Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Profiele
Grey-twis: ‘Dis tyd vir vorentoe kyk’
Hanlie Retief gesels met Deon Scheepers

Die “Grey-way” is ’n bloed-ding. Dit lê in 165 jaar se DNS van Grey Kollege in Bloemfontein.

Deon Scheepers is met die hand uitgesoek om skoolhoof van een van Suid-Afrika se roemrykste skole te word. Maar toe gebeur ’n reusagtige inploffing. Foto: Conrad Bornman

Jy groet met die wys- en middelvinger gestrek, die “Stabilis” op jou kleurbaadjie maak jou regop en ordentlik, jy skree en sing jou keel rou vir jou span en grens as jy op die laaste matriekdag oor die Reünie-saal se verhoog stap terwyl Auld Lang Syne speel, uit by die sydeur, onderdeur die slaweklok wat treurig lui, en dan is jy ’n oud-Grey.

Deon Scheepers wys op ’n foto sy rooigehuilde oë op sy laaste skooldag in 1984.

Die klok het ook vir hom gelui, die “Grey-way” is ook in sy DNS.

28 later is Scheepers met die hand uitgesoek om die legendariese Johan Volsteedt as skoolhoof op te volg.

“En toe pas ek nie in by die beheerliggaam se idee van die ‘Grey-way’ nie en hulle smee ’n komplot om my hier weg te boelie. Hulle het my ontmagtig. Ek het ’n keuse gehad: pak jou tasse of baklei terug.”

Toe die beheerliggaam Scheepers in 2018 van sy nie-akademiese pligte stroop, het hy hulle hooggeregshof toe gevat en die saak met koste gewen.

Die beheerliggaam se appèl is pas met koste uitgegooi.

Ek sou steeds gekom het. Ek was geroepe hiervoor. Dit was ’n gebedsaak.

Scheepers deel nou vir die heel eerste keer sý weergawe van die gebeure by Grey.

“Die aanloop was in November 2016 toe die voorsitter (Henry Büchner) en ’n lid van die beheerliggaam sonder my met die personeel vergader het, teen alle dissiplinêre prosedures.

“Die personeel se klagtes was maar beuselagtighede, probleme wat ’n skoolhoof in sy kantoor behoort te kan hanteer.

“Grey was vir hulle kwansuis ’n utopie onder my voorganger, en hulle was ontevrede dat ek afgewyk het van die Volsteedt-manier. Die vertrouensverhouding is toe geskend.”

Dis welbekend dat Scheepers en Büchner ’n persoonlikheidsbotsing gehad het.

“Ons het wel aanvanklik goed klaargekom. Maar sekere beheerliggaamlede het gedink hul seuns is geregtig op sekere pryse en prefekskappe.

“Siende dat lede van die beheerliggaam ‘verniet’ werk, behoort hulle spesiale behandeling te kry, reken hulle. En dis nie waarvoor ek staan nie.

“Ek het sekere ou tradisies bevraagteken en wou meer fokus op die akademie. Dié fokus hoef nie ten koste van ander aktiwiteite te wees nie.”

Die slaweklok waaronder matrieks deurstap op hul laaste skooldag. Foto: Conrad Bornman

Scheepers het die sogenaamde “Grey Friday” afgeskaf, ’n tradisie waar leerlinge sekere Vrydae tuisbly.

“Ek praat nie van uitsonderlike omstandighede soos wanneer ons met busse Paul Roos Gimnasium toe ry nie, maar doodgewone Vrydae. Die beheerliggaam het ook nie daarvan gehou nie.”

Scheepers kon ook nie sy eie waardes vereenselwig met die “geweldskultuur” by die skool, soos die tradisie van ontgroening, nie.

Scheepers se teenstanders sê hy verstaan nie die gees en kultuur van die skool nie, hy hanteer dissipline en rassisme-voorvalle swak, regeer met e-posse van agter sy rekenaar in sy toedeur-kantoor, hy vryf nie die graad aggies se hare deurmekaar as pa van die skool nie.

En waar is hy as die juniors sportwedstryde speel? Hy ís nou maar net nie ’n Grey-skoolhoof nie . . .

“Ek beskou dit eerder as ’n kompliment,” reageer Scheepers. “Wou hulle ’n kloon van my voorganger gehad het in die uiters uitdagende tye met sosiale media, interkulturele verhoudings en die verval van ouerlike dissipline?

“Ek is nie skaam oor wie ek is nie. Vra nie verskoning nie. Die mense wat my aangestel het, het geweet wie ek is. Hulle het immers gereken ek is die regte hoof – en ek self is vas oortuig dat ek die regte persoon op die regte tyd in Grey se geskiedenis is.”

Die Grey-bom het op 15 Mei 2018 gebars.

“Ek is kennis gegee van ’n vergadering waar hulle ‘my regte’ sou bespreek. Toe ek vra waaroor dit gaan om myself te kon voorberei, was hulle afwykend. Ek is blind ’n boendoehof ingelei. Weet jy wat, Scheepers, gaan jy nou maar lekker aan met die akademie, die laerskoolhoof (Jurie Geldenhuys) neem die res oor. Hy is in die binnekring van dié groepering mense.

“Ek het daardie aand oorbluf vir my vrou gesê hoe kan mense met ’n georkestreerde plan uitkom en vir vier, vyf uur jou karakter probeer vernietig.

“En toe kom neem die laerskoolhoof sy intrek hier by die skool. Gelukkig nie in my kantoor nie, maar naby, en dan spreek hy soggens die personeel toe. Dit was ’n sirkus.

“Alles sonder die departement se goedkeuring, die departement het hom immers aangestel om laerskoolhoof te wees.

Scheepers was in 1983 en 1984 senter van Grey Kollege se tweede rugbyspan.

“Jy kan dink dat daar nie vreeslike goedgunstigheid tussen my en die laerskoolhoof is nie. Hoekom is my pligte nie aan die twee adjunkhoofde van die hoërskool gegee nie? Hulle vervul tog my rol as ek weg is.”

Vir ses weke het dit so aangegaan. “En toe sê die onderwysdepartement vir Geldenhuys: as jy nie nou jou goed vat en loop nie, kla ons jou aan.

“Hy is stert tussen die bene terug laerskool toe.”

Fedsas, die Federasie van Beheerliggame van Suid-Afrikaanse Skole, se toetrede tot die Grey-geveg was ’n ramp, sê Scheepers. “Ons is ’n lid van Fedsas, en die beheerliggaam het Fedsas se raad gevolg. In die appèlhof is nou bewys dat Fed­sas die kluts totaal kwytgeraak en die onderwyswet verkeerd geïnterpreteer het. Nou is my vraag: vir hoeveel ander skole gee Fedsas dié soort raad in krisisse waar ’n beheerliggaam sy magte oorskry? Beheerliggame wat dink hul rol is operasioneel en nie besturend nie?”

Dit het ’n faait-agter-die-fietsloods geword tussen Paul Colditz se Fedsas en Chris Klopper se Suid-Afrikaanse Onderwysersunie, wat toegetree het tot die geveg namens Scheepers, wat ’n lid van die unie is.

Van die ouers het ’n biddende Jerigomars gehou ter ondersteuning van Scheepers. “Dit het my gemotiveer wanneer dinge moeilik gaan.”

Die eens hegte Grey-gemeenskap is vandag steeds verdeel tussen twee kampe: Büchner en die beheerliggaam vs. Scheepers.

Volgens gerugte het die beheerliggaam Scheepers R6 miljoen aangebied om te loop. “ ’n Bedrag is nooit bespreek nie. Maar al het hulle my R10 miljoen aangebied, sou ek nee gesê het. Dit gaan oor die beginsel.”

Voor Grey was Scheepers as Afrikaans-onderwyser in die senior bestuur by die KwaZulu-Natalse private skool Hilton College.

Met sy aanstelling het die beheerliggaam sy onderwysdepartement-salaris verdubbel. Dié jaarlikse aanvulling van R516 000 is in 2018 deur die beheerliggaam weerhou. Scheepers moes dit met ’n hofbevel afdwing.

Hy gee ’n vreugdelose laggie oor al die hoekom-vrae.

“Verstaan die konteks: My voorganger (Volsteedt) het vyf, ses jaar lank ’n kantoor 50 m van myne gehad.

“En dan sit die oudhoof op die koffiewinkel se stoep langs sy kantoor en praat heeldag met die seuns en ouers en personeel, terwyl die nuwe hoof sy merk by die skool probeer maak . . . dis tog ’n resep vir ’n ramp.

“Én dis goedgekeur deur ’n beheerliggaam wat reken: kom ons bou vir ons geliefde oudhoof ’n kantoor ’n klipgooi van die nuwe hoof s’n.”

Volsteedt het eers “ ’n jaar of twee terug” sy kantoor ontruim, sê Scheepers. “Hartseer genoeg het ons aanvanklik ’n goeie verhouding gehad, en elke maand ontbyt saam gaan eet. Ek het hom in die eerste paar jaar selfs gevra om hulpafrigter by die eerste span te wees, want ek het geweet hy sou totaal en al vergaan het, sy hele lewe was Grey. “Sedert die 2018-bom het ek nie ’n woord van hom gehoor nie.”

Scheepers is beskuldig dat hy Grey se naam met litigasie deur die modder sleep. “Is ek ’n keuse gelaat? Ek en my regspan het van die begin af gesê: gee terug my magte, dan stryk ons dit buite die hof uit. Hulle was nooit bereid nie.”

Ook sy vrou is geviktimiseer, sê Scheepers. “Sy is ’n arbeidsterapeut by die laerskool. Sy is vyandig behandel, in daardie soort stilswyende isolasie. Ek dink toe hulle sien hulle gaan niks met my regkry nie, het hulle vir haar gegaan.”

Het hy ooit probeer om vrede met Büchner en die beheerraad te maak?

“Ek het hom einde 2017 in sy kantoor gaan sien. Ons het besluit om saam te werk in belang van die skool, maar toe gebeur die Mei 2018-vergadering.”

Die beheerliggaam is steeds besig met twee sake teen die departement van onderwys.

“In ’n stadium was daar ses prokureurs tussen die tien ouers op die beheerliggaam. Alles hoef nie deur litigasie ‘reggemaak’ te word nie.

“R1,5 miljoen van die skool se geld is onregmatig betaal deur die beheerliggaam vir hul regskoste. As skoolhoof is ek nooit daarin geken nie.

“Dis hoekom die Vrystaatse onderwyshoof die beheerliggaam se finansiële magte weggeneem het. Dié saak moet nog voorkom.”

Daar is bokse vol litigasie-dokumente, en elkeen van daai papiere het met stywe regsgelde gekom. Scheepers weet nie presies hoeveel nie, maar altesame “seker tussen R2 miljoen en R3 miljoen.”

Waarvoor behoort hý jammer te sê?

“Sjo . . . Dis ’n moeilike een. Ek is jammer dat die beeld van die skool skade gely het.

“Dis sleg dat Grey miskien nou nie vir al die wonderlike goed wat die afgelope agt jaar hier gebeur het, onthou gaan word nie, maar oor hoe die politiekery mense verdeel het.”

Hy dink ’n paar oomblikke.

“Die wond is oop en nou moet dit gesond word.

“Ongelukkig sal dit net kan gebeur as die beheerliggaam se termyn verby is of as hulle die eerbare ding doen en loop.”

Hy dink nie dis tyd om self te gaan nie?

“Waar laat dit ’n mens dan, siende die hofuitsprake? As ek geweet het wat ek nou weet, sou ek steeds gekom het. Ek was geroepe hiervoor. Dit was ’n gebedsaak.”

Met hom en die laerskoolhoof op dieselfde kampus, maar nie om dieselfde vuur nie?

Dit bly ’n onuithoubare situasie vir hierdie “gentlemen” met hul Grey-way wat in hul skoollied sing: Staan ons Grey Kollege heg en sterk.

Appèlregter Mahomed Navsa het albei partye in die hof gestriem. Hy sê in sy uitspraak: “Die skoolhoof kan dalk die slagoffer wees van ongeregverdigde kritiek deur sy teenstanders, óf hy gedra homself dalk soos deur hulle beskryf. Die beskuldigings van elke kamp is ernstig.”

Dis nou vir vorentoe kyk, sê Scheepers.

“Besluite moet van nou af in belang van die skool en die seuns geneem word.”

Moes dit nie van die begin af só gewees het nie?

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.