Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Profiele
Gruwels om oor te droom

Onder die mooi oppervlak van die voorstede skuil daar dikwels gruwels, sê Francois Bloemhof aan Murray La Vita.

Hierdie heksagtige marionet het Francois op ’n buitelandse reis in Praag gekoop. Foto’s: Jaco Marais

Die motto wat die leser voor in Francois Bloemhof se jongste spanningsverhaal, Dieretuin, aantref, kom uit die mond van die filosoof Fried­rich Nietzsche: “Die mens is die wreedste dier.”

“Ek ís baie geïnteresseerd in die mens se donker kant en ek is ook baie in voeling met my eie donker sy. Ek dink ’n mens moet jouself verstaan en dis ’n manier om dit te verwerk. Ons almal het grys areas; ons is nie nét nice persone of op ’n sekere dag nét ’n slegte mens nie – daar is skakerings,” sê Francois.

Hoe hanteer hy sy eie “donker sy”?

“Deur dit goed te ken, kan ek op die regte tye daaraan erkenning gee en op ander tye besluit: Jy is sommer nou net nasty.”

Ons praat oor van die karakters in Dieretuin – wat hy in ­Engels vertaal het met die titel Feed­ing Time – en hul gruwelike, gewetenlose optrede.

“Ja, hulle is nie aangename mense nie. Ons dink dalk hulle is psigopate, maar hulle sal nie dink: ‘Ek is ’n slegte persoon nie.’ Hulle sal dink: ‘Ek doen dit of dat vandag om hierdie of daardie rede.’

“Selfs mense wat in hofsake betrokke is en ’n moord gepleeg het, sal in hul eie koppe vir hulself rede vind hoekom hulle dit gedoen het. Hulle sal dit vir hulself heeltemal regverdig. Maar ek bedoel, nou praat ons darem seker ook van die gemiddelde psigopaat.

“Die interessante ding vir my van misdaad – moord, geweld – is hoe meer jy dit doen, hoe meer raak jy daaraan gewoond en natuurlik hoe minder gaan wat jy verkeerd doen jou hinder.

“Jou eerste inbraak of jou eerste moord kan dalk vir jou geweldige gewetenswroeginge veroorsaak, maar die tweede een gaan makliker wees.”

Francois se Die nag het net een oog is al as die eerste Gotiese riller in Afrikaans beskryf.

“Ek het al op skool begin stories stuur vir tydskrifte. Maar dit was gewelddadige, bloeddorstige stories wat ’n mens nou goed moes geweet het nié aanvaar sal word deur die Engelse vrouetydskrifte nie . . . Jy wéét dit is nie wat hulle soek nie, maar nogtans is dit wat ek wou skryf.

“So het dit ’n hele klompie ­jare geneem voordat ek ’n tydskrifverhaal verkoop het en dit was aan Huisgenoot. Ek het vriende van my se name gebruik, so dit was vir ons baie vermaaklik. Tot my verstomming word dit aanvaar en toe dink ek, ja, hier kan ’n manier wees om ’n ekstra inkomstetjie te verdien uit iets wat vir my lekker is om te doen.

“Ek het nie aanvanklik gedink ek gaan vollengte boeke skryf nie; dit het vir my gevoel na geweldige moeite. Ek wou kortverhale skryf en ek het nou nog ’n besondere voorliefde vir kortverhale, maar daar is iets omtrent ’n roman . . . jy kan jou net behoorlik verdiep daarin; ek praat nou uit ’n leser en ’n skrywer se oogpunt.”

Voorstedelik

Ons praat oor boosheid in sy werk. “Ek hou daarvan om dit te verken, maar verskillende aspekte daarvan. Elke boek moet byvoorbeeld nou nie net boos, boos, boos wees nie, want dan raak dit ook weer voorspelbaar. So, ek het nou al boeke geskryf wat ek voel meer dramarig is en selfs al meer in die lyn van fantasie.”

Sy verhale speel dikwels in ’n voorstedelike ruimte af. Ook nou weer in Dieretuin – al die gruwelikhede vind plaas in ’n noordelike voorstad van Kaapstad, soos die een waarin hy woon en waar ons nou by ’n geelhouttafel sit en gesels.

“Ja, dit is vir my interessant, dit wat verskuil is onder die mooi oppervlak. Toe ek Die nag het net een oog geskryf het, was ek van plan om dit in Engels te skryf omdat ek nie gedink het daar is in Afrikaans regtig ruimte vir wat ek wou skryf nie.

“Toe kom De Kat met hul romanwedstryd en toe het ek dit wat ek in Engels sou geskryf het en wat ek iewers in Brittanje op die English countryside sou laat afspeel het, geplaas in ’n denkbeeldige dorpie naby Clanwil­liam.

“En dieselfde toe nou met Die duiwel se tuin, wat my volgende boek was. Ek wou ’n boek oor satanisme skryf en ek het in daai stadium nog in Bellville gewoon en toe het ek gedink: Waar is nou die laaste plek op aarde waar jy ’n satanistiese kring sou verwag? Toe besluit ek: A! Durbanville! En teen die tyd dat die boek uitkom, het ek Durbanville toe getrek. Toe hoor ek hier ís in werklikheid twee satanistiese kringe.”

Hy glimlag. “So, dit wat ek gedink het is taamlik vergesog . . . Dit is ’n geval van feit is vreemder as fiksie. Ek het tot op hede – en ek woon nou al baie lank in Durbanville – nog nie een lid – wel, sover ek weet – van hierdie satanistiese kringe ontmoet nie, maar hulle is hier iewers . . . Hier’s dalk nou al drie of vier vir al wat ek weet.”

As alles wat in my boeke gebeur al met my gebeur het, sou ek nou vandag nie hier gewees het nie.

Google dit

Mense is geneig om hom te vra hoeveel navorsing hy vir ’n boek gedoen het.

“Die antwoord is gewoonlik: bitter min. Navorsing is die vyand van fiksie. Ek het eintlik ’n broertjie dood daaraan, want dit laat jou oorspronklike konsep, jou idee, jou inspirasie dikwels so verwater, want tydens jou navorsing kom jy af op al hierdie feite wat vir jou so interessant is, maar wat níks te make het met jou oorspronklike visie nie.

“Jy wil dit dan alles daar in jou boek sit omdat jy so ingenome is met dit waarop jy afgekom het. Dit raak dan hierdie groot passasies wat eintlik tussen jou groot gebeurtenisse staan. Ek dink ook gewone lesers wat belang stel in ’n on­derwerp kan self gaan google. Dis nie meer die ou dae waar jy in ’n argief gaan sit vir jou ­navorsing nie – jy klim op die internet soos enige persoon kan.

“So, jou navorsing is eintlik maar net ’n bietjie oplees op die internet. Navorsing klink geweldig belangrik; mense is geneig om nog steeds geweldig beïndruk te word deur die hoeveelheid navorsing wat ’n skrywer gedoen het, terwyl ek glo die eintlike ding gaan oor jou inspirasie en of die boek lekker lees of nie.”

Eers die storie

Ek vra hom oor die ontstaansgeskiedenis van Dieretuin.

“Die storie kom eerste en dan dink ek: Watter karakters kan nou werk hierby en hoe gaan hulle op mekaar reageer? En dikwels het jy jou twee of drie hoofkarakters en die ander word geskep na aanleiding van húlle, want hulle sal ’n invloed hê op die mense om hulle – en daai mense word meer so as gevolg van hulle.

“Maxie Tredoux in Dieretuin is die ma van ’n gesin, so die seun en die dogter se karakters kan nie tot stand kom sonder dat jy dink watter invloed sou sy op hulle gehad het nie. Sy het baie beslis ’n invloed gehad op hoe haar seun en haar dogter uitgedraai het. Dan’s daar ook die pa in die gesin wat baie onlangs dood is en in die gees eintlik nog daar is, want hulle bou voort op sy werk.

“Navorsing is die vyand van fiksie.”

“Dit interesseer my hoe mense mekaar beïnvloed; en families en gesinne. In hierdie geval is dit ’n redelike misdadige gesin en hulle dink op dieselfde manier, want hulle is gewoond daaraan; dis vir hulle nie iets vreemds nie; dis vir hulle vanselfsprekend dat ’n mens sekere goed mag doen en jy kom weg daarmee as jy slim en skelm genoeg is.”

Wanneer hy draf, kom daar dikwels goed by hom op.

“Omdat draf so vervelig is, dink ek aan 101 goed – gewoonlik aan stories of aan wat ek daardie dag gaan skryf.

“Of iemand sal net in ’n gesprek iets teenoor my laat val oor iets wat met hulle gebeur het of iets wat hulle gehoor het . . . Hoewel ek dadelik moet byvoeg dat ek nooit mense se stories skryf nie; ek steel nie stories nie, want ek voel jy word gestraf . . . later kan jy nie meer jou eie stories uitdink nie.”

Sy drome is ook ’n bron van stories.

“Ek droom baie en ek skryf die soort boeke waar jy sekere dinge wat jy droom kan gebruik, terwyl mense wat absoluut realistiese of meer feitgebonde boeke of romans skryf, gewoonlik nie hul drome kan gebruik nie. Ek moet byvoeg ek het darem nou nie sulke verskriklike drome dat ek heeltyd moord en doodslag droom nie.”

Lyk soos ’n satanis

Die uiterstes waartoe mense sal gaan, fassineer hom.

“Die karakters se motivering moet oortuigend wees, want anders gaan die gebeure nie oortuigend wees nie. Mense is geneig om die skrywer in sy boek te gaan soek.

“Maar omdat ek nou al so baie boeke geskryf het, dink ek genadiglik mense vermoed nie meer dat ék nou ’n spesifieke karakter is nie. Jy kan dink met Die duiwel se tuin . . .

“Daar wás een leeskring waar ek gepraat het toe een persoon sê sy het vir ’n vriendin gesê na aanleiding van my foto agterop die boek: ‘Ja, hy lyk nogal of hy ’n satanis kan wees!’ ”

Hy lag.

“Wel, ek is dalk bevooroordeeld, maar ek dink self nie ek lyk soos ’n satanis nie.”

’n Mens kan lesers ook nie verkwalik nie; daar is so baie skrywers wat outobiografies skryf, sê hy.

“So, daardie persepsie word só in stand gehou. Lesers is dan maklik geneig om te dink dit geld dan vir alle skrywers.

“Maar as alles wat in my boeke gebeur al met my gebeur het, sou ek nou vandag nie hier gewees het nie.”

  • Francois Bloemhof is Woensdag 31 Januarie 19:30 in gesprek met die skrywers Bettina Wyngaard en Marita van der Vyver op Via (DStv-kanaal 147) se geselsprogram Driekuns. As jy dié episode misloop, skakel Sondag 4 Februarie 20:30 in vir die heruitsending.
Meer oor:  Murray La Vita  |  Francois Bloemhof  |  Dieretuin
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.