Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Profiele
G’n kroek staan ’n kans
Hanlie Retief gesels met Attie Engelbrecht
Een storie wat almal jou vertel van luitenant-kolonel Attie Engelbrecht kom uit die jare toe hy nog ’n jong kapteintjie met ’n eighties-snor en ’n André Stander-bril op Paulpietersburg was.

Een storie wat almal jou vertel van luitenant-kolonel Attie Engelbrecht kom uit die jare toe hy nog ’n jong kapteintjie met ’n eighties-snor en ’n André Stander-bril op Paulpietersburg was.

Attie Engelbrecht buite die kantoor van die eenheid teen georganiseerde misdaad in Vryheid. Hy is min op kantoor en ry tot 10 000 km per maand. Foto: Jandri Barnard

Twee oumense het naby die polisiestasie gebly. Attie-hulle het naderhand die oom en tante se roetine goed geken, hoe die oom klokslag soggens sewe-uur in sy kamerjas uitskuifel en die traliehek oopsluit vir die huiswerker.

Een oggend gaan daar ’n helse skoot af. Attie storm die polisiestasie uit. Twee inbrekers het die oom by die hek oorrompel en aangehou met messe. Toe hy hulle moes wys waar die geld is, het die oom ’n laai oopgetrek, sy rewolwer uitgepluk en die een rower geskiet.

Toe Attie daar instorm, lê die een rower gewond en smekend op die grond. Die ander een het weggehol.

Attie het koeltjies by hom gaan sit en in Zoeloe gesê hy sal ’n ambulans bel, maar eers sal hy net wil hoor wat sy makker se naam is . . .

As ek nie positief was oor die polisie nie, sou ek nie nog hier gewees het nie.

Die rower het soos ’n kanarie getjirp en selfs sy misdaadvennoot se klere in detail beskryf. Toe sê Attie: “Moenie worry nie, die ambulans is in elk geval op pad” en gaan vang die ander kroek.

Attie is knaend, ja, beskryf ’n aanklaer hom.

’n Swak verloorder. Verpes die polisieterm “saak ondersoek, onopgespoor”.

As Attie ’n vertrek inkom, weet jy dis ’n Poot. Jy weet dit net. Die lug voel killer.

Om veediefstalle te ondersoek lê Attie na aan die hart. Dit help hom nog altyd baie dat hy Zoeloe vlot kan praat, veral in die landelike gebiede. Hier is hy iewers in 1996/7 in ’n helikopter afgeneem tydens ’n veediefstal-optrede in Wintershoek, Louwsburg. Foto: Verskaf

Baard. Bietjie van ’n bles. Blou blokkieshemp by die kakiebroek.

Vaalseun wat jou toesluit as jy nonsens aanjaag. Hy skop nou wel nie die deur af nie, maar jy wéét die deur gaan val.

G’n kantoordiertjie dié nie.

Attie is hoof van die eenheid teen georganiseerde misdaad in Vryheid, KwaZulu-Natal. Hulle doen die moeilike goed. Transitorooftogte, plaasmoorde, taxi-oorloë. Die Rafferty-moorde se baasbrein het hy binne dae gevang en in ’n rekordtyd van twee weke lewenslank gevonnis gekry.

Attie ry gemiddeld 6 000 km per maand agter sake aan.

Onder Attie en sy sidekick, Bushie, wen Vryheid se taakspan die een prys na die ander.

Beter poliesname sou ’n speurskrywer kwalik kon uitdink: Attie en Bushie kom jou haal . . . Vryheid se Starsky & Hutch (ook uit die 80’s). “En daar’s Doep en Sticks, Bheke, Philani, Ma­sango, Madids en ons ‘ma’ Ria ook.”

Attie ry gemiddeld 6 000 km per maand agter sake aan. In die week van ons onderhoud was hy binne twee dae op vyf plekke in twee provinsies, warm op die spoor van ’n verdagte.

Daai tipe knaendheid kom al van doeriejare toe hy as 19-jarige konstabel fietsdiefstalle moes ondersoek.

’n Ontspanne oomblik in 2007 by Paulpietersburg se dam op ’n pel se motorfiets.

“Toe ek speurder wou word, het die grootmanne gesê ek is te jonk. Uiteindelik het hulle my aanvaar, maar net vir gesteelde fietse en klere wat van wasgoedlyne verdwyn. Ja, rêrig,” lag ons.

Dit het hom oneindig plesier gegee om die klaers, die kindertjies, se gesigte te sien as hy hul fietse terugkry. “Met die wasgoed was ek nie so suksesvol nie.”

Dit was ook ’n leerskool vir deesdae se hartseer afsluitings ná moorde wanneer hy vir die slagoffers se geliefdes kan sê: Hulle krepeer nou in die tronk.

“Ek voel nog presies dieselfde oor my werk, ek raak deesdae net gouer moeg.”

Hy praat vlot Zoeloe, sy ma het vertel hy kon Zoeloe praat voor Afrikaans, sy plaasmaatjie het hom geleer.

Hy het grootgeword op ’n plaas naby Vryheid, “toe join ek die polisie en sien die wêreld”. Sy pa en oupa was boere, dis in sy DNS. Sy eie stukkie grond 12 km buite Vryheid is die wegkruipplek waar hy weer mens kan wees tussen die voëlgeluide. “ ’n Stad maak my benoud, ek wil nie my buurman se musiek hoor nie,” brom hy. Liewer sy eie boeremusiek en country, en (natuurlik) 80’s-liedjies.

Die dag ná sy matriekuitslae, 28 Desember 1983, het Attie by die polisie aangemeld. “Hoekom? Want ek was oortuig ek gaan nie matriek deurkom nie!”

Ná kollege is hy uitgeplaas Richardsbaai toe. Hy praat vlot Zoeloe, sy ma het vertel hy kon Zoeloe praat voor Afrikaans, sy plaasmaatjie het hom geleer.

“Die liewe Here het geduld by my weggevat en toe gee Hy my Zoeloe,” sê hy laggend. “As ek heeltyd moet wag vir ’n tolk, bliksem ek hom. Of sny my polse.”

Die jong speurder in 1986, tydens ’n kerkdiens vir Magtedag in Richardsbaai.

As hy nou Bheki Cele was (minus die hoed, beslis) het “minister” Attie Engelbrecht daarop aandring dat polisielede die taal van die omgewing waarin hulle werk, praat.

Hy weet nie of hy sonder sy Zoeloe naastenby soveel veediefstalsake sou kon oplos nie.

“Dis nie net ’n moerse hulpmiddel nie, dit dwing respek af. Ons weet mos hoe lekker dit is as mense Afrikaans met ons praat.”

Hy raak nostalgies as hy terugdink aan sy 13 jaar by die veediefstal-eenheid. Grond, vee, veld, ’n onopgeloste saak en ’n bedonnerde boer.

“Ek was 32 en toe vergeet hulle my op Paulpiet.”

“As jy by ’n boer kom ná sy vee gesteel is, is hy altyd bedonnerd. Jy is die eerste ou wat kom help, maar hy haal sy kwaad op jou uit. Dis lekker om die kroeks te vang en die smaail weer terug op sy gesig te kry.”

In 1997 is hy bevorder tot kaptein en verplaas Paulpietersburg toe. “Ek was 32 en toe vergeet hulle my op Paulpiet.”

Vir 20 jaar lank is Attie nooit bevorder nie. Hy het dit maar altyd met ’n skouerophaal en ’n flou laggie verduidelik: “My dogter was in graad een toe ek ’n kaptein geword het, en toe sy 30 word, was ek dit nog steeds. Daar kom dae wat jy net jou bleddie pen en tools en badge wil neergooi en huis toe gaan en nooit weer terugkom nie. En dan begin jy maar weer en dis lekker en jy maak iewers ’n deurbraak en voel weer nodig. En so gaat jy aan.”

Ná 24 jaar en twee maande is hy uit die bloute bevorder. Dit was die direkte gevolg van resultate, moordenaars wat hy vang. Hulle kon hom nie langer nié bevorder nie.

Attie saam met die Van Rooyens, kort ná die vonnisoplegging. By hom is Karlien, Tokkie en Billy se suster, Elaine van Rensburg.

“Dit was net vir my wow, uiteindelik het iemand dit raakgesien.”

Hy gee ’n tevrede laggie, die lekkerte kom uit sy maag: “Dit was net vir my so ’n klein motivering gewees, man, dit was great.”

Sy ondersoekeenheid se eerste groot deurbraak was in 2016, binne maande ná hulle gestig is: die Van Rooyen-plaasaanval.

Terwyl hy vertel, klink dit soos ’n Deon/Rudie-duimsuig, maar met die maagdraai-kinkel: Dis allesbehalwe fiksie.

Dink jouself in: Sy vrou Karlien, met hul twee kindertjies, en die twee mans vir wie sy die meeste omgee, lê sterwend op die stoep.

Die Van Rooyens het al jare ’n familiesaak op Swart Umfoloos: winkel, slaghuis, motorhawe en drinkplek. Hul huise was agter die winkels.

En toe breek 19 April 2016 aan.

“Die aanvallers het gedink daar is ’n hangkas vol geld by oom Lodie en tannie Tokkie. Dit was ’n wilde aanval met AK-47’s, R1’s en handwapens, die plek was besaai met patroondoppies.”

Toe die honde blaf en Billy gaan ondersoek instel, is hy net daar op die stoep geskiet, sonder eens ’n woord.

’n Onlangse foto In Port Elizabeth toe hy vuurwapens ballisties laat ondersoek het. Foto: Verskaf

Sy skoonpa het by hulle gekuier en hy is ook geskiet. Hulle is altwee later dood. Dink jouself in: Sy vrou Karlien, met hul twee kindertjies, en die twee mans vir wie sy die meeste omgee, lê sterwend op die stoep. Die aanvallers het haar rondgeruk, maar sy kon gelukkig wegkom.

“Oom Lodie is verskriklik aangerand. Tannie Tokkie was in die bad, en sy kon gelukkig in die badkamer wegkruip.

“Al waarmee die aanvallers weg is, was ’n geweer en R1 000, die aandgeld van die petrolstasie. Daarvoor het hulle twee mense doodgeskiet.”

Jy hoor hoe dit hom persoonlik raak, die deurdringendheid in sy stem.

Binne drie maande is al nege aanvallers gevang en 15 wapens teruggekry.

En toe, vertel hy verder, begin die speurwerk. Met net één vingerafdruk by ’n venster – grinnik – “niemand het sy ID-boek vir ons gelos nie”.

Binne drie maande is al nege aanvallers gevang en 15 wapens teruggekry. “Ons het hulle een vir een gekry. In 2019 is hulle gevonnis. Intussen het een selfmoord gepleeg in ’n polisiesel, die ou wat die getaway-taxi bestuur het, het staatsgetuie geword. En toe bêre ons hulle met lewenslank . . .”

Attie se oog vir detail is sy X-faktor, vertel twee aanklaers. ’n Briljante ondersoekbeampte, sy wens sy kon hom kloon, sê die een. “Sy dossiere is perfek, daar is nie ’n ander manier om dit te beskryf nie. Dis in sy dossiere waar jy Attie Engelbrecht leer ken.”

Hy glo nog ouskool in informante en voete op die grond, daad en derms. Volledig is baie belangrik, is sy motto. Die hele grimmige prentjie.

By sy werklessenaar in sy plaashuis, waar hy baie ure deurbring. Foto: Verskaf

Só kon hy Sizwe Tell Zwane, die baasbrein agter Glen en Vida Rafferty se moord, vaspen. Zwane se windgatgeit was sy ondergang.

“Bushie is goed met selfone, en toe hou ons hulle op Facebook dop. Zwane brag toe lekker op Facebook hoe die Valke hom in 2017 nie kon vang nie, en hoe hy Bheki Cele gaan dronk maak. Hy deel toe ’n selfie, maar blur die straatname op die foto uit. Maar in die agtergrond was daar ’n kar met ’n logo van die Durban-munisipaliteit op sy deur.”

Bingo.

’n Skuldigbevinding is lekkerder as om ’n nuwe polisiekar te ry, lag hy.

“Maar die Oubaas daarbo het ander planne met my gehad . . .”

“ ’n Speurder se werk is eers klaar met die skuldigbevinding. Die vonnisoplegging bepaal net hoeveel biere ons agterna wegsit . . . maar moenie my quote nie!”

Attie het op 43 ’n baie ernstige hartaanval gehad. Eintlik vier vinnig ná mekaar voor hy uiteindelik by die dokter kon uitkom.

“Maar die Oubaas daarbo het ander planne met my gehad . . .”

Dinge het op daai stadium swaar gegaan met die Engelbrechts. Annamarie, sy vrou, het kanker gekry. Attie het hom omtrent dood gewerk, want hy moes haar help met haar onderneming en na die kinders omsien. Hy’t sy lessenaar slaapkamer toe geskuif om snags, as hy dossiere deurwerk, by haar te kon wees.

Om in KwaZulu-Natal te werk pas Attie soos ’n handskoen, dis ook sy grootwordwêreld en die Sharks laat sy hart vinnig klop. Foto: Verskaf

“Toe pak my tickertjie op. Driedubbele hartomleidings verder was ek weer terug by die werk.”

Dit het hom respek vir die lewe gegee. ’n Mens is mos roekeloos, nè, tot jy amper doodgaan.

En vir die dood het Attie al baie in die oë gekyk. Selfs in dreigemente van vrotappel-kollegas as hy polisiekorrupsie ondersoek.

Met die Van Rooyen-saak het ’n gevangene vir hom in die tronk ’n papiertjie gegee met sy kar se registrasienommer op. “Hulle het vanuit die tronk beplan om my te skiet. Sulke goed maak my skrikkerig, maar ek glo die Oubaas kyk na ons en ons is opreg en eerlik.

Ma Erna het vertel Attie wou van kleinsaf ’n poliesman word. Maar daar was die stadium toe hy gewonder het oor predikant . . .

“As ek nie positief was oor die polisie nie, sou ek nie 38 jaar later nog hier gewees het nie. En ek wil dit graag vir jou sê, dit gaan nie oor my nie, dit gaan oor die polisie. Daar is slegte polisiemanne, k*kslegte polisiemanne, maar daar is ook dié wat hul gatte af werk en hul lewens gee vir die polisie.”

Ma Erna het vertel Attie wou van kleinsaf ’n poliesman word. Maar daar was die stadium toe hy gewonder het oor predikant . . .

Ons bars uit van die lag oor dié angswekkende prentjie. “Ek sou my gemeente omtrént op hol gehad het.”

Nou doen hy dit met die kroeks.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.