Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Profiele
’n Rooikop, reg aangeskroef!
Hanlie Retief gesels met AJ Venter
Hy was ’n rooikopseun in ’n klipharde tegniese skool in Bloemfontein. Standerd-ses-sot in die skoolkoshuis. Losvoorspeler in die o.13-A-span, die talent wat hom later ’n yster-Bok sou maak, reeds sigbaar op geelgerypte Vrystaatse skoolvelde.

Hy was ’n rooikopseun in ’n klipharde tegniese skool in Bloemfontein. Standerd-ses-sot in die skoolkoshuis. Losvoorspeler in die o.13-A-span, die talent wat hom later ’n yster-Bok sou maak, reeds sigbaar op geelgerypte Vrystaatse skoolvelde.

Die Curriebeker-finaal in 1999. “En toe wen ons die Sharks!” Foto: Carl Fourie/Gallo Images

Een nag het AJ Venter van brandpyne aan sy voete wakkergeskrik. Twee seniors het naskeermiddel aan sy voete gespuit, dit aan die brand gesteek en weggehardloop.

“Ek het wakker geword met die pyn van die velle wat af was. Dit was twee seniors. Hulle het my nie baie gelaaik nie en my heeljaar geboelie. Ek het hulle vir baie jare gehaat, en onthou vandag nog hoe seer dit was.”

Tydens motiveringspraatjies by skole deel AJ dié ervaring, want as ’n fris plaasseun van Bethulie wat nooit sy bek vir niemand gehou het nie, geboelie kon word, is enige kind ’n moontlike teiken. Jimmel, op die veld het hy kontaksituasies gesoek! roep AJ uit en vat ’n groot sluk wegneemkoffie.

Dis soos ’n ui wat jy afskil, lagie vir lagie keer jy terug tot by die ware jy.

“Maar . . . alles gaan oor jou selfbeeld, nè. Ek is ’n propperse ginger. Met rooi hare op skool het jy ’n teiken op jou rug. Kinders gee jou allerhande name. In my rugbyjare het ek my hare wit gedaai, juis hieroor. Jy dink jy ontgroei die vernedering, maar dit bly kleef. Eers op 28 het ek besef: aarde, AJ, jy kruip steeds weg van jouself.”

Met ’n vierkantige potblou bril, gemmerkop en seunsgrinnik lyk AJ op 46 eerder metro as na die skrumpet-flank wat Suid-Afrikaners onthou. Selfs sy memoji is pure rooikop.

Ons gesels net voor sy podsending, Life with AJ Venter, met die Kaapse sake-entrepreneur Nic Haralambous.

AJ Venter is deesdae ’n motiveringspreker. “Om met mense my verhaal te deel beteken soveel vir my. Oral waar ek kom vertel mense my húl swaarkryverhale. Foto: Verskaf

“Ek praat met entrepreneurs en leiers oor die goeie én die lelike in die lewe.”

Vroeër vanjaar was dit Allan Kleynhans, die Haaie se eertydse prestasie-afrigter. Toe AJ vier jaar gelede in emosionele diep waters beland het, was Kleynhans sy reddingsboei. Kleynhans, deesdae ’n motiveringspreker saam met die wêreldbekende Tony Robbins in Europa, se motto: dis nie wie jy is wat jou terughou nie, dis wie jy dink jy nié is nie, het AJ begin eet, bid en slaap.

“Die manier hoe ek geboelie is oor my hare is presies wat kuberboelies doen. Hulle maak jou nie fisiek seer nie, dis meer subtiel, eintlik erger.

“Ek probeer vir kinders sê: dit wat jou jý maak, is die moeite werd. Jy hoef nie jouself te laat afbreek nie.”

“Ek sê vir kinders hulle het beheer oor sosiale media, hulle kan kies om nie op ’n giftige WhatsApp- of Facebook-groep te wees nie. Die probleem is, ons wil in die koel groep wees, al word ons daar geboelie.

“As jou selfbeeld sleg is, word jy maklik ’n slagoffer. Sosiale media voed jou slegte selfbeeld, want almal se lewens lyk lekkerder en beter as joune. Jy sien hoe mooi ander se huise is, hoe jou Saterdagaande suig teen hulle s’n. Dis so onbelangrik, maar dit haak in jou kop vas.

“Ek probeer vir kinders sê: dit wat jou jý maak, is die moeite werd. Jy hoef nie jouself te laat afbreek nie.”

“By die Tugela-ravyn in die noordelike Drakensberg. Dit gaan nou baie goed met my, en ek is eintlik dankbaar vir die swaarkry. Hoe sê hulle? Jy groei net as jy ’n bietjie pak vat.” Foto: Danielle Roberts

AJ was gelukkig. Rugby het hom ’n identiteit, loopbaan en bekendheid gegee. Geleenthede. En AJ het nog altyd gespring vir ’n kans . . . soos die oomblik waarvoor hy altyd sal onthou word, toe hy en Richie McCaw in die 2002-toets gelyktydig uit ’n skrum gepeul het om af te reken met “daai ou in die blou jeans en vellies wat op die veld gehardloop het”. AJ en McCaw het albei vir Pieter van Zyl ’n paar klappe en ’n bloedneus gegee. “Richie het gesê dis nie hy wat hom ’n bloedneus gegee het nie, so dit moes ek gewees het . . .”

Ná matriek het AJ sy neus nog skaars buite die Vrystaat gesit en kon Engels net kromweg praat. Maar toe kry hy die kans om vir drie jaar in Rovigo, Italië, rugby te gaan speel. Hy het Italiaans in die skrums en pubs geleer en afdae op die trein gespring en in Venesië rondgehang. “Dit was van die beste jare in my lewe.”

Maar die hoogtepunt was toe hy daardie eerste keer die Boktrui oor sy kop getrek het. “Dit was in 2000, ek was op die bank teen Wallis en het eers agt minute voor die einde opgedraf. Ek het op 27 eers ’n Bok geword en sjoe . . . daar was 27 jaar in daardie agt minute gewees.”

“Mense sê seker ek was bietjie van ’n loslappie, maar elke provinsie en tydperk was fantasties."

Ewe spesiaal vir hom is dat hy vir vier van die provinsies gespeel het, vir die Haaie, Cheetahs, Leeus en die Stormers.

“Mense sê seker ek was bietjie van ’n loslappie, maar elke provinsie en tydperk was fantasties. Die Cheetahs, ai, dis my wortels. Mal oor die Leeus, want ons het daai jaar die Curriebeker gewen. Ek het amper tien jaar in KwaZulu-Natal gespeel, dit bly na aan my hart. En die WP, my swanesang. Rassie (Erasmus) was destyds my senior in die Cheetah-span, en in my laaste jaar was hy my coach. Hy is by verre die grootste mense-mens in rugby.”

As hy nou aan daardie jong voortvarende AJ dink, sal hy vir hom wil sê: Be kind.

Die 695ste Springbok. Foto: Duif du Toit/Gallo Images

Maar hoe lank is jou middag, lag hy, want “eintlik sal ek vir daai jong AJ nog baie wil sê. Ek is nou ’n ander mens. Hééltemal. As rugbyspeler maak jy skielik baie geld, jy is bekend, mense faff om jou, en dan raak jy té groot vir jou skoene. As ek my lewe kon oorhê, sou ek nie weer so entitled wees nie, skuus vir die Engels. Min rugbyspelers kry dit reg om nié grootkop te raak nie, die entitlement saam met daai joppie is gif.”

Met sy uittrede uit rugby in 2008 het AJ gesê nou begin sy regte lewe. Hy word toe ’n sakeman met verskeie ondernemings in Durban, met vinnige karre, trofeevroue en ’n glinsterlewe in Ballitoville.

Toe slaat die “regte lewe” hom soos ’n fratsbrander. “Ja. Daai fratsbranders wat van diep af naderrol, en jy roei vir die vale op jou surfboard, en dan vang hy en hou jou onder, jy kry nie asem nie . . .”

’n Paar jaar gelede het sy lewe uitmekaar geval.
15 November 2000. Suid-Afrika teen Ierland in Limerick. AJ Venter lyk moerig in die sondehok. Foto: Tertius Pickard/Gallo Images

’n Paar jaar gelede het sy lewe uitmekaar geval. Die AJ wat in die spieël na homself teruggestaar het, was middeljarig en glorieloos. ’n Has-been Bok wat nie ’n sakeman se agterent was nie, het hy besef. Slegte sakebesluite het bykans al sy rugby-spaargeld verorber.

“Ek het soos ’n flop gevoel en myself nie meer vertrou om besluite te neem nie. Die twyfelstemmetjie in my kop het my aanhou vertel ek is nie goed genoeg nie.”

Ná twee egskeidings was hy boonop ook deur ’n hartbreek-verhouding. “Ek het besef my kanse om kinders te hê, is verby. Op 60 gaan ek kinderloos en eensaam wees.”

In die Drienasies-wedstryd tussen Suid-Afrika en Australië in 2006 op Ellispark. Foto: David Rogers

Toe kom sy katarsis soos die seisoen-einde van ’n Netflix-spanningsreeks.

“Stres was vir twee jaar lank ’n spiraal waarin ek afgegly het, ek het min geslaap, konstant gestres oor alles. Waar gaan ek geld kry, hoe gaan ek enige sukses behaal? As jy beheer oor jouself verloor, sien jy skielik net jou probleme. Dis soos as jy ’n rooi Toyotabakkie wil koop – ewe skielik sien jy hope rooi Toyota-bakkies op die pad. Daar is nie meer van hulle nie, maar skielik is jy ingestel op hulle.”

Een Vrydagoggend het hy koorsig wakker geword, amper soos met ’n erge babelas. Deur die dag het dit erger geword. Oortuig hy is besig om ’n hartaanval te kry, het hy sy dokter gebel. “Hy het gesê dit lyk na ’n angsaanval, my apteek toe gestuur vir pille en twee uur later was ek weer piekfyn. Ek het beter gevoel as in maande.”

AJ in ’n lynstaan tydens die semi-finaal tussen die Sharks en die Blues in 2007 se Super14-reeks in Durban. Foto: Gallo Images/Getty Images

’n Google-soektog verder, die Sondagoggend, het AJ terstond die pille laat los. Dit was antidepressante. “Dit was vir my ’n groot skok. Ek is ’n natuurlike ou, eet meestal vegetaries.

“Ek het niks teen antidepressante nie, maar dit was nie vir my nie.”

Sonder die pille het die angs AJ weer beetgepak. En dís toe hy vir Kleynhans gebel het. In ’n paar Skype-sessies het Kleynhans AJ uit sy put gehelp.

“Sy soek nie ’n Bok met ’n BMW nie. Sy soek vir mý.” AJ en Danielle Roberts.
"Ek kan kies wat ek toelaat in my kop."

“Hy het my geleer om my denke te beheer. Alles wat met jou gebeur is in jou kop. Dis so maklik dat jou ego met jou weghol, jou negatiewe gedagtes word ’n wegholtrein.

“Ek het vir ses maande lank hard daaraan gewerk om te sorg dat ek my gedagtes beheer, dat my gedagtes mý nie beheer nie. Dis amper soos ’n ui wat jy afskil, lagie vir lagie keer jy terug tot by die ware jy, die egte jy.”

En dit was maar nog net die begin. Die ou sêding: Jy word die gemiddelde van die vyf mense met wie jy die meeste tyd deurbring, het skielik vir AJ betekenis gekry. “As jy elke Vrydag saam met ’n klomp biersuipers deurbring, kry jy naderhand ’n pens. Tussen negatiewe mense raak jy self negatief. Saam met ongelooflike sakemense . . . hulle trek jou boontoe.”

AJ en sy ouer sussie Cornel. Rooikoppe. Foto: Verskaf

Hy het besluit om sosiale media streng te beheer. Wie hy volg, wie hom volg. Hy het sy TV, voorheen altyd op nuuskanale, afgeskakel.

“Jy word gebombardeer met negatiewe, hartseer goed. Dis nuus, dis waar, maar ek hoef dit nie heeltyd te absorbeer nie. Ek kan kies wat ek toelaat in my kop. En so het ek as mens ongelooflik begin groei.”

Dit was die bevrydendste oomblik in sy lewe toe hy op LinkedIn die send-knoppie gedruk het om sy verhaal met die wêreld te deel. “Dit het ’n hele maand geneem om die moed bymekaar te skraap want ek het geweet ek wys die rou, eerlike, weerlose ek vir die wêreld.”

“My twee sussies en ek. Cornel links, ek in die middel en Alta regs op die plaas naby Bethulie.”

Soos AJ sy verhaal met groot sakeondernemings oor die land begin deel het, só het mense hom oorval met soortgelyke ervarings. Tydens die inperking het die stories ander swaarkry-kinkels gekry.

“Maar niemand wil eintlik daaroor praat nie, ’n mens is mos skaam ander gaan dink jy is ’n swakkeling. So kners ons op ons tande en worstel in stilte. Meeste mans wat ek ken, is versigtig om te wys hulle is kwesbaar. Hulle wil nie sê luister, ek het ’n probleem en ek weet nie wat om daaromtrent te doen nie. Mans is mos die ‘broodwinners’ en die ‘leiers’, en as ons nie soos daai ‘prentjie’ lyk nie, dink ons ons faal.”

Dit het vir hom ’n passie geword. Hy wil mense bereik, vertel hy in Marion Scher se nuwe boek Surfacing: People Coping with Depression and Mental Illness.

Die nuwe AJ Venter. Motiveringspreker. Podsendings. Nuwe dinkskrumme. Nuwe liefde.

“Ek het ’n meisie gekry wat nie vir my lief is oor ek ’n Bok met ’n BMW is nie, maar vir mý. Danielle Roberts, die Haaie se dieetkundige. Sy voel vere vir vals ego’s.”

Die rooikop-plaasseun van Bethulie het huis toe gekom. Die huis in sy eie kop.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.