Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Profiele
‘Jy dien die klubs, nie jou eie agenda of politieke ambisie nie.’
Hanlie Retief gesels met Jacques Faul
SA krieket is besig om gekaap te word deur ‘n magtige faksie, vertel Jacques Faul, vorige waarnemende uitvoerende hoof van Krieket Suid-Afrika, aan Hanlie Retief.
“Die jare tussen 2012 en 2019 by die Titans was die lekkerste van my loopbaan.” Jacques Faul keer later vandeesmaand terug as uitvoerende hoof van die Titans. Hier is hy op SuperSportpark in Centurion. Foto: Christiaan Kotze

In 2012 kon Jacques Faul dit regkry om SA krieket te hou uit die hande van die kapers van ongeveer alles, die Guptas.

“Ou Atul Gupta was die eerste ou wat vir my gesê het kyk man, ek run eintlik die land, nou wil jy nie eens hê ek moet krieket bestuur nie.

“Ek het vir hom gesê my mooi jong vrou dink ook sy regeer die land; ons almal dink ons is ’n bietjie magtiger as wat ons is.

“Die Guptas was daai tyd nog nie so bekend nie, en ek het agterna soos ’n aap gevoel dat ek hulle so onderskat het! Lékker my naam weggegooi met dié lot!”

Die vrees wat Faul in 2012 oor die Guptas gehad het, het hy nou weer.

“SA krieket is besig om gekaap te word deur ’n magtige faksie. Dis my grootste vrees. Ek lê snags en rondrol daaroor.

Jacques Faul se gesin het erg deurgeloop onder aanvalle op sosiale media oor Krieket SA se steun aan die Black Lives Matter-beweging. “Dis uiters onregverdig.” Agter van links is Reyn Kapp (skoonseun), by sy kinders Leandri en Henrey. Voor is Elvira, sy vrou en hul seun Jacques. Foto: Verskaf

“Vir die eerste keer voel dit vir my ons loop ons vas teen probleme wat KSA se einde kan beteken. Ons 2012-krisis was ’n vulletjie teen dié.”

Presies hoe naby KSA is aan ’n kaping sê hy nie. “Maar my sinisme is besig om die oorhand te kry. Ek is moedeloos. Magteloos. Ek het geloop, want partykeer kan een mens dit nie oplos nie.”

Faul noem nie die kapers se name nie, maar daar word algemeen beweer dis Welsh Gwaza, sekretaris, en die onafhanklike raadslid dr. Eugenia Kula-Ameyaw. Gwaza het Kula-Ameyaw glo in Mei as raadslid ingekatrol om sy agenda te dryf.

‘Jy dien die klubs, nie jou eie agenda of politieke ambisie nie.'
Klerksdorp-klubkrieket in 1987. “Ek was Speler van die Jaar, dink ek.” Foto: Verskaf

Dié alliansie was die rede hoekom Faul gehensop het drie weke voordat sy termyn in elk geval sou verstryk.

Faul sê die laaste strooi was toe Kula-Ameyaw sonder magtiging ’n volbladadvertensie van R521 000 in die Sunday Times uitgeneem het.

Hy lag maar net oor Kula-Ameyaw se regverdiging – dat KSA R400 miljoen in die bank het.

“Diep in gesprek met Albie Morkel ná ’n wedstryd in 2017/18.” Foto: Verskaf

“Die great ding is dat KSA ná ses harde maande se streng bestuur wel ’n wins toon. Wat Kula-Ameyaw klaarblyklik nie besef nie, is dat KSA op ’n vierjaarbegrotingsiklus ’n verliés van R400 miljoen ly.

“Kula-Ameyaw het dit aanvanklik ’n advertensie genoem; deesdae noem sy dit ’n ope brief, maar heng, dit kan ’n gedig ook wees – wie betaal R521 000 vir só iets? Dit maak nie sin nie.

“Hulle sê nou hul interne verkrygingsproses vir die advertensie was dieselfde as wat ek gevolg het toe ek Tribeca PR aan boord gekry het. Hulle lieg. Tribeca is deur my én die finansiële hoof afgeteken.”

‘Ons kan ons nie in ons huise isoleer en geen TV-sport kyk nie.’
Somertyd is swemtyd vir die twee Jacques’e. Foto: Verskaf

Faul het aangedring dat daar teen Kula-Ameyaw opgetree word. Toe niks gebeur nie, het hy bedank.

“Ek het besef sy kan doen net wat sy wil. Jy is ook maar net so sterk omdat die ander ouens so swak is, nè.

“Toe ek haar gaan aangee het, moes die raad van haar ontslae geraak het. ’n Onafhanklike direkteur het nie magtiging om ’n advertensie van R521 000 te koop nie!

Krieket moet aan krieketmense behoort, sê hy.
“Hier is ek saam met die huidige president van Titans, Tebogo Siko en (die vrouekrieketspeler) Mignon du Preez met die onthulling van die Mignon du Preez-hek.” Foto: Verskaf

“Ek het bedank, want dit het vir my gevoel Kula-Ameyaw bestuur die hele KSA.”

Faul dink dikwels terug aan toe hy op 33 uitvoerende hoof was van die Noordwes-krieketraad.

“As krieketadministrateur werk jy eintlik vir húlle, die klubkaptein en -voorsitter wat elke Vrydag rondbel omdat iemand nie kan speel nie; wat seker maak die seile is op en die blad is gerol. Jy dien húlle, nie jou eie agenda of politieke ambisie nie.”

“Ek en Niel McKenzie (links) saam met Pieter (Piet Spur) Volschenk, Ons het vir Uncle Piet ’n Lions-trui gegee om oor sy WP-trui te dra. Dis een van my lekkerste herinneringe.” Foto: Verskaf

Krieket moet aan krieketmense behoort, sê hy.

“Ek worry oor administrateurs wat nog nooit ’n vierdag-franchise-game deurgesit het nie . . .”

Hy is keel-Faul ná KSA se verklaring die afgelope week dat die vereniging voortaan uitsluitlik swart, bruin en Indiër-konsultante gaan betrek.

KSA het intussen gesê die verklaring is uit verband geruk.

“Ek en Graeme word uit wit én swart krieketgeledere aangeval."
“Hier vereer ons Dale Steyn by Supersport-park ná sy wêreldrekord.” Foto: Verskaf

“Dis absoluut belaglik. Hoekom maak KSA dan só ’n aankondiging as hulle nié besluit het om eksklusief swart konsultante te gebruik nie? Jy wil júis hê Shaun Pollock moet Lungi Ngidi touwys maak en Lance Klusener vir Andile Phehlukwayo.

“Krieket moet vasklou aan die nie­rassige beginsels waarop ons gestig is.

“Ons behoort nie ’n beleid te hê wat enige bevolkingsgroep totaal uitsluit nie.”

Naderhand was daar twee KSA­kampe, sê Faul. “Almal versus Faul, (Graeme) Smith en (Mark) Boucher.

“Drie maande voordat ek dit agtergekom het, het ek SMS’e en oproepe uit die swart, bruin en Indiër-krieketgemeenskap gekry wat my gewaarsku het oor ’n groot poging om van ons drie ontslae te raak. Dis vir my ongelooflik dat juis mense uit dié gemeenskappe my gewaarsku en sterkte toegewens het.

“Dis nie lekker om elke keer te hoor KSA se topbestuur is te wit nie. ’n Swart raad het my aangestel. Hulle het my twee keer gevra om te kom uithelp.

“Marus Labuschagne (middel) is ook ’n oud-Klerksdorper. By ons is my jarelange vriend Lourens Vorster.” Foto: Verskaf

“Die een ding wat ek nie kan bestuur nie, is my kleur. Ek gaan altyd wit bly.”

En voeg by: Die mense wat die hardste gesmeek het om Smith aangestel te kry, was Thabang Moroe (afgedankte uitvoerende hoof) en Chris Nenzani (vorige president).

“Dis skreiend dat KSA nie méér gedoen het om Smith teen die aanvalle teen hom te beskerm nie. Ek kry vir Graeme jammer. Hy het met die beste bedoelings KSA toe gekom. Ironies het die Proteas wat ras-aantygings gemaak het, nie in my of Graeme se bestuurs­tyd gespeel nie.

"Black Lives Matter het die land verdeel."
Elvira, Jacques en die negejarige Jacques in sy studeerkamer vol krieketdinge. “Elvira het dié kamer vier keer reggepak vir jul foto,” skerts hy. Foto: Christiaan Kotze

“Ek en Graeme word uit wit én swart krieketgeledere aangeval; dis ’n onmoontlike situasie vir ons.

“Uit wit krieketgeledere is daar woede oor die BLM-gekniel by die 3TC-wedstryd in Centurion. Ek was nie eens by die wedstryd nie, maar ek kry boodskappe soos ‘Die dag toe jy gekniel het, het ek my respek vir jou verloor’. Ek is sommer ook uitgekryt as ’n satanis, Marxis en kommunis.

“Black Lives Matter het die land verdeel. Die Proteas wou maar net eenparig sê hulle is teen rassisme en diskriminasie. Ná Makhaya Ntini se uitlatings skaars die vorige week het hulle ’n pad vorentoe gesoek. Hul kultuurkamp, ook net voor die BLM-bom, het vir hulle baie beteken.”

“Saam met die Titans in SuperSportpark in Centurion. Ek is verskriklik lief vir krieket. Hulle sê jy word ’n administrateur as jy nie die talent het om ’n Protea te word nie,” skerts hy. Foto: Verskaf

Nie Boeta Dippenaar, Pat Symcox of Rudi Steyn het gedink hul “All Lives Matter”-reaksie op Lungi Ngidi se steun vir BLM sal só ontplof nie, sê Faul.

“Ek ken vir Boeta goed en hulle wou ook maar net hul kant van die saak stel. Dis ’n les vir almal hoe só iets kan ontplof en die hele land verdeel.”

Dit voel vir hom of almal deesdae uit loopgrawe op mekaar skiet. Of die mense in die middel te bang is om te praat, terwyl die verlinkses en verregses die hardste skreeu. “Maar daar is ’n klomp gematigde mense wat in ’n nie­rassige Suid-Afrika wil bly.”

Dit was 'n lae hou om op Facebook te lees hy steun plaasmoorde.

Die haatveldtog teen Faul op sosiale media was erg vir sy vrou en kinders.

Sy jongste, die negejarige Jacques, is makliker om te beskerm, sê hy, maar Henrey (27) en Leandri (25) het deurgeloop onder persoonlike aanvalle. “Dis vir my seker die onregverdigste, dat my gesin geteiken word.”

Dit was ’n lae hou om op Facebook te lees hy steun plaasaanvalle.

Later vandeesmaand keer Jacques Faul terug na sy werk as uitvoerende hoof van Titans. By hom in sy studeerkamer is sy seun Jacques.Foto: Christiaan Kotze

“Ek het familie op plase en ’n ou verstaan dat hulle amper onwelkom in hul eie land voel. Maar ek het ook ondersteuning gekry. ’n Klomp Afrikaanse sakeleiers het my gekontak en gesê ons ken jou en weet waarvoor jy staan. Ek het dit baie waardeer.”

Sy grootste vrees is dat hy en sy kinders deel word van die sogenaamde kansellasie-gemeenskap.

“Jy ‘kanselleer’ jou bydrae tot Suid-Afrika, want jy stem nie saam met wat die regering of sportlui aanvang nie.

Die grootste uitdaging is dat een individu nie die raad boelie nie, sê hy.

“Die Afrikaanse gemeenskap het ’n klomp goeie waardes en vaardighede. Ons grootste uitdaging is om nie ons positiwiteit te verloor nie, ons openheid om ’n land te help skep waarin almal kan lewe.

“Ons kan ons nie in ons huise isoleer en geen TV-sport kyk nie, want ons stem nie saam met wat ’n groep spelers doen nie.”

Dis hoekom Faul, toe hy op 6 Desember 2019 uit die bloute ’n oproep kry waarin die KSA-raadslid Tebogo Siko en Nenzani vra Mr Turnaround, kom red KSA, nie vir ’n oomblik gehuiwer het nie.

“Die jare tussen 2012 en 2019 by die Titans was die lekkerste van my loopbaan.” Jacques Faul keer later vandeesmaand terug as uitvoerende hoof van die Titans. Hier is hy by SuperSportpark in Centurion. Foto: Christiaan Kotze

Hy het net daar teruggevlieg van ’n sakebesoek aan die Kaap, reguit die mediakonferensie in waar sy aanstelling as waarnemende uitvoerende hoof aangekondig is. Maar eers het Faul blitsig in ’n lughawewinkel ’n Jeep-hemp en duur skoene gaan koop; bang die borge onttrek as hulle hom in sy denim, T-hemp en tekkies sien.

“Duur, lelike skoene wat my bunion gedruk het!”

Binne ’n halfjaar kon Faul KSA op die herstelpad kry.

“Hulle sê dis soos ’n 40-jarige maagd in Pretoria – jy hóór net daarvan.”

By die Titans weet almal as hulle nie binne 24 uur reageer op ’n Faul-navraag nie, skryf hy hul naam in ’n register. Dié puntenerige doeltreffendheid en Wes-Randse g’n-nonsens-bestuurstyl het van Faul die suksesvolste sportadministrateur in Suid-Afrika gemaak.

KSA se gesloer om dissiplinêre prosesse af te handel, het hom teen die mure uitgedryf. En dan onthou hy om diplomaties te wees: “Ek dink ons het die kompleksiteit daarvan onderskat.”

Faul het nog nie Fundudzi se veelbesproke forensiese oudit van KSA se bestuurspraktyke gesien nie.

“Die jare tussen 2012 en 2019 by die Titans was die lekkerste van my loopbaan.” Jacques Faul keer later vandeesmaand terug as uitvoerende hoof van die Titans. Hier is hy by SuperSportpark in Centurion. Foto: Christiaan Kotze

“Hulle sê dis soos ’n 40-jarige maagd in Pretoria – jy hóór net daarvan.”

Hy haal sy hoed af vir Anne Vilas, president van die Central Gauteng Lions (CGL), wat daarop aangedring het dat die lederaad die verslag sien.

“KSA het Vilas se soort moed nou nodig. Ek glo steeds daar is hoop vir SA krieket, maar die lederaad sal moet opstaan en stem dik maak.”

Hy is beïndruk met die nuwe transformasie-ombudsman, adv. Dumisa Ntsebeza. “Nie net rassisme nie, maar ook korrupsie kan aangegee word. Ntsebeza is die regte swaargewig aan wie jy dit kan toevertrou.”

"Gee hulle 'n kans."

Wat moet dádelik by KSA gebeur?

“Die regte mense moet op die raad kom. Die Nicholson-verslag se aanbevelings vir ’n meer onafhanklike raad moet toegepas word. Ek en Willie Basson wou dit al in 2012 toepas, maar Sas­kok het dit teengestaan.”

Die grootste uitdaging is dat een individu nie die raad boelie nie, sê hy.

“Daar is goeie raadslede, maar hulle moet gesamentlike verantwoordelikheid begin aanvaar.”

En?

“Ek en my twee oudste kinders, Henrey en Leandri toe ek my doktorsgraad by Noordwes-Universiteit in Potchefstroom behaal het.” Foto: Verskaf

Hy grinnik.

“En . . . ’n Ou sou graag wou gehad het die minister van sport moet hom met sulke dinge ook besig hou. ’n Minister wil tog nie hê dat ’n sportkode onder sy watch platval nie, nè. Jy wil nie net transformeer nie, maar ook normaliseer, ’n merietespan wat ons demografie weerspieël.

“Daar is baie talent onder alle gemeenskappe in Suid-Afrika, maar dis duur om te ontwikkel, en jy gaan dit net kan bekostig as die Proteas mededingend is.”

Soos hy rug styf gemaak het teen die Guptas en die Gwazas, só het Jacques Faul dit as brandarm borselkopkind in Klerksdorp gedoen.

Sy ouers is geskei toe hy vyf was en sy pa is vroeg dood. Sy grootouers het hom, sy broer en suster op ’n spoorwegpensioen grootgemaak. Die pensioen kon nie strek tot die R60-klubgeld van die topklub Westelikes nie, en die jong Jacques het sy eerste kriekettransaksie beklink deur die spoorwegklub se halfklaar veld vol gras te gaan plant om verniet daar krieket te kan speel.

"As 'n ou platteland toe gaan, gaan jy huis toe."

“In 2012 was die Proteas nommer-een in al drie formate. Toe ek oor Lord’s se veld terugstap, het ek onthou hoe ek as 15-jarige in Klerksdorp se CNA na foto’s van Lord’s in ’n kriekettydskrif gekyk het. My groot treat smiddae ná skool was om kriekettydskrifte in die CNA deur te blaai.

“Die Afrikaanse seuntjie van die Hoërskool Klerksdorp se droom het waar geword.”

Nou beter die drome van puik afrigters soos Mandla Ma-shimbyi en Geoff Toyana nie gekaap word nie, sê hy. “Geoff moes destyds die Protea-afrigter geword het.

“Toe Atul Gupta vir my sê die Guptas regeer eintlik die land, het ek vir hom gesê my vrou, Elvira, dink ook só. Min het ek ge- weet . . .”Foto:Christiaan Kotze

“Die waardigheid waarmee Enoch Nkwe sy verwagting – om direkteur van afrigting te word – weggebêre het en sy volle steun vir die nuwe bestuurspan gee, sal ek nooit vergeet nie.

“Khomotso Volvo Masubelele gaan nog ’n groot leier word, Patricia Kambarami, Heinrich Strydom, Johan Muller, Wessel Strydom – ons het ’n rol in mekaar se lewe gespeel, hulle is almal top-administrateurs wat krieket dien.

“Gee hulle ’n kans.”

Ná ’n katarak-operasie en ’n wegbreeknaweek by sy skoonma in Stilfontein staan Faul en trippel om weer by die Titans in te val.

“As ’n ou platteland toe gaan, gaan jy huis toe. My skoonma bly in Stilfontein, my sussie by die rivier, maar ek is ’n Klerksdorp-mens.”

Hy het daar gesit in die stilte, gee hy ’n laggie, en weer besef hoe geseënd hy is om te werk vir iets waarvoor hy verskriklik lief is: “Krieket. Altyd krieket.”

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.