Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Profiele
Hanlie Retief gesels met Athol Trollip
Die meter wat sy moer reguleer

‘Ek noem hom my moermeter. Hy skiet vinnig die rooi in,” trek Athol Trollip sy dun posbuslippies in ’n wrang glimlag.

Selfs die twee Bybels hier onder sy neus, die dikste een nogal op goddelik geïnspireerde leierskap gerig, is nie altyd bestand teen die berugte Trollip-moermeter nie.

Athol Trollip by die stadsaal in Govan Mbeki-laan, Port Elizabeth, waar die koalisiedramas van die metro soos ’n sepie afspeel. foto: Donna van der Watt

Maar toe die UDM-raadslid Mongameli Bobani in die eerste ronde van ’n wantrouemosie sy arm om Trollip se nek sit, hom op sy bleskop soen en toesnou: “Ek het jou gewen, f**k jou”, was die eerwaarde burgemeester ’n tempel van kalmte.

Bobani, voorheen adjunkburgemeester in die DA-koalisie, is Trollip se nemesis in die gure twis wat in die Nelson Mandelabaai-metropool voortwoeker.

Terwyl die TV-kameras rol, het Bobani alles probeer om die Trollip-moermeter te aktiveer. Toe hy sy hand omtrent in Trollip se gesig druk vir Trollip om te skud, het dié hom ignoreer.

“Toe stap hy verby my en skree vir die swepe: ‘f**k you, you useless white people’. Elke keer as hy opstaan om te praat, het hy my skouers ’n stywe knyp gegee. Dis net met die genade van God dat ek dit kon regkry om nie te reageer nie. My vriende kon nie gló ek het nié Bobani se nek vir hom geknak nie!

“Ek is bly die land kon dit op TV sien. Dit was aaklig. Nou skielik gee (die UDM-leier) Bantu Holomisa vir Bobani ’n laaste waarskuwing, ná 26 briewe en maande se vergaderings.”

Hy gaan haal twee dik lêers en plak hulle op die raadstafel neer. “Laat ek jou iets oor Holomisa vertel . . .”

Die raadstafel is sy werkplek, want die groot lessenaar en burgemeesterstoel voel vir hom te formeel.

Dáár, wys hy afkeurend na 'n metersbreë leë houtraam teen die muur, dáár het 'n kosbare 19de-eeuse Africana-skildery gehang. Op 'n tafel reg onder die skildery, het die vorige burgemeesters (Faku, Maphazi, Wayile, Fihla en Jordaan) se kookkan heeltyd staan en stoom.

“Dit het die skildery erg beskadig, dis nou weggestuur om te kyk of dit herstel kan word.”

Athol en Janine is in November 2016 in ’n woud getroud. Sy moes vinnig leer die politiek is ’n wildernis.

Hy druk sy vinger op nóg 'n Dear General-aanhef in die twee lêers met 26 briewe en hope dokumente oor die “ongoing issues”’ met Bobani.

“Jy dink ek is te kras? Jy dink dis vir my net my way or the highway? Inteendeel.”

Die moermeter was al in die rooi toe Trollip ’n private gesprek met Holomisa aangevra het.

Oor borde afval en hoenderpote in 'n Gautengse restaurant tree Trollip toe die kortgebakerde generaal in Xhosa aan.

“ ‘Luister’, sê ek vir hom, ‘ek het nou álles probeer met hierdie ou van jou. Jy het ’n blindekol oor hom, jy verdedig hom. En ek weet hoekom: julle het geld van die ANC gevat en hy weet dit en jy weet dit en jy kan nie teen hom optree nie.’

“Holomisa het so vaal om die kiewe geraak. Nie oor wat ek gesê het nie, maar oor ek dit geweet het. Net daar land ek toe op sy swartlys. Hy het my beskuldig van baasmanskap, geblok op Twitter, uitgekryt as ’n rassis.”

Die oorlog tussen Trollip en Bobani het begin toe die koalisie nog Pamper-doeke gedra het.

Bobani wou hê Trollip moes ’n prokureur R1,8 miljoen kommissie betaal vir die hantering van die geld vir die Baai se korrupte geïntegreerde openbare vervoerstelsel (ITPS).

Trollip het aangedring op ’n prokureursrekening.

“Lank daarna kom die rekening, en dis goed soos: e-pos geantwoord: R75 000. Brief geskryf: R25 000. Oproep geneem: R15 000. Nie eens náby R1,8 miljoen nie.”

Ons sê elke Suid-Afrikaner het die reg op ’n stukkie grond, mét titelakte. Dit gaan oor eienaarskap. Met ? titelakte plant jy ’n boom in jou tuin.

Toe Bobani hoor Trollip gaan die prokureur nie betaal nie, want “ons is g'n eiendomsagentskap nie, ons betaal nie kommissie nie,” het hy dit verloor.

“Hy skree op my ‘ek is jou adjunk-burgemeester! Jy moet vir my luister! Jy moet hom betaal!’”

Van toe af is dit kaalvuis in die Baai. Handskoene af.

Maar in die grande finale loop die samespanning tussen die UDM, EFF en ANC om van Trollip ontslae te raak hulle toe vas teen 'n veteraan wat al die truuks van koalisiepolitiek ken.

Trollip kry toe 'n hervormde gangster en sy Patriotic Alliance-party asook die African Independent Congress (AIC) as nuwe koalisievennote, en siedaar, ’n nuwe meerderheid.

Die tweede poging tot ’n wan­trouemosie het laas week in chaos verdaag en daar sit Trollip toe droëbek en sy faait gebeur nie.

“Ek hou nie daarvan om te wen sonder om te wen nie. Ons wou stem, want ons sou wen.”

’n Mynveld, koalisiepolitiek . . . vra maar vir Angela Merkel, grinnik hy.

“Maar weet mooi: in die NMB-metro gaan dit nie oor wankelrige koalisies nie, dit gaan oor partye wat nie die demokrasie respekteer nie.

“As jy by jou beginsels hou, moet jy bereid wees om weg te stap, al sit jy dan weer in die opposisiebanke.

“Die EFF lieg as hulle sê hulle kelder nou die DA-koalisies omdat ons nie grondonteiening sonder vergoeding in die parlement wou ondersteun nie. Reeds in Desember het die EFF gesê hulle gaan ’n burgemeester verwyder en dit gaan nie ’n swart een wees nie.”

Die berugte Bobani-oomblik toe die Trollip-moermeter in bedwang kon bly. Foto: Deon Ferreira

Die EFF het Trollip in 2016 beïndruk tydens hul koalisie-onderhandelinge. “Hulle was nogal afsydig en vasbeslote om onafhanklik te bly.”

Dan lui Trollip se foon. Dis Mmusi Maimane. Hulle praat oor Patricia de Lille wat op daai einste oomblik vir die DA 'n toffie wys op die EFF-verhoog by die Winnie-gedenkdiens in Brandfort.

“Dis wat ek sou gedoen het . . .” bied Trollip raad vir sy leier aan.

Hy sit sy selfoon neer.

“Laat ek net een ding sê: ek is ook ’n burgemeester en ek het baie bewondering vir Patricia. Maar Patricia doen haar eie ding. En ons moet baie versigtig wees vir ongebreidelde mag. Dit laat jou maklik kop verloor.

“Sy trek ’n Zuma op ons. Dan’s dit dít, dan’s dit dát, dis heeltyd hier te lank, daar te kort, dan moet haar dissiplinêre verhoor in die openbaar wees. Waar is ’n dissiplinêre verhoor ooit in die openbaar gehou? Sy wil slagoffer speel, man.”

En die massas volgelinge wat saam met haar hul blou DA-hemde gaan uittrek?

Nee wat, skud hy kop. “Haar ondersteuners raak al hoe minder. Power goes where power is.”

Later whatsapp hy: “Uitdagende gedrag van ’n DA-burgemeester . . .”

En van uitdagende gedrag gepraat, die man wat Trollip se witheid wou keelaf sny, is tydens die koalisie-onderhandelinge fyn deur Trollip dopgehou.

Hy beskryf Julius Malema as arrogant, veeleisend, manipulerend, maar hy hou by sy woord.

“Desember was ’n moeilike maand vir die EFF. Die ANC het ontslae geraak van Zuma sonder EFF-hulp én besluit op onteiening sonder vergoeding. Die twee snare van Julius se kitaar is daarmee heen. So, wat was oor vir die populiste?”

Krap met die Julius-vinger in die diep rassewonde van ons land.

Aan wat beskryf word as Malema se mees fascistiese opmerking – dat hy die DA se wit man in Port Elizabeth gaan keel afsny – steur Trollip hom min.

“Hy’t sy hand oorspeel, Suid-Afrika het genoeg gehad van rassepolarisasie. Ek is daarna oorval met steun uit swart geledere, ook van ANC-lede.”

‘Ek is ’n liberaal. Maar in regering moet jy ook pragmaties wees’

Die afgelope DA-kongres was nie net vir Trollip 'n persoonlike sukses met sy herverkiesing as federale leier nie, hy is ook “bly daar is nou ’n stuk blou water tussen die EFF/ANC en die DA oor grondregte.

“Baie mense sê ons is ANC Lite, dat ons nie juis verskil van Ramaphosa se ANC nie.

“Ons het met ’n oorweldigende meerderheid besluit om art. 25 van die Grondwet (die eiendomsklousule) in sy geheel te ondersteun.

“Die ANC en EFF wil grond onteien sonder vergoeding, die staat moet die grond besit en almal moet bywoners in hul eie land wees.

“Ons sê elke Suid-Afrikaner het die reg op ’n stukkie grond, mét 'n titelakte. My vraag is, hoekom het soveel mense nog nie titelaktes gekry nie? Ek, Solly (Msimanga, Tshwane-burgemeester) en Herman (Mashaba, Johannesburg-burgemeester) deel titelaktes nou soos soetkoek uit.

“Dit gaan oor eienaarskap. Met 'n titelakte plant jy ’n boom in jou tuin, verf jou voordeur. In die townships sien mens duidelik watter huiseienaars titelaktes het, en watter nie.

“Daar is 4 000 plase wat (vir grondoordrag) klaar gekoop is, en nou braak lê omdat die boere nie bystand kry nie. Met 0,002% van die begroting vir grondhervorming kan die ANC mos nie ernstig wees nie.”

Die idee van ’n sogenaamde “Afrika-liberalisme” is deeglik op die beraad gedebatteer, sê Trollip.

“Daar ís nie so iets nie. Liberalisme is liberalisme. Ek is oor die radio gevra hoekom die DA nie wérklik verander nie, selfs die Kerk van Kantelberg kry nou vrouepredikante . . .

“Maar ons lyk totaal anders as in 2002. Agt van ons nege provinsiale
leiers is swart. Tye verander, maar die Anglikaanse Kerk is steeds ’n Christelike organisasie. So is ons steeds ’n liberale party.

“Plak die liberale etiket aan my, maar vra wat die ANC is . . . ’n rasgedrewe nasionalistiese party. En die EFF? 'n Rasgedrewe fascistiese organisasie.”

Al die -ismes is in elk geval aan die verdwyn, knik hy. Nasionalisme, sosialisme, liberalisme.

Behalwe pragmatisme.

“My hele lewe in die opposisie is ek ’n liberaal. Maar in regering moet jy ook pragmaties wees, en dis presies wat ons is.”

Athol Trollip staan nie terug vir ’n bekgeveg nie, maar weet hoe om sy humeur in bedwang te hou wanneer dit nodig is. Foto: Donna van der Watt

Nog blou water tussen die DA en die ANC is die feit dat hulle besluit het om nié 'n demografiese kwotastelsel vir hul leierskorps in te stel nie.

Die media het die wedloop tussen hom en Solly Msimanga vir die federale leierskap 'n rasse-een gemaak, sê Trollip. “En as ek sou wen, sou die DA dan kwansuis terugbeweeg het. Maar as ons ’n party vir alle Suid-Afrikaners is, moet Solly én Athol kan wen, ongeag velkleur.”

In die minute voor die uitslag van dié verkiesing, was Trollip soos ’n eend op ’n dam. Oënskynlik kalm, maar onder het die spanning hom geroei.

Die man het selfs ’n sigaar gerook.

En toe wen hy Solly net-net?

“Waar hoor jy dít? Nonsens. Ek het met 60% gewen, en daar was drie kandidate.”

En hoe het hy en Janine – nou 18 maande getroud – sy herverkiesing gevier? Klein suggie. Frons.

“Eintlik het dinge bietjie skeef­geloop . . .”

Toe Trollip se naam uitgeroep is, het Janine langs hom in die stormloop per ongeluk 'n paar stampe gekry en die gebruiklike gelukwensdrukkie van vroulief het nooit gebeur nie.

“Sy is 'n wonderlike, diepgelowige vrou en die politiek is geweldig veeleisend. Sy’s saam met my deur lang nagte van stres en dinge.

“My eerste vrou het net moeg geraak vir die eise van ’n politieke loopbaan. Ons is geskei ná 27 jaar.”

Dié naweek kon hy darem die “skeefloop” met die nuwe koalisie in sy lewe besweer met 'n romantiese padrit na Greyton toe, waar sy seun gister getrou het.

Aai. Was dit maar so maklik met die politieke koalisies in Nelson Mandelabaai.

Meer oor:  Athol ­Trollip  |  Hanlie Retief  |  Nelson Mandelabaai  |  Da
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.