Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Profiele
Hanlie Retief gesels met Armand Aucamp

Anee a, Armand, jy sê dan jy kook kaal! terg ’n vrou by Tuis/Home se stalletjie by die Homemakers Expo in Johannesburg, sy soek haar geld terug.

Nou maar dan doen ons dit so, oorrompel Armand Aucamp haar met ’n Hollywood-glimlag en pluk net daar sy hemp uit vir die kosdemonstrasie.

’n Nuwe verhoog vir die akteur Armand Aucamp: kosdemonstrasies ná die verskyning van sy banting-kookboek Armand kook kaal. By die Homemakers Expo het ’n tannie na hom toe gekom en skamerig gesê: “Mooi was nog nooit lelik nie, Armand . . .” Foto: Deon Raath

Jy verwag ’n pers AAA-vleisstempel (ferm snit) op sy biseps. En mmm hy’s sweerlik ’n reduksie van verleë-wees-en-sjarme.

So gaan dit heeltyd sedert dié A-lys-akteur die nuk gekry het om kaal te kook en ’n boek daaroor te skryf.

“Asof ek nie al genoeg rolle gespeel het nie,” grinnik hy droog.

Heeltyd moet hy bontstaan, want die dames dring aan: Kook jy rêrig kaal? Is jy nie bang jy verbrand jou um . . . vingers nie? Moenie die oond te vinnig oopmaak nie . . . O, jy maak biltong-bálletjies?

“Ja, jong, ek’t myself uitgelewer met hierdie ‘kaal’-kook-ding. Dis alles tong-in-die-kies en lekker sports.

“Almal smile, dit breek die alledaagse erns,” vertel hy oor ’n amandelmelk-cappuccino in die Newport Deli in Mouille­punt.

Presies in hierdie stil restauranthoekie het Armand in 2016 met ’n stapel geskiedenisboeke navorsing gedoen vir sy Jan van Riebeeck-rol in die bekroonde fliek Krotoa.

Ons het hom leer ken in die treffer-reeks Die boekklub, waar hy as die koffie-obsessed-semi-hipster Tom in kykers se harte geklim het. Dis die een karakter wat die naaste is aan homself, sê hy.

Sterlopers was die per ongelukkie wat sy TV-loopbaan begin het, toe Terence Bridgett hom saamgesleep het na sý oudisie toe en Armand toe sommer ook ’n oudisie laat aflê het. (“Terence het die woorde gaan uitdruk, dit in my hand gestop en ek moes dit op pad in die kar leer.”)

En by die oudisie wil Armand dood van skaamte, en die regisseur Quentin Krog se kamera is in sy gesig en dis Aksie! “En daar kry ek die rol en dis soos in . . . wow!”

‘Dis vrees wat jou in die kas hou. Vrees dat jy verwerp gaan word?.?.?. Hier sit ek nou. Vir die eerste keer werklik kaalgestroop’.

Die storie loop ook dat Armand se eerste woorde tydens sy oudisie vir Ballade vir ’n enkeling, “Hallo, ek’s Jacques Rynhard”, só smeulend was, met ’n ligte, perfekte irritasie in sy lyf, hy het net daar die rol gekry. En dan’s hy boonop half onbewus hy’s sexy, en dit maak hom net nóg beter, onthou Leon van Nierop. “Charisma, spelersenergie . . . hope daarvan.”

Dié rol het sy #1Hunk-status verseël, asook die romantiese held-rolle.

En Armand het besef sy 80 kg sal ’n 000-vleisstempel moet kry: geen sigbare vet.

Dit was tyd vir bant en nie brood nie.

“Verby was brood met slaptjips in, ja gatsby’s. En garagepaais. King Pie se chicken was ’n firm favorite.”

Hy hou van hofdramas en die een met Tim Noakes was lekker om te volg, vertel hy.

“Tim teen die wetenskaplikes. Ek het eers gedink Noakes is van sy trollie af, maar toe besluit ek: probeer sy dieet, en oordeel hom dan.”

Toe verloor Armand agt kilo’s binne twee maande, sy energievlak styg hoër as dié van ’n Duracell-haas en sy kaalbolyf-Instagrams stoot sy volgelinge op tot 27 000.

“Ek het gestroopte, ongeprosesseerde kos ontdek, die hele Naked Chef-ding van Jamie Oliver.”

Armand “verskuif grense” met sy bant-keto-kookboek, skryf Noakes op die voorblad.

En dis maar wat hy altyd doen: Sy verhoog verskuif van klavier- en saksofoon-uitvoerings op skool, tot Shakespeare tot kosprogramme, deesdae op Via.

“Ek wou nog altyd akteur word, maar was altyd te bang iemand sê ek is nie goed genoeg nie.”

“Ek wou nog altyd akteur word, maar was altyd te bang iemand sê ek is nie goed genoeg nie.” Foto: Edrea du Toit

Dit is half die storie van sy lewe, knik hy.

En toe, pas ingeskryf vir ’n BRek by Maties, ry hy stil-stil Kaap toe vir ? oudisie by ’n dramakollege en dra, van alle dinge, Thabo Mbeki se “I am an African”-toespraak voor.

“En daar begin die nuwe pad. Ook na selfontdekking.”

Behalwe vir plaaslike rolle, speel Armand in die een internasionale trefferreeks ná die ander. En tussen-in, Shakespeare.

Sy showreel wys hoe hy verkleurmannetjie speel: In Homeland arrogant in ’n restaurant totdat Peter Quinn sy gesig in ’n bord kos stamp, as Britse offisier in The Book of Negroes, met pistool en perfekte aksent, in Knysna waar Frans oor sy lippe rol.

Jare se musieklesse op Stellenbosch het sy oor ingestel op klank, en vreemde aksente is nogal sy ding, wat hom ook rolle besorg.

Sy heel eerste reël in ’n internasionale produksie was: “Are you filming my girlfiend?” En tussen slukke cappuccino én lagbuie deur, hoor ons hom dit sê in Iers, Duits, Yank- en Boere-Engels . . .

“Die Suid-Afrikaanse “girlfriend” raak “gûrlfriênd”, plat en aards, ons is ge-earfff . . .”

Dis ’n verkleurmannetjie-lewe. Die buzz om saam met Idris Elba op Robbeneiland Xhosaliedjies uit volle bors saam met die ekstras te sing.

Een aand in Nova Scotia, Kanada, tydens die verfilming van The Book of Negroes kuier die akteurs in ’n klein restaurant. Armand sit tussen Aunjanue Ellis en Cuba Gooding Jr. en vergaap hom.

“Ek sou dink, hoop, iemand soos Cuba sou nederig wees, maar hy het nogal ingekoop op die idee van ’n diva. En dêmmit, hy ís so ’n goeie akteur. Maar daar was baie ego en baie skree: Bring die duurste wyn! Hierdie kos is koud!”

Dalk oor daardie gebeitelde kakebeen, kry Armand baie periode-rolle.

“Ek het seker ’n tipe gesig wat daarin pas. En ek love dit, eintlik alle toneelspel, en hoe meer jy daai selfbewustheid verloor, hoe beter raak jy as akteur.”

Hy huiwer. Dit raak stil tussen ons. En skielik verander die uur.

“Laat ek jou dit vertel. Laat ek jou dit sê . . .”

Hy huiwer weer.

“Vir die eerste 24 jaar van my eie lewe kon ek nie in my eie skoene staan nie.”

Hy kyk op, sy oë sag en groot en bruin, en dan deel hy sy hart, versigtig, huiwerig, heeltemal.

Nie die akteur nie, die mens. Armand.

“Ek het rondgeloop met iets wat ek nie eens aan myself kon noem nie: Ek is gay.”

Eintlik was hy kleinseuntjie al so. Eintlik maar nog altyd.

“Ek dink nie jy kan dit rasionaliseer as jy klein is nie, dis instinktief en kompleks. Jy weet net hierdie meisie is my beste maatjie, maar ek wil nie eendag haar man wees nie.

“Ek was nogal goed daarmee om dit te ignoreer. Die gedagte kom, en dan laat jy dit gaan.”

Só het hy onder die radar aangegaan, die seun van die historikus-pa en Afrikaanse lektor-ma, gekoester in ’n huis vol boeke en drome, die A-kandidaat van die Paul Roos Gimnasium.

Maar met elke meisie wat Armand gehad het, het iets bly haper.

“Jy probeer jouself heeltyd verander, want jy wil nie teen die norm ingaan nie. Jy woel jou vas en naderhand begin jy alles wat jy is bevraagteken, dit betrek jou hele wese. Jy hou van hiérdie musiek, hiérdie klere.

“So, dit begin by jou seksualiteit, maar dis jou hele identiteit.

“Dis vrees wat jou in die kas hou. Vrees dat jy verwerp gaan word deur jou familie. Verwerp deur vriende, deur vreemdelinge, deur ’n gehoor, deur werkgewers. Gay, nog altyd, in elke teaterstuk, elke romantiese rol. Maar gaan jy nog werk kry as die wêreld weet?

“Eers op 24 kon ek deur hierdie oorheersende vrees breek. Toe kom ek uit vir my familie en vriende en kollegas.”

Sy ma en pa het hom omhels, gesê hulle is lief vir hom. “Soos altyd, was hulle daar vir my. Ek is so gelukkig. En toe het ek net begin eerlik leef. Ek het myself belowe ek klim nooit weer terug in die kas nie.”

Die berg was van sy skouers af.

“Vir die eerste keer kon ek vlieg. Maar dit was moeilik, ook. Ná 24 jaar moes ek daarmee deal.”

’n Maand later het Armand besef hy moet ander mense ook kans gee om daaraan gewoond te raak, “om ook daarmee te deal” – met die hergekalibreerde Armand.

Van sy familie of vriende se kant was daar geen veroordeling nie.

“Maar vreemdelinge? Jy sien dit in hul oë, so ’n huiwerende kyk wat jou in ’n boksie probeer druk.”

Mense staan elke dag op met dit wat hulle is, sê hy. Eintlik kom ons almal elke dag uit die kas.

“Met jou geslag. Jou ras. Jou taal. Jou seksualiteit. Dis wat jy is, dis jou identiteit. En as jy eerlik is, is dit die lewe wat jy leef.

“Ek het op 24 op iemand verlief geraak. Ek het hom bewonder vir wie hy is, en dat hy sy lewe so eerlik leef. Dit het my die moed gegee om dit self te doen.”

Armand is nou 32.

“In die bedryf weet almal ek is gay, maar dis nie iets wat ek al na buite toe gesê het nie. Ek is steeds huiwerig.”

Hy glimlag effens. “Vrees is ’n vreemde monster, gee hom ’n stukkie brood, dan verorber hy jou hele hand.”

Of ’n stukkie vleis as die monster bant . . . bars ons uit van die lag.

“Ek weet net vandag ek wil so na as moontlik aan my outentieke self wees. Dis so hectic hoe hard ons op onsself kan wees, hoe genadeloos.

“Ek lees ’n ongelooflike boek, al vir die derde keer: Marianne Williamson se A Return to Love. Sy leer jou presies dit: Keer terug liefde toe, ook vir jouself. Ons is so wreed met mekaar, ’n ouer wat vir sy kind sê: Jy sal dit nooit kan regkry nie. ’n Couple wat opbreek en mekaar verwond met woorde.

“Maar dis nie ’n aks van hoe wreed ons teenoor onsself is nie. Dit het my nogal hard geklap.”

Hy glimlag, en sy gesig is oneindig oop.

“So, hier sit ek nou. Vir die eerste keer werklik kaalgestroop.”

En hy kóók.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.