Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Profiele
Gwen Lister: 'Óf ek óf Anton Lubowski sou sterf'

Sy het altyd gedink óf sy óf Anton Lubowski gaan vermoor word, sê Gwen Lister aan Murray La Vita.

Gwen Lister, aktivis en gevierde joernalis.

Op 21 November 1989 het Gwen Lister ’n knop in haar keel gekry terwyl sy staan en kyk het hoe die lang konvooi Suid-Afrikaanse militêre vragmotors en gepantserde voertuie Windhoek verlaat.

Later het sy huis toe gegaan, tee gemaak, haar kinders, Shane en Liberty, vasgedruk, en gehuil.

“Aan die wêreld het ek die beeld voorgehou van ’n geharde joernalis. Mense was bang vir my ondanks my klein statuur. Maar daar wás oomblikke waarin ek my aan emosie oorgegee het, en dit was so ’n oomblik.

“Ek het dit gewoonlik nie voor ander mense gedoen nie. Ja, ek onthou hoe ek staan en kyk het hoe daardie SAW-trokke al brullend die stad begin verlaat het. Ek onthou die stof. Ek kon skaars glo dat dit uiteindelik besig was om te gebeur, want oor die jare het dit dikwels gevoel asof ons ’n verlore stryd stry en dat dit nooit gaan gebeur nie. Dit was ’n droom; ’n soort utopie,” sê sy.

Lister (67) sit in ’n kantoor van die Namibia Media Trust in Windhoek, waarvan sy die voorsitter is. Dit is ’n instelling wat gestig is om die beginsels van vryheid van uitdrukking en onafhanklike media in Namibië en elders te bevorder. Sy het dit op die been gebring nadat sy in September 2011 ná 26 jaar as redakteur van The Namibian uitgetree het.

Die stem

Die fokus van die onderhoud is haar memoires, Comrade Editor: On life, journalism and the birth of Namibia, wat pas verskyn het.

Lister se memoires het pas by Tafelberg verskyn.

Haar stem, wat volgens haar daarvoor verantwoordelik was dat mense – en veral mans – vir haar bang was, herinner aan dié van Marianne Faithfull. Dit is ’n stem wat weens rook oor die jare grinterig geword het.

Lister is ’n vrou wat al van die grootste internasionale pryse vir joernalistieke dapperheid ontvang het en aan wie Martti Ahtisaari, wat deur die Verenigde Nasies (VN) aangestel is om die Namibiese onafhanklikheidswording te bewerkstellig, gesê het haar bydrae tot die onafhanklikheidswording van die land was groter as syne.

Sy vertel in Comrade Editor die verhaal van iemand wie se lewe nóú vervleg was (en is) met die lot van ’n land. Die groot doel in haar lewe was om alles in haar vermoë te doen om te help dat Suidwes-Afrika vry en onafhanklik raak van Suid-Afrika. En van apartheid.

Sy is in 1975 ná haar studie aan die Universiteit van Kaapstad na Windhoek, waar sy by die Windhoek Advertiser en later die Windhoek Observer gewerk het onder die legendariese en berugte redakteur Hannes Smith, alom bekend as Smittie. In Augustus 1985 het sy The Namibian, haar eie, onafhanklike koerant begin.

‘Volkome onbevrees’

Terwyl sy die memoires geskryf het, het sy nagedink oor die verskil tussen Gwen die joernalis en openbare persoon, en die persoonlike en private Gwen.

Hannes (Smittie) Smith het mettertyd baie geheg geraak aan Lister.

“Enersyds kon ek baie konfronterend wees en was ek dit nog altyd as ’n joernalis wat in diens staan van die waarheid in die aangesig van mag. Ook volkome onbevrees.

“En dan, op die persoonlike vlak, is ek ’n mens wat besorg is oor my familie en ek is baie lief vir diere – in die besonder honde – en ek haat wreedheid. Daardie soort situasies wat ’n aanspraak gemaak het op my persoonlike self om op te tree; in dáárdie situasies kon daar vrees wees.”

In die apartheidsera het sy dikwels doodsdreigemente ontvang, daar was ’n sluipmoordplan om haar met gif in haar tandepasta of tampons te vermoor; sy is aangehou en die kantore van The Namibian is telkens aangeval en erg beskadig.

Lister in haar studentedae.

“Ek kan eerlikwaar sê ek was nooit bang nie. Was ek bereid om te sterf vir ’n saak? Ek dink so, ja. Maar andersyds was daar die terughoudendheid oor die self en die persoonlike en private, en dit is vandag nog so. Ek was al dapper in baie omstandighede, maar dan onseker van myself in ander.”

‘Geen bitterheid’

Dis asof sy “amper vrede gemaak het” met die aard van die menslike psige.

“Toe ek aan dié boek begin skryf het, het ek probeer om baie mense van die ander kant op te soek; byvoorbeeld lede van die veiligheidspolisie of lede van die weermag wat destyds nie sou gehuiwer het om ’n koeël deur my rug te jaag nie.

“Ek het van hulle van aangesig tot aangesig ontmoet en probeer vasstel hoe hulle my sien en hoe ek hulle sien. Dit was in ’n sin teleurstellend, want talle van hulle wou net sê: ‘Jammer . . . al daardie jare toe ons teen jou baklei het, was jy reg en ons verkeerd.’

“En dít is nie eintlik wat ek van hulle wou hê nie; ek wou nie dít hoor nie. Ek wou hoor wat hulle gedryf het om in hierdie soort mitiese konsepte van witheid en die swart gevaar en apartheid en die stryd teen kommunisme te glo.

“Ek het vreemd genoeg geen bitterheid teenoor hulle gevoel nie . . . Mense word gemanipuleer en aan propaganda blootgestel en in baie gevalle was dit nie hulle skuld nie. En nou praat ek nie net van wit mense nie; daar was talle swart Namibiërs wat ook uitgebuit is.”

Die meeste lede van die gevreesde Koevoet-eenheid was byvoorbeeld swart.

Gwen en Sam

Ons praat oor haar verhouding met Sam Nujoma, Swapo-leier en die eerste demokraties verkose president van Namibië.

Tee saam met Sam Nujoma in Parys.

“In die vroeë jare het ek bekend geword as een van die enigste joernaliste wat my stem laat hoor het oor die feit dat ons in Namibië selfbeskikking moet kry. So, as ’n joernalis was daar tot ’n groot mate eensgesindheid tussen my en Swapo.

“Dít het daartoe gelei dat die leierskap van die beweging, wat in ballingskap was, my tot ’n mate respekteer het. Gevolglik was ek waarskynlik die enigste joernalis wat diepte-onderhoude met Nujoma gedoen het. Hy is nie ’n man wat mense maklik vertrou nie, maar oor die jare het hy my om een of ander rede begin vertrou.

“Dit was ’n verhouding wat bestuur moes word, soos ek ook in die boek aandui. Wanneer ek met hom ’n onderhoud gaan doen het, hetsy in Lusaka of elders in die buiteland, was ek baie versigtig om ’n afstand te skep tussen wat ek hom wou vra en inligting oor wat in die gewapende stryd aan die gang was.

“Ek het besef indien Swapo my in hul vertroue neem oor kwessies rondom die gewapende stryd, kon ek in hegtenis geneem word wanneer ek na Namibië terugkeer. Wie weet, hulle kon inligting uit my probeer dwing; my dalk martel. So, ek wou nie enigiets weet waaroor ek nie kon skryf nie.

“Dit was immers ’n tyd van wit spioene en infiltreerders soos Craig Williamson, en ek wou nóóit as een van hulle beskou word nie. Ek wou net toegang hê tot die soort inligting wat ek kon publiseer sodat niemand later kon sê Gwen was ’n dubbele agent nie.”

‘Gwen is bitter’

Haar verhouding met Nujoma het kort ná onafhanklikheidswording begin versuur. Binne die eerste tien jaar van onafhanklikheid het sy en The Namibian Swapo ’n hele paar keer oor ’n verskeidenheid van kwessies vasgevat.

“Daar is nou nog Swapo-mense wat dinge sê soos: ‘O, Gwen is bitter omdat sy nie vergoed is nie.’

“Die laaste ding wat ek wou hê en steeds nie wil hê nie, is ’n beloning vir wat ek gedoen het. Ek dink ek maak dit ook duidelik in die boek. Ek ís ’n ministeriële pos en verskeie ander hoë ampte aangebied, wat ek van die hand gewys het omdat ek lief is vir wat ek doen en ek het dit nie gedoen met enige beloning in gedagte nie.

“Ek is selfs ’n plaas aangebied. Ek word as ’n veteraan [van die vryheidstryd] beskou, maar ek het nooit geregistreer om vir veteraanstatus in aanmerking te kom nie, eenvoudig omdat ek nie ’n hervestigingsplaas en ’n kontantuitbetaling wil ontvang nie.

“Ek glo nie in entitlement nie en ek is gekant teen Swapo se beleid om dít te doen, want dit het ’n nuwe elite geskep wat op daardie comrade-status gegrond is.

Dit is vir my onaanvaarbaar wanneer die groot meerderheid van Namibiërs in armoede leef wat groter is as tydens apartheid.


Voete van klei

Lister skryf in haar memoires aangrypend oor haar vriend Anton Lubowski, die prokureur en Swapo-aktivis wat in 1989 voor sy huis in Windhoek doodgeskiet is – volgens alle aanduidings deur ’n sluipmoordenaar of -moordenaars van die Burgerlike Samewerkingsburo (BSB) in Suid-Afrika.

Lister en haar vriend Anton Lubowski.

“Jy weet, een van die gevolgtrekkings waartoe ek gekom het oor die menslike psige, is dat ons almal op een of ander manier beskadigde siele is. En ek dink ons moet eerlik wees oor ons sterk punte en ons swakhede.

“Ons het almal voete van klei. Daarom wou ek Anton nie weer eens as ’n held voorhou nie. Ek het Smittie ook warts and all beskryf. Hy het ongelooflik bewonderenswaardige eienskappe gehad, maar ook kante wat nie so aangenaam was nie.

“Anton was ’n idealistiese jong prokureur en hy was baie polities gedrewe – baie soos ek. Maar hy het ook sy swakhede gehad. Hy het daarvan gehou om die beste klere te dra en besigheidsklas te vlieg en het altyd ’n paar vroue in die prentjie gehad. Maar hy was in wese ’n goeie mens wat die beste bedoelings gehad het.

“Ek het altyd vir hom gesê: ‘Anton, wees versigtig.’ Ek dink dikwels dit het gelyk asof dit óf Anton óf ek gaan wees [wat vermoor sou word] en toe was dit hy.

“Die besluit om hom te vermoor het heel waarskynlik baie sterk verband gehou met die toekoms van Resolusie 435 [van die VN, wat die onafhanklikheid van Suidwes-Afrika ten doel gehad het].

“En ek dink wie ook al daarvoor verantwoordelik was, die BSB en ander elemente, wou hê Nujoma moenie na Namibië terugkeer nie en wou die 435-plan in die wiele ry. En hulle het straks gedink die kanse dat dít gebeur, is beter as hulle ’n Swapo-kader vermoor eerder as die redakteur van ’n koerant.”

Vra nie hulp nie

Iemand het eenkeer vir Lister gevra hoe sy deur al die enorme uitdagings gekom het wat sy in haar lewe as aktivis en joernalis ervaar het. “Die meeste van die tyd moes ek vergeet dat ek ’n vrou is,” was haar antwoord.

'Die meeste van die tyd moes ek vergeet dat ek ’n vrou is.'

Toe ek haar hieroor pols, sê sy dit was vir haar belangrik om nooit enige weerloosheid of swakheid te wys nie. Sy het haar vrouwees onderdruk omdat Smittie in haar werkonderhoud vir haar gesê het ’n vrou is nie opgewasse om ’n joernalis te wees nie. Vroue se plek is kaalvoet in die kombuis of naak in die bed, het hy vir haar geskree.

“Ek sou nooit vir Smittie iets kon sê soos: Ek kan nie dít of dát doen nie, want ek het my period. En só was is dit nog altyd regdeur my lewe. Ek is iemand wat dit báie moeilik vind om vir hulp te vra. Daar was baie kere wat ek wou sê: Help! Help my! Selfs in die vroeë jare by The Namibian toe ek weens ’n tekort aan geld gesukkel het om die koerant aan die lewe te hou.

“Ja, dit is vir my baie moeilik om my weerlose kant te wys en te sê ek het ’n drukkie nodig of wat ook al. Al bestaan daardie behoeftes iewers diep binne my, vind ek dit baie moeilik om daaraan uiting te gee.

“Ek is waarskynlik bang as ek dít doen, wys ek ek is te swak om die werk te doen of om voort te gaan,” sê sy.

Meer oor:  Namibië  |  Sam Nujoma
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.