Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Profiele
Land is ‘siek’ weens geweld
Hanlie Retief gesels met Ian Cameron
“Daar is ’n ander soort stilte by ‘n plaasmoord. Dis asof die lug ook dood is. Ons moes van die tonele verskeie kere agterna besoek en die lug kry nie weer lewe nie, ek kan dit amper nie beskryf nie, maar dis… dóód.”

As veiligheidshoof van Afriforum het Ian Cameron in sewe jaar 3 000 plaasmoorde hanteer. Dit was ‘n aanval op sy psige, sê hy. 

"Ek sê vandag vir my vrou dis soos ’n klip waaraan jy heeltyd kap as jy beeldhouwerk doen, tot dit naderhand kraak en verbrokkel. Elke plaasmoord was vir my ’n kap op die klip. Kap. Kap. Kap. Ek was die klip. En nou bedank ek, voor ek verbrokkel.”

Ian Cameron het 3 000 plaasaanvalle in sewe jaar as hoof van gemeenskapsveiligheid by AfriForum hanteer.

Of jy nou ’n boer is of ’n joernalis, Cameron het sy foon enige tyd van die nag geantwoord, altyd gereed om uit te ry na die volgende grieselrige plaasaanval.

Cameron was die slagoffers se stem, die karweier van skoknuus.

Plaasmoordstatistieke is vir hom die beelde en reuke van aanvalstonele, en as hy elke maand voor sy sielkundige gaan sit, tuimel die detail uit hom soos daardie afgebeitelde stukkies klip.

Fanie Engelbrecht van die plaas Welgevonden naby Poortjie aan die Wes-Rand. Hulle was op pad kerk toe. Die aanvallers het die veters uitgeryg en hom daarmee vasgebind.

“Dan steek my shrink ’n sigaret aan, en ek sit daar en is lús vir daardie sigaret.”

Dis dikwels klein detail van dié wrede moordtonele wat Ian bybly.

“Daar is ’n spesifieke reuk op die tonele . . . bloed wat bly lê ruik ysterig.

“Eerste wat jy wil doen as jy tuiskom, is om in amper kookwarm water te gaan stort.”

Detail. Das Venter, die Cullinan-boer wat in 2014 koelbloedig vermoor is, se dogtertjie se pienk fietsie en pienk tekkies by die voordeur. “Met die bloedspatsels op die stoep enkele treë weg.”

Daar is ’n ander soort stilte op só ’n toneel, vertel Cameron. Dit is asof die lug dood is.

“Ons moes van die tonele verskeie kere agterna besoek en die lug kry nie weer lewe nie. Dis moeilik om dit te beskryf, maar rêrig, die lug is dóód.”

Die moordtoneel van ’n vrou wat koeksisters by die Hartbeespoort-tonnel verkoop het: “ ’n Bebloede gang in ’n klein verwaarloosde huis, swiets­papiertjies in die snippermandjies in die kinders se kamers. Met koeksistergeld het sy haar kinders deur die skool gekry, vir hulle ’n goeie omgewing geskep, swiets in hul kosblikke.”

blomme, plaasaanval
“Colleen Engelbrecht se skildery.” Foto: Verskaf

Nog ’n moord, onthou hy skielik, in dieselfde gebied: “Die oom se naelmerke in die gangmat, soos hulle hom gesleep het.”

Fanie en Colleen Engelbrecht se moorde twee jaar terug naby Poortjie: Dit was Moedersdag. Die oom was op pad kerk toe, hulle het sy skoenveters uitgeryg en hom daarmee vasgebind toe hy klaar omtrent dood was.

“Ek het ’n foto geneem, dis sulke outydse blinkgepoetste kerkskoene. En die Bloedrivier-gelofte teen die muur. En die prent wat die tannie van krismisrose geskilder het.

“ ’n Paar weke later was ons weer daar. Donderwolke het oor die huis gehang. Ek het my seker verbeel, maar die beeste het hartseer gelyk. Maar die ergste was die boerboelteef wat verlore by die agterdeur gesit en wag het.”

Donderwolke het ’n paar weke later oor die Engelbrechts se plaashuis gehang. Die boerboelteef het verlore by die agterdeur gesit.
plaasaanval, engelbrechts

Keer op keer tref hy verwarde troeteldiere op moordtonele aan.

As Cameron ná sulke rowwe dae tuiskom, gaan kyk hy hoe sy 15 maande oue dogtertjie in haar kamer lê en slaap. “Dit maak my onmiddellik rustig.”

Tot hy begin dink in watter wêreld sy blouoogkind grootword.

“Ek kon nog altyd afstand skep, nooit naar geword of siek gevoel nie, kon selfs op ’n toneel middagete buite die hek staan en eet. Maar Nicky*, wat op hul sitrusplaas in die Gamtoosvallei aangeval is, voel al soos ’n sussie.

“Dit was nie die ergste aanval wat ek al teëgekom het nie, maar dis die een storie wat ek sukkel om te vertel.

“Hoe verkrag jy iemand voor haar kinders nadat jy haar geskiet het? Wat is fout met jou siel? Hierdie land is regtig siek as gevolg van geweld, die wreedste geweld denkbaar. Ons het ’n moraliteitskrisis, ons moral fibre is aan flarde. Dít gaan ons volgende pandemie word.

“Pres. Ramaphosa praat van vroue en kinders. Wat van bendegeweld, plaasmoorde?”

Op ’n toneel in Hekpoort: Die vermoorde se kop lê eenkant, die lyk anderkant, en tussenin speel kinders met klippies.

“Hoe kan dit vir kinders oukei wees om doodnormaal langs twee stukke mens te speel?”

Hoe verkrag jy iemand voor haar kinders nadat jy haar geskiet het? Wat is fout met jou siel? Hierdie land is regtig siek as gevolg van geweld, die wreedste geweld denkbaar.

Op Tonteldoos vra Frik van Wyk se dogter verstard vir die moordenaar: Hoekom het jy my pa vermoor? “Hy antwoord: ‘I am really sorry for what I did’, en begin bitterlik huil.

“Die probleem is dat die ongeregtighede van die afgelope 200 jaar in Suid-Afrika nooit werklik aangepak is nie, daar was nooit herstel nie.”

Ná Das Venter se moord sit Cameron en eNCA se kameraman in die Wimpy en drink aarbeimelkskommels.

“Dis al klaar bietjie siek, melkskommels ná ’n moordtoneel. Ek sê vir hom vannag gaan die moordtoneel by my spook, maar jis, ou, jy lyk nie eens ontsteld nie?

“Maar Ian, sê hy, hoekom moet ek ontsteld wees, ek het my eerste necklacing op 11 gesien.”

ian cameron
Kaperjolle met klein Jana in die Camerons se kombuis in Centurion. By Jana is pa Ian en ma Carla. Foto: Elizabeth Sejake

Wat hom sy bedankingsbrief vir AfriForum laat skryf het, was sy vrou se reaksie op ’n foto van Lana Coetzee. Lana is sewe weke terug saam met haar man, Schalk, naby Reivilo, Noordwes, erg aangerand.

“Ek het die oggend ná ’n hardloopsessie die huis ingekom en Carla in trane gekry. Sy het op Lana se foto op my selfoon afgekom. Lana se wangbeen was gebreek, haar neus op drie plekke, haar oogkas vergruis, haar oog uit posisie geskop.

“Ek praat nie oor die goed in die huis nie, maar jy kan dit nie heeltemal wegsteek nie. My werk is ’n diep voorreg, maar dit het ’n wesentlike impak op ons.”

Ons gesels minute nadat Cameron sy kantoor by AfriForum ontruim het. “Die afskeid was swaar, maar ek voel verlig dat ek net bietjie kan asemhaal.”

Hy het niks van veiligheid geweet toe die AfriForum-baas Kallie Kriel hom destyds aangestel het as hoof van gemeenskapsveiligheid nie.

“Kallie het gesê ek kan mense mobiliseer en my ’n kans gegee.”

“HIer is ek saam met ’n paar van die Rooimiere met ’n groot operasie in nog ’n grondgrypsaak wat ons gewen het.”

Toe klim Cameron só in, sy eenheid het gegroei tot 157 veiligheidstrukture met 12 500 mense. Sy rol was groot. Almal kyk na AfriForum of dit hul werk is om plaasmoorde uit te roei.

“Party mense se roeping is om Afrikaans of ons kultuurerfenis te bewaar. Myne is om mense te dien en misdaad te bekamp. Dis wat my soggens laat lus wees vir opstaan.”

So vreemd soos dinge soms uitspeel, was die aanloop hiervoor die moord op ’n goeie vriend se suster.

“Toe ek daardie nag in 2012 die nuus kry, het ek dadelik my vriend gebel. Hy is oukei, sê Johannes toe vreemd nonchalant vir my, dit het hom nog nie getref nie. Toe ek die oggend daar aankom, stap ek na Johannes, en hy lyk steeds amper té kalm. Maar toe ek hom nader trek – ons drukgroet mekaar altyd so op die skouer – toe vou Johannes soos ’n lappop inmekaar. My vriend, wat my met sy hele hart vertrou, het net gevóú. Dit wil my sommer van vooraf laat begin huil.”

Dié ervaring het Cameron by soveel moordtonele bygebly. “Dat jy niks hoef te sê nie, maar net ’n hand skud, ’n druk gee, of toebroodjies aandra. Op ’n stadium het dit gevoel ek het aandele in Sandwich Baron . . .”

Cameron het as student by AfriForum Jeug betrokke geraak want “aktivisme het lekker gelyk”, grinnik hy nou vir homself.

ian cameron
Ná Ian Cameron op Tukkies by AfriForumjeug betrokke geraak het, het hy op 20 voltyds daar begin werk. Drie jaar later was hy hul veiligheidshoof. Foto: Verskaf
ian cameron
Ná twee jaar van koshuisrugby en jollfikasies, opgeskop. Sedertdien het hy ’n graad in polisiekunde gekry, en is opgelei in rampbestuur en onlustebeheer. Foto: Verskaf

Hy het “gepoog” om te studeer tussendeur koshuisrugby en Hatfield Square-jollifikasies. “Toe ek ná twee jaar wou opskop, het my pa vir my gesê: Doodreg my liewe kind, maar dan is jy op jou eie. Lekker les daai.”

’n Yster, noem Cameron sy pa, Edward, ’n senior visepresident by Sasol wat reeds 33 jaar daar as ’n chemiese ingenieur werk. “Ons het in ’n stadium ses jaar in Engeland gebly.”

ian cameron
“Ons is baie ná aan mekaar, ek en my pa.” Ian saam met Edward Cameron, ’n senior visepresident by Sasol. Foto: Verskaf

Net voor Cameron finaal opgeskop het, is sy drankie een aand met dwelms gedokter.

“Dit was waarskynlik LSD, is agterna bevind. Ek het verskriklike angs en onttrekking daarvan gekry, met ’n rowwe depressie agterna. Ek het nog nooit dwelms gebruik nie, ek was altyd te bang, maar ek was ’n sosiale vlinder en ek het ’n bietjie onaantasbaar gevoel. Dié ding het my so geklap, ek drink steeds niks, ek wil nooit weer buite beheer voel nie.”

Sy werk met plaasmoorde het Cameron laat besef wat hy eintlik moes gestudeer het. “Ná my graad in polisiekunde het dinge ontplof,” vertel hy, met opleiding in rampbestuur saam met die New Yorkse brandweer via die Noordwes-Universiteit se rampsentrum, asook opleiding in die rampbeheerstelsels wat die Amerikaanse deelstaat Montana ná 9/11 ontwikkel het. Hy sal graag in die toekoms met onlustebeheer en rampbestuur wil werk.

ian cameron
“In 2018 het ek ’n voorlegging in die Wes-Australiese parlement oor plaasaanvalle gedoen. Foto: Verskaf

Politiek speel ’n rol by sommige plaasaanvalle, sê Cameron, maar so ook die geweldige gaping van armoede in ons land. “Dit het ’n perfekte storm geword waarin hierdie verskriklike misdaad plaasvind. As jy sien hoe roekeloos Suid-Afrikaners gemeenskappe van mekaar polariseer, hoe anders? Geweld word dikwels in die openbaar verromantiseer, selfs deur politici.

“Ek het nie ’n saak met ras nie, my fight is: Mense word afgemaai op plase. Twee weke terug is ’n swanger Moslemvrou op ’n plaas in KwaZulu-Natal keelaf gesny. Toe ek daaroor twiet, twiet ’n ou terug ek versprei wit propaganda, terwyl ’n ander een #whitegenocide twiet. Die vermoorde vrou is ’n Indiër!”

En vir dié wat sê AfriForum is ’n “Ku Klux Klan Lite”, sê Cameron: Get a life. “Voor jy praat, kom ruik die reuke wat ons al geruik het. Jy kan van AfriForum se benadering verskil, dis nie vir my om te sê nie. In my werk was ek bittermin betrokke by die politieke sy van AfriForum. Maar ek het al gehoor hoe ’n besoeker in ons gebou se rassistiese opmerkings summier deur Kallie stilgemaak is: Ons praat nie so hierso nie, ons staan vir wedersydse erkenning en respek.”

Vir die volgende twee maande wil Cameron eintlik net fietsry. En sjokolade vreet soos ’n masjien. En Coke Zero drink, mét ys. En elke aand daar wees vir klein Jana se badtyd sodat sy vir haar pappa skuimsoentjies kan blaas.

“Carla is ’n apteker, en die beste ding wat met my gebeur het. Toe ek haar daai aand in Rhapsody’s sien, het ek geweet dis my trouvrou, al het sy gedink ek’s ’n karwag!”

Voor jy praat, kom ruik die reuke wat ons al geruik het. Jy kan van AfriForum se benadering verskil, dis nie vir my om te sê nie.
Gandi
Op 'n plaas naby Witrivier saam met Carla, my vrou, Pa Edward en Ma Jalene. My ma het altyd Gandhi vir my aangehaal: Be the change you want to see in the world. Dan rol ek my oë, maar dit het ingesink. Foto: Verskaf

ian cameron
Drie geslagte Camerons. Ian, oupa John wat soos Frank Sinatra sing en nou-nog huil oor Pavarotti se dood. Foto: Verskaf

En dan keer Cameron weer terug na nog ’n plaasaanval. “Sjoe, ek hou aan ontboesem vanaand, seker oor ek pas finaal by AfriForum se hekke uitgery het.”

Hy vee sy vingers oor sy borselkop, sy oë lig, ernstig. ’n Oomblik se asem skep.

En die volgende storie skeur jou hart:

“Hulle het Nicci Simpson van Fochville met ’n elektriese boor deur haar voete, hande en knieë geboor. Iets wat my bybly, is die amper verlore gevoel wat sy agterna ervaar het. Elke keer as ek haar sien, kry ek die indruk sy het verdwaal, dat niks meer sin maak nie, sy nêrens hoort nie, dat niemand hierdie verskriklike ding wat met haar gebeur het, verstaan nie. Sy het reeds nie veel nie. Dis asof haar kop haar later gelos het. Sy bel my eendag en sê die bure het hul kat gestuur om haar dop te hou.

“Die geestelike impak van so iets is vreeslik. Én op die gemeenskap. Dit vestig vrees tussen mense.”

Skuus, sê Ian half verleë. Maar hy is so verskriklik bang dit word statistieke.

“Dis mense.”

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.