Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Profiele
Ware hart klop in dié ridder se lyf
Hanlie Retief gesels met Carel van Heerden
By ’n stopstraat in Koster het Carel van Heerden haar gesien. ’n Ou dame in haar 80’s in ’n blou rok met wit kolle en ’n groot breërandhoed. Sukkelend het sy ’n kruiwa bult-op gestoot na die waterwerke toe.

By ’n stopstraat in Koster het Carel van Heerden haar gesien. ’n Ou dame in haar 80’s in ’n blou rok met wit kolle en ’n groot breërandhoed. Sukkelend het sy ’n kruiwa bult-op gestoot na die waterwerke toe.

Eiendomsontwikkelaar Carel van Heerden en sy gesin het in 1996 uit Roodepoort Koster toe getrek, en in 22 jaar het hy gesien hoe die dorp se munisipale dienste agteruitgaan. Hy kon nie meer toekyk hoe die gemeenskap vir dae aaneen nie water het nie. Toe wen hy 31 hofsake teen die munisipaliteit en die inwoners bedryf nou tydelik die riool- en watersuiweringsaanlegte. Foto: Deon Raath

“En dit gaan swaar, die heupe is ook nie meer wat hulle moet wees nie. Op die kruiwa was twee leë kanne en tóé raak ek hartseer, want sy weet nie eens of daar water is nie, sy loop in die hoop dat daar is.

“Ek kry die prentjie nie uit my kop nie, want dit kon my ma gewees het.”

Ons ry in Carel se Corsa-bakkie. Sy kneukels trek wit om die stuurwiel as hy uitswenk vir ’n slaggat.

“Ek sal in Cyril Ramaphosa se gesig vir hom sê: ‘Wat jy nou hier toelaat hoort nie so nie, mnr. Ramaphosa.’

“Sal jy toelaat dat jou vrou twee kilometer loop vir water, mnr. Ramaphosa? Nie? Hoekom laat jy dan toe dat ’n vrou van 80 dit doen?”

Nog dieselfde dag het Carel by sy tuinhekkie uitgestap, af in die pad na Andreas Peens, sy prokureursvriend.

Wee’ jy ou swaer, ons kan mos nie dié dinge toelaat nie.

Dink jy ek sou lekker gespeel het? Terwyl ek weet ander mense kry swaar?

Andreas het Carel só gesit en kyk en gesê: “Carel, kom ons vat hulle.”

“Soos ek, het hy daai dag ’n harts­besluit geneem. Ons het besef: Nou vat ons die groot manne met enorme kapitaal agter hulle, aan.”

Die twee sit toe af na adv. Danie Wijnbeek, die seun van Swartruggens se Dopperdominee.

Dit was ’n gewerskaf om ’n gat in die rouwaterdam by Koster se watersuiweringsaanleg te reg te maak. Die hele gemeenskap help om die infrastruktuur wat vir jare verwaarloos is, te herstel. Dié foto is ’n week gelede geneem. Die rouwaterdam loop nou vol water. Foto: Deon Raath

“Danie het self nie veel motivering nodig gehad om ja te sê nie.”

En só maak dié boksombende toe geskiedenis deur met ’n hofbevel die riool- en watersuiweringsaanlegte van die Koster-munisipaliteit oor te neem.

Vir die eerste keer het ’n regter openbare bates van ’n munisipaliteit weggeneem en vir inwoners gegee.

Drie dae later het Koster se mense skoon water gedrink, en die rioolwerke wérk nou weer ná maande se stilstand.

Carel is ’n eiendomsontwikkelaar. Hy was die nasionale eisebestuurder by ’n groot versekeringsmaatskappy voor hy en sy gesin in 1996 van Roodepoort Koster toe getrek het.

Willie Jones, wat verantwoordelik is vir die tegniese bestuur van die riool- en watersuiweringsdienste.

“Ons het ons kinders hier grootgemaak. Liezl is ’n prokureur, en Ané wat Desembermaand trou, het haar honneurs in sielkunde. Liezl het met ons buurseun getrou, die kleinkinders kuier heen en weer tussen die oumas en oupas.”

Dis Utopia, sê hy behaaglik.

Agter sy huis is ’n vrugteboord met oom Sarel-perskes en geelpruime.

In 22 jaar het Carel gesien hoe die dorp agteruitgaan, hoe die armstes aan die kortste ent trek.

Die punt is, nooit ooit weer wil hy weer deel wees van ongeregtigheid nie.

“Ek kan maatskaplike ongeregtigheid nie verdra nie. In my dienspligjare het ek as offisier die troepe geleer om dood te maak. Mens probeer dit vergeet, dit was ’n sinnelose oorlog, al het jy dit nie toe besef nie. Ek het baie vriende verloor. My broer was in drie landmynontploffings elke keer ál oorlewende – dit het hom ’n jaar in Denmar laat beland. Hy is nou ’n pastoor en sy lewe gaan aan.”

Die punt is, nooit ooit weer wil hy weer deel wees van ongeregtigheid nie.

Hy fluister dit amper: “Ek verdra dit nie.”

Die leë rouwaterdam by die watersuiweringsaanleg. Die modder en slik word met moeite uitgeskep, en dit moes eers droog word. Dit het vyf volle werkdae geneem.

Maar, terwyl die dorp soms drie weke lank nie water gehad het nie, het hy “soos almal” apaties gestaan en toekyk.

Tot Koster se erfbelasting in 2010 na eiendomsbelasting verander, en heffings oornag van R60 na R600 verhoog is.

“Toe ek die munisipale bestuurder daaroor konfronteer, antwoord hy: ‘We are the law. If we must, we will change the law.’ ”

Hulle het die munisipaliteit 31 keer hof toe gesleep en elke keer gewen.

En só het Carel se hofpad met die munisipaliteit begin. Die hooggeregshof het in 2017 bepaal dat die munisipaliteit R45 miljoen se onwettige erfbelasting aan huiseienaars moet terugbetaal.

Vier jaar lank het Carel dié geveg alleen baklei. Dit het hom R1,2 miljoen gekos, waarvan hy R1,1 miljoen teruggekry het. Sy oorwinning het Koster se mense laat besef hulle kan terugbaklei teen droë krane en onverwerkte rioolvuil in die strate.

Carel, Andreas Peens en Wilhelm Roché van Swartruggens het die Koster Derby en Swartruggens Saketrust (KDS) gestig. Dit sluit die belastingbetalersvereniging (Carel), regsdienste (Peens), landbou (Roché, as voorsitter van die distrikslandbou-unie in Swartruggens) en ingenieurs- en tegniese dienste onder Willie Jones in.

Silwerskoon water, ná die suiweringsproses. Jy kan dit drink, sê Carel van Heerden. Voor 7 Januarie was dié water vol rioolvuil. Foto’s: Deon Raath

Hulle het die munisipaliteit 31 keer hof toe gesleep en elke keer gewen.

“Ons is bevoorreg, hier is ’n paar welgestelde manne wat vir ons geld voorskiet. Hulle weet darem hulle gaan dit terugkry.”

Carel-hulle het nie net gewen nie, maar in 2018 en 2020 ses weke op ’n keer die dorp se waterwerke met ’n hofinterdik by die munisipaliteit oorgeneem.

Verlede Desember het Carel sy gogo-met-kolletjiesrok-oomblik gehad.

“Elke keer met die betogings teen die munisipaliteit was ons water vir dae afgesny. Die lorries wat water aan die townships lewer, is boonop afgebrand.”

Verlede Desember het Carel sy gogo-met-kolletjiesrok-oomblik gehad.

Met ’n hofaansoek van 1 200 bladsye vol foto’s en hommeltuigvideo’s kon Carel-hulle aan regter Samkelo Gura bewys hoe die munisipaliteit Koster se splinternuwe R144 miljoen-rioolaanleg gesaboteer het.

Hulle kon die water in die slikdamme by die rioolaanleg binne weke só skoon kry, daar is nou al kiewiete en waterskilpaaie, sê Carel van Heerden. Foto: Deon Raath

“Reg langs die aanleg het hulle ’n sloot gegrou en die riool laat oorborrel en afloop tot in die spruit, tot in die Koster-dam.”

Carel-hulle se “oorname” van die rioolwerke het té laat gekom vir vier inwoners wat, desperaat om die riool in hul erf op te ruim, in ’n mangat oorval is deur rioolgasse. Hulle het omgekom.

“Dit was net voor hulle ’n begrafnisdiens op die erf sou hou, en die begrafnisgangers sou letterlik in die riool gestaan het. Dis hartverskeurend. Vier broodwinners op een slag dood.”

Die eintlike held in die verhaal, sê Carel, is regter Gura.

Die eintlike held in die verhaal, sê Carel, is regter Gura.

“Sy woorde was: Vat vas en maak reg, dit hoort nie so nie.”

Op pad rioolwerke toe, ry Carel voor ons uit. Jy sien sy grys kop teen die Corsa se agtervenster, Koster se water-en-rioolridder.

Jy moes gesien het hoe dit gelyk het, wys hy met die stilhou, en klik ’n sambreel vir my oop “want Noordwes se son bránd”.

“Die bossies was heuphoogte, die riool het dáár uitgeborrel . . .”

Die nege munisipale amptenare wat die aanleg moes bedryf, het ’n paar dae ná die aanleg in Augustus in gebruik geneem is, alles afgeskakel en gedros.

“Dis nogal tegnies om só ’n aanleg te bedryf, jy moet weet wat jy doen.”

Regter Gura het die munisipale bestuurder, Joseph Mogale, tien dae gegee om die rioolplaas te herstel, anders kry hy 90 dae tronkstraf.

“High Noon” in Koster.

Niks het gebeur nie. Op 7 Januarie, Dag 11, toe Carel-hulle met die hofbevel in die hand wou oorneem, “staan die munisipale ouens met pype en bobbejaan-spanners daai kant van die draad, en ons en die balju dié kant”.

“High Noon” in Koster.

“Vir twee uur het hulle ons toegang geweier om eers die rioolpompe te kon saboteer deur die resolusies af te draai sodat hulle nie werk nie.

Klopdisselboom werk dié R144-miljoen rioolaanleg by Koster sedert Carel van Heerden en Willie Jones-hulle dit bedryf. Die aanleg is in Augustus 2020 in gebruik geneem, maar dae later het die werkers gedros. Foto: Deon Raath

“Ook die kragboks is gevandaliseer sodat daar nie genoeg krag was vir die aanleg nie. Hulle het ons om elke hoek en draai probeer beduiwel.”

Maar wee’ jy, as mense vir Carel van Heerden kom sê hier is ’n probleem, dan sê hy aikôna, dis ’n kans.

Teen 19:00 daardie aand was alles weer herstel.

“Maar deesdae, as die krag lol, maak die mense van Koster dit self reg. Ons hét mos elektrisiëns en ingenieurs,” grinnik hy.

Omdat die kraglyne sedertdien gedurig gesaboteer word, moes hulle noodgedwonge kragopwekkers teen R300 000 per maand huur.

“Maar deesdae, as die krag lol, maak die mense van Koster dit self reg. Ons hét mos elektrisiëns en ingenieurs,” grinnik hy.

Carel-hulle het agtergekom van die waterpype in die informele woonbuurt, Reagile, is gesaboteer sodat watertenkwaens water kon aanry, “met kontrakte van miljoene rande”.

Hy het die waterpype gaan soek. Voor huis 3555 – “ek sal die huis, die oomblik, nooit vergeet nie” – begin Carel grawe op die plek waar die pyp se klep behoort te wees.

Die rouwaterdam by die watersuiweringsaanleg se gat is herstel, en dit loop nou vol. Dié foto is Vrydag geneem. Foto: Verskaf

“Hulle het ’n tweeliterbottel oor die klep gesit en die spul toegegooi. Toe ons dit oopdraai, het die inwoners vir die eerste keer in vier jaar water. En die mense klap hande terwyl daai water loop . . .”

Dit gee hom sommer waterwerke in sý oë.

“Die munisipaliteit stuur gereeld mediaverklarings uit oor ‘ ’n groep wit mans se vyandige oorname’. Hulle wou hê die gemeenskap moet in opstand teen ons kom, maar toe hou Reagile se inwoners ’n optog om dankie te sê.”

Carel van Heerden en sy gesin. Links sit hul dogter Liezl met haar tandartsman: Stefan Robinson en Tian op hul skoot, Dalene en Carel met hul dogter Ané, Marzé, Liezl se dogter is op Ané se skoot, met Reynardt Erasmus, haar verloofde, langs haar. Foto: Verskaf

Sedert 7 Januarie het Carel-hulle R7,5 miljoen opgedok om die flentergat infrastruktuur wat vir jare nie in stand gehou is nie, te herstel.

Hulle het partykeer nagte deur gewerk, want hulle wou wys hulle is 110% meer betroubaar as die munisipaliteit. Willie Jones se seun het een diepnag ’n wiellaer (“dis mos die Afrikaans vir bearing, nè”) vir ’n pomp gaan soek. “Halfses daai oggend, toe pomp ons water, net vir die pompe om drie dae later altwee uit te brand,” lag Carel.

Naderhand was die hele gemeenskap betrokke om als te herstel.

“Kyk, dis ’n lushof, al is dit ’n rioolaanleg,” roep hy uit en gee lang treë die grondwal af om vir ons die kiewiete in die silwerskoon slikdam te wys.

“Ek word 66 en ek dink ek het nog ’n goeie paar jaar met die Here se genade. Miskien kan ek nog meer doen om ander mense te help, al is my bydrae só klein,”

Hy kon nou eerder op hierdie mooie oggend met sy kleinkinders gespeel het, as om ’n munisipaliteit te takel, terg ons hom.

“Dink jy ek sou lekker gespeel het? Terwyl ek weet ander mense kry swaar?

“Ek word 66 en ek dink ek het nog ’n goeie paar jaar met die Here se genade. Miskien kan ek nog meer doen om ander mense te help, al is my bydrae só klein,” druk hy wysvinger teen duim.

Sy vrou ondersteun hom.

“Sy is bietjie sieklik, ag jong, sy het by die kleinkinders geval en haar heup seergemaak, en ons is nou al in jare en mens kom nie so maklik reg nie. Maar ons is dankbaar, alles gaan goed.”

Die dae van dorpsmunisipaliteite wat dienste lewer is verby, sê Carel en spot dat plattelanders nie meer kla oor dienste nie, want daar ís nie dienste nie.

“Gemeenskappe sal in oorleg met die staat eienaarskap moet neem van dienslewering. Munisipaliteite kan dit nie volhoubaar doen nie. Daar is geen wil of werksetiek nie. En die hartseerste: Hulle voel vere vir die armstes.

“Koster is die bloudruk vir wat landwyd kan gebeur. Daar is nou verwikkelinge rakende ’n vennootskap tussen ons, die private sektor, en die regering (PPP).

“Ons het laasweek met Jürgen Kögl, een van min. Tito Mboweni se senior adviseurs, ’n vrugbare vergadering gehad. Dit was op sy aandrang. ’n Vergadering word nou met minister Lindiwe Sisulu gereël. Dinge is aan die rol.

“As ons dié model kan vestig sal dit, soos die Koster-hofuitspraak, ’n eerste vir Suid-Afrika wees.

“Hartbeespoortdam, Standerton, Harrismith, Lichtenburg en Kuruman se inwoners het ons hieroor genader. As ses, sewe dorpe ons volg, sal die regering dit nie meer kan keer nie.”

Hy’s nie juis gewild by die munisipaliteit nie, skerts hierdie oupa. “Hulle weet ek weet hoe korrup hulle is.

“My veglus is seker oor die Duitse en Hollandse bloed in my. Moeilikheidmakers, altwee dié nasies. En my wortels lê hier in die hartland van die mieliewêreld. Ons is klipharde Afrikane.”

Toe Mmoloki Cwaile, ’n plaaslike LUR, Carel onlangs raakloop, was sy woorde: “My jinne, oom Carel, hoe gaan dit, oom Carel? Jy hou ons bésig!”

“Nou ja, as ek hulle besig hou, het ek iets bereik.”

Nie vir een oomblik in hierdie jare lange stryd was daar twyfel in Carel van Heerden nie.

“Want ek doen dit met my hart.”

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.