Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Profiele
‘Mense dink ek is flashy, maar . . .’
Hanlie Retief gesels met Faf du Plessis
Die Zoom-Faf voor my in ’n poubont Puma-hemp op ’n spierwit bank laataand in sy huis teen die berg in Westlake, Kaapstad . . . is ’n denker wat peins oor BLM, leierskap, God.

Die Zoom-Faf voor my in ’n poubont Puma-hemp op ’n spierwit bank laataand in sy huis teen die berg in Westlake, Kaapstad . . . is ’n denker wat peins oor BLM, leierskap, God.

“Nou weet ek wat beteken onvoorwaardelike liefde. My hart is waar my meisies is.”

En die rooi bal.

Laataandminute vou oop in ’n hartwys-onderhoud met Faf-weg-van-die-veld. Die mens agter die kanonkolf, allesbehalwe sy pierewaaierbeeld.

In ’n droomdebuut met sy legendariese honderdtal op die Adelaide Oval het Faf in 2012 die toets vir die Proteas in ’n uitmergelende agt uur lange vegtersbeurt gered.

Al wat ek wou hê, is dat ons meer na mekaar moet luister, mekaar probeer verstaan.

En net daar deel van ’n generasie briljante krieketspelers, die bestes ter wêreld, geword.

“Om as nuweling ’n kleedkamer in te stap tussen legendes soos Graeme Smith, Jacques Kallis, Hashim Amla en AB de Villiers . . . Jy is dadelik in ’n kolf-meesterklas. Omring deur soveel genialiteit wil jy net presteer.”

Toe hierdie legendes een ná die ander begin uittree, was dit vir Faf soos om ’n treinsmêsh te sien gebeur: Een ná die ander het sy vriende, sy klankborde, verdwyn.

En nou, wanneer ons Faf se ervaring en vegtersbeurte die nodigste het, tree hy uit toetskrieket.

“Ná maande se dink, voel ek dis nou vir my die regte tyd. Ek het nege jaar my alles gegee.

“Ná die 2019-Wêreldbeker het baie mense gesê: Faf, tree uit, dis die beste vir jou en jou legacy as leier, want die volgende twee jaar gaan hel wees vir die jong toetsspan.

’n Einde en ’n nuwe begin. Pas ná Faf du Plessis sy uittrede uit toetskrieket aangekondig het, in sy “new whites” soos hy dit op Instagram beskryf. By hom is sy vrou, Imari, en dogtertjie Amélie.

“My kop het saamgestem, maar my hart het geskree: Jou span het jou nodiger as ooit. As kaptein wou ek vir die ouens wys: Maak nie saak hoe swaar dinge raak nie, ek ‘drop’ julle nie.”

Ná sy kapteinskap het hy ’n jaar aangebly om, soveel hy kon, die jong leiers te help.

Maar dis nou tyd.

“My manier is een van verhoudings en menswees."

“Daar lê nie veel toetskrieket voor in die volgende twee jaar nie, maar baie T20’s. Ek wil seker maak ek gee myself en die Proteas die beste kans om vir Suid-Afrika ’n trofee te wen.

“Ek voel my legacy as leier is iemand wat iets anders na ons krieket gebring het. Die ouens voor my was ongelooflike kapteins, sterk leiers, ouens soos Graeme Smith en Hansie Cronjé, maar my manier is nie hul manier nie.

“My manier is een van verhoudings en menswees. Om seker te maak ek bou ’n band met spelers op ’n vlak buite spel en presteer. Ons fokus altyd so hard op prestasie, ek wou seker maak die ouens is gelukkig, hulle wíl presteer in ’n omgewing waarin hulle hulself kan wees.”

Faf by sy BMW R65 Café Racer.

Faf beskryf sy teensinnige, tydelike opvolger, Quinton de Kock, as ’n kunstenaar, ’n Picasso wat net sy ding moet doen, dit waarin hy die allerbeste is. En hy? “Dalk die argitek, wat al die elemente probeer saambring.”

En die volgende kaptein? “Die beste leier, sou ek kies, nie noodwendig die beste speler nie.”

Mense druk hom nog altyd in ’n boksie as “hierdie fashion ou”. Dis nogal ’n nee in sport, veral in Suid-Afrika.

By Faf du Plessis hoor jy gereeld die woord “purpose”. Doel. Doelwit.

Hy glimlag skeefweg.

“As ouens my sien wil hulle my, um, moer, want hulle dink ek is ’n windgat klereperd. Op die veld wil my opponente net van my ontslae raak, soos David Warner-hulle wat my tjirp oor my klein hemp en my biseps. So, ek is my lewe lank al gewoond aan daai soort fights . . . ek love it. Dit bring die beste in my na vore, dis seker maar my sterkste karaktereienskap.”

By Faf du Plessis hoor jy gereeld die woord “purpose”. Doel. Doelwit.

“Toe ons die toetsreeks teen Australië die eerste keer ooit in Suid-Afrika wen... “ Faf, Imari en Amélie op die veld. Foto: Verskaf

“As kaptein was my purpose om ’n goeie rolmodel te wees, ek wou die land inspireer.”

Faf vir vaderland . . .

“Mmm, presies,” kyk blou oë jou stip aan.

Vir dié ou is mooi . . . mooi.

Op ’n Instagram-video onder die klanke van James Arthur se “Can I Be Him”, vier Faf Woensdag sy uittrede in “new whites”, Pumas, Panerai om die pols, “wifey” Imari aangevly teen hom in ’n rompie wat been wys. Toe Amélie tussen Pappa se kolfkuite deurglip, word Faf se glimlag breër.

“Ja-nee, ek het geen beheer oor my gevoelens vir Amélie nie. Ek sê vir Imari, sorry wifey, ek lief jou, maar nóú verstaan ek vir die eerste keer onvoorwaardelike liefde,” grinnik hy.

Hy is moeilik om vas te pen, dié kêrel.

Faf en Siya Kolisi by ’n voedingskema vir 50 000 kinders.

Hy het soveel tatoes dit lyk of hy met ’n nat koerant geklap is, First XI is sy eie wynreeks, hy ry ultra-retro rond op sy 1980’s BMW Café Racer, sy turkoois Spider-branderplank is spesiaal vir hom ontwerp (“ek wou nie een hê wat almal het nie, so ek is ’n oukei ‘surfer’, maar my ‘surfboard’ staan uit!”).

Vir dié ou is mooi . . . mooi.

“Ek is nog altyd gemaklik in my eie vel. Ek laaik dit om mooi aan te trek. Ek wil niemand namaak of probeer beïndruk nie, ek is net myself.

Nooit traag om met homself te spot nie.

“David Beckham is my totale Nommer Een. As ek een iemand kon kies om mee te kuier, is hy bo-aan die lys.”

Imari is nie soveel “in die fashion-ding” as hy nie, sy kom van ’n plaas, maar hulle is al 16 jaar saam, so dit smeer seker maar af, spot hy.

Nooit traag om met homself te spot nie.

“Ons lewe ons beste lewens... op een stadium het ek langs ’n luiperd gelê wat my nie eens gespot het nie,” spot Faf. Foto: Verskaf

“Ons is teenoorgesteldes, ek is hierdie super besige ou wat heeltyd aan die gang wil wees: Opstaan, gaan draf, ‘surf’, krieket oefen, dan speel met my kinders, gim, vanaand vriende oornooi. Sy is die rustige een, homey. Maar dis hoekom ons goed pas. Ons hou altwee van kosmaak, sy ‘surf’ ook, draf saam, maar dis altyd ’n uitdaging: ek moet rustiger raak, sy besiger.”

Faf en die Bok-kaptein Siya Kolisi het mekaar by Hillsong-kerk ontmoet. Dit was soos speed dating: Dieselfde kerk, nasionale sportkapteins. “En nou’s ons buddies.

“Een aand ná kerk het ek en Siya gou iets gaan eet. En daar stap Jürgen Klopp, Liverpool se afrigter, by ons tafel verby. Siya val omtrent van sy stoel af, want hy’s die grootste Liverpool-fan ooit. Nes ’n tienermeisie, hy kon nie ’n woord uitkry nie, toe gaan sê ons kelner vir Klopp Siya wil graag ’n foto saam met hom hê. En daar kom Klopp na ons tafel en sê vir Siya natúúrlik weet hy wie hy is, wat ’n fantastiese Wêreldbeker . . .

“Nou . . . David Beckham sal my Jürgen Klopp wees.”

“En ék staan langs hulle, wat duidelik nié ’n Wêreldbeker gewen het nie, maar heel lááste gekom het . . . en Siya stel my voor.”

Hy bars uit van die lag.

“Klopp en sy vrou het toe heelaand soos gewone mense saam met ons gekuier. ’n Week later het Siya oorgevlieg en ’n Liverpool-game gaan kyk, dit was insane!

“Nou . . . David Beckham sal my Jürgen Klopp wees.”

“En daar stap die Liverpool-coach Jurgen Klopp verby my en Siya Kolisi... en ons kuier die heelaand saam.” Foto: Verskaf

Dis met Siya wat Faf diep gesprekke oor Black Lives Matter (BLM) gehad het. “Ek is dankbaar vir daai geselse.”

Verlede jaar, toe Faf op ’n mediakonferensie gevra is watter transformasieboodskap Temba Bavuma se weglating die wêreld instuur, het hy geantwoord die Proteas sien nie kleur nie, hulle sien vir Temba wat verdien om daar te wees.

Hy het hope woke kritiek daaroor gekry, maar sy bedoeling was goed, sê Faf.

“Temba was onder druk, en ek het hom instinktief probeer beskerm. Op daai stadium het ek gedink ek het niks verkeerd gesê nie. Ek het intussen baie gesprekke daaroor gehad, ongemak­likes, nodiges. Ek moes insien dat iets wat ek dalk nie lelik bedoel het nie, in die swart kultuur as beledigend ervaar kan word. Dit was nodig om in ander skoene te klim, met empatie en liefde – uit ’n sagte plek in my hart.

"Dit het my diep geraak om te sien hoe verskriklik mense swaarkry."

“Tydens die inperking het ek en Imari ’n veldtog begin waar ons R300 000 ingesamel het vir ’n voedingskema vir 50 000 kinders. Dit het my diep geraak om te sien hoe verskriklik mense swaarkry.

“Toe Black Lives Matter gebeur, kon ek met dié perspektiewe makliker praat oor die lesse wat ek geleer het.”

Maar mense wat sy transformasie nie verstaan het nie, wou weet: “Faf, wat dink jy doen jy?”

Daar is gesê Faf gee nie om oor plaasmoorde nie.

26 Maart 2017, Hamilton, Nieu-Seeland, dag twee van die toetsreeks. Hy het legendes soos Hansie en Graeme opgevolg, maar sy kapteinskap, leierskap, op sy eie manier benader, sê Faf. Foto: Getty Images

“My vrou kom van ’n plaas, sy het mense naby hulle geken wat in ’n plaasmoord omgekom het. Dit was vir ons bitter moeilik. Ek het doodsdreigemente gekry, daar’s vir my gesê: Ons hoop jou vrou word verkrag. Ek ken sportkritiek, maar nie sulke persoonlike aanvalle nie.

“Al wat ek wou hê, is dat ons meer na mekaar moet luister, mekaar probeer verstaan.”

Op sosiale media noem hy homself Jesus Follower.

Maar die Aussies, wel, hulle voel nie daardie warmsagte Faf-liefde nie . . .

“Op 26 het ek vir die eerste keer ’n spirituele lewe begin lei. Voor dit was ek ’n bietjie van ’n jong ou, soos almal maar . . . so bietjie my vlerke gesprei,” glimlag hy.

“Ek het grootgeword met godsdiens, reëls, reëls, reëls, en ek het dit nie geget nie. Met my en Imari se voor-die-huwelik-gesprek het die Afrikaanse sanger Retief Burger in my lewe gekom. Ek het met hom begin kuier en liefde in sy hart gesien, ons het ’n geloofspaadjie begin stap. Ek wou deel word van dié liefde.

“Ek was gewis nie die beste boy-friend nie, maar dit het my ’n amazing man vir Imari gemaak, en as pa het dit my hart só verander.”

“Sewe jaar gelede het ek geglimlag met jou in my arms... sewe jaar later glimlag ek steeds. Hoe het die tyd gevlieg.” Faf en Imari op hul troudag by Kleine Salze, Stellenbosch. Foto: Verskaf

Maar die Aussies, wel, hulle voel nie daardie warmsagte Faf-liefde nie . . . Hy’s nie om dowe neute bekend as Suid-Afrika se Aussie-slagter nie.

Selfs áf van die veld, soos die beroemde dag toe hy in Durban handdoek om sy lyf uit die stort gestorm het om David Warner te gryp toe dié op Quinton de Kock geskree het . . .

“Die sogenaamde metroman reg vir fight vir my span! My plan was om my toetsloopbaan klaar te maak teen die Aussies, dit sou volsirkel gewees het.”

“Ons het gedink dis ’n April-grap, want ek het net die bal geshine."

November 2016, Australië, tweede toets: Die kameras vang Faf waar hy sy vingers nat lek om die bal mee blink te vryf, terwyl hy ’n suiglekker in sy mond het. Alle hel bars los. Mintgate! Lollygate! skree die Aussie-media: Faf het met die bal gepeuter!

“Ons het gedink dis ’n April-grap, want ek het net die bal geshine. Op die volgende lughawe wag 30, 40 fotograwe en ek loop maar met oorfone en donkerbril, smile & wave. Ek het ’n Chappie gekou en terwyl ek met die trappe afkom, neem hulle my af en dit lyk of ek ’n peppermint eet. Toe spin die media ek is arrogant, ek wys vir hulle ’n . . . ment.”

Toe slag hy die Aussies met ’n honderdtal.

“Dit was een van die beste innings in my lewe, en nie noodwendig oor die krieket nie. Toe ek uitstap het 75 000 mense my geboe. By 50, nie handeklappe nie, boe. En ek kolf, ek wýs vir hulle my karakter.”

Pa van meisiekinders. Foto: Verskaf
“Die wonder van ’n nuwe lewe wat die wêreld betree.” Met die geboorte van Zoey, hul tweede dogtertjie op 20 Augustus 2020. Foto: Verskaf

Almal wonder of die hegte vriendskap tussen Faf en AB de Villiers ’n knou gekry het toe AB net voor die 2019-WB wou terugkeer Proteas toe.

“AB het Woensdag verjaar, en ek het sleg gevoel om my uittrede op sy verjaardag aan te kondig. Ek het AB dadelik geboodskap en jammer gesê. Graeme (Smith) wou dit voor die T20’s bekend maak.

“As vriend wou ek hom bitter graag in die WB-span gehad het, maar as kaptein was ek saam met die keurder en die coach: Die span kom eerste, die tydsberekening was té laat. Ek sien uit om moontlik saam met AB in die T20’s te speel.”

Hanlie Retief

Die moeilikste tyd in sy loopbaan was 2019, sy laaste jaar as kaptein.

“Dit was voor Graeme se aanstelling, dit het soms gevoel ek is kaptein/bestuurder/uitvoerende beampte/spanbestuurder. As kaptein was dit my rol om die spelers van alles weg te hou, maar dit was frustrerend, want my voorstelle aan die KSA het op dowe ore geval.”

Dit raak groettyd. Ons lag oor hy vir jare nee gesê het vir dié onderhoud.

“Mense dink ek is hierdie heavy ekstrovert, lekker flashy, maar toe nou eintlik nie. Eintlik gee ek verskriklik baie om vir mense.”

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.