Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Profiele
God, gangsters en ’n koue prokureur

Hy het op ’n kol geweier om “donker karakters” te vertolk, sê die veelbekroonde akteur Charlton George en vertel Murray La Vita van sy jongste rolle – dié van ’n prokureur wat aan Asperger se steuring ly in die nuwe televisiereeks Fynskrif, en die rol van God in ’n toneelstuk.

Charlton George gedurende die onderhoud in die Perseverance Tavern in Kaapstad. Foto: Jaco Marais

Sy belangstelling in toneelspel het op laerskool in ’n buurt van Kaapstad met die ironiese naam Morningstar begin, sê Charlton.

“Ek het in Durbanville in die township Morningstar grootgeword. Die mense wat daar bly, het eers in die dorp gebly en met die forced removals is hulle uit die dorp uit verskuif. So ons familiehuis was eintlik waar McDonald’s vandag is . . .

As jy vals gesing het, byvoorbeeld, dan was jy sommer verskree van die verhoog af.

“Ek het nie geweet dat ek daai ability het nie en vir my was dit amazing toe ek die eerste keer in ’n skooloperette, The Mystic Mirror, op die verhoog stap . . . Die gemeenskap was ontsettend critical; hulle het nie vir jou maklik laat verbykom nie.

“Jy moes goed gewees het op die rugbyveld . . . jy moes uitgeblink het; as jy in ’n konsert was, moes jy nie kom shit performances gee nie. As jy vals gesing het, byvoorbeeld, dan was jy sommer verskree van die verhoog af.” Hy lag. “Dis ’n township-ding. As jy ’n desire het om uit te styg bo mense dan bring hulle jou af; hulle level vir jou. Mense was ontsettend critical.

“Maar toe ek die response kyk van die gehoor, dat hulle so spontaan gelag het vir wat ek gedoen het, toe realise ek dis iets wat vir my amazing laat voel as ek op die verhoog stap.”

Charlton George as Pastoor in Rooiland. Foto: Lerato Maduna

’n Verskuiwing het plaasgevind.

“Ek was ’n ontsettende skaam kind gewees en dit het vir my baie self-confidence laat ontwikkel. Ek het geglo ek het íéts. Die prinsipaal het my eenkeer uitgeroep en toe sê hy: ‘Dié mannetjie; hy doen partykeer nie sy huiswerk nie, maar hy’t ’n gáwe, hy’t ’n talent, en ek hoop net hy sal woeker met sy talent.’”

Ek het altyd gedink teater is Shakespeare en Oscar Wilde en John Osborne en Harold Pinter, maar toe discover ek mense soos Frank Wedekind en Oos-Europese teater.

Charlton wou ’n Shakespeariaanse akteur word. Hy het ná skool ’n ruk lank drama-opleiding by Rita Maas se toneelskool bo in Kloofnekweg ontvang. Daarna het hy by die Glasteater betrokke geraak en saam met mense soos Tjaart Potgieter, Chris van Pretorius en Marthinus Basson gewerk. Sy debuut was in Tsjechof se Die Seemeeu.

“Ek het altyd gedink teater is Shakespeare en Oscar Wilde en John Osborne en Harold Pinter, maar toe discover ek mense soos Frank Wedekind en Oos-Europese teater – weird, crazy goed. Dit het die foundation gelê vir die tipe werk wat ek altyd wou doen – on the edge van teater, eksperimentele goeters.”

Hy het ook vir die Ruimteteater begin werk. Dit was in die jare 80, ’n opwindende tyd in Kaapstad met interessante nagklubs vol anargiste, intellektuele, kunstenaars en “amazing punk groups”. Later het hy gaan woon in die destyds boheemse Johannesburgse voorstad Yeoville, waar ’n soortgelyke energie aanwesig was.

Bier en ‘Fynskrif’

Charlton George as Dolf Ungerer in Fynskrif. Foto: Nardus Engelbrecht

Dit is ’n Vrydagaand en ons sit in Kaapstad se oudste kroeg, Perseverance Tavern. Charlton drink ’n Windhoek Lager en eet Chili Poppers. Hy is 55 jaar oud, maar lyk veel jonger. Die opvallendste van sy voorkoms is die blougrys oë en die bos blinkswart hare. Dit is koud en reënerig en dus dra die hartlike, slim man sonder vertoon hier oorkant my ’n ingeleefde swart leerbaadjie en ’n serp. Ons gesprek spring van die prikkelende, onstuimige jare 80 en 90 na Fynskrif, die televisiereeks wat op 10 Julie om 20:00 op kykNET (DStv-kanaal 144) begin.

Fynskrif deal met verskillende hofsake en die crazy goed wat mense doen om geld in die hande te kry. Chris van Niekerk is die hoof van hierdie familiefirma. Neels van Jaarsveld en Tinarie Van Wyk-Loots is broer en suster; hulle is die sharp lawyers. Sy’s baie emosioneel. Ben (Neels se karakter) is soort van ’n moralistic ou. Vir Hans, die karakter wat Chris van Wyk speel, is dit money wat tel . . . gaan en maak geld.

Dis ’n interessante rol om te speel want ek moet so amazing beheer uitoefen.

“Die rol wat ek speel, is ’n ou met die naam Dolf Ungerer wat ’n Duitse pa, coloured ma, tipe ou is. Maar hy suffer van Asperger-sindroom wat ’n inability is om gesigsuitdrukkings te lees, so hy kan nie sosiaal verkeer nie. Hulle appear of hulle kóúd is en dat hulle niks empathy of sulke goeters het nie.

“Dis ’n interessante rol om te speel want ek moet so amazing beheer uitoefen. My theatre backround maak my geneig om baie expressive te wees. En om hierdie rol te speel, moet ’n mens jouself natuurlik weer inreign. Jy moet kan emosie speel, maar in ’n very contained way. Dis ’n groot challenge.

“Hy speel ’n ou wat baie oor sy má is. Sy het ’n stroke gehad en hy kyk na haar. Dit wys ’n meer menslike sy van hom. En hy is geniaal. Hy’s amper soos ’n robot. Hy’s baie sharp; hy verstaan die wette en hy het ’n memory wat legal precedents kan onthou.”

Die rolverdeling van Fynskrif is (van links voor): Cintaine Schutte, Kim Cloete, Tinarie Van Wyk-Loots en Neels van Jaarsveld. Agter is Chris van Niekerk, Beer Adriaanse, Charlton George, Edwin van der Walt en Crystal-Donna Roberts. Foto: Robert Hamblin

Charlton is soos Dolf Ungerer van gemengde afkoms.

“Met altwee my ouers is daar die eiland-konneksie; die St. Helena en Mauritius is baie sterk, veral in die Kaap is daar baie sulke mense. Daar is ook ’n Welsch connection van my een oupa en van my pa-hulle kom daardie hele Javaanse en Indonesiese invloed. Daai is interessant van die Kaapse mense, whether its wit of swart en of jy nou coloured is. Marthinus Basson is byvoorbeeld van Anna van Bengale gedescend; die Cloetes en die Bassons.”

God as mens

Die rede waarom ons nou hier in die Perseverance Tavern sit en praat, is omdat Charlton tyd vir die onderhoud ingeruim het ná ’n repetisie vir die toneelstuk God, God, God hier naby in ’n kerk in Distrik Ses. Dit is seker ’n geval van die kerk en die bar is langs mekaar.

“Dit is ’n stuk deur die Nederlandse skrywer Rob de Graaf en dit is deur Ilana Cilliers vertaal. Dit is vir my interessant dat dit deal met die skeppingsproses deur die oë van Gód; God as ’n mens. Dit sit God in die posisie van gewone mense soos ons, maar dit gaan ook tesame met wetenskaplike eksperimente en die básiese vier elemente: water, grond, daardie tipe dinge. Dit ondersoek die Judeo-Christian-skeppingsmite vanuit ’n Afrika-perspektief – Sepedi-kultuur, Xhosa-kultuur . . . hulle het ook hul eie creation myths en ons weet nie eintlik daarvan nie.

Die tagtigerjare was ’n anargistiese tyd, maar ons lewe nou in ander tye – baie konvensionele, konserwatiewe tye.

“Ons wil nie hê mense moet dink die play is godslásterlik nie. Dit word op ’n respekvolle manier benader. Mense kan maklik sê: ‘Wát is hierdie titel? Waaroor gaan dit? Dit is godslasterlik!’ Nee, dit is glad nie die geval nie. Ons lewe in ’n tyd van extremes en ’n mens moet altyd liggies trap rondom mense se religious sensibilities.

“Die tagtigerjare was ’n anargistiese tyd, maar ons lewe nou in ander tye – baie konvensionele, konserwatiewe tye. Ook konformisties. Die idee van wat cool is, is eintlik nie wat ons gesien het as hip of cool in die early eighties nie. So, ja, dis vir my strange om te sien hoe jong mense gebrainwash is. Hulle dink nie meer vir hulleself nie; hulle gaan vir wat vir hulle gevoer word deur die media. Of dit nou musiek is of movies, en dan is daar die gekommersialiseerde godsdiens, die prosperity cults.”

Donker karakters

Ons praat oor sy “donker karakters”, soos onlangs dié van ’n dwelmhandelaar in die rolprent The Number.

“Ek speel partykeer dónker karakters en Dolf kom ook so voor, maar daar is baie interessante surprises wat dan in sy lewe gebeur. Dis baie sweet eintlik, die wendinge in sy lewe.”

Sy eerste donker karakter was ook sy eerste televisierol – ’n gangster in Onder Engele.

“Ek was al in my thirties toe ek vir ’n oudisie gegaan het in Onder Engele. Ek het baie jonger as my ouderdom gelyk en toe was ek gelukkig dat ek ’n tienerjarige gangster in Distrik Ses daarin kon speel.

“Dit was die eerste keer dat ek toe in televisie is. Ná dit het wie ook al vir my gesien het, vir my gecast as ’n kriminele gangster-karakter. Toe was dit vir ’n hele paar jaar ’n stryd om weg te breek van daai typecasting. Dit het by ’n punt gekom waar ek gesê het nou weier ek, al beteken dit dat ek nie weer gaan speel op screen nie; ek kán nie net heeltyd een spesifieke tipe rol speel nie want hoeveel tipe gangsters kán jy speel? Dit het vir my gevoel of ek gedoom was om dit te speel omdat ek die een rol in Onder Engele gespeel het.”

Ek dink dis wat my ook ’n bietjie afgesit het van sepiewerk, ook want jy kan maklik in daai trap val dat jy ingeroep word om die baddie te wees.

Dit was ’n “gamble”.

“It payed off want toe speel ek meer . . . Nog altyd strange, weird karakters, maar nie die soort van gangster-rolle die heeltyd nie.”

Hy sê hy het nie nou meer ’n probleem met sulke rolle nie.

“Maar ek haat net die feit dat jý daai persoon raak wat hulle opsoek vir ’n rol van ’n moordenaar of psigopaat. Dis soos wanneer hulle sê: ‘Oe, daai persoon speel altyd die gay-rolle; let’s contact him, hy speel ’n goeie gay-rol.’ Of: ‘Daai’s ’n goeie polisieman; ons cast vir hom as ’n polisieman.’

“Ek wou afwisseling gehad het in my karakters; veral op televisie . . . Ek dink dis wat my ook ’n bietjie afgesit het van sepiewerk, ook want jy kan maklik in daai trap val dat jy ingeroep word om die baddie te wees. Ek was gelukkig, ek het Isidingo gedoen en nié daai soort rol gespeel nie; ek was ’n electrician op die mine wat ek nogal interessant gevind het vir ’n kort rukkie.”

Charlton as Ricardo Stuurman in die eenpersoonstuk Rokkie. Foto: Verskaf

Nog ’n “donker karakter” was sy briljante vertolking van die karakter Pastoor in die Tertius Kapp se aangrypende toneelstuk Rooiland, wat in ’n tronk afspeel. Wat hom gehelp het om hom in dié rol in te leef, is dat hy vroeër met verhoorafwagtende tienerjarige gevangenes in die Pollsmoor-gevangenis gewerk het.

“Ek het saam met John Fredericks gewerk wat Noem my Skollie geskryf het. Hy was baie beskermend teenoor my en het baie van hierdie goed [tronkbendes se geheime] aan my verduidelik: As jy van dít hoor, moenie nog uitvra nie want dis nou deel van die tronkkodes en sulke goed.

“Ek het drie jaar daar gewerk [2001 tot 2003] en toe het ek die bendetaal begin optel en ek kon dit baie goed verstaan. Ek het in Medium A en Medium B gewerk en ook in die vroue-afdeling. Dan sê die vroue: ‘O, wanneer laas het ek ’n mán gesien! Ek is nou lus vir ’n mán!’

“Dit was ’n brutále plek . . . Om te sien wat jong mense deurgaan. Vir my was dit sad dat iemand byvoorbeeld vir een stoppie dagga in Pollsmoor beland of dat ’n persoon ingetrek word in crime omdat hy nie bail kan betaal nie. Ek het baie mense ontmoet wat nie daar hóórt nie.

Charlton as Jean-Paul Marat in Marat/Sade. By hom is Christelle Dreyer. Foto: George O’Ryan

“Ons het ook in plattelandse tronke gewerk en dan kry jy iemand wat in die tronk is vir skaapsteel en nou sien jy hy het al klaar ’n tattoo. Hy’s nog verhoorafwagtend maar om te survive gaan hy in ’n gang in. Sy lewe is dan verby en hy is 14 of 15.

“Ek moes ophou om daai te doen want dit kan jou sielkundig aantas ná ’n rukkie; jy kan dit eintlik nie volhou nie. Maar ek het amazing talent gesien daar onder die jong mense: dansers, natuurlike toneelspelers, mense wat kon ráp.”

Hoe karakters groei, fassineer hom.

“Dat jy by ’n punt kom waar jy dink: Ek kan nie dié eintlik hanteer nie. Die woorde is te veel; die karakter is te extreme; ek kan dié persoon se agtergrond even verstaan nie . . . Sekere dinge word op ’n sekere manier gesê en dan strike dit ’n chord, ’n diép emosionele chord. Dis wat amper mystical is van akteur-wees; jy kan emosies access en dit projekteer op ’n gehoor dat húlle daai selle emosie ondervind. Ja, dis wat onse kunsvorm eintlik magies maak, dat dit jou vát. Die Grieke praat van ’n katarsis; dat whatever in die gehoor versteek is, dan uitkom deurdat hulle identifiseer met die karakter.”

Kinders en tronke

“Teater kan mense se menswaardigheid herstel; mense wat geen geloof in hulself het nie.” Foto: Jaco Marais

Buiten sy werk met jeugdige misdadigers was hy ook by ander gemeenskapsteater betrokke.

“Teater kan mense se menswaardigheid herstel; mense wat geen geloof in hulself het nie. Ek het gesien in die gemeenskapsteater wat ons gedoen het in areas waar mense op ’n program gesit is. Hulle het byvoorbeeld vir moord voor die magistraat verskyn en dan het hy gesê hulle moet op ’n diversion programme gaan en gemeenskapswerk doen. Hulle moes dan saam met ons tyd spandeer en dan het ons probeer om vir hulle werk te kry.

“Om tieners te sien wat hulleself letterlik háát omdat hulle hierdie fout gemaak het – gesteel of ’n moord gepleeg het en die gewete word die heeltyd gekwel deur dit. Die transformation wat dan plaasvind by iemand: ‘Ek het dan nou al hierdie mense laat lág en die mense hou van mý so daar moet darem iets goeds wees in my.

“Ek het by tienerjariges daai change gesien. Ek kan nie vir jou sê dat dit permanent was nie.”

Hoekom doen hy sulke werk?

“Ek dink dit het al op skool begin. Ek het altyd gevoel ’n mens moet in jou eie gemeenskap gewortel wees en jy moet continually iets doen in jou eie gemeenskap en dit sal jou ook voed en jou eie kuns ontwikkel.

“Mense wat hulleself afsny van hul gemeenskap en hulle wil nou stérre word ... Ek dink jy is armer as gevolg daarvan. Oukei, jy’t nou meer geld en jy lewe in ’n area wat weg is van daai gemeenskap, maar iets is dan missing want jy speel eintlik ’n illusie. Dit gaan jou kuns eintlik affekteer want jy speel ’n rol áf van die verhoog af of áf van die screen af. Soos hulle op die straat sê: ‘Jy hou jou wat jy nie is nie.’ ”

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.