Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Profiele
God seën die ‘seuns van die wolke’

Colin Mkosi, ’n jong regstudent van Langa buite Kaapstad, vertel Murray La Vita van die fietsafleweringsdiens Cloudy Deliveries wat hy kort voor die inperking in sy buurt begin het.

Lede van Cloudy Deliveries wat aan inwoners van Langa ’n afleweringsdiens bied.

“Ons het verlede jaar op die gedagte gekom en toe begin spaar om tweedehandse fietse te koop. In Februarie vanjaar het ons met die onderneming begin,” sê Colin.

Hy is ’n LLB-student in sy finale jaar aan die Universiteit van Wes-Kaapland (UWK).

“Mense is besig en dan het hulle iets van die winkel af nodig en kan nie self soontoe gaan nie. Ek het toe gedink aan so ’n diens waarmee ons vir die mense hul inkopies kan gaan doen.

“Ons het aanvanklik 11 tweedehandse fietse gekoop. Ons werk op die oomblik in Langa, maar sodra ons nóg fietse kry, wil ons die diens na ander plekke uitbrei. ”

Die tarief is tans ’n skamele R9 per aflewering.

Seuns en jong mans van die omgewing, wat tussen 14 en 19 jaar oud is, doen die aflewerings.

“Die seuns kon weens die inperking die aflewerings doen, maar as hulle weer skool toe moet gaan, sal hulle dit ná skool doen.”

Die tarief is tans ’n skamele R9 per aflewering.

“Baie mense sê dit is te goedkoop. Mettertyd sal ons dit opstoot.”

‘Veilige plek’

Hul klante is veral ouer mense en vroue vir wie die seuns hul pakkies van die winkels af na hul huise neem.

“Hulle gaan doen ook vir veral die ouer mense inkopies in plekke soos Shoprite of ander winkels; gaan koop vir hulle rys of vleis en sulke dinge.”

Daarbenewens lewer hulle kos af vir die plaaslike restaurant Jordan Way of Cooking, wat weens die inperkingsregulasies nie klante in die restaurant mag ontvang nie.

Colin sê misdaad is nie ’n probleem nie omdat die seuns inwoners van Langa is en die buurt ken. Daar is ook mense wat die strate patrolleer. Langa is op die oomblik ’n veilige plek.

‘Daar is nie werk nie’

Die tweedehandse wit fietse wat die seuns aanvanklik gebruik het.

Lonwabo Mahlasela (17) is een van die seuns wat vir Cloudy Deliveries werk. Hy is in gr. 10.

“Ek is al van Februarie af deel daarvan; ’n vriend het my daarvan vertel. Dit is goed om iets te verdien. Jy kry partykeer ook fooitjies.

“Ek geniet die werk baie; dis baie lekker. Dit voel goed want jy help mense en hulle sê dikwels: ‘God seën jou.’ Dis baie goed wanneer dít gebeur.

“Ons werk van die huis af. Iemand sal jou bel en sê waar om ’n aflewering te gaan doen. Op die oomblik is daar agt van ons wat aflewer en twee wat die fietse regmaak en versien. Ons het regtig borge nodig, want ons is ’n klein plaaslike onderneming wat wil uitbrei.”

Ek wil ’n soldaat wees want ek is lief daarvoor om mense te help en om my land te dien.
Lonwabo Mahlasela

Benewens aflewerings wat hulle op versoek doen, nader hulle mense by winkels en vra of hulle hulp nodig het.

“Ons help hulle, want die trollies mag nie van die winkels af weggeneem word nie. Ek hoop die onderneming sal groei sodat meer mense werk kan hê want hier in Suid-Afrika sukkel ons; daar is nie werk nie.

“Dis veral goed as jong mense werk kan kry sodat hulle van die straat af kan kom en nie by dwelms betrokke raak nie.”

Lonwabo sê hy hom sal graag by die lugmag wil aansluit wanneer hy klaar is met skool.

“Ek wil ’n soldaat wees want ek is lief daarvoor om mense te help en om my land te dien.”

Hy wil probleme oplos

Colin sê hy het verlede jaar deeltyds by Old Mutual begin werk en het geld gespaar en daarmee die fietse gekoop.

Hy is in Langa gebore en het daar grootgeword. Ons praat oor Brenda Fassie (MaBrrr) die musieklegende wat ook van Langa afkomstig was. Colin sê hy het haar nooit sien optree nie,uu want hy was nog baie jonk toe sy gesterf het.

Albei sy ouers is in 2016 saam dood. Hy wil nie daaroor uitwei nie. Hulle was pastore van hul eie kerk – Hope of the Nation.

Ek het regte gekies omdat ek daarvan hou om probleme op te los.
Colin Mkosi

“Ek en my broer en suster het toe alleen gebly. My suster het na ons omgesien.”

’n “Onderwysfonds” wat sy ouers vir hom opgebou het, het dit vir hom moontlik gemaak om te gaan studeer. Hy is nog nie seker wat hy wil doen wanneer hy sy studie voltooi het nie.

“Ek sal wag en kyk hoe vinnig Cloudy Deliveries groei en as dit goed gaan, sal ek my heeltyds daarop toespits. Andersins sal ek dit doen en met my klerkskap voortgaan.

“Ek sal daarvan hou om in die regswêreld in te gaan; ek vind dit baie interessant. Ek het regte gekies omdat ek daarvan hou om probleme op te los.”

‘Wolke is wit’

Colin Mkosi, stigter van Cloudy Deliveries. Foto: News24

Waar kom die naam Cloudy Deliveries vandaan?

“Toe ons die fietse gekoop het, het ons hulle aanvanklik wit geverf want wit verf was die goedkoopste. Ek het toe gedink: Wat anders is wit? Toe dink ek aan die wolke – wolke is wit. En dis hoekom ek dit Cloudy Deliveries noem.”

Wat ’n wonderlike naam, sê ek vir Colin. Ek vertel hom van die rolprent Seuns van die wolke wat ek as kind gesien het. Dit is in 1975 deur Brigadier Films uitgereik. Frans Marx was die regisseur en ek onthou spesifiek Will Roberts was een van die Duitse vegvlieëniers; die “seuns van die wolke”.

Die tweedehandse fietse wat hulle wit geverf het, het ná drie weke onklaar geraak.

In my kop word hierdie seuns op hul fietse, wat so wit soos wolke is, Langa se seuns van die wolke.

Terwyl ons praat, val dit my by dat ek en my mede-prefekte aan die Laerskool Randburg by die première van Seuns van die wolke was.

Colin lag wanneer ek vertel die première was in ’n inryteater. Ons moes, geklee in ons skooldrag, by die hek van die inryteater in Honeydew staan en dan saam met die fliekgangers in hul motors klim (een prefek per kar) en tot by hul staanplek ry.

Dit klink skielik vir my so bisar. Ek kan nie onthou wat ons veronderstel was om te doen nie. Moes ons vir die mense beduie waar om te gaan parkeer? Moes ons hulle vir die duur van die rit (drie of vier minute lank?) geselskap hou?

Die Provo’s

Ek voel verleë dat ek besig is om hierdie herinnering met Colin te deel. Net wanneer ek myself wil losmaak uit my eie vreemde monoloog en hom groet en sterkte toewens met sy onderneming, val iets anders my by: Die Provo’s en hul wit fietse.

Provo was ’n aktivistiese beweging wat in die middel van die 60’s in Nederland bedrywig was. Hul Wit Fiets Plan was daarop gemik dat alle motorverkeer uit Amsterdam se middestad verwyder en deur fietse vervang word.

Hulle het voorgestel dat die stadsraad 20 000 wit fietse per jaar koop wat Amsterdammers gratis kon gebruik. Toe die stadsowerhede die plan verwerp, het die Provo’s besluit om desondanks daarmee voort te gaan. Hulle het 50 fietse wit geverf en langs die strate en gragte van die ou stad vir openbare gebruik gelos.

Die polisie het op die fietse beslag gelê omdat hul teenwoordigheid neergekom het op die oortreding van ’n munisipale regulasie wat die inwoners verbied om fietse op straat te los sonder om dit te sluit.

‘Wit fietse kom weer’

Lonwabo Mahlasela, een van die afleweraars. Foto: News24

Ek bel Colin later weer om oor iets navraag te doen. Die foon lui net. Vermy hy my dalk? Is hy bang ek begin weer oor wit fietse praat? Ek besluit om nie ’n boodskap te laat nie. Mettertyd kry ek hom wel in die hande.

Hoekom is die fietse wat ek op die jongste foto’s op hul Facebook-blad gesien het, nie wit nie? vra ek.

Hy verduidelik die tweedehandse fietse wat hulle wit geverf het, het ná drie weke onklaar geraak. Toe het iKhaya Le Langa, ’n organisasie wat hom daarop toespits om toerisme in Langa te bevorder, fietse aan hulle verskaf.

“Hulle leen net die fietse vir ons. Die wit fietse is nog daar. Ons is besig om geld te spaar en dan sal ons hulle behoorlik laat regmaak. Dan gaan ons weer op wit fietse ry,” sê hy.

* Cloudy Deliveries kan bereik word by 074 882 0306.

* Bykomende bron: Wikipedia.

Meer oor:  Cloudy Deliveries  |  Colin Mkosi  |  Lonwabo Mahlasela  |  Langa  |  Amsterdam  |  Inperking
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.