Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Profiele
Griessels baan weg vir ‘Koors’
Die skrywer Deon Meyer met sy boek Koors.

Deon Meyer het dit nie maklik nie.

Hy’s ’n harde werker met ’n streng skryfregime wat al vir jare lank al om die ander jaar ’n nuwe Bennie Griessel-boek uitchurn.

Nie net dít nie. Hy skryf kortverhale, rolprentdraaiboeke en daar blyk altyd in sy agterkop die een of ander projek aan’t prut te wees.

Toe ek laas getel het, word ’n Deon Meyer-boek deesdae in nie minder nie as 27 tale vertaal. 27 tale! En as jy Deon Meyer is, druk jou uitgewer aanvanklik (net in Afrikaans) ’n oplaag van hier by die 45 000 boeke.

Maar soos ’n vriend van my sê, die brand Deon Meyer het sinoniem geword met Griessel: die stereotipiese macho speurder met verhouding-issues (veral sy verhouding met die bottel). Die brand Deon Meyer het die man Deon Meyer effens in ’n wurggreep. Sy aanhangers kom vir Griessel, nie vir hom nie. Ja, hy moet die boeke ná praatjies teken, maar almal wil die heeltyd weet: Wat gaan Bennie volgende doen? En is die drinkende Griessel op Meyer self geskoei? Terloops, die antwoord op laasgenoemde is: Nee.

En toe gaan skryf Deon Meyer Koors . . .

Dit het hom vyf Bennie-boeke geneem om by Koors uit te kom, dat hy genoeg beweegruimte het om soos ’n bokser die hele kryt vol te dans. Nie dat sy Griessel-whodunnitsnie lekker stories is met genoeg intrige en aksie nie . . . maar met Koorshet Meyer ’n nuwe koers ingeslaan.

En hierin lê die teleurstelling vir die Bennie-bende: Koorsis op ’n ander vlak. Koors is dalk die beste boek wat Meyer tot nog toe geskryf het. Koorspraat luidkeels met boeke soos Wonderboomdeur Lien Botha en natuurlik Cormac McCarthy se The Road.

Maar waar The Roadse postapokaliptiese wêreld die leser die heeltyd in ’n smeulende, grinterige wanhoop intrek en Wonderboomveral fokus op die verlies van die self, hou Koorsverbasend genoeg hoop in.

Praat jy met Meyer sal hy jou vertel hy wou Koors al vroeër publiseer. Maar sy wyse agent, Isobel Dixon, het hom aangeraai om eers nóg ’n Bennie Griessel te skryf dat die tafel behoorlik gedek is.

Meyer het vier lang jare aan Koorsgewerk. In dié tyd het hy – om net ’n paar dinge te noem – onder meer navorsing gedoen en gaan kers opsteek by kenners oor virologie (dat “Die Koors” geloofwaardig is); oor omgewingsake en ekologie; oor hoe presies hidro-elektriese krag werk, en oor ’n baie spesifieke vliegtuig-gearbox (die Thielert).

En hoe gaan ’n mens te werk om ’n samelewing weer van vooraf van niks op te bou? Hoe lyk die boustene? Moet jy iets van Plato weet? Waarskynlik. Hoe vestig jy ’n demokrasie uit niks uit? Vrae wat ons vandag (pre-apokalipties . . .) nog nie eintlik behoorlik onder die knie het nie. Dít is van die dinge wat Koorsaanpak.

Aangebied in ’n roerende pa-en-seun verhouding (soortgelyk aan The Road) wat die goue draad deur die boek is. Maar Afrikaans is ook ’n belangrike karakter – as’t ware – in dié boek (wat my nogal laat wonder hoe Koors gaan vertaal): Jy kry heelwat te doen met die oorsprong van woorde. Waar kom die woord “arsenaal” byvoorbeeld vandaan? Gaan lees maar.

Maar die filosofiese onderbou van Koors, wat plek-plek amper Kundera-rig voorkom, vermoed ek gaan die Griessel-bende die meeste afsit: Hier dink die skrywer hardop oor hoe ons dink.

Selfs die historikus Yuval ­Noah Harari word betrek in die verwysing en vraag: Wat is dit nou eintlik wat ons van diere onderskei? Is dit die feit dat baie glo dat ons moontlik in die beeld van ’n godheid geskape is? Is dit ons vermoë om ons eie bestaan te bevraagteken? Hierdie waarskynlik ten dele, maar volgens Harari veral dit: ons vermoë om fiksie te skep; om stories te kan vertel.

Hierdie fiksies waarna Harari verwys, word dan uitgebrei na sosiale konstrukte soos nasionalisme, godsdienste of politieke ideologieë. Deur gemeenskaplike mites skep ons waardestelsels waarbinne ’n meerderheid (meestal) in vrede kan bestaan.

Met Koors het Meyer groot gewaag. In die taalgebruik, karakterisering, in die fyn uitgewerkte storielyn en natuurlik die deeglike, maar deeglike, navorsing.

Maar fiksie, soos wat Meyer waarskynlik goed weet, kan ’n ondankbare taak wees. En net om homself (en waarskynlik sy uitgewer) te beskerm teen die onverdraagsames, is ’n volgende Bennie Griessel al reeds vir 2018 op die kaarte.

Ek hoop van harte Meyer skryf in die volgende paar jaar genoeg Bennie Griessels dat hy weer ’n Koorssal aanpak: Dis werklik ’n grootse boek wat wys hier is ’n woordvirtuoos aan die werk.

  • Jo Prins is Beeld se boekeredakteur.
Meer oor:  Deon Meyer  |  Skrywer  |  Boeke
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.