Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Profiele
Hanlie Retief gesels met Corné Mulder

Ernst Roets, AfriForum se plakkaatknaap, se probleem is dat hy homself nie in die skoene van ander kan plaas nie, sê Corné Mulder van die Vryheidsfront Plus.

“En só maak hy meer vyande vir AfriForum as vriende. Hy dink hy is groter as AfriForum.”

Dié muurbalbaan is die plek waar Corné Mulder sy frustrasies wegslaan. Foto: Edrea du Toit

AfriForum se nuwe, omstrede dokumentêr oor die geskiedenis van grondbesit in Suid-Afrika, waarvan Roets die vervaardiger is, is skadelik vir die organisasie, sê Corné.

“Met dié dokumentêr mis Ernst die kol heeltemal, want hy het geen begrip vir dit wat die ander kant hoor nie. Hy is toondoof vir hulle. Dis tipies hoe ons by mekaar verbypraat.”

Dit laat Corné vra: “Is Ernst Roets regtig AfriForum? Hy ís uitvoerende adjunkhoof, maar verbeeld hy werklik die gees van AfriForum? Ek is bevrees dit gaan vir Ernst meer oor homself en sy eie ideale, en hy doen die groter ideaal van AfriForum skade.”

Corné vertel hy het Ernst laasjaar by die parlementêre grondwetlike hersieningskomitee in aksie gesien toe Ernst sy veglustige voorlegging kom doen het.

Ons is in ’n bitter gepolariseerde samelewing en om nou onnodig gevegte te veroorsaak, is nie noodwendig goed nie.

“Ek het uit billikheid vooraf vir hom ’n WhatsApp gestuur en die proses verduidelik, die situasie vir hom probeer makliker maak.

“Ernst het sy voorlegging op so ’n aanvegbare manier gedoen dat dit totale chaos veroorsaak het. Daar is ’n plek en ’n tyd vir alles. Hy het homself ook daar nie in ’n ander se posisie geplaas nie.

“My IVP-kollega, Elphas Buthelezi, ’n smart ou, 100% goedgesind teenoor Afrikaners en wit mense, het totaal oorboord gegaan ná Ernst se tirade. Woorde het betekenis. En as jy nie verstaan dat dít wat jy kwytraak, eintlik kwetsend vir ander is nie, waarmee is jy besig? Bevorder jy jou saak of vernietig jy dit?”

Dit voel vir hom asof die gematigde middelgroep in Suid-Afrika nou permanent op beurtkrag is, sê Corné midde in ’n vlaag beurtkrag op Menseregtedag langs ’n muurbalbaan in Koebergweg, Milnerton.

Die Mulders in Parlementstraat by ’n parlementsopening. Langs Connie Mulder, eertydse kabinetsminister en stigterslid van die Konserwatiewe Party, is Corné; en sy broer De Wet. De Wet is reeds oorlede.

Hierdie plek, en hierdie balletjie, red hom menige dae van waansin, grinnik hy.

Vroeër die week het Corné presies dieselfde toondoofheid beleef toe Black First Land First (BLF) se Andile Mngxitama hom uitgekryt het as ’n wit rassistiese middeljarige gronddief wat moet teruggaan Holland toe.

“As selfs die EFF ’n ou weggejaag het, moet jy weet waarmee het jy te doen.

“Ouens soos Andile klink asof hulle voor geveg het in die struggle, maar van hulle was nog nie eens gebore toe ons by Kempton Park onderhandel het nie. Nou sê hierdie Johnny come latelys ons het hulle by die onderhandelingstafel uitverkoop, skielik is hulle die groot menere.”

Julius Malema, Andile Mngxitama en Ernst Roets ly almal aan dieselfde siekte, sê Corné.

In 1984 het Mulder aan die Universiteit van Londen se Institute of Advanced Legal Studies gestudeer. Hy het ’n doktorsgraad in staatsreg.

“En dis my bekommernis: ons gly al hoe verder weg van die tussengrond. As ons dié polarisering verder toelaat, eindig ons vóór 94, vóór die skikking.”

Corné Mulder is die een LP wat altyd begrip het vir ander se standpunte, hoor jy by ANC-LP’s. Die respek wat hulle vir hierdie langsdienende LP het, wys in die stilte in die saal tydens sy spreekbeurte. Eintlik hoort hy nie by die VF Plus nie, word gesê, hy is te progressief.

Sy bydrae in die parlement neem almal altyd verder, sê Doris Dlakude, adjunk-hoofsweep van die ANC, toe ek haar bel. “Hy is objektief, ons werk lekker saam. Hy is ’n eerlike mens, en as hy nie met jou saamstem nie, sê hy dit op ’n mooi manier. Ja, ek noem hom my vriend.”

’n Relletjie Woensdagmiddag in die doodsnikke van die vyfde parlement, is tekenend: Toe Deidré Carter in haar afskeidstoespraak emosioneel raak, het Gwede Mantashe sy sakdoek by die swepe gaan rondswaai, meerderwaardig, asof hy ’n grap maak van die half tranerige vrou, vertel Corné.

Net daarna, in sy spreekbeurt, gaan honourable Mulder toe “effe oorboord” en berispe Mantashe: jy is ’n skande vir jou party!

Wat ’n mens nié op YouTube sien nie, is hoe Corné agterna by Mantashe gaan vrede maak het. “Gwede sê toe ek het hom verkeerd verstaan, hy wou net hê die swepe moet Deidré bystaan. Dit wys maar net weer hoe maklik ons mekaar misverstaan.”

In sy lewe was Corné Mulder altyd óf die seun óf die broer van die party­leier, die stil een wat sy werk agter die skerms doen eerder as op die verhoog.

Hy is nogal heel anders as sy meer konvensionele ouer broer, Pieter Mulder, wat einde 2016 uitgetree het as leier van die VF Plus.

Corné luister na die Russiese rocker Zemfira. Queen se “In My Defence”en Prince se “Purple Rain” is gunstelinge. Naweke kry jy hom by ’n kunsfliek in die V&A Waterfront. Op Facebook sien jy sy kriptiese video’s iewers op ’n lang pad met Janis Joplin kliphard in die agtergrond.

’n Selferkende romantikus, bestel hy jaarliks ’n almanak van die skilder Jack Vettriano. Dit het al ’n klein tradisie geword: elke eerste van die maand, ’n volgende Vettriano op sy Facebook-muur. “Passievol, rou emosie oor die liefde tussen ’n man en ’n vrou,” beskryf hy dit en skielik lyk hy minder soos oom PW.

Minder Front. Meer Plus.

Hy bly op Melkbosstrand saam met Alma (sy vrou) en Mozart, Nougat, Matisse, Goya en Monet (die katte). Hy hang uit by die Blue Peter-hotel, is pa van vier kinders met twee wie se gene hul politiek toe laat neuk.

En hy steur hom nie ’n bloue duit daaraan dat sy 1%-party dikwels afgemaak word as ’n niksseggende bliep op die politieke radar nie.

O, nee, lag hy, “verkéérd! Een mens op die regte plek en tyd maak ’n verskil. Ook hiér. Ek kon ’n veel ander loopbaan in die regswêreld gehad het, maar dit is nie my passie nie.”

Nie dat hy nie al verskeie kere lusgekry het om pad te vat nie, erken hy.

Daar was vele frustrerende vergaderings in 31 jaar, maar die ergste was die drie jaar in die regsdienstekommissie wat regters aanstel.

Daar was nie geregtigheid nie, ook nie noodwendig waarheid nie, want ander kriteria het die botoon gevoer. ’n Top senior advokaat wat moet terugstaan . . . want vandag stel ons nie van jou soort aan nie. “Sulke dinge bring ’n warboel in jou kop. Dan gaan stap jy maar langs die see.”

Met sy broer se uittrede het Corné nie gestaan vir die partyleierskap nie. “Met alle respek, daar hang al ’n vraagteken oor die ooraanbod van Mulders – eers Pieter en nou sy boetietjie of wat ook al. Dis nie noodwendig in die party se belang nie.”

Met die politieke klimaat deesdae geil aarde vir opposisiepartye en 'n verkiesing oor twee maande, hoor Corné deesdae oral waar hy gaan: hierdie keer stem ek vir julle.

“Ons gaan beslis groei, ook oor die DA so droogmaak. Tendense verander, ek is lank in die game, ek kan dit voel.”

Konserwatief beraam – en konserwatief is nié sy styl nie, skerts hy – hoop hulle op ’n verdubbeling van steun. Agt LP’s.

Ook die IVP en EFF gaan groei, voorspel hy, met die NFP en Cope wat kwyn. Die gas is ook klaar uit die bottel vir Antie Pat se Good.

Vir die DA het hy ’n aanhaling: You can’t promote a quarrel.

“Wat ons in 1999 oorgekom het, gaan nou met die DA gebeur. Kiesers sê nie koebaai nie, hulle loop net weg.”

Dis die DA se verdiende loon, want toe hy voluit begin vry het na swart ANC-steun, was die party arrogant genoeg om te sê minderhede het nêrens anders om heen te gaan nie.

“Die VF Plus is nou daai nêrens.”

Corné hou vol Steve Hofmeyr se stem in hul verkiesingsadvertensies is net ’n Plus. Selfs nadat MTN laasweek onttrek het as borg vir Afrikaans is Groot (AIG) weens Hofmeyr se “verdelende persoonlikheid”.

“MTN sit die pot mis. Ek was self Saterdag by die AIG-konsert, en daar was wit, swart en bruin Afrikaanse kunstenaars sonder enige sprake van rassisme. Jy kan sê wat jy wil, maar Steve is die kern van die konsert. Ek weet hy is omstrede, party aanbid hom, ander haat hom, maar hy’s ’n kunstenaar met vuur in sy pens.”

Bygesê, Steve hoef nie so aspris te wees om ’n foto van ’n ou landsvlag te twiet en te sê “dis mooi” nie, erken Corné dadelik.

“Die ou Suid-Afrikaanse vlag beteken vir my niks. Dis ’n simbool van ’n verlede. Ek stel belang in die toekoms. En onthou, Steve se stem is een van nege in ons advertensies.”

Die Kaapse Vlakte se eie Mister X (eks-NP, eks-NNP, eks-DA, eks-Cope) is ook nou die VF Plus se Groot Hoop vir Leeuwenhof.

“Ek wou seker maak Wes-Kaapse bruin mense wat nie meer gelukkig is met die DA nie, het darem ’n beter alternatief as Good.

“My bekommernis oor die bruin gemeenskap, en ek sê dit met versigtigheid, is die gebrek aan leierskap. Peter Marais bied dit, of jy van hom hou of nie.”

Ná die politiek, eendag, wil Corné ’n fliek maak. Hy is besig met die draaiboek vir ’n Boere-Braveheart oor die legendariese, aweregse Vryheidsoorlogheld Tewie Wessels. “Hy was my oupa se halfbroer, met ’n verhaal wat in Skotland gaan draai. Dié verhaal wys die teendeel van die persepsie dat ons witmense altyd net die bad guys was.”

Die Mulders het in 1685 uit Europa hier aangekom. Elke keer as Corné terugkom van Europa, nadat hy in boekwinkels in Venesië rondgesnuffel het, rooiwyn in Bordeaux geteug het, klim hy van die vliegtuig af, trek sy asem diep in en weet: ek is by die huis.

Verlede jaar in Ghana deel hy ’n taxi met Hlengiwe Mkhaliphi, adjunksekretaris-generaal van die EFF. Drie ure lank sit hulle langs mekaar op pad na die Goudkus waar die slawe weggevoer is.

“En ek weet sy sien ’n wit, selfs verkrampte, middeljarige man langs haar. En ek sien ’n rooi revolusionêre rassis.”

Toe begin hulle gesels. “Ons het daai dag geleer wie die ander regtig is. Sy is ’n ma, en sy wil ook sukses bereik in haar lewe, sy wil ook vorentoe, met passie en energie vir dit waarin sy glo.

“So vind ons toe mekaar. Deesdae groet ons mekaar met ’n druk.”

In die beurtkrag-skemer by ’n muurbalbaan op Menseregtedag stel hy begrippe soos onbekend maak onbemind op die proef.

Ken ek die grappie van die oom op sy sterfbed? Die priester sê: verdoem die duiwel. Die oom weier. Jy moet, sê die priester, jy’s besig om dood te gaan. Presies, sê die oom. Dis nie ’n goeie tyd om vyande te maak nie.

“Nou, Ernst, my vriend: Die punt is, ons is in ’n bitter gepolariseerde samelewing en om nou onnodig gevegte te veroorsaak, is nie noodwendig goed nie.”

Meer oor:  Ernst Roets  |  Vf Plus  |  Dokumentêr
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.