Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Profiele
Nooit, ooit net ’n slagoffer nie
Hanlie Retief gesels met dr. Emmanuel Taban

Die seun is 16. Hy sit in sy oom se huis in Nairobi, Kenia. Twee jaar reeds is hy weg van sy ma in Djoeba, Suid-Soedan. Regeringsoldate het hom gevang en in die berugte White House-tronk gegooi. Om die martelsessies te ontkom, het hy ingestem om ’n Moslem te word. Sy naam is verander in Nazir. Hy is in ’n vragvliegtuig Khartoem toe. Ná ’n ruk kon hy uit die Islamskool ontsnap Eritrea toe. Vele ontberings later, lang tye in tronke, is hy deur Ethiopië tot hier in Kenia.

Dr. Emmanuel Taban In sy spreekkamer by die Mediclinic Midstream in Midrand. Dr. Taban het verlede jaar as pulmonoloog gespesialiseer. Foto’s: Elizabeth Sejake

En nou sit hy in sy oom se huis. “Wat is jou plan, waarheen gaan jy?” vra sy oom. Die seun kyk af na die botteltjie Coke in sy hand en lees die woorde Made in South Africa. Hy kyk op en sê vir sy oom: “Ek is op pad Suid-Afrika toe”.

Vandag is dr. Emmanuel Taban een van net tien swart pulmonoloë – longspesialiste – in Suid-Afrika. Jy hoor energie in sy stem, in sy Engels die sangerige ritme van Noordoos-Afrika.

Hy is ’n lenige, vriendelike man wat maklik glimlag. Dáárdie glimlag, besef jy, het soveel Rooms-Katolieke nonne en priesters oorgehaal om hom op sy lang tog te help met kos en slaapplek en busgeld.

Een oomblik is hy nog die nederige voormalige woestynseun, dan is hy dr. Emmanuel Taban, stryder in die voorste Covid-19-linie in Midrand se Medi­clinic Midstream, trots daarop “dat ek sover nog geen Covid-19-pasiënt verloor het nie”.

Hy verhef nooit sy stem nie. Nie eens as hy vertel hoe hy twee weke gelede deur Tshwane-metropolisielede afgetrek en aangerand is terwyl hy dringend op pad hospitaal toe was om ’n Covid-19-pasiënt aan ’n ventilator te koppel nie.

Dit het vir my gevoel ek loop my droom tegemoet.

Ook nie as hy vertel hoe die metropolisie sy vrou, Mothea, ’n prostituut genoem het wat met buitelanders slaap nie. Hy is gewurg en gedreig hulle sal hom vermoor soos George Floyd. Intussen is al die klagte laat vaar, sê hy in sy kalm stem.

Nóg Addis Abeba, waar hy saam met straatmense gebly het, nóg die seekoeie in die Ruvumarivier wat hy probeer deurswem het, het hom so hulpeloos laat voel, het hy laasweek aan Rapport gesê.

Hy is ’n wonderlike mengsel van sagtheid en die ferm hand van ’n geneesheer.

Toe hy maande gelede besef het dat Covid-19 ’n pandemie gaan raak, was die eerste ding wat hy gedoen het om ’n protokol op te stel. Dis wat Emmanuel Taban sy lewe deur doen: Beplan jou weg uit ’n probleem, en gaan dan vorentoe.

“Ek is gebore op die moddervloer van ’n hut in Suid-Soedan, ’n land deur oorlog uitmekaargeskeur. My ma was ’n enkelouer en my statistiese kans om te oorleef tot volwassenheid was klein. Ek het dit aanvaar, my eie hulpeloosheid om my lewe te verbeter, soos almal om my, soos die meeste mense in Suid-Soedan steeds.”

Dr. Emmanuel Taban In sy spreekkamer by die Mediclinic Midstream in Midrand. Dr. Taban het verlede jaar as pulmonoloog gespesialiseer. Foto’s: Elizabeth Sejake

In Julie 1991 het dié 13-jarige akademiese uitblinker van sy skool sy eerste kitsles in menslike anatomie gekry toe die rebelle Djoeba gebombardeer het. “Dooie liggame, mense wie se koppe afgeblaas is.”

Sy lang tog deur Afrika het begin toe hy uit die Islamskool in Gedaref in die ooste van Soedan ontsnap het. Hy het in die nag gestap en weggekruip as hy ’n voertuig se ligte sien. “In die oggend het ek mense met ligter velle gesien en besef ek is in Eritrea.”

In Teseney het ’n Katolieke priester vir hom kos en busgeld gegee. Dit het ’n reddingsboei geword op sy reis – die goedhartigheid van Comboni-priesters.

Maar in Asmara het ’n Franciskaanse priester hom aan die polisie oorhandig en was hy vir vier maande, tot Januarie 1995, in ’n haglike tronk.

Die VN wou hom in ’n vlugtelingkamp in Djiboeti saam met Somaliërs gooi, maar hy het botweg geweier. Reeds toe het die jong Emmanuel besef hy is verantwoordelik vir sy eie heil, dat hy na sy eie GPS moes luister.

Die roete.

Kenia toe, het hy besluit, al moet hy soontoe stap. “Ek is deur die bosse oor die grens en toe loop ek snags op die hoofpad Nairobi toe. Een nag het hulle op my geskiet terwyl ek in die bosse weggekruip het.

“Ek het niks geslaap nie, ek was vreeslik opgewonde, want dit het vir my gevoel ek loop my droom tegemoet. Ek was net 16 en naïef.”

Die volgende oggend is hy gevang. “Ná dae sonder kos in die tronk het ’n Suid-Soedannees die Keniane se kos gegryp en vir my gegee. Ek was so geskok, maar toe sê hy: Eet en lewe, of sterf. Kies.”

Hy is só erg geslaan toe hy nie sy klere wou uittrek vir ’n tronk-inspeksie nie, sy arm is ontwrig. Hy is later soos uitskot op die Ethiopiese grens gelos. Toe begin hy wéér stap Nairobi toe, dié keer deur Somalië.

“Gelukkig het mense my gekry en gesê in hierdie woestyn sal ek sterf. Toe vat hulle my terug.”

Terug in Addis Abeba was hy lank ’n straatkind.

“Ek hoor toe een van my ooms is ’n VN-dokter. Die sekerheid wou my nie deur sy hekke laat nie. Hy het my brief geïgnoreer, en óf ’n koerant gelees óf weggekyk as hy in sy kar uitgery kom. Ná drie dae het ek opgegee.”

Hy het sy pad langsaam gevind tot in Nairobi en die oomblik met die botteltjie Coke. Skielik was daar ’n doelwit: Suid-Afrika.

Die laaste sente vir ’n buskaartjie na Arusha en Dar es Salaam is betaal vir sy “totsiensbus uit Kenia” in Julie 1995.

Oor Afrika heen het hy ’n klein Nuwe Testament met hom saamgedra. En, vertel hy in sy sagte Engels: “I prayed all the time like crazy.”

Hy onthou die klein paadjies met die gras aan die kante in Mosambiek, die tee van vriendelike mense, hoe vry hy gevoel het terwyl hy stap.

“Bang vir mense, nooit vir wilde diere nie. Maar een keer het twee swart mambas voor my in die pad baklei.”

Toe hy doodluiters 04:00 die oggend die Zimbabwe-grens by die Limpopo­rivier wou oorstap, het ’n Zim-amptenaar hom voorgekeer en gesê die Suid-Afrikaners sal hom nooit toelaat sonder ’n visum nie. Die amptenaar het hom ’n paar ure laat slaap op sy bank, en hom toe self oor die grens geneem. “Sonder enige papiere.”

Altyd die goedheid van die mense van Afrika.

Skielik was hy hier. Verstom oor die vierlaan-paaie by Johannesburg, die blink, nuwe karre. By die Carlton-sentrum sien hy vir die eerste keer ’n hysbak. “Ek ry op en af, op en af,” lag hy, opnuut verwonderd.

Hy het ’n ruk lank in doodsgevaar onder padborde naby Ellispark geslaap. Al sy klere is gesteel. Desperaat het Emmanuel ’n Katolieke kerk gaan soek. Toe die priesters die biskop bel en hy nie kon help nie, het Emmanuel gaan smeek om die nag voor die kerkdeure te mag slaap.

Wéér het die priesters die biskop gebel. “Biskop Joseph Sandri kom toe 06:00 daar aan in ’n wit Mazda 323. 23 November 1995. Dis wanneer my lewe finaal ten goede verander het. Hy is laasjaar in Mediclinic Midstream oorlede, die hospitaal waarin ek werk.”

Die sendelinge het weldra agtergekom Emmanuel het meer ambisie as om hul tuin netjies te hou en hom bygestaan om sy matriek te kry. ’n Afrikaanse juffrou het hom smiddae ekstra klasse gegee om die taal aan te leer.

Toe sy 57% hom nie toelating tot medies gegee het nie, het Emmanuel sy matriek herhaal, 73% gekry en Medunsa het hom aanvaar.

Regdeur sy mediese studies moes hy elke drie maande 03:00 soggens in die lang ry in Harrisonstraat gaan staan vir ’n heraansoek om tydelike verblyfreg. Hy was sy beurs kwyt toe die regering buitelanders gediskwalifiseer het. Niks het maklik gekom nie. ’n Petisie van Lawyers for Human Rights was nodig om sy internskap in 2004 in die Kalafong-hospitaal te kon doen.

Hy kon sy ma in 2003 vir die eerste keer kontak sedert sy 1994-vertrek uit Djoeba. Sy was oortuig hy is dood. “Toe ek haar bel, hoor ek my broer is dood. Ek kon hulle verstaan, maar nie meer self die dialek praat nie.”

In 2006 het hy gaan kuier. Dit was ’n warboel van blydskap en hartseer; hy het al vergeet in watter haglike omstandighede hulle bly.

“Ek is terug met soveel vrae: Hoekom het ons Suid-Soedannese nie ’n beter lewe nie? Vir die eerste keer in my lewe het ek my geloof bevraagteken.”

In bidsessies met die sendelinge het Emmanuel gewroeg: Haat God Afrikane? Hoekom het ons so min?

“My voog, ’n latere biskop, het gesê leierskap, harde werk en onderwys is die sleutel. Maar hoekom analiseer en kritiseer Afrikane net heeltyd, hoekom dóén hulle nie?

“Nee. Ek weier om myself te laat vasvang in ’n slagoffermentaliteit. Ek dink ek was suksesvol in die lewe omdat ek swaarkry as ’n uitdaging gesien het, eerder as om hulpeloos ander daarvoor te blameer. Voor jy nie jou mislukkings aanvaar nie, sal sukses nooit kom nie. In alles wat met jou gebeur, is daar ’n les. Jy kan óf jouself daaruit loswikkel en groei óf jy bly vir altyd ’n slagoffer.

“Selfs nou, ná die drama met die Metropolisie, wil ek eerder die situasie ontleed sodat ek kan sorg dat my kinders nooit slagoffers van xenofobie en rassisme word nie.”

As jong dokter het hy die Suid-Soedannese regering met gesondheids­opleiding gehelp. Dit was vir hom vreemd dat hulle hom wou vergoed, want dit was tog sy plig om sy geboorteland te help.

“Dis asof almal aanvaar jy moet jouself eers verryk, plunder. Hartseer.”

Hanlie Retief

Hy het Motheo, ’n fisioterapeut, in 2007 in Tukkies se biblioteek ontmoet. “Sy is ’n Pedi. Ek het verlief geraak, ’n góéie ding, en nou het ons drie kinders.”

In sy vyf jaar as internis in private praktyk het hy homself byna doodgewerk. Die vry kind van Afrika was skielik vasgevang. “Ek het soveel omgegee vir my pasiënte, ek het nie die geld wat ek gemaak het, uitgegee nie.”

In 2016 het hy by Wits verder gaan spesialiseer in pulmonologie. Hy is die eerste in Suid-Afrika wat die Europese eksamens in intervensie-pulmonologie gedoen het. Hy sê heeltyd nee vir werkaanbiedinge uit Australië, Nieu-Seeland en Kanada. “Afrika is my huis.”

Met sy voete hier aangekom. Nou ry hy ’n BMW X5. Hy is ’n topverdiener. Maar al wat werklik saakmaak, hoor jy oor en oor, is dat sy kinders ’n makliker toekoms as hy sal hê.

“Op die ou end is dit vasberadenheid, volharding, keeping your grit,” sê hy in sy sagte aksent.

“Jy moet net aanhou vorentoe.

“Ek is geen oomblik spyt oor my lewensreis nie. Ek sal dit vandag weer doen. As jy Kenia toe moet gaan, waarvoor wag jy?”

Hy lag, skielik uitbundig.

“Stap!”

Meer oor:  Midrand  |  Covid-19  |  Vlugteling
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.