Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Profiele
Om treur te definieer
Hanlie Retief gesels met dr. Danie Brink
Dr. Danie Brink en sy kinders In hul huis in Groenkloof, Pretoria. Daniël (2) hou sy “sterre-bêbê”, sy kombersie vas, met Johann (8) en Mieke (15). Foto: Deon Raath

"Ons was besig om windpompe te speel in die kar. Jy ken daai speletjie? André het sy kant se windpompe getel en Mieke haar kant s’n. Ek kan onthou André was vyf-drie voor . . .

“Dit was ’n halfsekonde, nee, kwártsekonde: ’n klapgeluid, die kar is dwars in die pad en hy begin rol. Rachel het links agter gesit, en sy het net gesê: ‘Ô’.”

Klap. Ô. Rol.

“Ek dink almal wat links gesit het – Lise, André in die middel en Rachel agter, is met daai eerste rol hard getref.

“Toe land ons in die veld, die kar op sy wiele. Ek maak myself los, klim by die stukkende venster uit en daar is rook en ek stap om . . . en ek . . . het net onmiddellik geweet André en ­Rachel is dood.

“Lise het sag gekreun en haar knie was heeltemal ontwrig, haar onderbeen vreemd-skeef.

“Teen daai tyd het Mieke al vir ­Daniël losgemaak en op haar skoot gehad. Hy het nie eens ’n skrapie gehad nie. Ek het snytjies aan my kop gehad.

“Mieke het ’n duim verstuit en ­Johann was deurmekaar, met ’n sny aan sy kop. Shame, Mieke het seker vyf keer gesê: ‘Pappa hierdie is nie ’n droom nie, nè?’ ‘Nee, my skat.’ ”

Hoe troos jy jou kind langs die verfrommelde motor waarin haar boetie en sussie dood lê en haar ma veg om haar lewe.

Erge goed gebeur met mense, maar dis van die ergste wat seker met jou kan gebeur, jy weet.
Danie Brink

“Erge goed gebeur met mense, maar dis van die ergste wat seker met jou kan gebeur, jy weet,” sê hy sag.

Dit is ’n tragedie wat die land aangegryp het.

Dr. Danie Brink, uitvoerende hoof van Solidariteit Helpende Hand, sy vrou, Lise, en hul vyf kinders was, soos soveel Suid-Afrikaners, op pad na ’n seevakansie. En toe, op 16 Desember, het daardie stil vrees wat in motors saamreis, húl werklikheid geword.

Die Brinks woon in ’n Groenkloof-huis met ’n hamster in ’n hokkie, ’n klavier, ’n paar ou Bybels op ’n tafeltjie by die voordeur, ’n lang gang met kamers vir kinders, ’n groen bak in die kombuis met “nannies” en ’n stoep wat uitkyk oor ’n boom met ’n foefieslaaid.

By die instap voel jy die harmonie.

In September het die Brinks appels gaan pluk in Suid-Tirool. Lise, Danie, André en MIeke met Rachel en Johann voor.

“Ons het ’n fantastiese jaar gehad as gesin. Ons het ’n maand lank gaan appels pluk in Suid-Tirool (Italië). Ek weet nie hoe ons dit reggekry het nie, ek is ’n salaristrekker met ’n enkelsalaris. Maar ons hét.

“En ag, ek het toe seker ’n honderd keer gedink dinge kan nie beter nie.

“Ek, Mieke en André het 102 ure saam appels gepluk. Gesinstyd. Ek dink die Here het dit vir ons gegee as ’n laaste vakansie.

“Joeg,” raak hy aangedaan.

“ ’n Mens se huil sit so vlak . . .”

Innerlike krag. Soveel mense noem dit as hulle van Danie Brink praat. Jy sien dit daar op die rusbank. ’n Stukkende man, ’n regop man.

Al vier Brinks het my kom verwelkom. Danie, Mieke (15), Johann (9) en die blonde klein Daniël (2), ’n eenheid in hierdie krisis, in ’n ry op die bank.

Mieke wat giggel vir Daniël wat sy mond snaaks trek vir die kamera, ­Johann wat skuil onder pa se vlerk.

’n Mens se huil sit so vlak . . .
Danie Brink

Dis hier waar hulle opgewonde die middag gewag het vir die motor om van sy diens te kom. Gejuig het, halfvyf, want toe kon hulle pak en ry. Soos altyd, met Lise se reispakkie vir elke kind – en as hulle als opeet vóór die Fonteinesirkel, is dit orraait, maar dan’s dit droëbek verder.

Die oorslaap in ’n gastehuis op ­Theunissen was “ ’n luukse waaraan ons kinders nie gewoond is nie”, glimlag Danie. Ontbyt ’n lekkerte van kies-wat-jy-wil. Kwart voor nege was hulle op pad. Elkeen vasgegespe op sy plek in die ou Prado met sy drie rye sitplekke.

Dit was die Brinks se laaste ontbyt as gesin só saam. Agt-en-twintig kilometers verder was die ongeluk.

“Ja joegie, dit gebeur vinnig, nè, baie, baie vinnig,” sê hy sag.

“Jy ry nog so 110 km/h, en dis hierdie pragtige Vrystaatse someroggend, en die volgende oomblik . . .”

In die begin was dit die geluide en die grusaamheid wat hom gery het, snags oor en oor.

“Daar was genade in die feit dat Lise so ernstig was – ons kon daarop fokus.

“By tye het dit gelyk of sy dit nie gaan maak nie. Ek moes dit in kompartemente doen: treur oor André en ­Rachel, die kommer oor die ander drie. En Lise.”

Lise se linkerbeen het geleidelik ’n krisis geword. “Ek onthou hoe yskoud haar voet die aand gevoel het. Maar die volgende oggend toe’s hy warm en ek juig. Maar toe’t sy klaar die spiere verloor. Daardie aand is haar been bo die knie geamputeer. Ek het so gehoop ’n mens kan dit vir haar spaar, sjoe . . .”

Ek gaan baie stadig hardloop.
Lise Brink

Dae later, toe Lise wakker is, toe sy weet van haar been, fluister sy vir hom: “Ek gaan baie stadig hardloop,” en hy antwoord: “Ek gee nie om nie, ek wil jóú as drafmaat hê.”

Hoe definieer jy treur, wonder ­Danie. “Hoe treur jy as jy 47 is? As jy 15 is? Nege? Twee? Ons het al op die stoep gesit en net gestaar. Hulle slaap meestal by my – Mieke op ’n matras en Johann by my in die bed.

“Saans as dit rustig raak, gesels ons. Ek beskryf dit vir hulle só: ‘Hier’s treur, en hier’s jou gewone lewe, en jy moet jouself nou en dan toelaat om na daai treur te gaan.’

“Daniël het ’n paar keer gevra: ‘Waar’s boetie en Lalie?’ Dan sê ek hulle is by God. Oukei. Eers het hy ’n bie­tjie gehuil as ek na Lise toe gaan, nou gee hy my net ’n soen om vir haar te gaan gee.”

En hý?

“Ek gaan na daai treur toe. Genoeg kere,” knyp hy sy oë toe.

“Daniël kom staan halfses soggens langs my bed, en dan word ek wakker en die rou treur slaan my, want dis asof jy daarvan vergeet terwyl jy slaap.

“Maar dan staan hierdie klein asempie langs my en ek moet opstaan vir hom. En dan gaan die dag aan en die son skyn weer ’n bietjie.”

Soms het dit vir Danie gevoel: vandag is daar een veranderlike te veel om te hanteer.

“Kersdag moes Johann teruggaan ­teater toe vir ’n abses in die sny op sy kop. En hy ween 30 uur aanmekaar en ek het nie raad nie. En ek is moeg en bekommerd oor Daniël en Lise het longontsteking en sy gaan tree vir tree agteruit.”

En hy worstel met die vraag: Is die beste vir Lise nie om nou maar dood te gaan om by haar drie kinders in die hemel te wees nie? “Ek was verskeurd. Toe tref dit my: Lise het nog nooit die maklike pad gekies nie en altyd ons gesin se saamwees eerste gestel.”

Dit dra ons deur. Maar daar is ’n vreeslike fisiese kant, nè. ’n Menslike kant van verlange.
Danie Brink

Hy grinnik. Hy weet nou presies hoe hondnaar Lise met elke swangerskap gevoel het. “Ek het ’n ondertoon van naarheid wat nie weggaan nie. Ek loop tussen winkelrakke en dink: Hoe is niks lekker nie?”

Die Brinks het in 2006 ook ’n kind verloor. “Lise was 24 weke swanger met Louise toe sy met ’n nierdefek gediagnoseer is. Elf weke lank het ons geweet sy gaan gebore word en sterf. Sy het net 80 minute geleef. Dis ’n ander rouproses, maar nie ’n fraksie van nou nie.”

Aan die geestelike kant, sê hy, hou hulle vas aan God en sy beloftes.

“Dit dra ons deur. Maar daar is ’n vreeslike fisiese kant, nè. ’n Menslike kant van verlange.”

Klein Daniël kom aangehardloop, voetstappies op die blokkieshout.

Danie gaan gooi vir hom ’n bakkie Otees in. Die lang kombuistafel se vernis is plek-plek dun geskaaf deur kinder­elmboë. Dis ’n tuisskoolhuis dié, ’n huis sonder TV.

“Ek en André . . . ons het daai foefieslaaid nog saam opgesit drie weke vroeër,” wys hy voortuin toe.

“Ek kon sien ons twee gaan eendag beste vriende word.”

En nou is sy kind se lewe kortgesny.

“Weet jy, daar is nie ’n André wat ooit bedoel is om 14, 15 of 16 te word nie. Vir altyd en altyd bly hy 13½ . . . ”, sy stem breek, “. . . en ek en Lise sal moet deal daarmee dat ons nie meer kan droom van André wat op 20 saam met my die Comrades hardloop nie, wat trou nie.”

Hy glimlag. “Hy het my laasjaar vir die eerste keer ooit met iets gewen – ’n 5 km-wedloop. O, ek was verontwaardig! Ons sou juis nou by die see ’n ­rematch gehad het. So, hy sal altyd onoorwonne bly met die windpompe en ons twee se wedlope.”

En Rachel, kosbare Rachel. Agt jaar en so twee maande.

Jy kan jouself nie doodtreur nie, as jy kon, dan sou jy.
Danie Brink

Sy gesig versag, jy sien die seer.

“Sy is ook op 24 weke met iets lewensbedreigends gediagnoseer – hydrocephalus, haar twee breinlobbe was nie verbind nie. As hulle oorleef, word hulle ’n maksimum vyf jaar oud.

“En Rachel, ag, sy’s so normaal soos nog iets. Nie een keer het ek haar ’n drukkie gegee sonder om te dink: Ek het gedog ek gaan jou nie hê nie, en ek hét jou. Dit was bonustyd met haar,” fluister hy.

’n Maand lank was dit ’n swaard oor Danie se kop: Hy moet vir sy vrou vertel twee van haar kinders is dood.

“Nadat Lise uit die geïnduseerde ­koma gekom en die morfien gestaak is, was sy nie oombliklik helder nie, dis ’n proses. Iewers daar het ek haar van die amputasie vertel, maar die volle impak het haar eers later getref.

“Oor die kinders . . . ek wou hê dit moet onmiddellik insink. So iets is nie vir bietjies-bietjies kry nie, jy moet die hele ding vat.”

Toe besluit Danie: Solank Lise nie kan onthou sy lê in die Unitas-hospitaal nie, is sy nie helder genoeg vir die nuus nie. En hy sit met hierdie ding en dis ’n swáár ding.

Jy hoor die aktuaris: “Dis ’n omgekeerde eweredigheid: hoe gesonder sy word, hoe banger word ek. Elke dag vra ek: ‘In watter hospitaal is jy?’ As sy sê Little Company of Mary, sug ek van verligting. Vandag hoef ek nie haar hart te breek nie.

“Tien dae terug vra sy: ‘Het net ek seergekry?’ Ja. Die volgende dag: ‘Hoe gaan dit met die kinders?’ Ek praat oor Mieke, Johann en Daniël en verander die onderwerp.”

Hy sug. “Ek kon net nie ’n derde keer ’n wit leuentjie vertel nie.”

Laas Sondag was sy helder. “Vertel my van die kinders,” sê sy. Toe weet Danie: dis tyd. En hy vertel haar.

Van toe af fluister Lise elke dag vir Danie: “Ek kan nog nie huil nie.” “Maar my vrou rou en treur waar sy daar lê. Sy fluister: ‘Ek word wakker en dan dink ek aan André en Rachel,’ en dan maak sy haar oë toe, ‘en dan word ek weer wakker en dink aan André en ­Rachel,’ en dan maak sy weer haar oë toe.

“En ek kyk haar so met haar kort-kort haartjies, sy wat altyd so ’n bos hare gehad het, en sy’s so dun, so broos . . . joe, ek het haar liewer as ooit.”

Hy ry soms in die motor en sê hardop vir homself: My twee kinders is dóód. “Ek weet nie hoekom ek dit sê nie, dis so totaal onwerklik.”

Hy blaas sy asem uit. “Dis ’n lang uitgerekte nagmerrie wat nie . . . dis wat dit is.

“Toe ek my foon terugkry ná die ongeluk was daar 1 100 WhatsApps. Een aand kry ek moed om hulle deur te gaan. By 80% van die mense hoor ek die hulpelose radeloosheid van: Ek weet nie wat ek sou doen as dit ek was nie.

“Wel, ons het maar net nie ’n keuse nie. Ons is maar net hier. Jy kan jouself nie doodtreur nie, as jy kon, dan sou jy. Ons is maar net hier. Eendag sal ons verstaan.”

Meer oor:  Solidariteit  |  Lise Brink  |  Hanlie Retief  |  Danie Brink  |  Ongeluk
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.