Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Profiele
KYK: ‘Gruwelhuis’ se oudste dogter vertel hul verhaal

’n Mishandelde seun se vlugtog uit sy ouerhuis in Mei 2014 het ’n nes van gruwels oopgekrap oor hoe vyf kinders jare lank in dié huis in Springs gemartel en verwaarloos is. Die kinders se pa is die Springs-monster en hul huis “die Gruwelhuis” gedoop. Landi (21), die oudste dogter, vertel die eerste keer in ’n boek aan Susan Cilliers hoe haar onblusbare gees oor die allerverskriklikste getriomfeer het.

Landi (21). Foto: Herman Verwey

Hier waar sy op ’n somersdag op die gras by haar pleegouers se huis in Springs aan die Oos-Rand sit, is Landi die toonbeeld van jeugdige lewenslus. Haar vel is bloesend pienk, haar lang blonde hare roer liggies in die wind en haar uitsonderlike mooi blou oë weerkaats effens turkoois teen haar donkergroen rok. Sy borrel van hoop vir die toekoms en droom daarvan om eendag haar eie skoonheidsonderneming te hê.

Landi wil ook motiveringspraatjies hou om ’n boodskap van hoop uit te dra dat ’n mens “enigiets met God se hulp kan oorkom”.

Sy het matriek in 2018 met lof geslaag aan ’n skool vir kinders met spesiale behoeftes. Landi was dux-leerling en onderhoofmeisie van akademie in haar skool. Dít nadat sy in 2014 die eerste keer in jare terug is skool toe. Sy het net tot in gr. 3 skoolgegaan waarna haar pa haar nie weer skool toe gestuur het nie.

Landi was kort ná die kinders se verwydering uit die gruwelhuis in Mei 2014 erg opstandig. Die 16-jarige meisie het egter destyds gou besef sy gaan “nêrens kom” met so ’n houding nie, sê sy. Sy het alles in haar skoolwerk gesit en begin maats maak.

Landi het ook tot bekering gekom en is sedert begin vanjaar in ’n Christelike oorbruggingskool in Gauteng. Sy moes binne weke ná haar aankoms by die skool voor sowat 25 meisies oor haar lewe praat.

“Ek was baie gespanne. Ek het foto’s van my biologiese ouers gewys en vertel ek is die oudste kind van die Springs-gruwelhuis. Van die meisies wat hiervan geweet het, was geskok. Ek het vertel van my boetie wat gevlug het, dat ons mishandel en ek seksueel misbruik is. Agterna het van my vriendinne weer na my gekom en my uitgevra.”

Dít alles was vir Landi bevrydend. “Ek het nou baie meer selfvertroue.”

’n Einde aan ’n lewe in die hel

Huis van Gruwels (Lapa), Landi se lewensverhaal, is landwyd te koop. Foto: Verskaf

Landi praat openlik oor die hel waardeur sy is – hoe hul pa haar en haar oudste boetie met ’n gaspistool geskiet het, byna verdrink het in ’n bad water en geslaan het dat die bloed loop. Hul ma was ’n beskimmelde, mishandelde agtergrondfiguur wat glad nie opgewasse was om haarself of haar kinders te beskerm teen ’n man wat die hof later bevind het ’n psigopaat en sadis is nie.

Dié jare lange vernietigende patroon het dramaties geëindig toe die Springs-gesin se bure die polisie ontbied het. Dít nadat die buurseun op ’n koue aand in Mei 2014, kaal bolyf en met net ’n groen kortbroekie, aan hul deur geklop het. Hy het om hulp gesmeek en gesê sy pa gaan hom slaan.

Die pa het kort daarna opgedaag en die seun hardhandig teruggeneem huis toe. Daar het die groot, sterk man die skraal seuntjie op die vloer vasgepen en herhaaldelik met die vuis in die gesig geslaan.

Toe die polisie en maatskaplike werkers die volgende dag by die massiewe dubbelverdiepinghuis opdaag, was dit smerig. Die jonger kinders het aan die maer en skraps geklede 16-jarige Landi vasgeklou. Sy het die drie jongste kinders sedert hul babadae versorg, doeke omgeruil en gevoer, terwyl hul apatiese ma haar moederlike verpligtinge versaak het.

Al die kinders is onmiddellik verwyder. Hulle is aanvanklik saam in pleegsorg geplaas, maar dit het mettertyd nie uitgewerk nie. Die drie jongste kinders is in 2017 na ’n kinderhuis in Gauteng. Landi is in 2017 en haar oudste boetie in 2018 by verskillende mense in Springs in pleegsorg geplaas.

Landi en haar boeties en sussies het steeds gereeld kontak. Haar oudste boetie, wat tot op 11-jarige ouderdom nog geen skoolonderrig ontvang het nie, moes net soos sy as gevolg van ’n leeragterstand na ’n skool vir kinders met spesiale behoeftes gaan.

Lewenslange letsels

Landi besoek haar twee sussies en jongste boetie gereeld in die kinderhuis. Foto: Herman Verwey

Landi se oudste boetie het in beëdigde verklaring in ’n hul ouers se verhoor op aanklagte van onder meer kindermishandeling en -verwaarlosing, vertel dat hy sy pa haat en hoe dit hom pla dat hy nie kan lees of skryf nie.

Hoewel hy vandag steeds die fisieke en emosionele letsels van erge mishandeling dra, is hy gelukkig by sy pleeggesin. “Dit gaan baie beter met hom,” sê Landi. “Hy neem aan sport deel, hou van meisies en trek graag mooi aan. Hy is baie handsome en kan die mooiste goed met sy hande maak.”

Sy lees- en skryfvaardighede verbeter ook. “Hy tik al vir my boodskappe op die selfoon. My boetie word nog soms kwaad, maar nie so erg soos tevore nie. Hy het ons almal gered, ek het hom al baie keer bedank.”

Landi besoek haar twee jonger sussies en jongste boetie gemiddeld een keer per week in die kinderhuis. “Hulle is gelukkig daar en gaan almal na ’n gewone skool.”

Dit het vreemd gevoel om ons ma weer te sien, dit was ’n bietjie ongemaklik.

Die drie jongste kinders wat almal nou op laerskool is, het ook erge ontwikkelingsagterstande gehad toe hulle uit hul ouers se sorg verwyder is.

Landi en haar oudste boetie het hul ma in Mei vanjaar die eerste keer weer besoek sedert die hofsaak in Oktober 2018 afgehandel is. Sy is skuldig bevind aan onder meer kinderverwaarlosing, asook aan die besit en gebruik van dwelms. Die hof het bevind sy ly aan mishandelde-vrou-sindroom en dat sy magteloos was teen haar oordonderende man wat haar ook aangerand het.

Sy het ’n opgeskorte vonnis van vyf jaar gekry, onderhewing aan voorwaardes, onder meer dat sy sielkundige behandeling ontvang.

Die Springs-kinders se ma het vroeg in Mei haar sesde kind gekry – ’n babadogtertjie by haar nuwe kêrel, ’n neef van die Springs-monster. “Dit het vreemd gevoel om ons ma weer te sien, dit was ’n bietjie ongemaklik,” sê Landi oor die onlangse weersiens. “Sy was bly en het gehuil toe sy ons sien. Ek voel verwyderd van haar, ons het nog nooit ’n ma-dogter-verhouding gehad nie.”

Familie ondersteun die ma nou en maatskaplike werkers is ook betrokke.

Sy is nog lief vir die monster

Landi sê sy is nog lief vir haar pa, maar wil hom nie in haar lewe hê nie. Foto: Herman Verwey

Landi het teenstrydige gevoelens oor haar pa en beplan om hom binnekort in ’n Pretoriase tronk te gaan besoek. Sy vertel in die boek van die sonderlinge gelukkige oomblikke saam met hom, onder meer wanneer hulle saam tamatiekonfyt gekook het.

“Ek is nog lief vir hom, maar wil hom nie in my lewe hê nie. Wanneer ek hom besoek, sal ek vir hom sê ek het hom vergewe en dat dit wat gebeur het, in die verlede is. Van alles wat in die Springs-huis gebeur het, was die seksuele aanranding die ergste.”

Die Springs-monster is altesame 67 jaar tronkstraf opgelê weens onder meer poging tot moord op die oudste seun, verkraging weens orale seks met Landi, asook verskeie aanklagte van kindermishandeling en -verwaarlosing. Hy dien effektief 35 jaar tronkstraf uit omdat van die vonnisse gelyklopend uitgedien word.

Susan CilliersFoto: Nico Blignaut

“Ek het met die hele hofsaak nie kans gehad om my verhaal ten volle te vertel nie, dis hoekom ek dit in die boek wil doen,” sê Landi. “Ek het nie ’n behoefte aan terapie nie, want die Here het alles in my genees, anders sou die seer en haat bly. Nou is ek op ’n baie gelukkige plek in my lewe met ongelooflike (pleeg-)ouers en nuwe vriende.”

Landi meen ook dat sy nou gereed is vir ’n verhouding met ’n man, hoewel sy van die begin af oop kaarte sal speel. “Dit sal baie verg voordat ek ’n man seksueel kan vertrou, en te glo dat seks mooi en skoon kan wees.”

Haar verlede het haar ook dankbaarheid geleer vir wat sy het en die mense in haar lewe. “My verlede klink nou vir my soos ’n boek wat ek gelees het en nou vir iemand oorvertel, want dis nie meer die werklikheid nie. Ek voel nie meer daardie pyn nie, ek sien dit nie meer nie en droom nie meer daarvan nie. Dis verby.”

* Cilliers is Netwerk24 se senior joernalis in Noordwes. Sy het Landi se vertellings in die boek verwoord. Landi word net op haar voornaam geïdentifiseer om haar minderjarige sibbe se identiteit te beskerm. Huis van Gruwels word deur Lapa uitgegee.

Meer oor:  Susan Cilliers  |  Springs  |  Springs-Monster  |  Huis Van Gruwels
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.