Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Profiele
Hanlie Retief gesels met Annelisa Weiland
Solank ons lag is alles oukei

‘Die ou Hilda het haar hare in ’n bollatjie gedruk, en as daai deli-jurkie aangetrek is, die verpleegsterskoentjies en broek wat heeltemal te groot was, en ek trek my serpie so vas, dan was ek in die Laan, hartjie.”

“Ek en Zara, my Weimeraner. My groot poedel, Jasper, was ongelukkig uit op ’n stappie, en Zara kry toe die alleenreg vir dié foto. Honde is my kinders.” Foto: Elizabeth Sejake.

20 jaar lank het Annelisa Weiland soggens Hilda geword, liewe, koddige, preutse ou Hilda, Oubaas se Nartjiepit.

Sug.

“Maar wragtie, ek is glad niks soos Hilda nie, altans ek hoop nie so nie!”

Nie hierdie boheemse reëlbreker, honde-mal, 38 kg-vyfvoeteen-swaargewig-lewensgenieter nie. Wat tydens ’n onlangse vakansie in die Tsitsikamma in haar kortbroek (by die kinderafdeling gekoop) vir ’n astrante bobbejaan wat haar glas wyn wou gryp, in haar luidste teaterstem geskree het: F*KOF!

“Die bobbejaanmannetjie was pure method acting, sy houding was f*k jou!”

Die lewe was vir my altyd daar om te geniet.

Sy hou van vloek, het hierdie Spinnekopvroutjie, soos Matrone haar in die Laan gedoop het, al aan ’n vrouetydskrif beken. Tobie Cronjé onthou hoe hy Annelisa as jong aktrise een vroegoggend op pad stel toe ontmoet het. Sy het die bussie se trappe onder ’n salpeterwolk kragwoorde bestyg: Wie de *&^! kan hierdie &*&! tyd opstaan!

Die manier hoe Annelisa kragwoorde uiter, het Henry Mylne onder ’n luide gelag op haar afskeidspartytjie vertel, is so uniek en eksentriek soos syself.

Wat nog ál haar tande het, party van hulle net-net, het sy ook al beken. En sy dans soms kaal op haar eie, maar dit verwar werklik die honde. En partykeer, nét partykeer ontstel klassieke musiek haar . . .

“Hier is ek saam met Christo Gerlach. Ek en Joanie Combrink het saam in Sterretjie, ’n Jan Scholtz-TV-drama gespeel.”

Amper twee dekades lank het Annelisa soggens stiptelik om 6:30 op die 7de Laan-stel aangemeld met haar soetkysie vol tekste, kitshawermout, koffie en een piesang.

Einde vandeesmaand is Hilda vir altyd verby. Annelisa trek Kaap toe, waar sy haar in September by die kykNET-sepie Suidooster aansluit. In die nuwe kyk­NET-sitkom, Lui maar op, Belinda, wat die afgelope week begin het, speel sy die militaristiese Annatjie teenoor Brümilda van Rensburg. Sy lyk nes ’n reeksmoordenaar, giggel sy.

Terrrrible. Ek is maar klein, dis 'n feit, en ek het lankal daarmee vrede gemaak dat dit my tipeer vir bepaalde rolle.”

“Langs die animasiekarakter Heidi wat ek gespeel het, met een van die wilde perms uit die jare tagtig.”

Net één keer in haar lewe het sy so amper ’n paar vetrolletjies aangesit. Dit was toe sy as student vir ’n paar maande in Duitsland as kelner gewerk het en van bratwurst en brötchen moes leef.

Annelisa kom uit die goue era van die streeksrade waar sy in verskeie klassieke dramas gespeel het. Haar rol as Ophelia teenoor Cobus Rossouw in Hamlet was ’n hoogtepunt, maar dis met TV-rolle wat sy in die volk se hart geklim het.

Met Dokter, dokter, Drama, drama en al die eerste TV-dramas soos haar hartsvriend Stephan Bouwer se Liesbeth slaap uit, of selfs verder terug as Heidi in die geliefde animasiereeks, het Annelisa Weiland deel geraak van geslagte Afrikaanssprekendes se onthou, so ingebed soos daardie eerste SAUK-toetspatroon.

“Dié foto kom uit die TV-drama Die koster, een van die heel eerste TV-dramas. Stephan Bouwer het die regie gedoen.

“Jitte, onthou jy nog Heidi . . . ek het my absoluut vereenselwig met daai meisietjie. Schnoekie was mos die skapie.” En met die woord Schnoekie hoor jy skielik weer vir Heidi.

“Heidi kon mos minute aaneen lag, dit was nogal moeilik om te doen,” wil-wil die lag voortrol.

Sy onthou hoe naïef en verwonderd sy as dramastudent aan die Universiteit van Kaapstad was. “Ek dink dis die magiese betowering van die teater wat my so aangegryp het. Steeds. Dis daardie passie en avontuur van jou karakter ontdek en om dan, vir ’n paar uur, ’n ander wêreld vir jouself en die gehoor te skep. Jy verloor dit natuurlik met rolprente en TV, daardie direkte interaksie met die gehoor as jy iets sê – tragies óf komies – en die mense reageer daarop.”

As sy terugdink aan die jong Annelisa met die lang wilde hare, voel dit nie juis asof die jare haar verander het nie. “Ek was maar altyd ’n vry mens, met baie vriende en veral baie gay mansvriende. Die lewe was vir my altyd daar om te geniet.

“Jy gaan deur jou lewe en op ’n kol sien jy o jinne hier is ’n plooi by jou nek en om jou oë en elke maand sien jy nog een en nog een, en dan maak jy jouself wys dis goed vir karakterrolle. Maar let’s face it, verskoon die pun, ’n mens lyk beter sonder plooie!”

Annelisa Dora Deborah Weiland se eie draaiboek het op ’n Seepuntse somersdag, 15 Februarie 1949, in die The Inveruge-kraaminrigting begin. Sy het in Vygeboom, Durbanville, grootgeword, die asmatiese redelik opgepiepte meisiekind van ’n Afrikaanse ma en ’n Duitse immigrantepa met ’n tekstielfabriek. “Dis hoekom ek so klein is, al die kortisoon het my groei benadeel. En ek weet asma is ’n siekte, maar ’n deel daarvan is psigosomaties. As ek ’n prentjie van ’n kat gesien het, het dit my ’n asma-aanval laat kry. Genadiglik het ek dit in my tienerjare heeltemal ontgroei.”

Haar ma het die magic van die lewe in haar en haar broer, Ewald, wakker gemaak. “Sy het die lewe gevier. Op universiteit het ek die kans gekry om ’n rol by Katinka Heyns oor te neem, wat vir my ’n verskriklike groot ding was. Ek het opgevlieg Johannesburg toe, en vreeslik in my noppies teruggekeer. In daai dae kon mens letterlik tot by die vliegtuig stap en dis toe nou waar my ma en ’n paar pêlle my ingewag het. Ma Stienie pluk toe ’n bottel vonkelwyn en haar trouskoene uit, want sy het gereken dit was ’n fantastiese geleentheid om vonkelwyn uit haar trouskoene te drink!”

Haar pa, allermins ’n gedissiplineerde Duitser, het hulle toegelaat om die huis op horings te neem en baie partytjies te hou. “Hy het altyd gesê solank ons lag is alles oukei.”

Die ergste ding wat in haar lewe gebeur het, was haar ma se dood, sê sy sonder huiwering. “Ek was in my 40’s en dit was vir my ondenkbaar dat sy nie altyd by my sal wees nie. Ek kon vrede maak met haar dood deur haar gees te probeer laat voortleef.

“My ma het altyd die slap-koejawel gedoen wat sy by die bruin mense geleer het. Om dit te kan doen moet jy kaalbene wees en dan stap jy vorentoe en klap jou een dy op jou ander dy en dan maak dit so ’n plofgeluid. Ná haar dood het ek gedink: oukei, Annelisa, nou moet jy daarmee aangaan. Ek het my vrekgeoefen en nou doen ek ook die slap-koejawel.”

Mét haar dun beentjies, lag sy.

Vir haar was die konvensionele pad van trou-en-kinders nooit ’n opsie nie. “Baie mense sê jou lewe is nie volmaak sonder kinders nie, en vir baie is dit seker so. Ek het my toegespits op my werk, wat bietjie selfsugtig was. My honde is my kinders, al die honde deur al die jare soos Lolita die Weimeraner en Seun die Rottweiler. Honde weet wat jy voel, altyd.”

Sy bly al jare lank op haar eie in haar ruim Auckland Park-huis met die hoë, gedrukte plafonne en die tuin vol jakarandas. In haar lewe was daar twee groot liefdes, maar die rowe is al lankal af. Een was die regisseur Ken Leach.

“Party besluite was reg. Ander verkeerd. Ek is nie spyt oor enigiets nie, mens het jou tyd saam met jou liefdes gehad, goeie tye en miskien nie sulke goeies nie, maar dit was alles reg op sy tyd.”

Voor 7de Laan het Annelisa en haar ouers ses jaar lank in Port Alfred saam met Rosa Keet gebly.

“In dié tyd weg het ek ’n herwaardering gekry vir teater en die bedryf. As jy ’n akteur is en jy werk nie, is jy ’n halwe mens.”

Sy het haarself besig begin hou met filosofie en sielkunde, astrologie en die esoteriese van die lewe.

“Eintlik gaan dit maar net oor energie en siklusse. Dis amper asof ’n mens elke jaar ’n les moet leer, daar is iets wat jy moet oorkom. So kon ek myself beter leer begryp, want ek kon nooit verstaan hoekom my emosionele draadwerk soms oorhoeks is nie.

“Partykeer het mens mos iets in die oog en jy wil hê die lewe moet so uitwerk. Maar die lewe is soos ’n rivier, jy kan dit nie in ’n ander rigting dwing nie.

“Daar is mos twee maniere om oor jou lewe te dink: kan jy die toekoms beheer of is dit vir jou vooraf beplan? Ek dink dis ’n bietjie van altwee. Jy kan nie net op jou gat sit en dink die lewe gaan vir jou uitwerk nie, maar jy kan ook nie druk in ’n sekere rigting as jou lewe nie daarheen wil gaan nie.

“Ek het ook geleer, as daar ’n probleem is, is daar gewoonlik ook ’n oplossing.”

Nou verruil sy haar Auckland Park-huis vir ’n wit ruitvensterhuisie by Blouberg Sands. “Wat ek die meeste gaan mis, is die ruimte van my ou huis en lewe, en waarna ek die meeste uitsien, is ’n nuwe werkomgewing en uitdagings. Bitter min akteurs kan dit bekostig om af te tree, so dis nie asof ek nou gaan aftree nie, ek gaan werk, wat eintlik ’n wonderlike seën is.

“Ek dink mens moet elke oomblik van jou lewe probeer geniet. Dis een van die moeilikste goed om te doen, om in die oomblik te lewe, ek sukkel so daarmee.

“Maar nóú is al wat jy het. Jy het net dié oomblik. Ek is Annelisa Dora Deborah Weiland en die Nou lê in die bakkie van my twee hande.”

Meer oor:  Annelisa Weiland  |  Aktrise  |  7De Laan
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.