Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Profiele
Hanlie Retief gesels met Glenda Gray
Epidemie-veteraan sê donker tye kom

Sedert Maart navigeer prof. Glenda Gray haar dae en nagte deur Zoom-vergaderings en WhatsApp-groepe oor tydsones heen terwyl sy en ander wetenskaplikes na antivirale medikasie en ’n entstof vir hierdie vreemde virus soek.

Prof. Glenda Gray: “Suid-Afrika gaan die swaar las van Covid-19 nes ander lande voel. Dis tektoniese tye.” Foto: Bongiwe Gumede

“Ja. Sedert Maart is die lewe totaal mal. Heeltyd dink jy wetenskap.”

As president en uitvoerende hoof van die Mediese Navorsingsraad (MNR) en oorwerkte subkomiteevoorsitter van die ministeriële raadgewende komitee (MAK) oorleef sy met ontelbare bekers koffie.

En Bob Dylan, Quentin Tarantino-flieks en om onkruid uit haar tuin te trek. Maar veral oor die vuur in haar om Suid-Afrika aan die anderkant van die pandemie – “waarvan ons nog maar net die begin gesien het” – te kry.

Dis Glenda Gray se vaarwater. Sy is ’n epidemie-veteraan.

Twee weke terug het sy haarself in ’n onderhoud beskryf as ’n moeilikheidmaker, verwysende na haar deurbrake destyds by die Chris Hani Baragwanath-hospitaal. Sy kon die MIV-oordrag van ma na kind radikaal verminder. Saam met prof. Salim Abdool Karim en dr. Zweli Mkhize het sy die Mbeki-era se vigs-waansin help stuit.

Teenstand is vir haar allesbehalwe nuut, maar die politieke herrie wat nou om haar losgebars het, was ’n onverwagte skoot yswater.

Sy moes nou agterkom dat selfs ’n wêreldbekroonde wetenskaplike nié vir die regering durf sê hul inperkingsmaatreëls is “onsinnig en onwetenskaplik” nie.

Oor 18 maande gaan ons kyk na dié land van ons en weet: dis ’n ander Suid-Afrika.

Want dan ruik die regeringshaaie in ons raadsale, groter en hongerder as dié in Valsbaai, bloed.

“Ek is nou in ’n ander fase van my lewe, ek het al vergeet hoe dié soort druk voel. In hierdie moeilike, uitdagende tyd behoort ons almal eerder op die epidemie te fokus en nie op mekaar nie.”

Was sy bang toe Mkhize, minister van gesondheid, haar in ’n verklaring gestriem het?

Toe dr. Anban Pillay, waarnemende direkteur-generaal van die departement van gesondheid, ’n ondersoek teen haar geëis het?

Toe die MNR ewe lamsakkig vir die regering askies gevra het?

“Ek het intense druk ervaar. Ek het heeltyd probeer verduidelik wat presies ek bedoel het, sodat mense kan verstaan.”

Woensdag laatmiddag, ure nadat die MNR hul ondersoek teen haar gelos het, klink Gray ’n bietjie soos die weer daarbuite: natgereën.

“Dit was vir my ’n baie emosionele tien dae. Dis moeilik om daaroor te praat, dit te probeer verwoord, want jy distansieer jou daarvan, asof dit nie met jou gebeur nie.”

Gray het die gesig geword vir wetenskaplikes soos proff. Francois Venter, Marc Mendelson en Shabir Madhi, wat die regering se inperkingsmaatreëls selfs meer as sy gekritiseer het.

Saam met Trevor Noah by Time se gala-dinee in New York toe sy in 2017 aangewys is as een van die tydskrif se 100 invloedrykste mense. Foto: Getty Images

Mkhize het Dinsdag vir LP’s gesê Gray het vir hom gesê sy sal haar uitlatings terugtrek.

“Ek het hom gebel en gesê ek het groot respek vir hom en sy werk. Ek het ook verduidelik presies wat ek bedoel het.”

Is sy verkeerd in die media aangehaal?

“Nee. Maar jy lei my nou op ’n paadjie wat ek nie wil stap nie. Ek hét verduidelik wat ek bedoel het.”

Sy is dankbaar vir die 250 akademici, waaronder ’n paar universiteitsrektore, wat haar reg op vryheid van spraak verdedig het.

“Die afgelope tien dae se warm diskoers tussen akademici en die regering het die deur oopgemaak vir robuuste debat. Die president het verlede Sondag baie duidelik gepraat oor die behoefte aan debat en gesê die regering het waardering vir diverse, soms uitdagende, stellings van wetenskaplikes en gesondheidskenners. Ek volg sy leiding.”

Anders as gewoonlik, is Gray in die onderhoud gedemp en versigtig. Soos oor die epidemioloog dr. Harry Moultrie se twiet dat die oopstel van die kerke irrasioneel is:

“Ek en baie wetenskaplikes benadruk dit die heeltyd dat ons op die oomblik net een wapen het om dié virus te beveg: met nie-farmaseutiese ingrype soos hande was, maskers dra, om ’n sosiale afstand te hou en groepe mense te vermy. Dit geld in ’n supermark, katedraal en by die werk.

“As mense die virus en mekaar respekteer sal hulle die beste maatreëls toepas om hul gemeentelede of kollegas te beskerm.”

Gray was ten gunste van die alkoholverbod, want dit het gelei tot minder geweld en ongelukke – en leër noodeenhede in hospitale. “MNR-syfers wys daar was ’n afname in noodgevalle in hospitale.”

En rook? “Daar is soveel onwettige sigarette op die mark, die verbod keer nie mense om te rook nie.”

Met ’n epidemie wat heeltyd verander, moet regulasies ook heeltyd verander. “Aanvanklik het ons nie maskers gedra nie. Ons probeer ons pad hierdeur vind, wat laasweek sin gemaak het, is dié week onsinnig.”

Sy kan letterlik enige plek in die wêreld werk, maar sy dink nie eens daaraan nie. “Ek is ’n burger van hierdie land. Ek is mal oor ons uitdagings, en ek wil deel wees van ons oplossings.”

Sy word soms snags in ’n paniek wakker, haar hart aan die jaag oor die gesondheidswerkers wat so blootgestel is, Covid-getalle wat so vinnig klim.

“Gaan ons hospitale gereed wees vir die piek? Want dit gáán gebeur. By die MNR is ons toetse en navorsing oor TB en MIV nou eers gestaak, diagnoses en behandelings in die hospitale het opgehou. Dit word ’n nagmerrie, want ons gesondheidstelsel was reeds onder druk. Covid-19 kan dit laat knak.”

En moenie vir haar sê dis maar net nóg ’n griep en meer mense gaan jaarliks aan TB dood nie.

“Gaan lees vanoggend se New York Times. Kyk globaal. Ons het gesien wat gebeur in Italië, Engeland en Amerika en nou in Suid-Amerika. Veral in Peru is die verwoesting baie erg.

“Suid-Afrika gaan die swaar las van Covid-19 nes ander lande voel. Dis tektoniese tye.”

Sy is bekommerd oor die Wes-Kaap se Covid-gevalle, wat tans bykans dubbeld as in die res van die land is.

“Dalk is dit die provinsie se toetsstrategie, of die epidemie het hom vinniger hier gevestig as wat ons aanvanklik besef het. Dalk is die rede geografies, die griepseisoen gebeur meestal vroeër in die Wes-Kaap.”

Maar een ding is seker: dit gaan ’n klipharde epidemie wees, versprei oor die hele land, en ons is maar nog net aan die begin daarvan.

“Ek hoop net daar is genoeg tyd om gereed te maak vir die ergste. Daar is soveel balle om in die lug te hou – die toetse wat geweldig agter is, die uitdagings om oordrag te probeer keer, om gesondheidswerkers gereed te hê. Baie balle,” sug sy.

Met niks om die koronavirus te stuit nie – ’n entstof is minstens twee jaar weg – moet ons ons gereed maak vir ’n langdurige epidemie.

“Uit ons internasionale Zoom-vergaderings is dit duidelik daar is reeds ’n klomp entstof-kandidate. Die MNR werk saam met die HIV Trials-netwerk vir ’n entstof.”

Sy is opgewonde oor Madhi se sjimpansee-adenovirus- vektorgegronde navorsing. Hulle begin in Junie/Julie met entstof-toetse.

“Die wêreldwye wedloop en toewyding onder wetenskaplikes om ’n entstof te kry is baie opwindend. Dis belangrik dat Suid-Afrika deel is hiervan. Almal werk wêreldwyd saam. Dis ongekend en positief.”

Gray het grootgeword in Boksburg, die vyfde kind van ’n myningenieur en boekhouer-ma wat later ’n dominee in die Baptistekerk geword het.

Doodgewoon, lag sy, buiten vir haar boetie wat op Wits gaan studeer het en sy radikale idees naweke huis toe gebring het. “Dit het afgesmeer op my. Ons het in Boksburg se onderdorp grootgeword, ’n arm gesin. Ek weet hoe voel swaarkry, maar my ouers was oopkop, liberaal.”

Sy ken teenstand, reeds van 1996 af oor haar standpunt dat vroue met MIV hul babas eerder formulemelk as borsmelk moet gee om MIV-oordrag na die babas te verhoed. Gray het bewys geboorte met ’n keisersnee kan die oordrag van die virus tot minder as 2% beperk. Die getal babas wat met MIV gebore is, het in dié tyd gedaal van sowat 600 000 per jaar tot 150 000.

Sy werk reeds 30 jaar daaraan om ’n vigs-entstof te kry. “As jong pediater moes ek té veel sien hoe ma’s en kinders daagliks sterf.” Sy het steeds kontak met van die kinders wat sy in daardie jare behandel het.

Gray is die hoogste orde in Suid-Afrika, die Orde van Mapungubwe, toegeken, maar die Nelson Mandela Health and Human Rights-prys wat sy in 2002 ontvang het, lê die naaste aan haar hart. “Ek het dit gekry toe vigs-ontkenning op die felste was.”

Sy kan letterlik enige plek in die wêreld werk, maar sy dink nie eens daaraan nie. “Ek is ’n burger van hierdie land. Ek is mal oor ons uitdagings, en ek wil deel wees van ons oplossings.”

Die inperking se onverwagte geskenk was om heeltyd by haar drie kinders te kon wees en nie heeltyd op ’n vliegtuig iewers op pad heen te wees nie.

“Ek kom gewoonlik donkertyd saans tuis, ons sien mekaar min in die week. Tydens die inperking het ons klompie selfs ’n bietjie gebak!”

Haar oudste dogter is besig met ’n doktorsgraad in mediese antropologie, die tweede een doen ’n meestersgraad in Engelse literatuur en haar graad 11-seun is ’n groupie van harde wetenskap.

“Ek probeer genoeg slaap, minder koffie drink. Ek hou daarvan om die skottelgoedmasjien in en uit te pak en die vloere te mop, dit vat my kop weg. Én om die honde te was én onkruid uit te trek,” lag sy en klink vir die eerste keer ligter, minder grys.

En tussendeur kyk sy die een Tarantino ná die ander. “Jackie Brown het my heldin geword.

“Omtrent 90% van die musiek wat ek nou luister, is Bob Dylan. Hy praat met my, veral sy vroeë lirieke. Dit sê so presies wat nou in die wêreld gebeur. It is not dark yet, but it’s getting there . . .

Dokters word opgelei om druk te hanteer, sê sy, so half terloops. “Jy sien ekstreme dinge elke dag van jou lewe. Ek mis dit baie, die menslike interaksie en klein lewensdramas van my jong doktersdae in Bara.”

Verlede Vrydag, toe die storm om haar kop op sy ergste was, het sy die kliniek in Masiphumelele besoek.

En skielik het sy kalmte gekry.

“Net om te sien hoe hard die gesondheidswerkers en pasiënte stoei om hierdie virus te stuit. Dit het my geïnspireer, ek het vir ’n oomblik soveel vreugde daar gevind.”

It is not dark yet, but it’s getting there.

“Oor 18 maande gaan ons kyk na hierdie land van ons en weet: dis ’n ander Suid-Afrika.”

Meer oor:  Glenda Gray  |  Korona-Virus  |  Navorsing  |  Covid-19
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.