Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Profiele
‘Geen beter gevoel as wen!’
Hanlie Retief gesels met Jake White
Reg tussen 2004 se Drienasies-trofee en 2007 se Webb Ellis-beker staan die Curriebeker in die trofeekas in Jake White se kop.

Reg tussen 2004 se Drienasies-trofee en 2007 se Webb Ellis-beker staan die Curriebeker in die trofeekas in Jake White se kop.

Foto: Johan Rynners

“Om die eerste keer in ’n Currie­bekertoernooi af te rig én te wen – dis massief! Ek voel nie net verlig nie, nee, ek voel massief trots.”

Die wen is al vyf dae oud, maar dié hardekwas, deurwinterde breier loop steeds oor van lekkerte, hy lag skoon vir homself oor sy opgewondenheid.

Elf jaar lank was Loftus Versfeld ’n beker-braakland. Totdat Suid-Afrikaanse rugby se serial-wenner in oom Buurman van Zyl, Thys Lourens en Naas Botha-hulle se spore kom loop het.

Een van sy lekkerste kinderjare-onthoue is Saterdagmiddae, vasgenael voor die radio vir die kookwater-combo van Gerhard Viviers en Curriebekerwedstryde.

“Daar was nog nie juis TV nie, onthou, ek kom nog uit daai tyd.”

Grinnik. “Ook nog nie internasionale rugby nie.

Jake White en Stravino Jacobs tydens die Curriebeker-eindstryd verlede naweek op Loftus Versfeld. Foto: Lee Warren/Gallo Images

“Die legendariese Curriebeker-eindstryde is ingeëts in my kop. Ek weet wat die Curriebeker vir Suid-Afrikaners beteken.”

Willem Strauss, president van die Blou Bulle Rugbyunie (BBRU), het hom vertel die Curriebeker is nie net die oudste rugbybeker ter wêreld nie, dis ook die oudste sporttrofee. “Dit wys jou watse eer en voorreg dié kompetisie is. Net ses Bulle-afrigters het die Curriebeker van 1948 af gewen – ewe ongelooflik.”

Dit raak ’n geesdriftige losgemaal van feite en geesdrif.

Dis eenvoudig: Gee die ‘coach’ wat hy wil hê, steun hom en jy kry resultate.

“Kyk nou maar ’n ou soos Duane Vermeulen, ’n Wêreldbeker-wenner, tough en honger vir wen – beslis die simbool van Bulle-rugby; als wat ondersteuners soek.”

Alles voel net so reg en maklik vir hom by die Bulle. “Die mense hier is lief vir rugby, daar’s omtrent 47 rugbyvelde net in Lynnwoodweg. En dis ook nie net Pretoria nie, dis oral hierbo, dis kultuur.”

Maar niemand – “ek ook nie!” – het ooit gedink Jake White sal die Bulle afrig nie.

“Hierdie Curriebeker-sege is . . . massief!” Foto: Johan Rynners

“My pa was op Tukkies en ek het in Hatfield grootgeword, amper onder Loftus se skadu. Lank voordat ek die Bokke afgerig het, het ek gedink die Bulle sal ’n fantastiese uitdaging wees.”

Dié Curriebeker-eindstryd was op elke moontlike manier uniek, sê hy. Mense wat nie soos altyd Maandag toustaan vir kaartjies nie, g’n rugbykoors wat deur die week opbou nie, leë paviljoene, donderweer wat die spel onderbreek . . .

Dalk was dit wel voordelig vir sy jong spelers om sonder die druk van die tuisskare te kon speel. Mens dink ’n tuiseindstryd het net plusse, die blou euforie, maar die laaste paar Currie­beker-eindstryde is deur wegspanne oorheers.

“Ek rig nie af om mense verkeerd te bewys nie."

Met twee trofeë binne twee maande – die Bulle het ook in die Superreeks Unlocked geseëvier – kan White nou tong uitsteek vir sy peloton kritici, wat so skepties was oor sy aanstelling.

Hy keer. “Ek rig nie af om mense verkeerd te bewys nie. As unie moet ons nie aangevuur word deur ‘ons haat hulle en hulle haat ons’ nie. Ek hoop mense is trots op die Bulle en almal hier betrokke. Jare se afrig oor die wêreld heen het my geleer ek coach oor dit lekker is. Die spelers moet dit geniet, want dis rúgby.

“Ja, ek hét ouer en wyser geword,” lag hy toe ons hom vra of Coach Hardekwas se skerp kant nou sagter is.

“Rugby my lewe deur. Rugby het vir my deure oopgemaak, na plekke geneem waar ek nooit andersins sou kom nie.” Jare se afrigting regoor die wêreld het Jake White geleer dat ek rugby moet geniet, want dis waaroor dit gaan. Foto: Verskaf

White wek die indruk dat kritiek van hom afrol soos water van ’n eend se rug, maar dit maak seer, erken hy.

Toe hy die afgelope week die positiewe kommentaar in koerante lees, het hy trots gevoel. “Vir jare het mense my gekritiseer en gesê ek is eendimensioneel en dis net voorspelers, groot spelers . . . So, om eerlik te wees, natuurlik maak kritiek my seer.”

Maar sê in dieselfde asem a man’s gotta do what a man’s gotta do; Jake White het nog nie sag geraak nie.

Dit was vir hom duidelik Australië sou hom nie oorweeg as afrigter nie.

Hy weet mense sê sy termyn by die Bulle gaan in trane eindig, want waar Jake White ook gaan behaal hy vinnig sukses, ’n paar vinnige trofees, en dan raak die sop suur.

“Ek was vier jaar by die Bokke en ek het hulle nooit gelos nie. Al werk wat ek gelos het, was by die Brumbies, want ek wou terugkom Suid-Afrika toe om internasionale rugby af te rig.”

Dit was vir hom duidelik Australië sou hom nie oorweeg as afrigter nie.

Jake White het in 1999 die openingstoespraak gedoen en die truie oorhandig by die o.16-toernooi by Paarl Gimnasium. Langs hom is Schalk Burger, kaptein van die o.16-span. Foto: Verskaf

En wat het by die Sharks skeefgeloop? “Ná my jaar daar het ek net gevoel die klub beweeg in ’n rigting waarheen ek nie wou gaan nie. Ek wil nooit in die posisie wees dat jy by ’n plek moet bly omdat jy moet nie. Ek is ook baie na aan John Smit; ek wou nie hê ons vriendskap moet beïnvloed word deur my manier van afrigting nie.”

En die persepsie dat hy ’n span gekoop het vir Curriebeker-sukses?

“Ons het nooit enigiemand gekoop nie; soos enige ander unie het ons ’n salarisperk.”

Wanpersepsies frustreer die bloubulbloue josie uit hom.

R60 miljoen?

“Presiés. Dis dieselfde vir almal. Van die spelers wat hier weg is, is na ander unies.”

Wanpersepsies frustreer die bloubulbloue josie uit hom.

“Afrigter van Jeppe Boys High se o.14 A-span. James Dalton is in die tweede ry, tweede van regs.” Foto: Verskaf

“Clive Woodward het my geleer jy kan nie wen én gewild wees nie.”

Vir afrigters was Loftus nog altyd ’n hoëdrukstelsel, maar het hy ekstra druk gehad om sy goeie vriend en Bulle-aandeelhouer Johann Rupert tevrede te stel?

“Dis nie druk nie; druk is as jy wonder of jy die rooi of groen kabel van ’n bom moet knip,” grinnik hy.

"Soms het vleuels ’n ongelooflike gevoel vir die game. Die dae van ’n groot senter wat net stoomroller . . . Ek het net gedink ons doen dit bietjie anders."

“Natuurlik voel jy die druk, maar as die mense daarbo jou vertrou en ondersteun, is dinge soveel makliker. Ditto met spelers as hulle weet hul coach staan agter hulle. Johann Rupert en Patrice Motsepe (mede-eienaar) se boodskappe voor die eindstryd het baie vir die spelers beteken. Jy kan jou indink hoeveel selfvertroue dit ’n jong speler gee; dit kom van mense wat die boonste sport in hul eie speelvelde bereik het.”

Die rugbyskrywer Bokkie Gerber het laas Junie reeds voorspel White woel op Loftus in ’n anderste rigting as die kuddemodel waaraan ons gewoond geraak het. Hy het ontslae geraak van spelers wat hul plafon bereik het en sy waagstuk om Cornal Hendricks binnesenter toe te skuif, was ’n reusesukses.

“Dis maar ervaring, nè. En dis ook nie of ek dit uitgedink het nie; Tana Umaga en Ma’a Nonu het ook as vleuels begin. Soms het vleuels ’n ongelooflike gevoel vir die game. Die dae van ’n groot senter wat net stoomroller . . . Ek het net gedink ons doen dit bietjie anders. Cornal het my verbaas dat hy dit so vinnig kon regkry. Ek het geweet hy’t vaardighede, natuurlik, maar toe word hy een van die heel beste vanjaar in dié posisie.”

Kaptein van die eerste span by die Lord Milner-laerskool in 1976.

Jan-Hendrik Wessels gaan nog eendag ’n Springbok wees, voorspel hy.

“Dis ’n wonderlike storie. Hy is ’n loskop, maar ek het hom op vaskop gespeel want hy’s so talentvol, ek wou hom so gou moontlik ’n plek in die Bullespan gee. Ná Saterdag se game het ek vir hom gesê: ‘Vandag het jy geleer hoe ’n vaskop sukkel in die skrum; wat die loskoppe aan jou doen. Nou kan jy dit óók volgende keer doen as loskop.’”

Jake het aanhou glo in hom, hom op die veld gehou.

"Vandat ek ’n klein seuntjie was, was rugby goed vir my.”

“Ja!” Hy raak skoon opgewonde, die toere in sy stem klim soos Giniel se Hilux s’n in die Dakar.

“Ons kon Jan-Hendrik afgehaal en beskerm het, maar dan het hy geleer jy word afgehaal as die druk kom. Hy moes ons wys hy kan, want op dié vlak speel ons altyd op ’n naaldpunt.”

Ja, sê hy en bly ’n oomblik stil. “Ek leef rugby, ek slaap en eet rugby. Om eerlik te wees, ek hou net mooi van álles in rugby. Vandat ek ’n klein seuntjie was, was rugby goed vir my.”

“Wêreldkampioene. Ek was 40 toe ek die Bokke begin afrig het, die jongste coach ooit wat ‘n Wêreldbeker gewen het.” Foto: Verskaf

Hy was van jongs al op kosskool en daardie skoolmeester-afrigters was op ’n manier sy redding – hul dissipline, hul lesse. “Ek onthou die rugbytoere Nelspruit toe, Alma, Warmbad, die blootstelling, ek sou nooit andersins daar gekom het nie.”

En hy was agterin die bus besig om die netbalkaptein te vry?

“Nee, nee, korreksie, ek het heel voor taktiek met die afrigter bespreek!”

"Jy kan tog nie bou as jy nie bande vorm met mense nie.”

Hy is deel van ’n groot groep skoolonnies wat later yster-afrigters geword het – Eddie Jones, Kitch Christie, Nick Mallett, dok Craven, afrigters wat dissipline, menseverhoudinge en tradisies vooropstel.

Hy vertel van sy verhouding met die Bulle se senior spelers: “Ek het hulle heel aan die begin genooi vir aandete by my huis, dis meer persoonlik as ’n restaurant of kleedkamer, ek wou my voordeur vir hulle oopmaak. Jy kan tog nie bou as jy nie bande vorm met mense nie.”

In die Bulle se rugbykultuur word daar gebid voor en ná ’n wedstryd.

“Met my seuns Clinton (links) en Wesley en die Drienasiesbeker ná ons 2004-wen. Rugby is vir hulle ’n bonus, ek is veral trots daarop dat albei grade kon behaal.” Foto: Verskaf

“Ja, ek is ook deel daarvan. Belangrikste is wedersydse respek vir mekaar.

“Daar is Bulle wat Moslem is, soos Nizaam Carr, almal word aanvaar en gerespekteer.”

Mense het ’n ding oor hom en dissipline, sê hy. “Ek was net gedrewe om te kry wat ek wou hê. Dis eenvoudig: Gee die coach wat hy wil hê, ondersteun hom en jy kry resultate. Op die ou einde was Kitch Christie reg: Dis die resultate wat tel.”

Nee, verseker hy, geen bewerasies nie, inteendeel, hy kan nie wag nie.

Maar hy besef ook nou professionele rugby is nie soos skool nie. “Iemand soos Morné Steyn het drie kinders; ek kan hom nie soos ’n 19-jarige hanteer nie.”

White het einde laas jaar Covid-19 gehad. “Ek was baie siek. Veertien dae later is ek weer positief getoets, maar op dag 21 was die toets, dankie tog, negatief. Jy lê daar in die bed en doen bestekopname van jou lewe. Bang om dood te gaan, natuurlik. Ek het nog baie jare in my om rugby af te rig.”

En nou wag Pro-16, dink jou in, die klomp jong Bulle iewers in die Ierse gramadoelas in druipnat weer. Nee, verseker hy, geen bewerasies nie, inteendeel, hy kan nie wag nie.

Met die 2007-Wêreldbekerwen het Jake White en sy span van Suid-Afrika ’n wen-nasie gemaak, het oud-pres Nelson Mandela gesê. “Hier is ek met die Webb Ellis-trofee by Madiba se huis in Houghton.” Foto: Verskaf

“Ek het in Frankryk afgerig, ek weet wat wag. Ons is agter die skerms hard besig om spelers wat in Europa gespeel het, te kry om ons bietjie te help. Ons is nog ver van waar ons wil wees, die Curriebeker was net ’n wegspring.”

Frans Steyn?

“Ek praat met Frans so gereeld as ek kan. Hy is ’n wonderlike ou. Hy sal goed lyk in blou!”

Die blinkste dag in sy lewe was Vrydag 13 Februarie 2004.

En die arme Cheetahs wat beroof is van Pro-16?

“Dis sleg, veral vir ’n tradisionalis soos ek. Die lang lys unies soos Stellaland, Noord-Vrystaat en Laeveld, het stadigaan gekwyn. In Skotland en Wallis het hulle uiteindelik met net twee unies opgeëindig. Ek sal dit haat as dit hier gebeur. Jy kan nie geskiedenis koop nie. Maar ek hoor tussen die lyne die Cheetahs gaan nie net bly lê nie.”

Die blinkste dag in sy lewe was Vrydag 13 Februarie 2004. “Vir ’n Suid-Afrikaanse outjie, om sy nasionale rugbyspan te kan afrig, niks kom naby dit nie.”

“Hierdie Curriebeker-sege is?.?.?. massief!” Foto: Johan Rynners

En wat maak hom allergelukkig?

“Wen. Ons het destyds ’n noord-suid-gholftoernooi teen die Noordelike Halfrond gewen en toe kom Fourietjie (du Preez) na my toe en sê: ‘Coach, sê wat jy wil, maar wen bly lekker.’ ”

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.