Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Profiele
Hanlie Retief gesels met Hennie Loock
‘Ek en julle en die begeleier . . .’

Donau so blau. Die Weense Seunskoor se eerste drie woorde van dié Strauss­wals het die Knysna-stadsaal in 1957 gevul en in die gehoor het ’n droom ontwaak in ’n skaam, onseker, musikale 13-jarige seun.

Die Tygerberg-kinderkoor was die eerste ontvanger van Rapport se Skouerklop-prys. Foto’s: Edrea du Toit

Dit was die begin van ’n leeftyd met kore vir Hennie Loock. Iewers in hom, het hy toe al geweet, wil hy ’n ambagsman van stemme word, hy wil hulle slyp, hy wil hulle laat síng.

Vir 46 jaar het presies dit met die Tygerberg-kinderkoor onder Hennie se dirigeerhande gebeur.

Jaar ná jaar het hulle in netjiese rye voor hom gestaan, jong alte en soprane, 3 000 van hulle deur die jare. Onder oom Hennie se hande wat hul stemme laat pianissimo met ’n sjuutvinger voor sy mond, en forte met hande oop voor sy bors, trillend as hy ’n rêrige groot klank uit die kinderstemme wil haal.

Al hierdie jare het sy wederhelf Theresa saam met hom op die verhoog gestap, agter die klavier ingeskuif en die koor begelei. Sy was die enjinkamer, hy die kaptein, die maestro.

Hulle twee het saam besluit 2018 is die jaar vir wegstap, om die koor te groet vir ’n nuwe lewe, om Saterdagoggende na ’n kwekery eerder as na ’n kooroefening te ry . . .

Toe word 2018 Hennie se grootste hoogtepunt, maar ook sy diepste hartseer.

As ek my hande lig, en die eerste note met daardie pragtige klank gebeur...

In September, skaars dae nadat die koor ’n wêreldkampioen geword het by Interkultur se Wêreldkoorspele, is Theresa oorlede nadat kanker daardie Januarie by haar gediagnoseer is.

Hy kan dit vandag steeds nie glo nie, want hy voel haar warmte nog só in die huis, vertel Hennie. Oral in die sitkamer, met die muurklok wat elke kwartier dông-dông, is foto’s van Theresa en bosse geel blomme, haar gunstelingkleur.

Oormôre stap Hennie vir die heel laaste keer as dirigent van sy geliefde koor op die verhoog. Hy sou wat wou gee om ’n laaste buiging saam met Theresa te maak, ná ’n gesamentlike lewe gewy aan die koor.

Die Tygerberg-kinderkoor was die eerste ontvangers van Rapport se Skouerklop-prys by die Suidoosterfees.

Hy is opgewonde om op 1 Mei die ATKV/Rapport-Harmonie-koorkompetisie in die Kaapse stadsaal te beoordeel.

“Dis vir my spesiaal, want dit lei ook ’n nuwe tydvak in my lewe in, want ek wil my voortaan toespits op beoordeling.”

By Hennie Loock is ’n herinneringsteddiebeer wat ’n vriendin gemaak het van Theresa, sy vrou wat in September oorlede is, se aandrok.

Dié kompetisie is geskep vir plaaslike gemeenskapskore in die Wes-Kaap, en veral die verskeidenheid maak hom opgewonde. Hulle kom tree hier aan uit klein plekkies soos The Crags naby Plettenbergbaai, en dis vir hom goed om weer sy grootwordklanke van die Tuinroete te hoor.

“Dit was die apartheidsjare en ek onthou die atmosfeer en nostalgie as hulle Kersfees in kerke of sommer agterop ’n lorrie Kersliedere gesing het. Dit het my geroer as kind.”

Hierdie kore uit weggesteekte plekkies kry nou die geleentheid om te sing op die Kaapse stadsaal se verhoog wat altyd net beskore was vir uitgelese musici. “Nou kom dit na die mense toe, en die kore kan daardie grootsheid self ervaar. Dis ’n voorreg om daar op te tree en bewus te wees van jou erfenis, want dit is ons almal se erfenis.”

Soveel kunstenaars se loopbane het begin ontluik in die blou uniforms van die Tygerberg-kinderkoor. Melissa van der Spuy, Lize Beekman, Sarah Theron, Zanne Stapelberg, Minette du Toit-Pearce is deur sy hande. En Pedro Kruger, wat van sy eerste noot ’n ster was, onthou Hennie.

Joeg, oom Hennie! roep Pedro op sý beurt uit toe ek hom bel. “Hy is so nederig, hy sal jou nooit als vertel nie. Ek onthou hierdie meester van ’n man. Vir ’n kind met ’n sangtalent was die Tygerberg-kinderkoor die bergpiek.”

Pedro se ma-hulle het hom in Sub B (gr. 2) na ’n konsert van die Tygerberg-kinderkoor geneem, en toe gebeur met hóm wat met Hennie by die Weense Seunskoor gebeur het.

“Hy sit sy alles in, die manier hoe hy dirigeer, as sewejarige het dit my weggeblaas. In die kar op pad huis toe het ek vir my ouers gesê in dáái koor gaan ek eendag sing.

“Vier jaar later was ek daar vir ’n oudisie, en dit was die vreesaanjaendste een van my lewe: hier staan jy voor jou ikoon en jy moet vir hom sing.”

Hennie se studeerkamer is omtrent een groot trofeekas vol medaljes en pryse. Die koor word al vir dekades as een van die top-kinderkore ter wêreld gereken.

Laasjaar het hulle van die 40ste tot die vierde plek op die wêreldranglys opgeskuif, en dit sluit volwasse en professionele kore in. In twee afdelings, kinderkore en gewyde musiek, het hulle skoonskip gemaak.

Die pryse is daar, die applous. Maar wat mense nie van “oom Hennie” weet nie, sê Pedro, is dat passie vir musiek en die welstand van die koor sy hele wese is. “Die dissipline en toewyding het deel geword van ons eie loopbane.”

Hy het hul stemme gedirigeer, en by hul siele uitgekom.

Hennie het die trefferfilm As It Is in Heaven oor die dirigent wat ’n gewone kerkkoor afrig, oor en oor gekyk.

“Wie van ons het nie grootgeword met die wonderlikheid van ’n gewone kerkkoor iewers nie,” sê hy met ? glimlag. “My ouers het in die kerkkoor gesing, en Knysna se kerkkore het projekte soos Handel se Messias met tonne entoesiasme aangepak. Kore verenig mense.”

Hennie kon hom ook assosieer met die swaarkry van die violis-dirigent in As It Is in Heaven wat as kind deurgeloop onder boelies.

“Ek was die enigste seun wat musiek geneem het. Jy moet maar somtyds deins. Gelukkig was ek goed in tennis.”

Sy provinsiale kleure in dié sport het vir hom aanvaarding gekoop. “My klasmaats het my aanvaar, maar dit vra net een boelie om die lewe vir jou moeilik te maak. So, ek ken ook die swaar van dáárdie pad loop. Dit laat sy letsels.”

Sy verwondering as kind aan die Weense Seunskoor het Hennie later kon uitleef as jong musiekonderwyser by die Laerskool De Kuilen. Die koorkinders het nie geweet wat hulle tref nie, want Hennie het die oefenmetodes van sy mentor, Philip McLachlan, vermaarde dirigent van Stellenbosch se universiteitskoor, streng toegepas. En Hennie se koor moes natuurlik, hoe anders, die liedjies van die Weense Seunskoor sing.

Sy werk met dié koor is raakgesien, en in 1972 was Hennie die stigter van die Tygerberg-kinderkoor. Aanvanklik het die koor 55 kinders gehad, maar dit het deur die jare gegroei tot 88 kinders tot en met gr. 8.

                                                                           ***

Elke kwartier in hul huis dông die muurklok. Langs ons op die bank is twee herinneringsteddiebere wat ’n vriendin vir die gesin gemaak het ná Theresa se dood. Dis oorgetrek in die materiaal van Theresa se aandrokke, en versier met haar krale en oorkrabbertjies. “ ’n Tasbare onthou-iets vir ons van haar.”

Hulle het drie jaar saam musiek gegee by die Hoërskool Bellville voor die romanse vlamgevat het, vertel hy nostalgies. En dít nogal toe hulle die fliek Jonathan Livingston Seagull gekyk het iewers in ’n moewiehuis in Parow. Hy het haar hand ’n vinnige, ferm druk gegee.

“En toe het ’n dieper vriendskap begin,” noem hy dit oudmodies.

“Een aand, ná ’n kuier, was daar elfuur aan my deur ’n klop, en hier staan sy en sy sê: Ek het net vir jou ’n pepermentjie gebring. Daardie pepermentjie het ons altyd vertroetel as die paspoort na ons huwelik.”

Die hospitaal het toegelaat dat Theresa in haar laaste dae na musiek kon luister. “Ons het vir haar die platespelertjie gevat, en sy het veral Mozart geluister, Katherine Jenkins en Alan Garrity se “Catch the Wind”.

Die eerste keer met ’n ander begeleier was . . . moeilik. “My voorwaarde was dat dit ’n man moes wees,” hy grinnik, “asof ek kon voorwaardes stel, maar ek wou net die prentjie op die verhoog anders hê.”

Om die seer te kon beheer, knik hy.

Hul huis, hier in Kuilsrivier, vertel van gesin, van groenteskil aan die kombuistafel, donker houtmeubels van Fechters en Jonker uit Knysna, skilderye, boeke, ’n oop klavier met ’n geborduurde lap oor die klawers.

Al drie hul kinders het in die koor gesing, met aweregse byname: Harpsichord oftewel hul dogter Doi, Poene (Hendrik) oor sy ronde wange as kind, en Nerd, die ernstiger Louis wat met sy tenoorstem deel van die groep Romanz was.

“Ek het baie gesukkel om van hulle ’n Von Trapp-familie te maak, maar hulle wou niks weet nie. Theresa kon hulle een keer by ’n eisteddfod kry, maar kry jy die een ernstig, dan bars die ander een uit van die lag.” Sy stem is warm van die onthou.

Daar was groot oomblikke saam met die Tygerberg-kinderkoor. Die spoorwegbus wat op die eerste toer Noord-Kaap toe op die vlaktes gaan staan en breek het. Al die toere oorsee, ja, die kere wat hulle vir oudpres. Nelson Mandela gesing het, pous Johannes Paulus II wat elke kind se hand plegtig in die Vatikaan geskud het.

Soveel.

En: elke keer as hy op die verhoog stap.

“Jy herken niemand in die gehoor nie. Maar die oomblik as jy omdraai en jy sien hierdie wonderlike kinders. Daai oomblik van ek en julle en die begeleier. Ons is saam, ons word een. En dan, as ek my hande lig, en die eerste note met daardie pragtige klank gebeur . . . is dit absoluut fantasties.”

Hy straal.

En jy onthou Pedro se woorde: As jy ’n meester is, maar ook ’n méns – dié twee dinge saam is nogal ’n wonderlikheid.

En dis Hennie Loock.

Meer oor:  Hennie Loock  |  Dirigent  |  Tygerberg-Kinderkoor
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.