Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Profiele
Glenda Gray: Ek sou wéér in MAK dien as minister my vra

Kan dit wees dat prof. Glenda Gray, president van die Suid-Afrikaanse Mediese Navorsingsraad, eendag in die geskiedenis onthou gaan word as die vrou wat gehelp het om die eerste suksesvolle vigsentstof te vind? Willemien Brümmer het met haar gesels.

Prof. Glenda Gray, president en uitvoerende hoof van die Mediese Navorsingsraad, in haar eetkamer voor ’n skildery wat haar eks-man, die kunstenaar Jacobus Kloppers, vir haar as ’n huweliksgeskenk gemaak het. Toe sy jonger was, het sy dikwels met die trein gery vanaf Brakpan na Boksburg, waar sy op skool was. Foto: Jaco Marais

“Eendag wanneer ek groot is, wil ek Tony Fauci wees.”

Prof. Glenda Gray, aldus kollegas die naaste wat Suid-Afrika nog aan ’n Fauci sal kom, giggel oor haar grappie.

Dié ster-wetenskaplike, wat begin vanjaar byna eiehandig Suid-Afrika se inentingsprogram gered het toe sy as deel van die Sisonke-proewe halfmiljoen dosisse van die Johnson & Johnson-entstof teen Covid-19 help waarborg het en byna twee weke nie geslaap het nie sodat pres. Cyril Ramaphosa op 17 Februarie sy linkermou vir die spuitnaald kon oprol.

Op 58 is dié president en hoof- uitvoerende beampte van die Suid-Afrikaanse Mediese Navorsingsraad steeds ’n ietwat ikonoklastiese skoonheid, met haar ligpienk ontwerperstewels uit Seattle, fyn pêrel-halssnoer en vietse figuur. Ons gesels in haar dubbelverdiepinghuis in die suidelike voorstede van Kaapstad met sy hoë plafonne en skilderye deur Suid-Afrikaanse kunstenaars soos Zak Benjamin en haar eks-man, Jacobus Kloppers.

Tot dusver het ons al ons mylpale gehaal en ek vermoed daar is goeie nuus, maar ons word ook ’n bietjie angstig, want dit is die derde vigsentstofproef wat ek gelei het en twéé het reeds misluk.

Oor ’n bietjie meer as ’n uur het sy ’n Skype-afspraak wat nuwe hoop kan bring in ’n parallelle pandemie wat reeds wêreldwyd tot die dood van meer as 36 miljoen mense gelei het. Sy is immers in die pylvak van die derde fase kliniese proewe vir ’n entstof teen vigs wat op 2 600 jong vroue in sub-Sahara-Afrika getoets word. Sy en haar span hoop om binnekort te weet of hulle die geskiedenisboeke gaan haal.

“Tot dusver het ons al ons mylpale gehaal en ek vermoed daar is goeie nuus, maar ons word ook ’n bietjie angstig, want dit is die derde vigsentstofproef wat ek gelei het en twéé het reeds misluk.”

Sy glimlag effe angstig. “Ek moet nou wéér deur die hele proses gaan en as dit misluk, is dit ’n bietjie soos ’n egskeiding. Jy dink elke keer jy is nou al gewoond daaraan, maar elke mislukking is ontsaglik teleurstellend.”

Sy en haar kollegas is ook besig om die data te ontleed van die Sisonke-proewe, wat die lewens van talle gesondheidswerkers in die voorste linies gered het toe die regering in ’n doodloopstraat beland het.

Sy loer vinnig na haar selfoon. “Die lewe stop net nie! Ek slaap darem deesdae so vyf of ses uur per nag, maar my seun (Joab) is ook nou terug skool toe. So ons moet vroeër opstaan, want ek moet sy kosblik pak en hom gereed kry vir skool en daai soort ding. My twee dogters (Chloé en Rebecca) is op die oomblik in Nieu-Bethesda.”

Haar hand vee vinnig oor haar keurig gegrimeerde gesig. “Ek dink almal van ons ly aan posttraumatiese stres-stoornis. Voor die entstowwe was dit net almal wat siek geword het, en toe ontplooi ons die entstowwe en ons moet die entstowwe by die mense kry, en nou moet ons die data analiseer. Nou is die vraag of dit die moeite werd was om hierdie gekke poging aan te wend.”

Sy is al meermale deur die loop van haar internasionaal bekroonde loopbaan gevra hoe sy dit regkry om onder meer ’n ma van drie, ’n top-vigsnavorser op die lys van die tydskrif Time se 100 mees invloedryke mense ter wêreld, ’n aktivis, ’n hoogleraar aan twee verskillende instansies en boonop een van die leidende figure in die Covid-19-pandemie te wees.

Sy lag. “Maar ek kry dit nie reg nie! Ek is ’n slégte ma. My kinders is wonderlik, want hulle het my nie meer so nodig nie. As ek nou terugkyk, het ek eintlik baie tyd gehad toe ek jonger was, al was ek besig. Die spoed waarmee ons dinge in die huidige pandemie gedoen het, was net vyfvoudig. Ons werk tot tienuur elke aand en oor naweke het ons die heel tyd vergaderings.

“Ek is sedert die begin van die pandemie deel van die COVPN (die Covid-19-voorkomingsnetwerk wat deur die Amerikaanse Nasionale Instituut vir Allergieë en Infeksiesiektes in die lewe geroep is) en ons het in April verlede jaar begin bymekaarkom om aan die entstowwe te begin werk, en deel daarvan was die ontwerp van die Moderna-studies, die Johnson & Johnson-ensemble-studie (wat sy saam met prof. Linda-Gail Bekker gelei het) en al die ander entstof-studies. Elke dag was daar nuwe data en ons moes teen ’n vlieënde vaart werk. Ek was toe ook op die ministeriële advieskomitee vir Covid-19.”

Ek is mal daaroor om handeviervoet na Bob Dylan te luister en die vloer te skrop.

Gelukkig was al drie haar kinders by haar tydens die inperking en haar dogters het elke aand gekook.

Sy lag. “Ek het ook regtig in die skoonmaakding ingekom, want dit my na ’n ander ruimte verplaas. Ek is mal daaroor om handeviervoet na Bob Dylan te luister en die vloer te skrop. Ek het selfs my kombuis oorgedoen,” sê sy en wys met ’n sierlike boog na haar kombuis langs die eetkamer met sy blougroen kleurskema.

“Snags sou ek my oorpak aantrek, musiek aansit en vir my ’n glas wyn skink, en dan was dit skoonmaak, afskuur en verf. So daar wás ook ’n paar sagte oomblikke wanneer ek dinge soos dít kon doen, wat regtig goed was vir my.”

Van Dlamini-Zuma tot Mkhize

As die vyfde van ses kinders wat aan die “verkeerde kant van die spoorlyn” in Boksburg grootgeword het, was dit “amper ingebore” om ’n dokter te word. “Ek het nooit gedink ek sou enigiets anders as ’n dokter word nie,” sê sy.

Haar pa, Ralph, was ’n myningenieur wat dikwels vanweë sy fyn postuur deur nou tonnels geklim het om mynwerkers se lewens te red. Hy sterf in ’n motorongeluk toe sy net 16 jaar oud was. Haar ma, Petronella Hendrina Wilhelmina, word hierna ’n Baptiste-prediker en ’n sendeling in Bedford.

Haar oudste broer, Vincent, is ’n lid van die radikale studente-vereniging Nusas wat haar reeds van jongs af na politieke vergaderings saamsleep en veroorsaak dat haar ouerhuis se telefoon afgeluister word, hul motorbande aan flarde gesteek word en dooie katte op hul grasperk gelos word.

Prof. Gray voor ’n kunswerk deur Paul Senyol, wat sy en haar dogter net voor die inperking gekoop het. Foto: Jaco Marais

Eers is sy ’n anti-apartheidsaktivis en toe ’n vigsaktivis: Teen die tyd dat sy haar as pediater kwalifiseer, begin al hoe meer kinders aan dié virus sterf. Gedurende die politieke oorgang adviseer sy die ANC oor vigs en help om ’n nasionale vigsplan op te stel. Maar pas toe sy en haar kollegas ’n bekostigbare manier vind om ma-tot-kind-oordrag van die virus te keer, weier die regering om dié middels in hospitale beskikbaar te stel, en die einste mense saam met wie sy voorheen in die loopgrawe was, word haar vyande. Sy laat haar egter nie van stryk bring nie – en vra kollegas in Amerika om die middels tersluiks per skip te stuur.

Nkosazana was nie die laaste minister met wie sy sou vassit nie.

In dié tyd het sy in ’n badkamer ’n skreeugeveg met die eerste minister van gesondheid, dr. Nkosazana Dlamini-Zuma, oor AZT om ma-tot-kind-oordrag te voorkom, en haar foon word in die Mbeki-era afgeluister.

Gray is onder meer ’n ma van drie, ’n top-vigsnavorser gelys as een van die tydskrif Time se 100 mees invloedryke mense ter wêreld, ’n aktivis, ’n hoogleraar aan twee verskillende instansies en boonop een van die leidende figure in die Covid-19-pandemie. Foto: Jaco Marais

Nkosazana was nie die laaste minister met wie sy sou vassit nie. In Mei verlede jaar beland sy vir die sóveelste keer in die spervuur toe sy vir ’n joernalis sê die trapsgewyse inperking is “onsinnig en onwetenskaplik”. Dit lei tot ’n woedende weerlegging deur dr. Zweli Mkhize en die destydse waarnemende direkteur-generaal van gesondheid, dr. Anban Pillay, wat op sy beurt die MNR se raad in ’n hoek druk om ’n “ondersoek” na haar te loods. Suid-Afrika se top- mediese wetenskaplikes kap terug en onderteken ’n versoekskrif om haar te steun, die departement van gesondheid blaas die aftog en haar eie raad by die MNR staak sy ondersoek.

’n Vrou maak ’n plan

Einde verlede jaar maak sy en Mkhize, wat tans weens die Digital Vibes-tenderskandaal met spesiale verlof is, egter vrede – al verwyder hy haar en ander sogenaamde “moeilikheidmakers” van die ministeriële advieskomitee (MAK) oor Covid-19 in September. Begin vanjaar werk hulle weer skouer aan skouer toe die regering nie sy besending AstraZeneca-entstowwe kon gebruik nie omdat dit nie doeltreffend genoeg teen die oorheersende 501Y.V2 (Beta)-variant is nie.

As ek nie daardie geleentheid aangegryp het nie, sou ons inentingsprogram eers op 17 Mei begin het. Dit sou ’n ramp gewees het!

“Ek het net besef ons is in die pekel. Ons het nie ’n entstof nie en ons het geweet hierdie entstof (J&J) werk. Gelukkig is ek goed daarmee om oplossings te vind en te innoveer. Dis tóé dat ’n kollega van my in Amerika vra hoekom ek nie dr. Paul Stoffels (hoof- wetenskaplike beampte van J&J) direk om hulp vra nie. Ek het toe vir hom ’n desperate e-pos gestuur en gesê dis ’n tragedie en gevra of hy ons kan help.”

Sy slaan haar hande saam. “As ek nie daardie geleentheid aangegryp het nie, sou ons inentingsprogram eers op 17 Mei begin het. Dit sou ’n ramp gewees het! En siedaar, nou is meer as 6 miljoen mense al ingeënt en ek het pas my dogters in Nieu-Bethesda gebel en gesê hulle moet registreer. My seun word 18 op 29 September en ek wil hê hy moet ook nou registreer!”

‘Dis my werk om te dien’

Sy vertel van die benoude twee weke voordat sy met haar knalrooi broek reg agter pres. Cyril Ramaphosa sou staan toe hy en Mkhize onder die eerste Suid-Afrikaners was wat in die Khayelitsha-distrikshospitaal ingeënt word. “Niemand het geweet van al die drama wat agter die skerms gebeur het nie! Ons het 14 dae lank hemel en aarde beweeg om die entstowwe in die land te kry, en ons het hemel en aarde beweeg om die entstowwe in Kaapstad en in Khayelitsha te kry.

As dit nie vir prof. Glenda Gray (links agter) was nie, sou pres. Cyril Ramaphosa nie op 17 Februarie vanjaar in die Khayelitsha-distrikshospitaal ingeënt kon word nie. Foto: Getty Images

“Maar ek dink ’n hoogtepunt in my loopbaan was toe ek in staat was om self hierdie entstowwe in mense se arms in te spuit en hulle word beskerm – en dis soos: ‘Hei, dís die entstof wat ons bestudeer het en nou géé ek dit vir jou!’ ”

’n Mens moet altyd die ander wang draai en jy moenie ou koeie uit die sloot grawe nie.

Haar stem is rustig. “Die minister en ek het goed saamgewerk as deel van die Sisonke-proewe, en ek het ’n blik op hom gekry wat ek as baie deernisvol ervaar het. Ek het selfs met Anban vrede gemaak. ’n Mens moet altyd die ander wang draai en jy moenie ou koeie uit die sloot grawe nie. As ons ons lewe lank wraakgierig is en op die spoor van voormalige vyande is, gaan ons slegs verbitterd raak.”

Voor ’n skildery van Melkbosstrand deur Jacobus Kloppers in haar eetkamer. Foto: Jaco Marais

Sou sy weer betrokke wou raak by die MAK indien ’n nuwe minister van gesondheid haar nooi?

Sy knik. “Wel, ek werk reeds saam met die waarnemende minister van gesondheid, Mmamoloko Kubayi-Ngubane, en sy het my genooi om aan haar voorleggings deel te neem. Dis my werk om te dien. Ek is die president van die MNR en dus as’t ware die hoofwetenskaplike in die land.”

Die Heilige Graal

Sy huiwer steeds nie om die owerhede se reaksie op die Covid-19-pandemie te kritiseer nie – soos nou weer oor die sluiting van skole.

Die regering is paternalisties, want hy kyk nie na die getuienis nie. Hy dink net hy doen ’n goeie ding en hy doen nié ’n goeie ding nie.

“Ek is áltyd krities oor die sluiting van skole. Kinders is nie aandrywers van oordrag nie en hulle word die ergste geraak. Kinders moet honger ly en hulle word aan emosionele en fisieke mishandeling blootgestel by die huis en arm kinders het nie toegang tot aanlyn klasse nie. Die regering is paternalisties, want hy kyk nie na die getuienis nie. Hy dink net hy doen ’n goeie ding en hy doen nié ’n goeie ding nie.”

Sy is ook krities daaroor dat Suid-Afrika so lank geneem het om uit te vind dat ’n nuwe kommerwekkende variant (Delta) besig is om groot dele van die bevolking plat te trek. “Die kommerwekkende Delta-variant het Suid-Afrika verras. As ons die monsters vroeër geprosesseer het, sou ons vroeër op ons hoede kon wees en sou ons vroeër kon ingryp, veral in Gauteng, waar die derde vlaag verwoesting gesaai het.”

Saam met die komediant Trevor Noah by die tydskrif Time se gala-dinee. Foto: Getty Images

Die laaste sonstrale vloei weg uit die leefvertrek, wat uitkyk op die swembad en dit is amper tyd vir haar volgende afspraak oor iets wat die kroon op ’n roemryke loopbaan kan span.

Sy is as mede-hoof-ondersoeker in die HIV Vaccine Trials Network (die wêreld se grootste multidissiplinêre internasionale samewerking om ’n vigsentstof te vind) al die afgelope 20 jaar op die spoor van ’n entstof.

Sy byt haar rooi lip effe senuagtig vas. Dié vrou wat gewys het dat die skynbaar onmoontlike moontlik is.

“Dit is die Heilige Graal. Wanneer ons eers ’n vigsentstof gevind het wat werk, het ek my reis voltooi.”

Dr. Manto en haar skoene

Die destydse minister van gesondheid, dr. Manto Tshabalala-Msimang, was nou wel ’n pryssanger vir knoffel, beet en patat, maar sy het ’n geheime passie met haar Nemesis gedeel.

“Ja, Manto en ek het ’n interessante verhouding gehad, want in daardie stadium het ek en my kollegas probeer om ’n enkeldosis-nevirapien te ontplooi om ma-tot-kind-oordrag van MIV te keer, sowel as allerlei ander ingrypings, maar dit was ook toe die eerste vigsentstof misluk het en ek is daarvoor oor die kole gehaal.

“Maar ons het mekaar uit ons struggle-dae geken en daar was altyd die een of ander soort verhouding, en ek kon haar herinner aan die dae toe ek nie so sleg was nie en ons saam vir skoene gaan loerkoop het.”

Sy lag. “Ons organisasie was in Jeppestraat en sy sou na ons kantore kom en eendag het ons iewers heen geloop en daar was ’n skoenwinkel, en ek en sy het ’n hartstog vir mooi skoene gedeel.”

Sy leun vorentoe. “Manto het wonderlike smaak in skoene gehad! Jy moet die foto sien van toe sy in ballingskap gegaan het en sy na die vliegtuig loop en sy het hierdie beeldskone paar skoene aan!”


MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.