Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Profiele
SA het ‘Dawie’ mens gemaak
Hanlie Retief gesels met Dawid Malan
Die oud-Boishaaier Dawid Malan is die beste T20-kolwer in die wêreld, maar hy spot hy moet wiskundelesse kry want hy moes beter getel het en nie by 99 lopies opgehou het nie… vertel hy aan Hanlie Retief.

Die Engelse noem hom Dow-Weed of Dow-Wood en die wêreld se beste T20-speler noem homself, met ’n effense glimlag, ook nou al Dow-Weed. So bietjie.

Dawid Malan het verlede jaar met sy Skotse meisie in die Paarl kom trou. Van links is Charl, sy broer, hul oupa Dawid, sy vrou Claire, Dawid, sy ma, Janet, pa, Dawid, en suster, Liné.

Maar vir twee Bolandse afrigters sal Dawid Malan altyd hul Dawie bly.

’n Witkopseuntjie, net beentjies, onthou Merwe Genis, sy afrigter by Boishaai in die Paarl, hom, sy stem growwerig trots.

Die outjie was nog altyd ’n fighter, spog Eltin Buziek, sy ander Boishaai­afrigter wat verlede naweek gesukkel het om nie te hard te klap elke keer as Dawie ’n Protea-bouler verneder nie.

“Want sê nou die mense kyk my skeef aan oor ek Engeland ondersteun!”

Man-alleen het Dawid Malan die Proteas gekelder op die veld waar sy pa destyds gespeel, en waar die jong Dawid self as 18-jarige laaitie sy debuut vir Boland gemaak het.

Engeland het skoonskip gemaak in die T20-reeks teen Suid-Afrika. Die Britte is nou die voorste T20-span ter wêreld, en ná Dawid se kolfbeurte van 19, 55 en 99 is hy die topkolwer ter wêreld met 915 punte – die meeste in die geskiedenis.

Hoe voel dit vir Dow-Weed om nommer een te wees?

Ek sal altyd ’n sterk band met hierdie land hê. Ek mis die goeie weer.

Awesome.” Ná die reeks in Suid-Afrika voel dit vir Dawid vir die eerste keer dat hy die titel verdien. “Nadat ek so goed hier gevaar het, kan ek dit ’n klein bietjie meer geniet. Net bietjie,” lag hy, “want daar is soveel topspelers soos die Kohli’s, die AB’s, die Gales. Babar Azam.”

Dawid speel die naweek vir die Hobart Hurricanes in die Big Bash-liga in Australië. “Dis lekker om in Australië te speel, een van die voorste T20-ligas ter wêreld.”

Om sy ou afrigters verlede Sondag langs die veld te sien was ’n wonderlike bonus, vertel Dawid toe ons hom Woensdag raak bel.

Merwe Genis, Dawid se afrigter tydens sy skooljare op Boishaai in die Paarl, saam met Dawid op Lords. Foto: Verskaf

“Bolandpark is waar alles vir my begin het, ek het in my ontwikkelingsjare soveel tyd daar deurgebring. Spesiale tyd. Om die twee afrigters wat my spel help slyp het, langs daardie veld te sien, wow,” sê hy en maak verskoning dat hy Engels praat. “My Afrikaans is bietjie verroes vir ’n onderhoud.”

Dawid se ma, Janet, is Brits en hy is 33 jaar gelede in Roehampton, Engeland, gebore.

Op sewe het die Malans Suid-Afrika toe gekom. Halfpad hier, halfpad daar. Dus.

Ná matriek op Boishaai is hy vir ’n gap-jaar Engeland toe voor Maties of Ikeys, “en toe word dit ’n gap wat nooit opgehou het nie,” lag hy.

Ná matriek wou hy vir die MCC Young Cricketers in Engeland gaan speel, maar hy het uitgeval.

Merwe en Dawie kom al 25 jaar saam.

“Hy’s die nederigste ou. Inbors. As ek vir hom ’n boodskap stuur, antwoord hy dadelik, waar hy ook in die wêreld is. Hy sal altyd met die skoolkinders hier in die Paarl kom praat, moeite doen.

“Klein seuntjie, toe was die potensiaal al daar. Dawie was openingskolwer en hy’t 170 lopies teen Kearsney College aangeteken, 172 teen Hilton College.

“Ná matriek wou hy vir die MCC Young Cricketers in Engeland gaan speel, maar hy het uitgeval. Ek rig halfjaar af by Oundle School in Engeland, en toe is Dawie saam om my te help.

Boishaai se eerste krieketspan in 2004. Merwe Genis is tweede van links voor, en Eltin Buziek tweede van regs. Dawid Malan is agter, vierde van links. Foto: Verskaf

“Ons kon reël dat hy in die week vir Northampton en Middlesex se tweede spanne speel. Vier wedstryde later het hy reeds drie honderdtalle geslaan. In dieselfde jaar het Middlesex vir hom ’n kontrak aangebied. Sy eerste wedstryd was teen Surrey, voor 30 000 mense, en dis waar dit alles begin het.”

Dawid onthou nog hoe hy sy pa gebel het met die nuus dat hy ’n kontrak by Middlesex kon kry. “En wat moet ek doen? My pa bel toe vir Omar Henry en hy sê gryp dit aan met albei hande.

“En wel, sover werk dit fantasties uit.”

As kind het Dawid, soos elke jong krieketspeler in Suid-Afrika, gedroom om ’n Protea te word.

Dawie was nog altyd baie lojaal, sê Merwe. Hy het lank vir Middlesex gespeel voordat hy verlede jaar vir Yorkshire, die ander grênd graafskap, begin speel het.

“Lord’s is Middlesex se tuisveld, en om agt, nege jaar daar te kon speel is verby enigiets waaroor ek as kind kon droom,” sê Dawid.

“As jy uitstap, verby die mediaboks, en jy kom in die middel van die veld en draai om na die rooibaksteen- paviljoen . . . in krieket is daar absoluut niks wat daarmee vergelyk nie.

“En nou speel ek vir Yorkshire, in die spore van soveel legendariese spelers. Dis ’n ongelooflike reis, sover.”

In dié toernooi het Dawid Malan 172 lopies teen Hilton College aangeteken. Dawid sit heel regs voor, langs Eltin Buziek. Merwe Genis is derde van links. Foto: Verskaf

Wie was sy kinderhelde?

Gosh, ek was mal oor Gary Kirsten.

“ ’n Gritty lefthander wat hom so kon ingrawe as aanvangskolwer. Hy was my rolmodel, ’n legende van die spel.”

As kind het Dawid, soos elke jong krieketspeler in Suid-Afrika, gedroom om ’n Protea te word.

“Die Malans is baanbrekers.”

Maar toe speel hy uiteindelik vir die land waar hy gebore is. “Baie mense verwys na my as Suid-Afrikaans, maar ek is Brits, ek is daar gebore. Ek het net 11 jaar in Suid-Afrika gebly, maar dit was my vormingsjare, die jare wat my méns gemaak het. Dis ook die plek waar my ouers bly, so ek sal altyd ’n sterk band met hierdie land hê.

“Ek mis die goeie weer; Engeland se weer is net ’n klein bietjie natter en kouer,” spot hy. “En braai . . . my pa braai ’n mean filletsteak.”

Hy het verlede jaar in Oktober in Suid-Afrika kom trou.

“My vrou, Claire, het die trouplek kom kies. Diamant Estate, naby die Paarl. En as jou vrou gelukkig is, is jou lewe gelukkig!

Dawid het dié trui vir Eltin Buziek se tienjarige seun, Joel, gegee. “Joel is mal oor Dawid.”

“So, ek het grootgeword in Suid-Afrika, ek bly in Engeland, ek het ’n Skotse meisie op ’n aand uit in Dubai ontmoet, en toe trou ons in die Paarl. Volsirkel, soortvan.”

Dawid se tannie Christine Laubscher vertel hoe Dawid se oupa in 1945 tandheelkunde in Skotland gaan studeer het, want Wits het voorkeur gegee aan oorlogsveterane en hom nie aanvaar nie.

“Ons oupagrootjie was tydens die Groot Griep ’n predikant in Kuruman.

“Hy het met sy karretjie rondgery en vir almal gebid én inspuitings gegee.

“Die Malans is baanbrekers.”

Hy is versigtig om hom uit te laat oor die kwota-turksvy in Suid-Afrikaanse krieket.

Dawid se suster, Liné, het vir die Proteas hokkie gespeel en sy broer, Charl, het ook in Engeland vir die MCC Young Cricketers gespeel.

Sy oupa is nou 94, vertel Dawid. “Hy praat van sy studentejare in Edinburg of dit gister was. As hy kon, sou hy seker daar wou doodgaan.”

Oupa was natuurlik absoluut in sy noppies toe hy hoor Dawid trou met ’n Skotse meisie. “As my vrou hier is, praat hy nie eens met my nie; waar Claire is, is Oupa!”

Hy is versigtig om hom uit te laat oor die kwota-turksvy in Suid-Afrikaanse krieket. Met die nuwe streng transformasievereistes moet jy, as jy wit is, een van die topdrie-kolwers wees om die Proteaspan te haal.

“Ná wat histories in Suid-Afrika gebeur het, is dit verstaanbaar dat die speelveld gelyk gemaak moet word. Ek kan insien dis moeilik, en dat wit spelers ekstra hard moet werk om die span te haal. Hopelik gaan dinge uitgestryk wees vir die volgende geslag spelers.”

Kwotas het geen rol gespeel in sy besluit om in Engeland te speel nie, sê Dawid. In die Londense koerant The Times skryf die eertydse Engelse krieketkaptein Mike Atherton oor Dawid se “dogged ascent from ‘bat for hire’ to the best of all time”, en dat sy kolfbeurt in die derde T20-wedstryd op Nuweland dié was van “a man at the top of his game”. Vir eers kan Malan nou neerkyk op spelers wat gereken word as veel beter as hy, sê Atherton: Babar Azam van Pakistan is nommer twee, Virat Kohli, die Indiese superster, nommer nege en sy landgenoot Rohit Sharma op nommer tien.

Dawie ís ’n vegter, beaam Merwe. “Hy is twee jaar terug uit die Engelse toetsspan gelaat nadat hy met ’n 100-tal die Engelse span gehelp het om die As in Australië te wen. Maar toe drop hulle hom uit al drie krieketformate. En wat doen hy? Hy het eenvoudig besluit hy gaan die ouens wys en sy kolf die praatwerk laat doen.”

Hy het nie ’n T20-spesialis uit eie keuse geword nie, stel Dawid jou vinnig reg.

Hy het nie ’n T20-spesialis uit eie keuse geword nie, stel Dawid jou vinnig reg, dit was so half per ongeluk toe hy nie gekies is vir toetskrieket nie.

“Ek speel steeds al die formate in graafskapkrieket, die vraag is net of ek goed genoeg gaan wees om vir Engeland gekies te word. Ons het fantastiese spelers. Hopelik kry ek weer die kans.”

Hy is heel bo op die T20-ranglys, maar moet steeds veg vir ’n plek in die span, so sterk is die kompetisie.

“Ja, dis taf, maar dit hou jou op jou tone. In die Engelse stelsel weet jy presies hoeveel wedstryde jy gaan speel, jy is nie bang dat hulle jou gaan rondgooi en skielik drop nie. Dit moedig jou aan om te speel soos jy wíl speel en in jouself te glo.”

Dawid in aksie vir Engeland. Foto: Getty Images

Om as “kolfhuursoldaat” van T20- na T20-toernooi die wêreld deur te speel, beteken jy het byna geen afseisoen nie.

“Dis groot pret as jy goed speel, maar as jou spel af is, raak dit baie harde werk. Dis moeilik om weg te wees van jou familie en vriende en in hotelkamers te leef. Maar om op verskillende velde in die wêreld teen die beste te speel, heeltyd, leer jou wat nodig is om op daardie vlak te bly, dit word van jou verwag. Dit het my gehelp om my spel te ontwikkel, om met die vryheid te speel wat ek nou doen.”

Hy het eers op 28 sy debuut vir Engelse toetskrieket gemaak. “Dis maar hoe dit gebeur het. Ek het in toernooie soos Pakistan se Superliga begin speel.

“Jy besef skielik hoe ver agter jy raak deur net in plaaslike krieket te spel.”

Hy vervies hom vir kommentators wat sê hy is stadig om aan die gang te kom, om die bal te begin looi.

“Hulle praat ’n klomp nonsens. Een ou sê so-iets, dan herhaal almal dit. Die hele manier hoe mens jou kolfbeurt in ’n T20 begin, is instinktief. Jy lees die kolfblad, die toestande, jy doen wat jy moet doen vir die span.

“En dan kom die oomblikke waar dinge net bymekaarkom, die bal val presies waar jy hom verwag, jy is in posisie om die bal te slaan nog voordat hy land. Jy is absoluut in daardie oomblik, jy lees die spel instinktief. Dis iets wat AB (de Villiers) goed doen.”

Op skool was Dawid die outjie in Boishaai se nette net voor skemer op ’n Vrydag terwyl sy pelle al gaan partytjie het, vertel Eltin.

“ ‘Ons gaan verloor’ bestaan nie in sy woordeskat nie. Hy het sy span geïnspireer, dit het hul motto geword. Ek het toe al geweet hier is iets spesiaal.

“En gehoop hy gaan vir ons land speel.”

Ja, sê nou net Dawid Johannes Malan hét na sy gap-jaar Maties toe gekom.

Dawid klink in elk geval net soveel beter as Dow-Weed.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.