Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Profiele
Van sypaadjie tot mynbaas
Hanlie Retief gesels met Bontle Aphane
Bontle Aphane se pad tot die bopunt van ’n raadsaaltafel, as baas van ’n steenkoolmyn, het op ’n sypaadjie in Marabastad, Pretoria, begin.

Bontle Aphane se pad tot die bopunt van ’n raadsaaltafel, as baas van ’n steenkoolmyn, het op ’n sypaadjie in Marabastad, Pretoria, begin.

Bontle Aphane (regs) en haar ma, Gladys, wat haar as laerskoolkind naweke en vakansies saamgesleep het om te help klere smous in Marabastad, Pretoria. Die straatslim-lesse wat Bontle daar geleer het, help haar nou as uitvoerende hoof van die Arnot-myn. Haar ma was by die opening van die myn en sy kon nie ophou sing nie, sê Bontle. Foto: Deon Raath

Daar het sy as laerskooldogtertjie naweke en vakansies saam met haar ma klere gesmous, daar het sy van vasbyt geleer en wat die woord “straatslim” rêrig beteken.

Sy hoor nog haar ma, Gladys, se woorde 24/7 in haar ore: Bontle, sorg dat jý nie eendag ’n sypaadjiesmous soos ek is nie. Kind, kom êrens in die lewe.

Bontle is maar net 32 en al lyk dit of die deur van swart ekonomiese bemagtiging vir dié sjarmante uitvoerende hoof van die Arnot-myn oopgeswaai het, asof haar beentjies te kort is vir die myn se hoërug-raadsaalstoel, was haar pad boontoe allesbehalwe maklik en totaal merkwaardig.

Sy is een van agt afgelegde Exxaro Resources-werknemers wat die Arnot-myn, naby Middelburg in Mpumalanga, gekoop het. Die myn het nog 190 miljoen ton steenkoolreserwe, maar toe Exxaro se 40-jaar-ooreenkoms met Eskom verval, kon hulle nie ’n nuwe een beding nie. Die myn is in 2015 gesluit.

Vir die eerste keer in Suid-Afrika is mynwerkers nou die eienaars en aandeelhouers van die myn waar hulle gewerk het.

“I’m just a young black girl,” noem sy haarself.

Gladys Aphane het van kleinsaf vir Bontle geleer om entrepeneuries te dink. Foto: Deon Raath

Maar dié jong sypaadjie-entrepreneur het met dié historiese mynooreenkoms geskiedenis gemaak.

Haar loopbaan as elektriese ingenieur het letterlik heel onder begin in ’n skag in die Matla-myn, waar sy as jong Tukkie-gegradueerde vir twee jaar ondergronds gewerk het om touwys te raak.

Op haar eerste dag beland sy saam met ’n moerige vakman met ’n voorliefde vir die F-woord. “Hy bulder: Bring vir my ’n shifting spanner. En shucks, ek weet nie wat’s ’n spanner nie, ek is ’n meisie, ek maak nie karre reg nie. Ek stap na die gereedskapskis, vrekbang, want almal skreeu om my en hierdie ou gaan my vloek. Dit was regtig tough! Maar toe skop Marabastad se sypaadjievaardighede in, ek trek ’n assistent-outjie nader en smeek: Help! Hy het só gelag! En ek is met die regte spanner daar weg . . .”

Ongeag hoe rassisties en seksisties mense is, as jy waarde toevoeg, vergeet hulle die res.

In haar eerste twee mynjare het Bontle die vloekende vakman soos ’n skaduwee gevolg, almal het naderhand gedink hulle het ’n verhouding, lag sy, maar sy wou soveel moontlik by hom leer.

“Dit was die hardste twee jaar van my lewe, ek wou eintlik net weg, maar met R400 000 se studieskuld kon ek nêrens heen nie.”

Sy lag gereeld en heerlik, soos musiek, en daar’s niks uitvoerende-hoof-belangrikheid aan haar nie. Inteendeel, sy’s effe oorbluf oor die aandag.

Bontle Aphane, uitvoerende hoof van Arnot Opco. Sy het saam met sewe kollegas die Arnot-myn by Middelburg, Mpumalanga gekoop na die myn in 2015 toegemaak het. Foto: Deon Raath

Eintlik was dit nooit gladdepad vir Bontle nie.

Daar was nie eens hoërgraad-wiskunde- en -wetenskaponderwysers by haar hoërskool in Soshanguve nie. Die skool kon net driekwart van die kurrikulum afhandel, sy moes maar self in die boeke gaan duik en kers opsteek by ouer, slim townshipkinders om ’n moeilike formule vir haar te verduidelik.

Haar ouers kon nie help nie – haar pa sit Telkomlyne op vir ’n bestaan en haar ma is byna ongeletterd.

Sy lag gereeld en heerlik, soos musiek, en daar’s niks uitvoerende-hoof-belangrikheid aan haar nie.

“Ek het geweet dis ek en ek alleen.”

Bontle het ook geweet as sy nie in die top-vyf in haar graad is nie, is ’n beurs neusie verby en die sypaadjie haar voorland.

Sy vertel haar storie of dit die gewoonste ding op aarde is: Die eerste “gelukskoot” was toe Eskom haar op hoërskool begin borg. Die topvyf is met Eskombeurse universiteit toe. Sy het tweede gestaan, pruim haar mond, maar die topleerling is nou ’n aktuaris en steeds die slimste ou wat sy ken . . .

Bontle Aphane, wat ná haar graad in elektriese ingenieurswese by Tukkies haar beurs by Exxaro Resources gaan terugwerk het. Toe die Arnot-myn sluit, het sy en sewe kollegas ’n plan beraam en die myn gekoop. Foto: Verskaf

Sy het elektriese ingenieurswese gekies omdat sy bietjie van elektriese stroombane in die skeinatklas gehou het. Net daaroor. Van beroepsvoorligting was daar g’n sprake nie.

By Tuks was sy, anders as haar onseker mede-eerstejaars, lankal onafhanklik, verstom daar bestaan iets soos tutors en mentors om jou te help.

Ewe verstom, ook, toe sy besef ’n mens se horisonne kan wyer wees as net werk en oorleef.

Sy vertel haar storie of dit die gewoonste ding op aarde is: Die eerste “gelukskoot” was toe Eskom haar op hoërskool begin borg.

“In Marabastad sê die mense: Geld gaan na die rykes. Tshelete e ya Tsheleteng. Ek het nooit besef mens kan droom van groot dinge en dat hulle selfs waar kan word nie.”

In haar tweede jaar tref die volgende “gelukskoot”.

Bontle het toevallig ’n vriendin raakgeloop – “op ’n sypaadjie in Marabastad, waar anders!” – wat onderweg was vir ’n beursonderhoud by die mynmaatskappy Exxaro Resources. Die taxibestuurder het haar vriendin R100 vir die rit gevra, terwyl Bontle geweet het dit kos eintlik R8. Toe ry sy maar saam om seker te maak haar vriendin word nie verder verneuk nie.

Bontle Aphane

Ná die vriendin se onderhoud roep Exxaro se amptenare vir Bontle in, onder die indruk sy’s die volgende kandidaat.

Hoe meer sy protesteer dat sy klaar ’n Eskombeurs het, hoe meer sê hulle hulle soek vroue in elektriese ingenieurswese, en bied haar net daar ’n beter beurs aan.

Só beland sy, ’n graad later, blinkoog by die Matla-myn. Twee jaar later was dié jong vrou ’n voorman. “Maar ek het steeds gevoel niemand neem my ernstig op nie, weet nie mooi hoe om ’n vrou in die harde mynomgewing te hanteer nie.”

In haar tweede jaar tref die volgende “gelukskoot”.

’n Sessie by ’n beroepsielkundige het die derde gelukskoot gebring.

“Ek het vir haar gesê ek was my lewe deur slim en knap, maar as ek iets in die raadsaal sê, ignoreer hulle my. Ek het niks meer selfvertroue nie. Die sielkundige het my lewe verander. Haar raad was om één ding te vind wat my sal laat uitstaan. Want ongeag hoe rassisties en seksisties mense is, die oomblik as jy waarde toevoeg, vergeet hulle die res.”

Nadat sy die bestuurspan se KPA’s bestudeer het, het sy besef die “een ding” was energiebesparing by die myn. Sy gaan doen toe ’n Tukkie-honneurs in kragbesparing en groen energie – en binne ’n jaar was die Arnot-myn die enigste in die Exxaro-groep om hul kraggebruikteikens te haal.

“En die bestuurspan kry toe vet bonusse,” lag sy.

Van daar af het dinge handomkeer verander.

“Die sielkundige het gesê die dag as hulle ’n vergadering kanselleer omdat ek nie daar kan wees nie, moet ek weet: ek het dit gemaak.”

In 2014 is sy beloon met ’n senior ingenieurspos by Arnot, maar ’n jaar later is die myn gesluit...

Die dag toe dít gebeur, kon Bontle nie die glimlag van haar gesig afkry nie.

In 2014 is sy beloon met ’n senior ingenieurspos by Arnot, maar ’n jaar later is die myn gesluit en 1 200 werknemers is afgelê. Bontle ook.

Vier werknemers het selfmoord gepleeg, huwelike en ondernemings het gevou, gesinne het verhonger.

Net voordat die deure finaal gesluit het, ’n dag voordat Bontle se kraamverlof sou begin, stap ’n kollega haar kantoor in met ’n mal idee: Kom ons koop die myn.

Die entrepreneur binne haar spring orent en sy sê: Registreer ons, ek kry net gou my baba . . .

“My ma het my mos geleer van sypaadjie-strategieë!”

“Ons het hom met ’n slap riem gevang. Hy dag nog dit gaan oor vakbondprobleme, toe daag al agt van ons daar op en sê ons wil die myn koop.”

As klein Bontle iets vir skool nodig gehad het, sou Gladys vir haar ’n sak lekkers koop om by die skool te smous.

Nadat sy haar ma terugbetaal het, kon Bontle dan met die wins koop wat sy nodig gehad het.

Met Gladys se kleindogter op pad, kon die amperse ma nie die amperse ouma se ingedrilde leeflesse ignoreer nie.

Sy lag uit haar maag, daardie Bontle-borrellag, en sê gelukkig verstaan haar man, Kagiso Mafatshe, ’n meganiese ingenieur en universiteitsliefde, haar willewragtiglewe.

“Drie weke later bel my kollega: Ons weet jy het ’n baba, maar kom lei gou die vergadering met Mxolisi Mgojo, Exxaro se uitvoerende hoof.

“Ons het hom met ’n slap riem gevang. Hy dag nog dit gaan oor vakbondprobleme, toe daag al agt van ons daar op en sê ons wil die myn koop.”

“Jy dink nie, jy doen.”

Sy reaksie: Heelwat groter kanonne as julle piepkuikens wou al en kon nie . . . Maar Dawid hét vir Goliat oorwin.

Hul afleggingspakkette en pensioen-uitbetalings was saadkapitaal. Heel naïef het hulle geglo hulle kan die myn binne ses maande heropen. “My dogter is so oud soos die transaksie, sy word nou vyf . . . en darem begin ons September myn.”

Net om Eskom en Exxaro om een tafel te kry om die transaksie te beklink was ’n twee jaar lange eierdans. “Boonop het Eskom elke drie tot ses maande van uitvoerende hoof verander. Elke keer, nét voordat ons die kontrak teken, word ons die oggend wakker en lees: Eskombaas bedank . . . Gimme a break!

Toe hulle verlede jaar amptelik oorneem, was die myn vol vloedwater en die infrastruktuur óf stukkend óf ontkoppel.

Wescoal is ingebring as tegniese vennoot, met 50% aandeelhouding. Bontle en haar sewe vennote besit 25% en die 1 200 werknemers wat voor Desember 2015 daar gewerk het die res.

“Wescoal betaal die rekenings, maar ons moet steeds sny tot die been. Ons gebruik klein kontrakteurs wat vir ’n fraksie van die geld presies dieselfde werk doen. Verbasend wat mens kan regkry deur net buite die boks te dink, sonder burokratiese rompslomp, maar wél met streng regulering teen korrupsie.”

Arnot Opco wil diversifiseer in sonpanele en windkrag.

Toe Wescoal haar vra om die myn se uitvoerende hoof te word, was sy uit die veld geslaan. Sy het die ondersteuning van die myngroepe, en Wescoal borg haar Harvard-kursus in uitvoerende leierskap.

As ’n deur oopgaan, al is dit ook ’n vriendin se taxideur, glip Bontle daardeur. “Jy dink nie, jy doen.”

Ons kyk deur die venster na die koeltorings van Arnot-kragstasie met hul wit stoomwolke – krag-dinosourusse van ’n vergange era.

En soos Bontle destyds geleer het om ’n vleiende rok aan ’n oorgewig klant te smous, met sjarme kon keer dat die klant aanstap na die sewe ander gogos met presies dieselfde handelsware op dieselfde sypaadjie – só is sy reeds aan die “groenplanne” beraam om die myn tot skoon energie te lei.

Hanlie Retief

Arnot Opco wil diversifiseer in sonpanele en windkrag. En die hektare landbougrond in die myn se besit gaan ontwikkel word tot voordeel van die gemeenskap.

Sy het geen einde nie.

Waar die moedelose mynwerkers aanvanklik hul nuwe baas met agterdog bejeën het (“Bontle ken nie eens ’n spanner nie, nou’s sy ons baas!”) is hulle nou ewe hard aan die geld spaar.

Toe Bontle vir Covid-19-regulasies ekstra hekke wou aanbring, het die veiligheidswag ’n goedkoper plan bedink.

Hy is immers ’n aandeelhouer.

Sy kan nie anders as om te glo in goddelike ingrype nie, sê Bontle. Verwonderd. “My lewe se verloop is amper te vreemd om te glo. Ek en my gesin is mal daaroor om vakansie te gaan hou op stil eilande soos Madagaskar.

“Om daar te kan snorkel . . . ek sou dit nooit as kind eens kon droom nie.

“En . . . ék, hoof van ’n myn!”

Sy lag vir die soveelste warm keer.

“Maar die lekkerste, belangrikste ding is dat ons almal hier by Arnot werk vir ’n hoër saak. Ons wil vir die wêreld wys mynwerkers kán ’n myn besit en laat werk. Dat nie net ’n klein groepie ryk word nie, maar almal daarin kan deel. Dis hoekom ek hier is.”

Tshelete e ya Tsheleteng. En ware rykdom lê dieper as ’n steenkoolmyn.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.