Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Profiele
Dié kolonel het ‘te veel geweet’
Hanlie Retief gesels met die Kinnear-gesin
‘Ek het gedroom dit gebeur. Ek het viér keer gedroom presies hoe my pa koelbloedig tereggestel word. In die een scenario is ek saam met hom in die kar, ek jaag met hom hospitaal toe.'
“My man sou niks van al die bohaai oor hom gehou het nie, maar ek wens hy kon sien watter verskil hy gemaak het,” sê Nicky Kinnear. By haar staan Casleigh, hul jongste, en ouboet Carlisle by sy pa se foto. Foto: Edrea du Toit

‘Ek het gedroom dit gebeur. Ek het viér keer gedroom presies hoe my pa koelbloedig tereggestel word. In die een scenario is ek saam met hom in die kar, ek jaag met hom hospitaal toe.

“In die ander drome is hy klaar dood en ek kan niks vir hom doen nie.”

Verlede Vrydag het Carlisle Kinnear (24) se nagmerrie waar geword. Sy pa, lt.kol. Charl Kinnear, speurhoof in die Wes-Kaapse teenbende-eenheid, is koelbloedig voor sy huis in Bishop Lavis vermoor.

Terwyl Carlisle praat, knik Nicky Kinnear en Casleigh (19) kyk grond toe en sê dan: “Ek het gedroom ek kom uit ’n winkelsentrum, my pa wag in die kar, kopskoot . . .”

Nicolette: “Ek droom ek huil bitterlik in die hospitaal, want Charl is oorlede.”

Carlisle: “Eers ná my pa se dood het ek my broer van my drome vertel. My ma het ons gehoor praat, en toe kom vertel sy van háár drome.”

Vir die heel eerste keer het hulle besef hulle deel dieselfde aaklige drome.

“Dit het ons seker in ’n mate daarop voorberei, maar niks kán jou op so iets voorberei nie.”

Carlisle (24, links), Nicky en Casleigh (19) Kinnear in hul leefkamer in Bishop Lavis. Lt.kol. Charl Kinnear, speurhoof van die teenbende-eenheid in die Wes-Kaap, is op 18 September voor hul huis in Gearingweg vermoor. Foto: Edrea du Toit

Self het Kinnear nooit met sy gesin gepraat oor dít wat hulle reeds tien jaar vrees nie: dat hy vermoor sou word.

Sy werk was bitter gevaarlik. Hy het pas groot deurbrake gemaak in sy ondersoek na die onwettige uitreik van vuurwapenlisensies. Die net om korrupte onderwêreldfigure en polisielede het in die laaste dae van Kinnear se lewe ál stywer gespan.

Vir die drie Kinnears was hy hul pa en man met die groenblou oë, voorsanger op troues en begrafnisse, wat die vorige week nog 20 kg Omo sonder ’n oogknip by sy buurman gekoop het én hom gehelp het met ’n sakeplan, want die buurman het sy werk tydens Covid-19 verloor . . .

Sy dood het ’n kreet geword. Hy het met sy lewe betaal vir verandering.

Kinnear was sommer ook ’n pa vir sy seuns se pelle, hy met sy beerdruk-groet en 12 koppies tee per dag en sy gewoonte om die óómblik as hy tuis kom sy langbroek te gaan uittrek en in sy boxers rond te loop. “En as ons kla daaroor, het hy net gelag en gesê ‘is mý huis . . .’ ”

Sag binne hierdie mure, ja, maar buite vreesloos, vertel Nicky.

“Hy het nie geskroom om die hoëkoppe aan te vat nie. En omdat hy so ’n reguitprater was, was hy nie oral gewild nie.

“My man is vermoor oor hy nie gedraai en ’n korrupte polisieman geword het nie.”

“My man se dood moenie nog ’n statistiek word nie.” Nicky Kinnear, ses dae na haar man, lt.kol. Charl Kinnear voor hul huis in Bishop Lavis koelbloedig tereggestel is. Foto: Edrea du Toit

Casleigh: “Ons het dit gewéét, dis die eerlike waarheid.”

Carlisle: “My pa het nie sy sake bespreek nie, net gesê polisiekorrupsie is baie groter en hoër op as wat mense dink. Dis asof die geveg nou meer bínne die polisie is as daarbuite. Korruptes vs. eerlikes.”

Al wat Casleigh vir sy pa se moordenaar wil sê, is: dankie.

Hy glimlag vir ons verbaasde gesigte.

Dinge móét verander. Charl is nou dood. Maar wie is volgende?

“My pa het leuens en gangsters gehaat. Maar wat hy heel meeste gehaat het, was korrupte polisielede.

“Ek weet my pa het ’n klomp polisie-offisiere en oudlede ondersoek en ek weet ook my pa sou nooit tyd gemors het op ’n ondersoek wat nêrens heen gaan nie. Hy was op die punt om die korrupte polisielede te vang. Die vraag is of hulle uiteindelik daarmee sou wegkom. Waarskynlik.

“Maar sy dood het nou ’n kreet geword. Die ondersoeke kan nie meer net in die sand verdwyn nie. My pa betaal nou met sy lewe vir ware verandering.”

Nicky: “Dinge móét verander. Charl is nou dood. Maar wie is volgende? Niemand het my man beskerm nie, wie sal dié wat my man se dossiere oorneem, beskerm?

Nicky Kinnear met Casleigh en Carlisle.

“Soveel speurders is al vermoor. Soveel het al bedank voordat hulle lood in húl lywe kry. Kan jy dink hoe bang hulle nóú is? Dis hoekom ek en die kinders nou so kliphard praat, want iemand moet my man se spanlede – goeie, eerlike speurders – se hande omhoog hou.

“Anders sit daar nog ’n vrou en kinders op ’n bank, soos ons hier.”

Daar is geen tyd nou vir haar om die grieving willowing widow te wees nie, sy moet sorg dat Kinnear se dood nie net nog ’n statistiek word nie.

Vir die Kinnears was Charl in sy laaste week nie anders as gewoonlik nie. Hy was in elk geval altyd bedag op ’n sluipmoordaanval.

“Ons bly al 27 jaar in dié huis, my man het aangedring om in Bishop Lavis, tussen sy mense, te bly, al was dit gevaarlik.” By Nicky is haar seuns Casleigh (links) en Carlisle. Foto: Edrea du Toit

“Ons weet hoe versigtig hy was. Hy sou dadelik geweet het van ’n vreemde kar of persoon in ons straat. Die moordenaars het dit duidelik fyn beplan.”

Casleigh: “En uiters berekend uitgevoer. Professioneel. Teen my pa se kop.”

Die post mortem was nie eens nodig om vir hulle te bevestig die eerste skoot was fataal nie. Kinnear het altyd met sy vuurwapen op sy skoot of onder sy bobeen bestuur. Sy wapen was steeds onder sy been. As hy ’n greintjie krag oorgehad het sou hy daarna gegryp het, sê hulle.

My man het hoeveel keer van sy foon vertel. En as ons geweet het, het die polisie mos ook geweet.

Nicky: “Dít wys dat hy nie sy moordenaar as ’n bedreiging beskou het nie.”

Casleigh: “My pa het van onder af ons straat ingedraai, en dis twee, drie sekondes se ry tot by ons huis. Mens kan die hele straat voor jou sien. Die moordenaar het van die teenoorgestelde rigting aangekom.

“Toe my pa stilhou, moes hy meters van hom af gewees het. So, my pa móés hom geken het, of al vroeër hier gesien het. Alles sal op die kameras hierbuite se opnames wees.”

“Ons het nege jaar uitgegaan. Charl het vir die do
“Ons het nege jaar uitgegaan. Charl het vir die dominee gesê hy is nou moeg om elke aand die paadjie na my ouerhuis te stap om te stap om te gaan vlerksleep,” lag Nicky Kinnear.

Die Kinnears het nog altyd geweet Charl se foon word nagespoor. Dit was geen verrassing vir hulle toe iemand hieroor in hegtenis geneem is nie.

“My man het hoeveel keer van sy foon vertel. En as ons geweet het, het die polisie mos ook geweet.

“Hy het vir beskerming gevra. Dis geïgnoreer. Hy het weer gevra. Dis weer geïgnoreer. Dit was mos nou nie ’n staatsgeheim dat sy lewe in gevaar was nie.”

Nie net Charl se foon nie, maar al die Kinnears se selfone is afgeluister. Hulle moes gereeld nuwes kry. Jy kan dit hoor, sê hulle, dit klink hol, asof jy op ’n berg sit. Nicky praat sommer met hulle, lag sy, sy sê die voëltjies sit op die lyne, sy gaan nou-nou vir hulle mielies gooi.

“Hy sou nooit wys hy’s ons pa nie, het nooit vir ons geskree of gewaai nie, maar hy was daar.”

Die mense naaste aan hulle het altyd gesê dit klink of die Kinnears in ’n “moewie” is.

Maar dis die werklikheid.

Só ’n oproep wil Carlisle nooit weer maak nie: om jou ma te bel en te sê kom huis toe, Daddy is in die kop geskiet.

Nicky se oë raak vol trane. “Die bure vertel hoe almal begin huil het toe die twee kinders met hierdie hordes mense om hulle op hul knieë gegaan en hul hande gelig en vir hul pa gebid het.

“Charl het gesê hy het op my verlief geraak toe ek
“Charl het gesê hy het op my verlief geraak toe ek nog vessies gedra het. Ons was hoërskoolliefdes,”’vertel Nicky Kinnear. Die foto is op hul 25ste huweliksherdenking in Saldanha geneem. Foto: Verskaf

“Ek dank God, my kinders se Christelike grondslag is stewig.”

Die rit huis toe . . . joe, sy het so stomp gevoel binne-in haar, onthou sy. “En daar sit my man stukkend in sy kar.”

Casleigh. “My Daddy het gelyk soos hy altyd lyk as hy slaap.”

Hulle het Vrydag al besef Kinnear se dood het ’n roof afgekrap van ’n swerende wond: Bishop Lavis se mense is óp vir bendes en korrupsie.

Charl Kinnear was 30 jaar in die speurdiens.

Mense is mos maar nuuskierig, het Nicky gedink toe sy die skare mense by die moordtoneel sien. Maar ná die forensiese mense weg en die kar verwyder is, het die mense bly staan. En staan.

Toe besef sy dis nie oor hulle nuuskierig is nie, dis omdat die gemeenskap omgee. Sy en haar kinders het op ’n kussing op die sypaadjie bly sit, agter die polisielint. Hulle wou nie ingaan terwyl die hele gemeenskap daar was om hulle te ondersteun nie.

Niemand kon in die straat kom nie, naderhand die hele straatblok, want soveel mense het daar opgedaag. Die hele naweek. Donderdag met die roudiens ook.

Hulle wens hy kon sien hoe die wêreld eintlik oor hom voel.

“Hy was altyd by ons sokkerwedstryde, maar hy het
“Hy was altyd by ons sokkerwedstryde, maar hy het eenkant gestaan, weg van die mense, want hy was ’n teiken,” sê Casleigh Kinnear. Foto: Verskaf

Kinnear het behoort aan Bishop Lavis. Hier het hy grootgeword, hier het hy gesterf.

Baie mense het gesê hy is roekeloos om te bly in die gebied waar hy werk. En ’n kolonel wat ’n Corolla ry? Maar dit het juis alles van Kinnear gesê.

Nicky was in gr. 8 toe sy smoorverlief raak op die matriekseun met die groenblou oë (“potblou as hy kwaad raak, groen as hy ’n liefie is”) wat vir haar Sondag­skool gegee het.

“Hy het altyd geterg hy’t my ontmoet toe ek nog vessies gedra het . . .”

“Ons kuier hier by die huis met ons vriende, klubs was taboe. Bel as ons iewers aankom – ’n Kinnear-wet.”

Dis Daddy daai, bars Casleigh uit van die lag. “Hy het die droogste jokes gemaak en dan dink hy dis baie snaaks.”

Nicky: “Ons het nege jaar uitgegaan voor ons getrou het en 27 jaar in hierdie huis gebly. Hy wou terugploeg in sy eie gemeenskap. Kinders het rolmodelle nodig.”

Kinnear was 30 jaar in die speurdiens. Hy het destyds saam met Desmond Segal en Leonard Knipe vir die moord-en-roofeenheid gewerk. Hy kom uit die ou skool, vertel sy, sy puntenerige, waterdigte dossiere was sy trots.

Hy was tien jaar op ’n moordlys, so die seuns was nooit gewone tieners nie. Hulle is geleer om nooit op ’n vasgestelde tyd die huis te verlaat nie, verskillende roetes te ry en nooit almal in dieselfde kar nie.

“Met Carlisle se gradeplegtigheid in sportwetenska
“Met Carlisle se gradeplegtigheid in sportwetenskap .” Foto: Verskaf

Die seuns se sokkerwedstryde was heeltyd risikobestuur. Kinnear sou opdaag minute voordat die wedstryd begin, heel op die ander hoek van die veld gaan staan en weer voor die einde verdwyn.

Carlisle: “Hy sou nooit wys hy’s ons pa nie, het nooit vir ons geskree of gewaai nie, maar hy was daar.”

In winkelsentrums het hy altyd 15, 20 meter agter sy vrou en kinders geloop aan die teenoorgestelde kant van die gang.

“Ons kuier hier by die huis met ons vriende, klubs was taboe. Bel as ons iewers aankom – ’n Kinnear-wet.”

Verlede November is Kinnear se kollega lt.kol. André Kay in sy oprit in Bishop Lavis vermoor.

“Asseblief. Vang die skuldiges.”

’n Week later is iemand met ’n handgranaat voor die Kinnears se huis gevang. “En dit was terwyl ons onder polisiebewaking was, dit wys hoe desperaat hulle was.”

In Desember is die Kinnears se polisiebewaking sonder rede opgeskort. “Die besluit is op provinsiale vlak geneem, maar dis nou ’n nasionale kwessie, die antwoorde moet nou kom.”

Die héél ergste sal wees as niks gebeur ná haar man se dood nie.

“Asseblief. Vang die skuldiges.”

“Nou het ons net die herinneringe oor. Maar dis go
“Nou het ons net die herinneringe oor. Maar dis goeie herinneringe, geen verwyte nie,” sê Nicky Kinnear. Foto: Verskaf

In hierdie leefkamer met sy vistenk en pool-tafel en gemaklike rusbank het Kinnear altyd saam met sy laaities uitgehang en sy longe vir Manchester United hees geskree.

In sy boxers, lag hulle.

Nou hang ’n landsvlag teen die muur met Kinnear se polisiepet en lapelwapens daarop vas. Twee wit kerse weerskante van ’n groot foto. Blomme, oral.

Carlisle: “Ek hoor nog hoe sê hy ‘maak gou vir my tee.’ ”

Nicky: Hy sou nou gesê het: ‘is al die mense nog stééds daarbuite?’ Hierdie aandag sou hom óp gehad het!”

Die streng kolonel wat met ’n fyn glimlag en ’n dik dossier verby Nafiz Modack in die hof stap.

Die pa wat Saterdae plakkerskamp-kinders oplaai vir sokkeroefening, met ’n sak vol stewels en kouse in die kattebak.

Nou weet die wêreld so bietjie wie Charl Kinnear was.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.