Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Profiele
Takt is vir siekes; sý praat reguit
Hanlie Retief gesels met Angelique Coetzee
Die voorvatvrou op ’n Wonderboomse kerkbasaar wat die pannekoektafel met ’n ysterhand regeer. Dis aan wie dr. Angelique Coetzee jou herinner.

Die voorvatvrou op ’n Wonderboomse kerkbasaar wat die pannekoektafel met ’n ysterhand regeer. Dis aan wie dr. Angelique Coetzee jou herinner.

Dr. Angelique Coetzee, voorsitter van die Suid-Afrikaanse Mediese Vereniging. “Covid-19 het op my as dokter, en as mens, ’n groot impak gehad. Ek het beleef hoe gesinne geliefdes verloor sonder om eens te kon afskeid neem.” Foto’s: Deon Raath

Dié huisdokter stuit nie vir die duiwel nie, skroom nie om ’n ding op die naam te noem nie en beperk haar dokterstakt tot pasiënte.

As voorsitter van die land se Mediese Vereniging (Sama) is Coetzee in 11 Covid-19-maande die een amptelike stem wat altyd sin kon maak uit die chaos.

Die stem wat jy kon vertrou om nié die regering na te praat nie. Wat dokters en ander gesondheidswerkers ’n profiel in die pandemie gee. Wat jou soos ’n matrone op nasionale TV kapittel: masker, afstand, sanitasie, ventilasie; komaan, mense, doen dit!

Sy bars uit van die lag.

“Oor naweke sluip ek gewoonlik heeldag in my pajamas in die huis rond en as hulle my dán vir kommentaar op TV vra, gooi ek vinnig ’n serp oor my skouers en zoom in my pajamas.”

Sover het sy die verloop van Covid-19 klinies reg voorspel: Desember se tweede vlaag in die kusgebiede, nou aan die taan; Gauteng “nog ver van oor die piek”.

Koop ivermektien by iemand wat dit nie op die swartmark gekoop het nie.

“Almal in die gesondheidsbedryf het geweet die tweede golf kom, maar is enigiets regtig gedoen om seker te maak dit word beter hanteer? Niks.

“Boggherol. Inteendeel, die meeste het op vakansie gegaan.”

Oor KwaZulu-Natal se LUR vir gesondheid, Nomagugu Simelane-Zulu, gee sy ’n luide sug.

“Ek, vakansie hou? Is jy mal? Nee, ek is op my gelukkigste by my huis in Wonderboom-suid, met my gesin en vyf honde. Dié is Lielie die Pekinees.” Foto: Deon Raath

“Ons het begin Desember vir haar gesê: ‘Jy het ’n probleem in jou hospitale.’ Sy het by drie geleenthede gesê Sama weet nie waarvan hulle praat nie, ons saai net paniek. Ek kon dit nie glo nie. En toe slaat dit haar, toe moes sy haar woorde sluk.

“Ons sukkel tot vandag toe om ’n afspraak by haar te kry, om asseblief net die nodige dinge in plek te kry, want daar kom ’n derde vlaag.”

Oor die eerste entstof, wat die naweek in Suid-Afrika aangekom het, sê sy al laggende dat die kuiltjies in haar wange wys: “Dit sal my nie in die minste verbaas as hier ’n f*kop – sê maar eerder treinsmêsh – met die inentings kom nie. Ag, sê maar f*kop, die mense sal weet dis wat ek eintlik gesê het.

En net daar sien jy haar sagte kant.

“Ek hou my hart vas dat die regering wél huisdokters en private spesialiste terselfdertyd as die staatsdokters gaan inent, want ons sien hordes Covid-19-pasiënte; hulle moenie vir ons kom sê ons is nie blootgestel nie.”

Sy raak sommer rooi in die gesig.

Maar wat Angelique Coetzee die heel meeste van Covid-19 omêllie? Nie korrupsie en wanbestuur nie; haar pasiënte en families se lyding is vir haar die ergste. En net daar sien jy haar sagte kant.

“My praktyk is oorkant my huis in Wonderboom. My passie is uitkomsgerigte mediese sorg en aldrie my kinders is daarby betrokke.” Foto: Deon Raath

“Dis vir my baie sleg. Ek sien hoe mense familielede verloor sonder om hulle te kan groet. Begrafnis hou sonder ’n lyk. Dierbare pasiënte van my het om ’n ander rede in die hospitaal beland, daar Covid-19 gekry en dááraan gesterf. Dit laat my met baie vrae. Jy besef jy moet eintlik elke dag leef of jy gereed is om te gaan, jou polisse, testament, jou kóp regkry.”

Die oë van haar pasiënte. Dit wys vir haar alles.

“Pap oë. Jy sien ook letterlik in die oë wanneer pasiënte swaai, beter raak.

“Mense besef dit nie, maar ons gaan nog twee, drie jaar van Covid-19 hê.”

“Ek het vandag drie gehad wat die groen lig gekry het, daai oë blink weer.

“En asem. Hulle sê hulle is oukei, want hulle wil teruggaan werk toe, maar ek het so ses trappies wat hulle moet klim om in die spreekkamer te kom, sussie, die Covid-siekes sukkel met daai trappies.”

Covid-19 daagliks op haar ondersoektafel, noodvergaderings, zoom-vergaderings met die minister van gesondheid, Mediese Vereniging, Sahpra, die ministeriële entstof-taakspan waarin sy dien, min ure.

“Pasiënte ken my Covid-19-mantra: 1,5 m afstand, ventilasie, sanitasie, masker. En nét siekes in die spreekkamer.”

“Mense besef dit nie, maar ons gaan nog twee, drie jaar van Covid-19 hê.”

Die koronavirus se Kersfeesverrassing vir Suid-Afrika was sy tweede variant.

“En nou is die entstowwe vervaardig voordat hierdie variant sy verskyning gemaak het. Dié variant het drie mutasies, waarvan twee ons immuunstelsel ontduik. Gelukkig het ons nog min van dié twee mutasies gesien, maar as hulle ook besluit om te hardloop soos hul boetie is ons in die moeilikheid.

"En as jy van die gelukkiges is wat wel ingeënt kon word, gaan jy waarskynlik steeds die virus kan versprei.”

“Boonop gaan min farmaseutiese maatskappye nou sê jammer, my entstof werk nie teen jou variant nie, want hulle wil eers van hul voorraad ontslae raak. Dis hoe kapitalisme werk. Hulle sal sê: ‘Die entstof werk móóntlik teen die nuwe variant en gee jou darem genoeg beskerming teen die eerste een.’ ”

Teen Mei, Junie kom Suid-Afrika se derde vlaag. “Dan is waarskynlik nie eens die helfte van die 67%-teikengroep bo 18 ingeënt nie, en dis die positiewe scenario. En as jy van die gelukkiges is wat wel ingeënt kon word, gaan jy waarskynlik steeds die virus kan versprei.”

Sy kry die indruk die departement van gesondheid dink die inentingsprogram gaan net so maklik wees as om kinders teen masels te immuniseer.

“My dogter Patricia is ’n fisioterapeut, Johann langs haar is opgelei in menslike hulpbronne, doen ons praktyk-administrasie en wil nou medies gaan studeer, Johann, my man is ’n sakeman en Retief ’n hoësorg-tegnoloog.” Foto: Verskaf

“Die realiteit het nog nie regtig ingesink nie. Die AstraZeneca-entstof is getoets op gesonde mense, net 2% van dié wat getoets is, was bo 65, met gekontroleerde bloeddruk en suikersiekte. Ons groot probleem is die derduisende Suid-Afrikaners wat ongekontroleerde chroniese siektes en MIV het.

“Ons moet ons dus voorberei op ’n volgende stel probleme. Daar moet hoogs opgeleide personeel beskikbaar wees om jou te kan help as jy allergies reageer op die entstof.”

En dié wat weier om ingeënt te word?

Sê “ivermektien” en Angelique Coetzee bars uit van die lag.

“Jy kan kies, óf ’n entstof wat jou nie 100% beskerm nie, maar dan kry jy die virus waarskynlik in ’n ligter mate en beland nie in ’n hospitaal nie. Óf jy vat jou kanse met die virus, beland dalk in hoësorg met ’n 50%-kans om te sterf.

“Jou keuse.”

Sê “ivermektien” en Angelique Coetzee bars uit van die lag.

“Ons bly teen ’n koppie in Wonderboom, en ja, die honde kom in die huis!” Foto: Verskaf

“Elke Jan Rap en sy maat skree nou dis ’n wondermiddel, maar ouens, ons het nog nie die studies wat dit bewys nie. Asseblief, as jy dit wil drink, koop dit by iemand wat dit nie op die swartmark gekry het nie en gebruik dit rég.”

Sy was verlede week op die vergadering waar die Beheerraad vir Gesondheidsprodukte (Sahpra) besluit het dokters kan vir deernisgevalle aansoek doen om ivermektien vir pasiënte te gebruik. “Dis besluit weens druk van buite. Hoe kan mense bewys dis ivermektien wat hulle laat herstel het of gesond hou? Ek werk elke dag met Covid-19-pasiënte, gebruik nie ivermektien nie en ek word nie siek nie.

“Al my pasiënte sover het sonder ivermektien herstel.”

“Met Covid-19 het korrupsie nuwe hoogtes bereik."

Spot: “Ek dink ons is hier te kwaai vir Covid-19!”

Die een pandemie in Suid-Afrika ontbloot toe die ander “pandemie”: “Met Covid-19 het korrupsie nuwe hoogtes bereik. Ek het nooit gedink ons kan so korrup wees nie. Die oomblik toe ons sê maskers is nodig, spring die prys van R5 binne drie weke tot R60, en sowaar as vet, die korruptes gebruik toe daai hemelhoë prys as maatstaf en maak dit nóg duurder.”

Covid-19 het reggekry wat Sama nooit kon nie: “Ons het hoeveel keer korrupsie uitgewys, provinsiale hospitale wat nie funksioneer nie, die krisistekort aan staatsdokters. Altyd was die antwoord: Daar is nie geld nie. Nou geld daai verskoning nie meer nie.”

Was sy Desember darem bietjie af?

“Is jy mal? Ek gaan nooit op vakansie nie. Ek wil nêrens heen gaan nie; net by die huis wees met my vyf honde: ’n platneus-pekinees genaamd Lielie; ek love my twee ou rifrûe; en weet jy watter oulike bleddie honde my twee chows is? En ja, al my honde slaap in die huis.”

Saans trek sy die praktykdeur toe, stap oor die straat na haar huis, val op die rusbank neer en kyk na haar gunsteling-sepies. Black-iets, probeer sy die naam onthou, en The Seal Team. “Kan jy glo, van alle dinge.”

In 2004 wou sy Ierland toe emigreer.

En dan raak sy aan die slaap, die meeste van die tyd daar voor die TV.

In 2004 wou sy Ierland toe emigreer.

Sy is ’n pos met ’n vet salaris daar aangebied, maar toe wil haar man, Johann, nie gaan nie. Dan raak sy maar hier betrokke by medisynepolitiek, het sy vir hom gesê, want sy wil nie aanhou kla soos ander dokters en niks daaromtrent doen nie.

“Ek dink nie hy het my rêrig geglo nie,” lag sy. “Ek weet ook nou die geleenthede wat ek in Suid-Afrika het, sou ek waarskynlik nie in ’n Eerstewêreldland gekry het nie. Hier is baie geleenthede en hope goedertrou.”

Sy het medies gaan studeer omdat sy nie van beter geweet het nie, spot sy, en haar drie kinders afgeraai om dit te doen.

Sy beskryf die minister van gesondheid, Zweli Mkhize, as realisties. “Hy weet wat aangaan, maar sy hande is baie keer afgekap; hy het nie beheer oor sekere goed nie.”

Sy en die vorige gesondheidsminister, Aaron Motsoaledi, het ’n aweregse respek vir mekaar. “Ná ’n mediaverklaring twee jaar terug waarin ons gesê het dis ’n treurige dag as die minister van gesondheid eerder aap-probleme in KwaZulu-Natalse hospitale hanteer as om afgestudeerde dokters te help om poste te kry, bel hy my iewers van Afrika en los die probleem blitsig op.

“Nog nooit in sy lewe, seker, het iemand so iets vir hom gesê nie. Ons het steeds ’n oopdeur-verhouding.”

Sy het medies gaan studeer omdat sy nie van beter geweet het nie, spot sy, en haar drie kinders afgeraai om dit te doen. Nou’s al drie betrokke in die mediese wêreld. Haar oudste, Retief, is ’n hoësorg-tegnoloog, middelkind Johann doen die praktyk-administrasie en wil volgende jaar medies gaan studeer; en Patricia is ’n fisioterapeut.

Haar man het in 2014 erge bloeding op die brein gekry toe die lugdruk op ’n vlug Kaap toe ’n aar in sy kop laat bars het. “Dit was ’n aangebore defek waarvan ons totaal onbewus was. ’n Moeilike tyd in ons lewe, maar wat, dit maak jou net sterker.

“Ek lag maar net altyd en sê ek gaan nou na die ouetehuis toe, want my ma bly ook by ons. Sy is in haar tagtigs en afhanklik van suurstof.”

Terwyl sy van haar mense praat, word dr. Formidabel ’n familievrou met ’n gewone huis teen ’n koppie in Wonderboom, met ’n klimraam in die voortuin by haar spreekkamer en ’n paar trappe wat haar help diagnoseer as hulle hyg-hyg daar uitklim. Wat met die groetslag weer sê: “Asseblief, dra jou masker, jy weet nooit of jy die een is wat dit erg kry nie.”

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.