Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Profiele
Die Vrystater is eindelik Cheetah
Hanlie Retief gesels met Frans Steyn
"Ek en Goose kry mekaar vroegoggende vir Wimpy-koffie in Aliwal, ons twee boere, en praat bietjie st***t. 'Wat doen jy vandag? Nee ek span draad, en jy?"

"Ek en Goose kry mekaar vroegoggende vir Wimpy-koffie in Aliwal, ons twee boere, en praat bietjie st***t. 'Wat doen jy vandag? Nee ek span draad, en jy?'

“Ons praat plaas.”

Frans en Linca het mekaar in Durban ontmoet. “En dis nou hoeveel jaar later met drié kinders!” Foto’s: Willem van der Berg

Frans Steyn en Johan Goosen. Briljante dwarstrekkers. Grey-boys, euro-jagters in Montpellier, Cheetahs, Springbokke, boesemvrinne, boere.

Die twee boer aan weerskante van die Oranjerivier, en volgens gerugte skop Steyna ’n rugbybal vir Goosie 65 meter oor die rivier en Goose – gaan youtube gerus sy 67 meter-monsterskop doerietyd teen Paul Roos – dondervoet dan die bal terug oor die Oranje.

“Issie waar nie,” pruttel Frans, “maar ons gaan iets oor die rivier prakseer, want padlangs moet jy Aliwal om vir ’n kuier en dis te ver.”

Sewe en ’n half jaar in Frankryk het Frans Steyn een ding geleer: Daar wil hy nie bly nie.

Toe hy dít kliek, toe worry hy niks verder nie en stop die Frans-leerdery net daar. Nie veel verder as “bonjour” en “oui” gekom nie, grap hy.

Hy praat so reguit soos sy plaas se grensdrade. Rugby se harde seun wat so bedonnerd kan lyk op die veld, lus om iemand te bliksem.

Eers as Hawies vir my sê: Frans, jy moet nou vir jou ’n ander plek kry, sal ek gaan.

Daai oomblik toe hy vir prins Harry ’n bier gegee het in die Bokke se kleedkamer ná die Wêreldbeker-wen, was pure essence de Steyn: ononderdrukbaar, stout, pleinweg wars. Beast was nog vroom besig om die prins welkom te heet, toe stop Frans vir Harry ’n bier in die hand en sê: “You made us wait for you, sir,” en beduie so ewe vir hom: Down!

“En toe wou hy mos nie drink nie, man.”

Frans was Rassie Erasmus se voorBok in die Bomb Squad, die berugte 6-2-reserwe-kombo by laasjaar se Wêreldbeker. ’n Skrumskakel en die veelsydige Frans, met ses vars voorspelers wat die teenstanders die grond in skrum. “Daai Bomb Squad, flippit, enige van daai ouens kon in die Bokspan ’n Man of the Match kry.”

“Ons kon nie wag om terug te keer Suid-Afrika toe nie.” Die Springboksenter en Cheetah Frans Steyn en sy dogters, links en regs is Carle en Miya, met Lilé op haar pa se skouers.

Hy en Rassie kom lang pad. “Rassie-hulle was altyd eerlik met ons, jy weet presies wanneer jy gaan speel, gáán jy speel, is jy op die bank. En Jake White is diesêlle kaliber as Rassie, hoor. Slim coaches, hulle en Jacques Nienaber dink en praat rugby.

“Jake het my ’n kans gegee. Ek verstaan hom en ek weet nie hoe verstaan hy my nie, maar hy doen,” kom dit kurkdroog.

Verstaan iémand vir Frans?

Frans was maar 19 toe hy sy Bok-debuut gemaak het.

“Ek wetie, ek worry daaroor!” kom die bal terug.

“Maar as iets pla en ek soek rugbyraad – Jake antwoord altyd. Hy is ’n mentor, vandag nog.”

Skielik bars hy uit van die lag en vertel hoe’t Jake hom voor laas naweek se wedstryd teen die Bulle gebel om te hoor hoe lyk die Cheetah-span. “Ja, toe traai hy bietjie uitvis, en ek huh-uh, daai gaan jy nie regkry nie, ons sien mekaar Saterdag. Toe lag ons maar lekker saam.”

“Bloemfontein is ’n goeie plek vir kinders grootmaak, hier is plat-op-die-aarde-mense. En ewe lekker is om in die kar te kan klim en plaas toe te ry.” Foto: Willem van der Berg

Frans was maar 19 toe hy sy Bok-debuut gemaak het. Saam met nog ’n harde Vrystaatboer, Os du Randt, is hy die enigste Bok wat twee keer ’n Wêreldbeker gewen het.

As hy vandag met die jong Frans van 2007, daai outjie wat vir almal hardnekkig oom gesê het, kon praat . . .

“Jis ek sal hom ’n paar klappe gee, hoor. Ek was goed hardegat. En ongeduldig, nog steeds, vra my vrou. Daai jare was Jean (de Villiers) senter, en toe wou ek opsluit senter speel. Pleks dat ek eers by hom geleer het.”

Hy sal nie vir ’n ander klub gaan speel bloot om aan die Pro-16 deel te neem nie.

Hy het al sy rugby buite die Vrystaat gespeel. Hy’s die verlore seun wat teruggekom het, sê hulle. Die Vrystater is uiteindelik ’n Cheetah.

En dít stres hom behoorlik, grinnik hy verleë. “Daar’s ’n klomp jong ouens by die Cheetahs en ’n ou wil goed wees, verstaan, jy wil hulle ook maar net beïndruk.”

En Saru wat die Cheetahs so uit die Pro-16-reeks geboender het?

Ná Franse somers, uiteindelik ’n egte Vrystaatse een met donderweer smiddae en baie ure in die swembad, sê die Steyn-familie. Langs Linca is Carle, met Lilé en Miya by Frans. Foto: Willem van der Berg

Di-e-e-ep asem.

“Kyk, dit sal ’n moerse teleurstelling wees om vir ’n ander klub te moet speel as die Vrystaat nie meer salarisse kan betaal nie. Sonder ’n kompetisie is ons redelik geskroef. Maar sê nou daar is ’n goeie kompetisie, met ons finan­sieel selfs in ’n beter posisie? Dalk drink ons oor vyf jaar almal ’n bier om ’n vuur en sê ja, julle wou ons mos uitgegooi het, kyk waar is ons nou.”

Hy sal nie vir ’n ander klub gaan speel bloot om aan die Pro-16 deel te neem nie. “Eers as Hawies (Fourie) vir my sê: Frans, jy moet nou vir jou ’n ander plek kry, sal ek gaan. Nie voor dit nie.”

“Ja, toe loop ek. Toe het ek genoeg gehad."

Frans en sy bestuurder, Gerrie Swart, het ’n weddenskap of hy volgende jaar teen die Britse en Ierse Leeus gaan speel. “Ek gaan traai, maar of ’n ou nog goed genoeg is. Die gehardlopery in die Vrystaat is taf op ’n man se lyf. Maar ek is bly ek het die voorreg om hier te kan . . . ek kan nie sê klaarmaak nie, want ’n ou weet nie hoe loop jou paaie nie . . . maar om so laat in my loopbaan hier te kan speel.

“Nee-tjag, ek het nou genoeg gehad van oorsee. Ek is ’n Suid-Afrikaner en ek wil in Suid-Afrika bly. Terugkom huis toe, na my mense, na wat ek ken en waar ek gemaklik is. Jy praat Afrikaans en mense verstaan.”

En jy lok hom uit, sinnetjie vir sinnetjie, en hy trek weg in eerste rat oor sy kudde merino’s en om tussen die skaap rond te ry met die vrou en die kinders in die bakkie en sommer net rustig te kan wees op ’n Sondag.

“Carle is ’n tawwetjie, sy skrik nie vir ’n doring in haar voet nie.”

“Ek wil my drie meisiekinders dieselfde grootword gee as wat ek gehad het.”

’n Kaalvoetgrootword.

Die tweejarige Carle is haar pa se kind. “Tawwetjie. As haar ouer sussies in ’n doring trap, klink dit asof hul voete afgesit moet word, maar daai ene, sy sê nie eens iets nie.”

“Nou agterna, besef ek ek moes dalk ’n paar dinge anders hanteer het.”

Twee keer het hy sy Boktrui uitgepluk en vir jare oorsee gaan speel nadat hy met Bok-afrigters kop gestamp het. Die laaste strooi met Heyneke Meyer was toe Heyneke die dag in ’n hysbak klim? “Ja.”

En toe groet hy vir Ruan Pienaar en ignoreer vir Frans? “Ja, toe loop ek. Toe het ek genoeg gehad. Dit kom eintlik van die vorige dag se vergadering, want kontrakdinge het skeefgeloop en ek moes trekkerpaaiemente betaal. Ek was goed gatvol, so ek het nie mooi gepraat daai dag nie. Ek kan verstaan Heyneke was nie lus om my in die hysbak te sien nie.

“Nou agterna, besef ek ek moes dalk ’n paar dinge anders hanteer het.”

Pa speel deesdae hokkie saam met sy span dogtertjies. Foto: Willem van der Berg

In sy “verkwiste” oorsese jare, toe dit broekskeur gegaan het met die Bokke, donker dae van 57-0 verloor teen die All Blacks, het sy hart gebreek.

“Maar jy’s al so lank weg uit die land, jy wonder of jy nog goed genoeg is om daar te wees. Verstaan?

“Maar alles het goed uitgewerk, kyk waar’s die Bokke nou, en ek kon daar wees vir my meisiekinders se geboortes, hulle sien grootword.”

" Maar almal gaan deur moeilike goeters, nè, dis nou maar een van daai dinge.”

Drié dogtertjies, en dis nou klaar? Wie gaan die tradisie van Pa se missielskoppe voortsit? “Nee, oor en verby, ek het vrede,” lag hy. En die haelgeweer is geolie vir die kêrels.

Dit was op die Laerskool Aliwal-Noord se hardgerypte veld waar Frans sy giftige skopvoet geskool het.

“Ek het net gelaaik van skop. Wimpie, my broer, was nie ’n rugby-ou nie, hy’t nie saam gaan skop nie, so jy gaan haal maar self die bal en skop dan weer diékant toe.”

“In Frankryk het ek nie baie gereis nie, en ek kon my kinders se eerste jare saam met hulle beleef, dit was ’n hengse voorreg.” By Frans, agter is Carle, Lilé en Miya. Foto: Willem van der Berg

Wimpie het homself in 2015 om die lewe gebring. Seer tye.

“Dit was die ou wat glad nie met my oor rugby gepraat het nie, en ek het dit oor ’n honderd gelaaik. Ons het oor karre en motorfietse gesels, waarheen hy nog wou gaan, want Wimpie wou die wêreld gaan sien.

“Die week voor sy dood het hy by my in Durban kom kuier. Als was fine. Ons het ’n lekker tyd gehad.

En tipies Frans, pak hy enige bul by die horings.

“Hoe ouer ek word, hoe meer mis ek hom . . . dit raak nie eintlik beter nie. Maar almal gaan deur moeilike goeters, nè, dis nou maar een van daai dinge.”

Frans is nog skaars by die Cheetahs, en hy is klaar ’n mentor vir die jong outjies, vertel ’n sportkollega. G’n high en mighty daar aangekom nie, hy sal vir almal koffie koop en saamgesels.

En tipies Frans, pak hy enige bul by die horings. Hulle sit nog een middagete om die tafel by die Cheetahs, toe vra Frans vir Howard Mnisi hoe voel hy oor Black Lives Matter (BLM).

“Toe skrik almal hulle gatte af,” lag hy.

Hanlie Retief

“Ek het Howard glad nie geken nie, en daardie dag groot respek vir hom gekry. Jy praat lekker met hom oor meer as net oppervlakkige goed, hy is nie bang vir awkward gesprekke nie. Mens moet tog oor hierdie goed kan praat, maar mekaar respekteer.”

In die wedstryd teen die Pumas, twee weke terug, het Frans ’n swart armband met wit kruise gedra in protes teen plaasaanvalle. Hy praat nie veel hieroor nie, sê net:

“My pa-hulle se bure is al aangeval, môre, oormôre kan dit ons of my ouers wees. Mense wil hiervan ’n rassestorie maak, dis allesbehalwe. Dit gaan oor ’n hele gemeenskap wat geraak word as ’n boer vermoor word – plaaswerkers sonder inkomste, koopkrag in die dorp wat verlore gaan.”

En . . . as dit van François Philippus Lodewyk Steyn afhang, sal die ander bedreigde spesie, die Cheetahs, ook nie verlore gaan nie.

“Hier by die Cheetahs soek ons elke week ’n moerse game. As die slegste gebeur, wil ons darem uitgaan met ’n bang.”

Jy sien hulle daar smôrens oor Aliwal se Wimpy-koffie, twee klipharde Springbokke aan die planne maak vir die veiling vorentoe met Goose se beeste en Steyna se merino’s.

“En jissie, ’n Vrystaatse plaas is darem nie pláás sonder springbokke nie. Die springbokkies bly nou maar my en Goosie se gunstelinge, hoor.”

Hoe dan anders.

Die wye aarde van die Vrystaat met sy blou hemel, dít het hy daar anderkant die meeste gemis.

“Dis moeilik om te beskryf. Dis net iets anderster. Dis huis. Dis alles.”

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.