dan word ek wakker. In daardie vyf weke wat ek net navorsing vir die boek gedoen het, het dit omtrent elke nag gebeur.

“My sussie se dogtertjies is nou daai ouderdom, die tweeling . . . Dan sit ek daar in Krugersdorp by my sussie-hulle en hulle hardloop so agter die huis rond en dan sién ek amper voor my hoe hulle skielik verdwyn . . . Hulle hardloop en ewe skielik is hulle net weg. En dan dink ek waardeur ons sou gaan.”

Ma’s wat kinders verloor, kom nooit daaroor nie; hulle kom daardéúr. Vir die res van hul lewe gaan hulle rou oor ’n kind.

Hul sesjarige boetie, Adam Clayton, is onlangs in ’n motorongeluk dood waarin verskeie ander gesinslede ernstig beseer is.

“Hy is ook weg, maar ons weet wat met hom gebeur het. Dis nie soos met hierdie kinders wat hulle nie weet nie. Ons weet daar was ’n ongeluk; my sussie het hom gesien en sy sussies het hom gesien daar langs die pad, en hy is veras en hulle het sy as en hulle kan nou gesond word . . .”

Hy streel oor Grietjie se sagte, haarlose lyf.

“Dit het vir my hierdie baie real gemaak . . . Hoe stukkend ’n ma is wat ’n kind verloor het. Ek het ’n bietjie insig gekry in waardeur hierdie ma’s moes gaan. Dis wat ek ook in die boek probeer doen het – om respekvol teenoor die ma’s van die kinders te probeer wees; om so te skryf dat dit nie vir hulle ekstra trauma gaan veroorsaak nie.

“Dís hoekom ek gepraat het met sielkundiges, met traumatoloë, met verskillende kenners wat diéper kyk as net wat gebeur het.

“Ma’s wat kinders verloor, kom nooit daaroor nie; hulle kom daardéúr. Vir die res van hul lewe gaan hulle rou oor ’n kind.”

“Dit is ’n baie donker, donker, donker ding hierdie.”Foto: Jaco Marais

Duisend vermistes

Pieter skryf die buro vir vermiste kinders se databank bevat steeds die name van meer as duisend kinders wat “spoorloos verdwyn het”.

“Die meeste van hulle is swart kinders; en van hulle het nie eers vanne of ouderdomme by nie . . . Ons fokus so op hierdie witkop-kinders en dan is daar hierdie hónderde swart kinders wat ook steeds soek is en ons kyk hulle heeltemal mis. Dit is wat my eintlik kwaad gemaak het – almal onthou die witkoppies wat met Gert verdwyn het, maar wat van daardie kinders in Soshanguve, al daardie meisietjies wat daardie selfde tyd verdwyn het? Niémand het na hulle . . . Wie is hulle ma’s? Waar is hulle? Ek wou dit ook opgevolg het, maar toe is daar gesê ek moet my fokus behou.

“Maar dit is iets wat ek nog wil doen as ’n passieprojek; ek wil uitvind wie was daai meisies wat ook daai tyd verdwyn het . . . wat vermoor is. Was hulle deel van hierdie netwerk?”

So, die kanse dat daar nét wit kinders hierby betrokke was en net meisies, is omtrent nul. En dáái gesiglose kinders is wat vir my nagmerries gee.

Hy skryf dit blyk dat Gert en Joey nie “in isolasie” opgetree het nie, maar waarskynlik deel van ’n uitgebreide misdaadnetwerk was.

“Dit is ónmoontlik dat dit nét wit kinders was. En lt.kol. Mike van Aardt [wat die afgelope ses jaar betrokke is by die ondersoek na die vermiste ses] en ander mense met wie ek gepraat het, het ook vir my gesê ’n pedofiel het nie ’n voorkeur nie; hulle het nie ’n voorkeur net vir meisies nie en nét blondekoppies en nét wit kinders nie. So, die kanse dat daar nét wit kinders hierby betrokke was en net meisies, is omtrent nul. En dáái gesiglose kinders is wat vir my nagmerries gee.”

“Ma’s wat kinders verloor, kom nooit daaroor nie; hulle kom daardéúr.” Foto: Jaco Marais

Pieter verwys weer na “die geheimsinnige Mnr. X”.

“Iemand moet weet van hom; iemand moet weet wie hy is, want die klein meisietjies het hom by die swembad gesien saam met Gert; hy was by die huis gewees besig om die Kombi reg te maak . . . Hy’t soos heeltyd saam met hulle gemove; waar is daai ou? Is hy dood? Wie is hy?

“Die groot ding is: Mense kyk net vas teen Gert en Joey en hulle kyk net vas teen hierdie ses meisietjies wat weg is. Ek wil graag met hierdie boek mense se siening oor die hele ding verbreed, dat daar ook seuntjies en swart kinders betrokke was; dat pa’s betrokke was . . . Ek sê nie die pa’s van hierdie meisietjies nie, maar daar was pa’s wat hulle kinders verkwansel het en dít het ’n paar mense my vertel.

Ek is baie hartseer om dit te sê, maar ek dink regtig hierdie meisietjies is dood.

“Hulle het met foto’s van hulle kinders in hulle sakke rondgeloop en gaan drink by plekke soos die Barrel Inn [in Pretoria-Wes] of by die Maders [in Mayville] en daar gesit en foto’s uitgeruil en pryse gemaak en so aan.

“So, dit is ’n baie donker, donker, donker ding hierdie . . . Dis ook ’n klad op die Afrikaner se naam, soos hierdie Bird-eiland-storie ook, dis mense wat hulle posisies misbruik het om by hierdie kinders uit te kom en kinders half as betaling gebruik het.

“Ek is baie hartseer om dit te sê, maar ek dink regtig hierdie meisietjies is dood. Ek hoop hulle kry hulle oorskot. Dit is vir my baie swaar om dit te sê. Daar is van die ma’s wat al berusting gekry het; wat sê hulle weet hulle is dood, en daar is ander ma’s wat bly glo dat hulle lewe.

“Ek wil nie húlle hoop wegvat nie, maar dít is die slotsom waartoe ek gekom het, dat daardie kinders iewers begrawe is in Pretoria onder die geboue.”

Meer oor:  Murray La Vita  |  Joey Haarhoff  |  Gert Van Rooyen
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.