Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Profiele
‘Dis soos iemand in ’n loopgraaf...’
Hanlie Retief gesels met Ernst Roets

Die Ernst Roets hier voor my in rooi tekkies en ’n trendy blokkieshemp is veel meer gemoedelik as die veglus­tige knaap wat in September verlede jaar ’n voorlegging oor grond in die parlement gemaak het.

Of die kwaai man in ’n “setting the facts straight”-video oor plaasmoord-statistieke uit ’n hotelkamer in ­Washington in Mei 2018.

“Ek hoor dit baie. Kollegas en vriende sê die manier hoe ek beskryf word en die Ernst wat hulle ken, is nie dieselfde nie. Ons by AfriForum glo ’n mens moet hard kan standpunt inneem wanneer nodig.

“Dis nie asof ek (by die parlement) ingestap het en net begin praat het nie. Dit was ’n taktiese besluit.”

Tee en simpatie bring jou net so ver, taktiek verder. Ernst Roets in sy sitkamer in ’n veiligheidsbuurt in Eldoraigne, Centurion. Foto: elizabeth sejake

Hul agenda was nooit om die komitee te oortuig nie. “Al narratief wat jy hoor, is wit mense het die grond gesteel. Ek wou die teenargument wat omtrent geen aandag in die hoofstroom kry nie, sterk laat deurkom: Jy kan nie veralgemeen dat wit mense grond gesteel het nie.”

Ná die voorlegging het die DA-LP Glynnis Breytenbach gesê sy vereenselwig haar met niks wat hy gesê het nie; die ACDP se Steve Swart het sy voorlegging as “arrogant” en ’n “onaanvaarbare belediging” beskryf. En dit het Elphas Buthelezi van die IVP, wat die Afrikaner-saak oor die algemeen goedgesind is, blykbaar, in die woorde van Corné Mulder van die VF Plus, “totaal oorboord” laat gaan.

Het sy aanbieding nie op die ou end landbou se saak skade berokken nie? “Ek dink nie so nie. Steve Swart het ná die tyd vir ons om verskoning kom vra en gesê ek kan maar vir mense sê hy was verkeerd.”

Ook Mulder – wat Ernst ver­lede week as “toondoof” beskryf het – het ná die voorlegging na hom toe gestap, vertel Ernst. “Hy het gesê hy dink ons voorlegging was goed. Hy was positief en het my gekomplimenteer.”

Hy is oor niks spyt nie, benadruk hy. Behalwe oor een ding: “Ek sal my toespraak beter leer, sodat ek vir hulle kan kyk terwyl ek dit sê.”

“Dankie, Lief, kan ek help?” spring Ernst op om die skinkbord by sy vrou, Lelanie, te vat. Sy is 13 weke swanger met hul vierde kind, en in haar vrye tyd ’n Annique-konsultant. Op die oomblik stres sy egter meer oor haar groot toets in ondernemingsbestuur vanaand op die Solidariteit-kampus Akademia.

Dis nie soos water van ’n eend se rug nie, maar die kritiek wat ek op myself het, is erger.

Met die Roetsies en Kallie Kriel se vyf kinders behoort AfriForum se topbestuur eersdaags amper ’n rugbyspannetjie in die veld te kan stoot.

Kritiek oor AfriForum se aanlyn-video Disrupted Land, waarvan Roets die regisseur was, het egter ook gekom uit die geledere van dié wat die organisasie oor die algemeen ter wille is – soos die Instituut vir Rasseverhoudinge se Gareth van Onselen wat die video “immoreel en afstootlik” genoem het.

Pieter Malan, redakteur van Weekliks, dink Disrupted Land doen AfriForum groot skade aan. Beeld se Barnard Beukman beskryf Roets se aanslag as “adrenaliengedrewe warm lug” waarmee al hoe minder Afrikaanssprekendes hul vereenselwig.

Verloor hy nie sy doeltreffendheid deur hom van so ’n breë, diverse stroom mense te vervreem nie?

“Ek is bekommerd daaroor. Maar ’n mens moet eers kyk van wie die kritiek kom, en of dit opbouend is. Beukman en Malan se kritiek is opbouend, ek het respek vir hulle.

Maar aan dr. Piet Croucamp se beskrywing van hom as ’n terroris steur hy hom nie. “Hy is ’n polemikus. Ek wroeg nie daaroor as Piet Croucamp nie van my hou nie, ek stem met min saam wat hy sê.”

Op kykNET-Verslag het Rapport se redakteur, Waldimar Pelser, gesê Disrupted Land bevat ’n “kru vergoeiliking van apartheid” en dit lyk nou amper of AfriForum grondgrype in die verlede goedpraat terwyl hulle waarsku oor grondgrype wat nog nie gebeur het nie.

Ernst is hoofkitaarspeler in ’n rockgroep, Soms wen die wolf.

Die dokumentêr het nie apartheid probeer verheerlik nie, beklemtoon Ernst. “Ek het die teks geskryf. Ons wou uitwys dat die geskiedenis meer kompleks is as die heersende eendimensionele narratief dat wit mense die grond gesteel het.

“Die persepsie vandag is dat die staat net ingefoeter en mense verskuif het sonder enige prosesse; hulle was net berserk. Die onbekende, meer genuanseerde, narratief is dat daar ’n reeks voorvereistes vir grondonteiening was. Interessant genoeg was dié voorvereistes baie meer gerusstellend as die voorvereistes wat die regering vandag vir onteiening sonder vergoeding stel.”

Sou hy die dokumentêr nou anders aanpak, gegewe dié wye reaksie?

“Ja, ek sou dit waarskynlik anders redigeer het. Ek sou ’n stuk bygevoeg het. Ons het intussen twee addendums bygevoeg, wat ons uit die staanspoor beplan het.”

Die les uit die addendum-onderhoude met die historikus Hermann Giliomee en ekonoom Russell Lamberti is dat voorvereistes nie altyd toegepas word nie, sê Ernst.

“Ons kan dus nie nou gerus wees omdat daar voorvereistes vir grondonteiening sonder vergoeding is nie.”

Lamberti kritiseer die omstrede Verwoerd-verwysings in die dokumentêr as “foute deur weglatings” omdat dit nie die omvang en impak van Hendrik Verwoerd se idees verreken nie.

Geldige kritiek, sê Ernst.

“Maar ek staan by die inhoud, want die dokumentêr gaan nie oor apartheid nie. Ons strategie was om slegs in die verbygaan sekere opmerkings te maak oor daai tyd.

“Ek het al hoeveel keer in onderhoude of artikels herhaal hoe boos apartheid was. Vier keer in die dokumentêr sê ons die gedwonge verskuiwings was ’n onreg wat deur restitusie reggestel moet word. Maar die beskuldiging is nou ons probeer apartheid verheerlik, want ons speel nie in op daai een­dimensionele narratief nie.

“Die oomblik as jy oor die lyn trap en iets sê wat nie strook met die apartheidsnarratief nie, is jy ’n apartheidsapologeet.”

Hy is al gewoond daaraan om heeltyd in die spervuur te wees, knik Ernst.

“Ek hanteer dit goed. As ek ’n oorlogsmetafoor mag gebruik,” grinnik hy, “dan is dit soos iemand in ’n loopgraaf, in ’n aktivistiese stryd, en skielik word jy van die kant af geskiet. Dis sleg. Dit ontstel ’n mens.”

Hy dink ’n oomblik na. “So: Hoe hanteer ek die kritiek? Dis nie soos water van ’n eend se rug nie, maar die kritiek wat ek op myself het, is veel erger.” Huiwer. “Ek sou my video uit Washington anders gedoen het.”

Sy verwysing destyds na ’n Joodse skrywer wat gesê het intelligentsia moet opgehang word, en professore drie voet hoër, het gelei tot verskeie dreigemente teen prof. Elmien du Plessis van die Noordwes-Universiteit wat AfriForum se plaasmoordstatistieke betwyfel het.

“Ek moes nie die aanhaling só gebruik het dat mense iets anders daarin kon lees nie. Ek kom deesdae relatief goed met Elmien oor die weg; ons WhatsApp af en toe.”

AfriForum het nou meer steun as ooit, én meer kritiek. “Die kritiek volg op die steun, en die steun volg op die kritiek.”

Hy stem saam met Mulder se opmerking dat dit nie noodwendig goed is om onnodige gevegte in ’n gepolariseerde samelewing te begin nie.

“Maar ek dink nie dis prakties realisties nie . . . Ons wil nie die apartheidsgeveg veg nie, maar die geskiedenis word verdraai, en dit word die motivering vir die diskriminerende beleide van vandag. So: Is dit in dié tyd nodig om aktivisties te wees? Ja. Mooipraatjies bring jou nêrens. Ál wat ons in agt gesprekke met die ANC se presidente gekry het, was tee en simpatie en dan gebeur niks.”

Ernst is ’n regstreekse afstammeling van die Voortrekkerleier Sarel Cilliers wat die Gelofte geskryf het. Ernst-hulle vier vandag steeds Geloftedag. Sy ander oupagrootjie was Jopie Fourie se neef.

Hy het op Tzaneen grootgeword – sy pa ’n APK-predikant en sy ma ’n onderwyseres. ’n “Kultureel konserwatiewe” huis, sê hy.

Eintlik is hy ’n aktivis gebore, sê hy laggend. In sy hoërskooljare het hy suksesvol geagiteer vir ’n skaatsplankpark in Tzaneen. Dit strook nie met die persepsie van hom nie, sê hy glimlaggend, die skateboarder wat saans uitslip taxi rank toe om te gaan skateboard met straatkinders as vriende.

In 2006, ’n jaar ná ’n gewelddadige PAC-betoging op die Tukkie-kampus, beland Ernst Roets saam met die PAC-organiseerder in die studenteraad. “Ek konfronteer hom: Hoekom het julle so tekere gegaan? Toe lag hy: ‘You don’t understand the balance of forces.’ ”

Hy sê by die PAC het hy geleer: Vra in ’n e-pos vir die rektor om nie klasgeld te verhoog nie, dan ignoreer sy jou. Vra vir ’n afspraak, waarskynlik ook. Maar dreig om die kampus af te brand, dan bel die rektor jóú.

“Dis waar ek my les in aktivisme geleer het.”

En het hy ooit ’n les in meelewing geleer? Om in ander se skoene te staan? Onderskat hy nie die geweldige emosies en weersin in apartheid onder Suid-Afrikaners nie?

“Ek is 33. In 1985 gebore. My weersin in apartheid is anders, want my gemeenskap was die uitvoerder daarvan. Dit gaan teen die grein van alles wat ek glo. Dis vir my ’n verskriklike ding om te probeer verstaan wat tydens apartheid gebeur het. Ons hoor net hoe boos dit was, maar die mense wat ek geken het of ken, was nie boos nie.

“Hoe het hulle dan vir die bose stelsel gewerk? So, ek het verskriklik baie vrae daaroor. En in ons soektog na antwoorde, en dis ’n belangrike soektog, moet jy versigtig wees dat jy nie oorkom asof jy koud is teenoor die pyn wat daardeur veroorsaak is nie.”

Meer oor:  Ernst Roets
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.