Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Profiele
Fiësta is haar ‘entstof’ in dié tye
Hanlie Retief gesels met Cintaine Schutte
Verby twee frangipanibome vol geelsoet blomme, op met die trappe van ’n art deco-woonstelblok in Tuine tot by ’n bank waar Cintaine Schutte en haar kat Lily op Lida Botha se hekelkombers sit en glimlag.

Verby twee frangipanibome vol geelsoet blomme, op met die trappe van ’n art deco-woonstelblok in Tuine tot by ’n bank waar Cintaine Schutte en haar kat Lily op Lida Botha se hekelkombers sit en glimlag.

Ná die Fiëstas was Cintaine verlede week ’n paar dae by haar ouers in Pretoria. Dié foto is by die Afro-boer- restaurant geneem. Foto: Elizabeth Sejake

’n Kuiltjie duik reg in die middel van Cintaine se ken.

Die streepkat spin.

Vir Cintaine was die pandemie ’n speelvak van moedeloosheid, ’n repetisie vir niks.

Werklose inperkingsdae, maande daarvan, het haar na haar siel laat soek tussen snuffelende honde in De Waalpark met Spirit Birdvan Xavier Rudd en East Forest se “A Reminder” in haar oorfone.

Maar toe kom herfs 2021 en dit behoort aan haar.

Haar “entstof” het sy verlede naweek op die Fiësta-prysaand by Anna-Mart van der Merwe gekry. Sy, De Klerk Oelofse en Dean Balie het die Sinjatuurprys ontvang vir jong kunstenaars wat reeds hul merk in die bedryf gemaak het.

Van haar dogtertjiedae af was Anna-Mart haar ikoon, het Cintaine op die prysaand vertel. “Ek het haar in ons sitkamer ontmoet, op die TV, en sy het my laat besluit: Dis wat ek eendag wil doen. Jare later by die KKNK het ek soos ’n bakvissie gesê ek sal my linkerbeen afsny om saam met Anna-Mart te speel.”

Cintaine op ’n gr. 5-foto van die Laerskool Tygerpoort in Pretoria.

Cintaine was nog besig om dit te vertel, toe stap Anna-Mart onverwags op die verhoog om dié prys met sy fênsie naam vir háár te gee, met die woorde, hou jou beentjies, jy het nog ’n lang pad om te stap, Cintaine Schutte.

Dit was nogal ’n oomblik, beskryf Margit Meyer-Rödenbeck dit later.

“Twee aktrises, ikoon en ikoon-in-wording. Eerlik en sonder ego, altwee, onbewus van hul talent, sonder om hulself ernstig op te neem. En altwee is Pliggies, soos Nina Swart hulle noem – hulle ken ál hul woorde as ons ander nog op stel rondval.”

Ek besef nou ek is die gelukkigste mens op aarde.

Op drie-en-dertig-en-’n-driekwart het Cintaine reeds in amper 50 teaterproduksies, verskeie flieks en TV-reekse soos Fynskrif en Die byl gespeel. Sedert 2016 het sy elke jaar handevol benoemings en ’n handvol pryse gekry. Grotes soos ’n Kanna én Fleur du Cap vir haar rol in Die seemeeu, waar sy as Masha die alkoholis in 90’s-mesh, sonbril en lipring gespeel het.

Én sy was die plesierige Ansie Vakansie in LekkeSlaap-advertensies.

Toe sy en haar medeakteurs ná universiteit sukkel om rolle te kry, toe sit hulle eendag om ’n braai (waar anders?) en besluit om ’n teatergroep te begin om self vir hulle werk te skep.

Cintaine en haar man, Carel Nel, in Die fliek. Foto: Nardus Engelbrecht

Polonie. So ’n hip klein streekraad met onder andere Christiaan Olwagen, Hannah Borthwick, Wessel Pretorius, Roeline Daneel en De Klerk.

“Ons het vir R2,50 en ’n hotdog gespeel. Christiaan kon slyp aan sy regie, Wessel kon skryf, De Klerk ook, ons het mekaar geïnspireer en soos dit gebeur in die lewe, jy begin te vlieg. Ons het mekaar gedwing om te dink en kreatief te leef.”

Spoeg-en-plakteater, so het hulle hande gevat en pryse gewen.

Die Sinjatuur-prys het weer lewe in haar kom blaas, sê Cintaine, “want partykeer is die gemoed ’n bietjie laag”.

En toe kom 2020 en boem die ballon.

Presies ’n jaar gelede, minute voordat pres. Ramaphosa die Sondagaand die inperking aangekondig het, het ek op die Woordfees gesit en kyk na haar laaste optrede in Die dinge van ’n kind.

Van haar mede-akteurs het al ’n jaar lank geen inkomste nie. De Klerk het naderhand in ’n kwekery gaan werk om sy kop heel te hou . . .

Vir haar rol as Masha in Die seemeeu het Cintaine ’n Fleur du Cap- en Kanna-prys gekry. Foto: Marche Media
Die dinge van ’n kind, Marita van der Vyfer se boek, was verlede jaar onder meer by Woordfees onder regie van Margit Meyer-Rödenbeck opgevoer. Foto: Greteli Fincham

Die Sinjatuur-prys het weer lewe in haar kom blaas, sê Cintaine, “want partykeer is die gemoed ’n bietjie laag”.

Anna-Mart se woorde aan haar – “wees geduldig, hou net aan” – het haar herinner aan wat Antoinette Kellermann vir haar as nuweling in die bedryf gesê het: Moet nooit, ooit opgee nie.

Haar stem is rustig, mens hoor die e-lo-ku-sie wat Shareen Swart, haar mentor en drama-afrigter, in haar skoolkind-ore gedril het.

“Kort voor haar dood het sy vir my gesê geniet die lewe, wees eerlik in alles wat jy doen.”

“Shareen het my laat glo aan stories, sy het die wêreld vir my oopgebreek.

“Kort voor haar dood het sy vir my gesê geniet die lewe, wees eerlik in alles wat jy doen.”

Dit was tydens ’n oudisie vir ’n bier-advertensie dat Cintaine as dikkerige en whatever-eerstejaartjie in ’n wagkamer tussen ’n klomp modelle besef het sy moet haar nooit, ooit met ander vergelyk nie. Anders sou sy haarself mal maak, want voor haar lê ’n lewe van oudisies.

Die dinge van ’n kind, Marita van der Vyfer se boek, was verlede jaar onder meer by Woordfees onder regie van Margit Meyer-Rödenbeck opgevoer. Foto: Greteli Fincham

En het sy die rol gekry?

“Goeiste, nee!”

Sy word altyd gespot oor haar klein, swart Croxley-boekie met die karakternotas in kleurkoki’s uitgewerk, haar padkaart deur karakterontwikkeling.

Net voor haar eerste fliekrol het haar man, Carel Nel, vir haar gesê: Onthou kontinuïteit, Cintaine . . .

“Ek het geleer: Maak nie saak hoeveel talent jy het nie, werk hard, wees ’n spanspeler en daar is nooit ’n verskoning van ek kon nie my navorsing of huiswerk doen nie.”

Net voor haar eerste fliekrol het haar man, Carel Nel, vir haar gesê: Onthou kontinuïteit, Cintaine . . .

So, daar speel sy die rol van Bloesie in die moewie Knysna saam met Neels van Jaarsveld en Bloesie eet heeltyd koekies . . . op dáái lyn moet sy die koekie hap en op dáái lyn hom sluk. “En naderhand is ek so naar en Neels kom vra wat’s fout en ek sê ek het nou al 32 koekies geëet. Hy het so gelag, want ek het nie besef ek hoef nie te eet as die kamera nie op my is nie. Hulle skiet daar in die see, maar ek vreet koekies!”

’n Geel rok van die ontwerper Lena-Lisa, om inperkingsblues te bekamp. Verlede naweek by die 2021 Fiëstas, waar Cintaine die Sinjatuurtoekenning saam met De Klerk Oelofse en Dean Balie gewen het. Foto: Nardus Engelbrecht

Sy onthou: Toe haar pel De Klerk saam met haar Vlooi by Kunstekaap gedoen het, het hy elke dag iets met haar props aangevang. “Ek het ’n seerowervrou gespeel, dán smeer hy my besem vol Vaseline, dán steek hy my emmers weg en ek moet maar mime . . .”

Haar ma, Hesté, bestuur ’n narkotiseurspraktyk, haar pa, Bernhard, is ’n makelaar en Die Wilgers, daar oorkant Presley’s in Pretoria, was haar grootwordplek. Sy en haar sus het bal- en Latyns-Amerikaanse danse gedoen, Afrikaanse middelklaskinders, met ’n sorgsame pa wat help met redenaarskompetisies en steeds Kaap toe bel met die woorde: Kind, jy het geweet jy vryskut, so kóm, dink aan ’n plan, nie met jou hart nie, maar met jou kop.

Carel, haar vabond, soos sy hom noem, het nege jaar gelede een Sondagmiddag baie teësinnig haar lewe binnegekom.

Toe sy 11 was, het Bernhard ná ’n ongeluk in Zambië sy been verloor, en hy is sedertdien in ’n rolstoel. “Hy het net eenvoudig aangegaan, sy lewe aangepas en vir ons as gesin bly sorg. Met my troue wou hy my nie in sy rolstoel die paadjie af begelei nie. Ek sê toe vir hom ek vat ’n ride agterop, maar ek wil nét vir hom by my hê.”

Carel, haar vabond, soos sy hom noem, het nege jaar gelede een Sondagmiddag baie teësinnig haar lewe binnegekom. Sy was 23, net klaar met haar honneursgraad aan die Universiteit van Kaapstad en haar eerste professionele produksie het soos ’n Tafelberg voor haar opgedoem.

Hulle het by ’n restaurant ontmoet, sy, die “eager beaver-aktrise”, die regisseur, die vervaardiger, en Carel, wat haar lover in die stuk sou speel. En sy dink: Wie’s dié lang lel van ’n man wat eintlik net wil gaan snoekbraai, nie oor die stuk praat nie?

In die gewilde kykNET-regsdrama Fynskrif was Cintaine in die rol van Katrien Nienaber. Foto: kykNET

“Ek was tog so ’n hoofmeisie! En toe raak ons verlief. By hom voel ek superveilig, hy is die lojaalste mens ooit. En hy laat my baie lag. My ma het altyd vir my gesê as ’n man jou laat lag is dit ’n goeie ding. En toe ons getroude hoofstuk begin, was haar woorde: As hy ophou om jou te laat lag, moet jy worry.”

Hul troufoto’s is dié twee binnelanders se liefdesbriewe aan die Kaap.

Deur die strate van die Moederstad stap hulle hul toekoms in. Sy wys na een van die foto’s, stilisties treffend, monochroom, op die trappe voor die Kunstekaapteater. “Ek het hakke gedra, en toe ek afkyk, is my groottoon teenaan ’n heroïen-naald . . . die ánder kant, die donker kant, van die stad.”

Die bende vriende trek mekaar deur hierdie werklose, swaar dae, vertel sy.

Sy het gehoop hul troue sal ’n vet paartie wees, en dit wás, op Nasdak, die dak van die Media24-gebou, tot 03:00 die oggend.

Dit was ’n speellys van die jong, kreatiewe, opkomende geslag. En die veterane, Sandra Prinsloo, Gerben Kamper, André Odendaal, Hennie van Greunen en Pedro Krüger, hoëpriesters van die verhoog wat bietjie wysheid na die rumoer gebring het.

Carel en Cintaine was vir hul wittebrood in Viëtnam, en vier maande later het Covid-19 gearriveer.

’n Selfie in Boedapest saam met haar man, Carel Nel. Foto: Cintaine Schutte

Die bende vriende trek mekaar deur hierdie werklose, swaar dae, vertel sy.

Hulle bel mekaar, kook vir mekaar, gaan stap saam, swem saam in Bakoven, want dis verniet, lag sy wrang.

Dit was bietjie van ’n voortsetting van hul saamwees op feeste, voor produksies. Iets anders word wakker binne jou, want dis ’n gedeelde ervaring, ’n gedeelde kwesbaarheid, sê sy.

Ons vrees en ons kruip weg en ons is gedwing om nie menslike kontak met mekaar te hê nie.

“Ja, dis my tribe, my stam.”

Ons vrees en ons kruip weg en ons is gedwing om nie menslike kontak met mekaar te hê nie. En dis presies wat akteurs móét hê, ’n gehoor en verhoog, mense sáám. Dis van hulle weggevat.

Sy moes ook agterkom, in dié inperking, dat sy nie net Cintaine-die-aktrise is nie, maar Cintaine-die-mens wat grondboontjiebotter of Marmite op snye brood smeer om by ’n sopkombuis te gaan aflaai. Met haar verjaardag het sy vir haar vriende gesê moenie presente bring nie, bring ougoed vir ’n sopkombuis.

Moeder Moed en haar kinders: Aletta Bezuidenhout (links), Andre Roothman en Cintaine Schutte. Foto: KKNK

Sy moes ook leer dis oukei om net op die gras te lê en vir die berg te kyk, want sy kan nie op pad wees vir ’n opname by RSG of ’n produksie of . . . of nie.

Net wees.

“Elke keer as jy kwesbaar raak of iets deel, maak jy iets van jouself oop.

Die show kan weer aangaan. Boude kom weer op die seats.

“Pleks van ’n muur wat opgaan, word jy gedwing om hom af te breek.”

Nou, hoop sy, gaan dinge meer normaal word. Die dinge van ’n kind is op die Suidoosterfees.

Die show kan weer aangaan. Boude kom weer op die seats.

Ná die Fiëstas was Cintaine verlede week vir ’n paar dae by haar ouers in Pretoria. Die foto is by Afro-Boer Deli&Restaurant geneem.Foto: Elizabeth Sejake

“Deur die jaar maak jy verskillende families met TV-reekse en teaterproduksies en flieks bymekaar en reis na verskillende plekke en lê jou kop op verskillende kussings neer en drink saam rooiwyn tot laataand. En agter die verhoog maak julle saam benoude jokes.

“En jy sit met ’n Sandra Prinsloo en sy vertel toe sý 26 was het dít gebeur en voordat jy op die verhoog gaan, sien jy vir Marius Weyers met ’n piesankie en dan vat hy ’n happie en vou die piesang weer toe . . . oomblikke en dinge, ek raak nou sommer emosioneel en besef ek is die gelukkigste mens op aarde.

“Tydens inperking was dit sulke onthoue wat my deur ’n 20%-orraaitdag kon trek.

Troudag: 2 November 2019, by die Kunstekaapteater. Foto: Jenni Elizabeth

“Ons vertel stories, want ons is lief daarvoor. Die gehoor, julle, hou ’n spieël vir ons op en ons weerkaats dit terug na hulle. Ons leer by mekaar.

“Mag ons aanhou met hierdie stories, want dis die pols, dis wat ons hart laat klop.”

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.