Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Profiele
LUISTER: Hanlie Retief gesels met brig.-genl. Gerhard Kamffer
“Is jy die enigste wit generaal oor in die weermag?” vra mense hom. “En: hoe hou jy dit uit?” Gerhard Kamffer antwoord hulle elke keer, sonder omhaal: “In 26 jaar het ek nog geen vooroordeel ervaar nie. Net positiwiteit. Kom ek vertel julle hoekom...”

Van ’n boerklong op Balfour tot ’n wit brigadier-generaal in die post-’94-weermag wat praat by die begrafnis van die laaste oorlewende Rivonia-verhoorde.

“Ongehoord. Net in Suid-Afrika. Gerhard Kamffer, met sy doktorsgraad in geskiedenis, skryf nou sy eie geskiedenis . . .”

Op Andrew Mlangeni se begrafnisdiens het die bekende weermaggeneraal Keith Mokoape dié woorde vir sy vrou, Gwen, gesê. Gwen is struggle-adel – Tokyo Sexwale se suster.

“Ek en Gwen ken Gerhard al soveel jare. Ons het bevoorreg gevoel om dié historiese moment met hom daar op die podium te kon beleef,” vertel genl.maj. Mokoape gister.

Gerhard se toespraak, waarin hy die verbintenis tussen Mlangeni en die weermag verduidelik het, was direk ná pres. Cyril Ramaphosa se huldeblyk aan dié eerbiedwaardige struggle-held.

Ongehoord. Net in Suid-Afrika. Gerhard Kamffer, met sy doktorsgraad in geskiedenis, skryf nou sy eie geskiedenis . . .

In die weermag is Kamffer gewoond daaraan om voor mense te praat, vertel hy, maar in die gewyde atmosfeer met die donker kis en gedrapeerde landsvlag voor uitgelese begrafnisgangers moes hy eers vinnig ’n sluk water neem voordat hy verhoog toe is.

“Nou moet hierdie Boertjie styfstaan, het ek besef. En toe ek daar staan, sjoe, ek het gevoel ek is deel van hierdie land, en dat ons almal net moet saamwerk . . .”

Benewens sy gesin is die groot liefdes in Kamffer se lewe die weermag, geskiedenis en seëls versamel. Sy doktorsgraad was oor die geheimediens van die Zuid-Afrikaansche Republiek (ZAR). Daar was geen inligting hieroor nie, en toe spoor Kamffer-hulle eendag vergete lêers op wat sedert 1900 in die staatsargief in Pretoria gelê en stof vergader het. Sy meestersgraad hieroor was só omvangryk dis opgegradeer na ’n doktorsgraad, iets wat selde in die akademie gebeur.

Seëls en geskiedenis is Gerhard Kamffer se passie. “Die koevert is op 17 Junie 1901 gepos uit die konsentrasiekamp in Heidelberg na krygsgevangene C.J. Jacobs in Ceylon“Foto: Verskaf

Sy seëlversameling is een van die grootstes in Suid-Afrika. The Road to Democracy in SA up to 1994 is in 2017 en 2018 internasionaal bekroon. Dié versameling sal in 2021 die tema wees van ’n internasionale uitstalling in die Erehof in Kaapstad.

“’n Unieke poskaart op 12 Julie 1902 gepos vanaf die “Native Refugee Camp” op Heidelberg tydens die Anglo-Boereoorlog. Dit was die konsentrasiekamp vir swart mense in Heidelberg.”

Seëls is klein simbooltjies van ’n tydgees. As filatelis wat simboliek ken en waardeer, beteken sy optrede by die Mlangeni-begrafnis vir Kamffer die wêreld.

“Net die blote feit dat ’n wit weermaggeneraal gevra is om te praat oor ’n lid van die Rivonia-verhoor, sê alles. Ek het soveel positiewe terugvoering gekry.”

Hierdie regop generaal met die grys kwas-snor bemoei hom in sy vrye tyd met terugkykdinge en vergane eras. Wat hom bly fassineer van die tema van sy doktorsgraad is die tyd van die Anglo-Boereoorlog, en spesifiek die gesofistikeerdheid van Paul Kruger se staatsadministrasie. “Almal dink hulle was ’n spul primitiewe boere, maar Paul Kruger – al was hy ongeletterd – het hom omring met ’n briljante klomp Hollanders wat ’n baie moderne staatsdiens bedryf het. Daar was selfs ’n geheimediens, omdat die ZAR hom vir oorlog moes voorberei.”

En Paul Kruger wat glo korrup was? Ons eerste staatskaper? “Daar is al baie daaroor bespiegel, maar ek dra nie kennis daarvan nie.”

Hy het ’n volledige studie gedoen oor die geskiedenis van kommando’s in Suid-Afrika – vanaf 1715 tot 2003, toe die kommando’s ontbind is.

Sy oupa was tydens die Rebellie waarnemende kommandant van die Heidelberg-kommando, vertel hy trots. Heidelberg was nog altyd die Kamffers se heimat. Dit was vir hom ’n groot oomblik toe hy in 1988 bevelvoerder van dié kommando geword het en die familietradisie kon voortsit.

Net die blote feit dat ’n wit weermaggeneraal gevra is om te praat oor ’n lid van die Rivonia-verhoor, sê alles. Ek het soveel positiewe terugvoering gekry.
Gerhard het Andrew Mlangeni vroeër vanjaar by sy huis in Dube, Soweto, besoek om hom mee te deel van sy erekolonelskap. Foto: Verskaf

Maar Kamffer kyk nie net in die truspieël nie. Hy gryp ook graag verandering aan. Tans is hy deel van ’n beplanningsgroep wat kyk hoe dit wat verlore gegaan het met die sluiting van die kommando’s herstel kan word in ’n nuwe reserwemag-inisiatief, die Mzansi Home Guard.

Naamsveranderinge in die reserwemag is sý verantwoordelikheid, soos die South African Irish Regiment wat nou herdoop is tot die Andrew Mlangeni-regiment.

“Dit was ’n vrywillige proses waarin eenhede self kon kies of hulle hul name wil verander.”

Die hoof van die weermag, genl. Solly Shoke, het hom ook aangestel om Projek Koba-Tlala (Tswana vir “beveg hongerte”) te lei. Dié projek se doel is om kleinboere en gemeenskappe rondom weermagbasisse ekonomies te help ontwikkel.

Andrew Mlangeni
’n Gedenkkoevert met van die lede van die Rivonia-verhoor, geteken deur Andrew Mlangeni.

“Genl. Shoke wil hê dat kommersiële boere opkomende boere moet help, met die weermag wat voorrade by hulle aankoop. Hy het egter benadruk dat ons hiermee nasiebou moet bevorder, wit boere moet óók voordeel hieruit trek. So ’n gesindheid van ’n weermaghoof gee mens hoendervleis. Al is daar soveel negatiwiteit tussen wit en swart in ons land, het ek in al my jare as wit generaal nog nooit enige negatiwiteit teenoor my ervaar nie. Ek dien op die Leërraad – die Leër se ‘kabinet’ – en daar is ’n positiewe gesindheid en waardering vir mekaar, sonder spanning.”

Hy sê die “briljante jong offisiere” in die weermag wat ná apartheid grootgeword het, gee hom hoop vir die weermag.

Op die ou end, sê Gerhard, gaan alles maar net oor ’n mens se ingesteldheid. “Drie jaar terug het ek ’n hartomleiding gehad en dit net-net gemaak. Meeste mans raak depressief agterna, maar op my het dit die teenoorgestelde uitwerking gehad.”

Vir Kamffer was dit ’n tweede kans. Elke oggend as hy opstaan, is dit vir hom ’n aansporing.

“Ek slaap snags net vyf uur, soggens sesuur is ek al op kantoor. Ek is so gemotiveerd en dankbaar, ek gaan net aan.”

Drie jaar terug het ek ’n hartomleiding gehad en dit net-net gemaak.

Hy was vroeër vanjaar betrokke by die aanstelling van Mlangeni as ’n erekolonel van die leërhoofkwartier-eenheid. “Ek was kort voor sy dood by sy huis in Dube om hom daarvan te gaan vertel.”

Mlangeni was ’n nederige gentleman wat alles veil gehad het vir die land en erg gekant was teen korrupsie, vertel Kamffer. “Hy het almal met soveel respek hanteer.”

Vir Kamffer was dit ’n behoefte om vir Mlangeni se naasbestaandes te vertel hoekom die weermag hom erkenning gegee het – oor die rol wat hy gespeel het om Suid-Afrika demokraties te maak en oor sy positiewe lewenshouding. Sy aanstellingsertifikaat as erekolonel is by die begrafnis aan sy familie oorhandig.

Ná meer as 46 jaar as reserwemag-offisier het Kamffer vir Mokoape in 2013 opgevolg as direkteur van die Suid-Afrikaanse Leër se reserwemagte.

1988: Bevelvoerder van Heidelberg-kommando.

“Ek is ’n vrywillige soldaat, nog nooit lid van die staandemag nie. In 1994 wou baie wit offisiere nie onder die nuwe regering dien nie, maar ek het besluit: Jy kan net ’n verskil maak as jy binne die stelsel bly. Pik Botha het dit aan my beaam.”

Kamffer het grootgeword op ’n plaas naby Balfour. Hy kon Zoeloe praat vóór Engels. Van kleins af het sy ouers hom en sy suster geleer om mense te respekteer, ongeag hul kleur of kultuur.

“My pa het gesê hy kan nie winteraande in die koue Balfour in ’n warm bed slaap as hy weet sy werkers of hul kinders slaap koud nie. My ma het een keer ’n week vir al die plaaswerkers gekook. Dit het my geleer jy mag nie in oorvloed leef terwyl jou naaste swaar kry of honger ly nie.”

Op Pukke se studenteraad het Theuns Eloff sy oë verder “oopgemaak”, vertel hy. “Dit was ’n jaar ná die 1976-onluste en Eloff het ’n groot impak op my gehad, ons het begin uitreik na ander bevolkingsgroepe op ’n baie sensitiewe tyd.”

Daar was baie voormalige MK- en Apla-lede en dit het my tot ander insigte gebring. Jy besef skielik daar is ’n ander kant, jy verstáán die ander kant.

Die akademikus Theo Venter was destyds Kamffer se kamermaat. Hulle is al 45 jaar pelle. Venter vertel dat Kamffer se kop akademie toe gestaan het, maar toe sy pa in sy honneurs­jaar in geskiedenis skielik oorlede is, moes Kamffer gaan boer.

“Maar hy boer toe nie net nie, hy bly aktief betrokke by die weermag én bou een van die grootste seëlversamelings in die land op wat hom wêreldwye erkenning besorg het.”

Toe tref ’n trauma die Kamffers: Hul plaasvoorman word vermoor in een van die eerste plaasmoorde in Suid-Afrika.

’n Droogte en dié plaasmoord het die Kamffers die swaar besluit laat neem om Rustfontein te verkoop en Pretoria toe te trek.

Kamffer het weer op sy militêre loopbaan in die burgermag gefokus. In 2000 het hy in ’n staf- en bevelskursus onder die topdrie geëindig. Hy was die enigste burgermaglid tussen die voltydse soldate. “Daar was baie voormalige MK- en Apla-lede en dit het my tot ander insigte gebring. Jy besef skielik daar is ’n ander kant, jy verstáán die ander kant.”

Kamffer het oudpres. Kgalema Motlanthe ook vanjaar goed leer ken. Motlanthe is beskermheer van 2021 se internasionale seëluitstalling. “Hy het só belang gestel in my versameling, my inloer by hom was naderhand drie uur lank.”

Motlanthe het veral belang gestel in ’n historiese brief wat Nelson Mandela 36 jaar gelede uit die Pollsmoor-gevangenis aan Kaiser Matanzima, sy neef en tuislandleier van Transkei, geskryf het. Kamffer-hulle het dit in die hande gekry oomblikke voordat dit in Umtata versnipper sou word.

Nelson Mandela se striemende brief uit Pollsmoor-gevangenis aan Kaiser Matanzima, sy neef en tuislandleier van Transkei. Dié brief is gered net voordat dit versnipper sou word. Foto: Verskaf

Mandela het geantwoord op ’n brief waarin Matanzima hom probeer oortuig het om na ’n tronk in die Transkei oorgeplaas te word. “Mandela het ferm nee gesê. Hy het Matanzima op sy tradisionele naam aangespreek, Ngubengcuka, en daarmee bedoel: Ons is altwee Xhosas van dieselfde stam, maar jy werk saam met die Nasionale Party en hul tuisland-idee, jy laat ons in die steek. Mandela het die brief op sý tradisionele naam, Dalibunga, onderteken.

“Is dit nie ’n ongelooflike brief nie,” raak hy opnuut begeesterd.

Oor Mandela, Motlanthe en Mlangeni as simbole van die waardes van ’n vergane ANC, en die korrupsie en wanbestuur van hul opvolgers wil hy hom nie uitspreek nie.

“Dit help nie om te sit en tob daaroor nie. Aan sekere dinge kan jy niks verander nie.

En dan probeer ek verduidelik dat dít wat ons nou beleef ’n oorgangstyd is, ’n regstelling. En dat ons dit moet deursweet en verwerk en uiteindelik ’n nuwe balans vind.

“As mense my iewers in my uniform sien, kom sê hulle ek is seker die enigste wit generaal wat in die weermag oor is. Nee, daar is nog . . . Dan vra hulle: sjoe, hoe hou jy dit daar? En dan probeer ek verduidelik dat dít wat ons nou beleef ’n oorgangstyd is, ’n regstelling. En dat ons dit moet deursweet en verwerk en uiteindelik ’n nuwe balans vind.

“Verder fokus ek op my werk, dan oorval die negatiwiteit my nie. En as ék mense positief benader, reageer hulle positief.”

Sy seëlversameling is ’n mosaïek van die verlede. Klein blokkies geskiedenis.

“Ek kyk hulle so en sien nie ’n geskiedenis wat ons in ’n greep van verbittering moet hou nie, maar simbole wat ons moet help om deur hierdie moeilike tussentyd ná apartheid te kom. As ’n mens nie die geskiedenis aanvaar nie, kan jy nie vorentoe nie.”

Sy voorsaat Lorenz Kamffer het in 1685 uit Duitsland hier aangekom. Willem Adriaan van der Stel het die plaas Muratie aan hom toegeken. Hy het verlief geraak op ’n slavin, Ansela van de Kaap. “Sy kom uit Wes-Afrika en ek is ’n afstammeling van hul oudste seun.”

Eintlik sê dit alles, nè. Afrika. Ons. Verweefd.

“Ek gaan nie my wortels hier optrek nie, al drie my seuns ook nie. Ons is Lorenz Kamffer se nasate. En sy Wes-Afrika-vrou s’n. Ons kontinent. Ons grond. Ons moet dit net saam maak werk.”

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.